Nuuskommentaar: Is vandalisme en geweld tekenend van die nuwe Suid-Afrika?

Brande is tydens die betogings by die Universiteit Kaapstad gestig. Foto: Verskaf

Brande is tydens die betogings by die Universiteit Kaapstad gestig. Foto: Verskaf

Die eiegeregtigheid van sommige opstandige studente kan die land blywend verander. Opvoedkundige inrigtings kan nie die bastions van vandalisme en wetteloosheid word nie en waar ander se regte, soos om in Afrikaanse te kan studeer, vertrap word nie.

Studente-onrus wat met vandalisme gepaardgaan is nie nuut in Suid-Afrika nie. Ook nie bondeldapperheid wanneer opstandige idees ʼn kritiese massa bereik nie. Voorheen is die oproerigheid gewoonlik gerig teen die beleid van afsonderlike ontwikkeling en nou teen wavragte gebreekte en vergete beloftes van die “nuwe” regering. Dit word gekompliseer deurdat ander aksies, soos die stryd teen Afrikaans, hierby aanhaak.

Daar is voortdurend oproepe dat na die studente en hul griewe geluister moet word. Hoe erger die vandalisme en geweld en hoe onredeliker die eise, hoe meer word daar egter rug styfgemaak. Soms, soos in die pers-gesigvoorval by Maties, word die rug misplaas styfgemaak.

Aanvanklik, ook met die #FeesMaustFall-veldtog, was daar leiers wat werklik verantwoordelik en redelik opgetree het. Namate die onredelikheid en vernielsug groter momentum gekry het en hofbevele geïgnoreer is, het hierdie stemme van redelikheid stiller geword, of heeltemal skei gebreek, soos in Open Stellenbosch en die US se studenteraad.

Die leiersgesig wat nou vertoon word, is onheilspellend en selfs weersinwekkend. Ewe  breed op TV verkondig ʼn leier van die #RhodesMustFall-veldtog daar is nie sekerheid of die verbranding van voertuie en skilderye na dié organisasie herlei kan word nie, maar weier nietemin om die voorvalle te veroordeel. Opgehoopte frustrasies “regverdig” dit.

By die US weier die meerderheid lede van die studenteraad om die twee Maties, teen wie onregmatig weens beweerde blackfacing opgetree is, om verskoning te vra.

Nie dat studente altyd die beste leiding van die opvoedkundige instellings kry waar hulle studeer nie. By die US het twee fakulteite in wese die universiteitsraad se taalbeleid, kort na die aanvaarding daarvan, openlik in die tande gaan skop. ʼn Hoogleraar het AfriForum selfs verkwalik omdat die howe hieroor genader is – asof die howe nie deel van die grondwetlike bedeling is wat die bepalings van die grondwet onderskryf nie. Voorts het hy ʼn wanvoorstelling gemaak oor wat AfriForum met die interdik wou bereik het en na ʼn skikking buite die hof wel bereik het.

By Tuks dreig die EFF om die universiteit onregeerbaar te maak as daar nie vandag aangekondig word dat Afrikaans as onderrigmedium afgeskaf word nie. Ook hier word met minstens wanordelike optrede en die vertrapping van individuele regte gedreig as die universiteitsowerhede nie die grondwet in die tande skop nie.

Alles in die land wentel nie net om die universiteitswese nie, so belangrik as wat dit mag wees. Dat iets hieruit kan voortspruit wat die land as iets aaklig uitbeeld, is skrikwekkend.

Die selfgemaakte swart Amerikaner, Thomas Sowel, skryf onlangs oor sy eie land: “Already many people are complaining that the America they grew up in, and loved, is being changed into something they can barely recognize. Record numbers are renouncing their American citizenship… Against this background, the frivolous rhetoric and childish antics in the televised political ‘debates’ are painful to watch. If ever there was a time to choose a president with depth, rather than glitter or glibness, this is it.”

Dit kan byna net so op Suid-Afrika toegepas word.

Nie dat alles rondom die universiteitswese so wonderlik en voorbeeldig was nie. ʼn Bekende hoogleraar van die US, wyle prof. Christoff Hanekom, het by geleentheid vertel van ʼn insident toe hy nog student op Kovsies was. Die klas is aangebied deur ʼn professor wat legendaries vir sy hoflikheid was, maar toe Tertius Myburgh, latere befaamde joernalis en redakteur vra of die prof, seker is van ʼn sekere feit, is Myburgh histeries uit die klas gejaag.

Talle studente uit daardie en selfs veel later eras kan vertel van optrede waar hul regte en menswaardigheid bitter min getel het.

Nou het die pendulum, behalwe in uitsonderlike gevalle soos die Maties se pers-insident en die twee Kovsies wat van rassisme beskuldig en onskuldig bevind is, woes na die ander kant geswaai. Die kersie op die koek is dat Ikey-studente na die voorvalle waarin twee busse en skilderye verbrand is en die rektor se kantoor met petrolbomme bestook is, jou warempel klagtes van onder meer aanranding met die opset om ernstig te beseer teen die rektor aanhangig gaan maak het. Gekker kan dinge beswaarlik word.

By Tuks kom die EFF se eise daarop neer dat die kreet, ‘ons wil nie in Afrikaans leer nie’, verander is na julle mag nie in Afrikaans leer nie. Dit gaan nie meer om die opeis van regte nie, maar oor die vertrapping van ander se regte.

Aanvanklike aansprake dat die onvredenheid gebore is “uit die stadige pas van transformasie”, raak nou al stiller namate dit duidelik word dat dit nou verder teruggevoer word en die afloop van die land se skikking en gevolglike grondwet, nou die sondebok gemaak word. Die wind is uit die seile geneem van heelwat van die links-liberale ontleders wat tot onlangs nog so sedig gepreek het oor hoe om die situasie te hanteer.

Te midde van die ou onluste van Sasco en Nusas, het talle swart mense kwalifikasies aan die betrokke inrigtings behaal, onder meer Robert Mugabe en Mangosuthu Buthelezi. Die bekende kanselier van die UV, dr Khotso Mokhele, is selfs in ʼn stadium by die Universiteit van Fort Hare geskors weens sy oproerigheid.

Ook uit die geledere van die huidige heethoofde sal daar diegene wees wat grootword en verantwoordelikheid leer. Maar intussen kan darem nie toegelaat word dat hulle ongestraf vandalisme, rassisme en ander onregmatige optredes inspan om hul protes, misplaas of nie, op ander af te dwing nie.

En dan het ʼn mens nog nie eens die rol en styl van radikale vakbonde onder die loep geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

m ·

natuurlik het dit en gaan net erger word want daar is geen beheer meer oor hierdie mense nie.

Sarie ·

Hoe meer die regering toegee, hoe erger gaan dit word. “They are testing the boundaries!!!”

Nic ·

Nie net die vakbonde moet onder die loep geneem word nie, anargistiese politici ook. Die studente sal nie so rof te kere gaan as die anargisme nie vanuit EFF geledere begin en aangeblaas word nie. Kan daar nie ‘n voorbeeld van een vam hierdie aanblasers gemaak word nie?

Loeis ·

Ja, vandalisme en geweld is tekenend van die nuwe Suid-Afrika, nes dit in die oue was want dis dieselfde denkwyse wat dit dryf. Mense was maar bitter naief om te gedink het dat oorgee dit sou verander.

Kabous ·

Dit het tyd geword dat jongmense moet besef dat alles nie uit die hemel val nie maar deur harde werk verdien word. ‘n Universiteit is daar om te leer en nie om as politieke speelveld te dien nie. Die optrede van studente getuig van selfsug, ‘n gebrek aan insig, onvolwassenheid en swak opvoeding. Wat weet ‘n klomp 20-jariges in elk geval van die lewe af. Daar is nog ‘n lang pad om te stap. Waar kom die oordrewe eis van regte in elk geval vanaand. Wees eerder dankbaar jy het die geleentheid om te studeer en bepaal jou by jou boeke. Daar is duisende wat nie die geleentheid het nie en los maar die politiek vir die wat dink hul weet. Nie eers hulle weet wat hulle doen nie. Hoe sal n student nou weet.

DD ·

Moet asb nie veralgemeen en alle 20 jariges onder een kam skeer nie. My kind het haar pa aan die dood afgestaan toe sy 11 jaar oud was en ek het haar alleen grootgemaak. Finansieël “gesuffer”, maar deurgedruk. Sy het baie hard gewerk en besef steeds alles val nie uit die lug uit nie. Sou haar ook graag die koshuislewe wou laat ervaar, maar ek weet daar is nie geld daarvoor nie en dus kan sy dit nie kry nie. Ek het nie ‘n shack iewers gaan opslaan of iets aan die brand gesteek nie. Ek besef wat realiteit is en besef en aanvaar my finansiële beperkings.

Max ·

Dit is duidelik dat ons in die tweede fase van die revolusie is !

Thuunda ·

As hierdie optrede nie ‘n bewys is dat mense met verskillende kulture net eenvoudig nie oor die weg kan kom nie dan is daar niks verder om te oortuig nie. Die een kultuur sal altyd die ander een wil onderdruk, meer so in Afrika.

Dis nou of emigreer of ‘stand and fight for your rights’.

Ek sien dat ons gedwing gaan word om te baklei, of heeltemal te hensop.

Breytie ·

Hier op Maroela Media, in die afdeling “Meningsvormers”, het Leopold Scholtz op 18 Februarie ‘n bydrae gemaak onder die opskrif “Veldtogte op kampusse: Niks nuuts onder die son nie”. Die debat oor die opstand by ons universiteite kan myns insiens nie gebalanseerd gevoer word as die feite in hierdie artikel nie ernstig deel daarvan gemaak word nie.

Ons sal moet ernstig vra vanwaar hierdie gedrag aangevuur word en met watter doel. Dit lyk al meer duidelik dat die studente en die EFF gemotiveer word deur ‘n heel ander en verskuilde agenda. Dit word nog duideliker as ons kyk hoe daar nooit by ‘n punt van tevredenheid gekom word nie – elke keer is daar nuwe eise, en die eise is meestal onhaalbaar en onrealisties. Wat skuil hier agter?

Herman, is daar niemand in die joernalistieke wêreld wat die waarheid oor hierdie saak kan gaan uitkrap nie?

Therese ·

Breytie, lees gerus prof. Karin van Marle van Tuks se mening in Netwerk24. Die titel: “Sê eerder dankie vir die betogende studente”.

Met Afrikaanssprekendes soos prof. Van Marle in lesingsale waar hierdie gedrag van studente goedgepraat en selfs aangemoedig word, watter hoop is daar vir vreedsame kampusse waar studies kan vorder? Sy is nie al een nie, Piet Croucamp, Kabous Meiring e.a. het almal op dieselfde wa gespring.

Charles Smith, ‘n stem roepende in die woestyn, spreek sy kommer uit oor die benarde situasie waarin Afrikaans en wittes by universiteite verkeer, maar word bygedam en sleggesê deur mede-Afrikaanssprekendes. (Terloops, sommige van hulle is blykbaar skaam om Afrikaners genoem te word.)

Herman Toerien ·

Breytie, as ‘n mens na die werke van anagiste soos Satre en Fanion kyk, is daar duidelike ooreenkomste. Tot dusver het ‘n baie, baie ste5rk kontingent van kiommentators egter deurlopend gevra dat na die opstandige studente geluister moet word, dat hulle werklike griewe het, allerlei strukturele dinge op die pad lê eb dies meer. Ons het van die staanspoor af gewaarsku dat daar net te veel sake aan die kapstok gehang is, en fit het nou duidelik geword dat die refelike en dikwels oortuigende leiers wat aanvanklik sterk gefigureer het, deur die radikale as nuttige idiote ingespan is. Nou is daardie kleed af.
As dit kan, luister gerus komende Maandagogged na die nuuskommentaar van Pretoria FM (net na 7), waar na een van die moontlike uitkomste gekyk word, naamlik die Tupamaros van Uruguay wat in stedelike terroriste ontaard het. (Ek sal mettertyd iets uitgebreids hieroor vir Maroela skryf).

ALWYN BEETGE ·

Die anargie sal nie stop voor die politici in die parlement hul soos beskaafdes gedra nie. Die jong mense kry hul voorbeeld van die barbaarse optrede in die parlement waar daar geen respek vir enige iets is nie.

Flippie ·

Dit is net insiggewend dat hierdie gedrag net deur sekers gepleeg word..

stemja ·

Is dit die land van melk en heuning wat FW ons belowe het???? Kan nie help om lekker te kry vir die wat so goedgelowig was nie!!!

m ·

Dit wat opgebou en suksesvol was is in 20 jaar afgebreek tot teen die grond. Hierdie mooi land sal ma net nie weer dieselfde wees nie. Baie tragies.

Henrietta Klaasing ·

Onthou, daar is ‘n verkiesing op hande en leiers is met alles wat hul het, daarop gerig, onder andere om aandag te trek en sodoende “brownie” punte te verdien by moontlike kiesers. A Nation of Sheep Breeds a Government of Wolves! Edward R. Murrow

Zelda ·

Ons almal wys ons is kwaad en wil skreeu en ons almal se ons se op die media en onder mekaar. MAAR WANNEER IS GENOEG GENOEG. WANNEER GAAN ONS AFRIKAANS SPREUKENDE MENSE IETS DOEN DAAR OOR. BEHALWE OM OP DIE MEDIA EN FB AAN TE GAAN. Wanneer staan ons op vir ons taak voor hulle. Ek praat nie van net die students wat moet op staan teen hulle nie. MAAR ONS GROOT MENSE OOK. Ek dink as al ons afrikaans spreukende mense universiteit toe gaan en ook met ons Borde daar gaan staan. En EFF wys dat daar is meer as net hulle. MISKIEN DAN SAL HULLE AGTER KOM DAT ONS ONS TAAL HOOG DRA MAAK NIE SAAK HOE HULLE PLUNDER NIE. MAAR LET WEL NET MISKIEN

Johannes Meintjes ·

Dit is ook my waarneming dat post-moderne denke skynbaar soms terugval op meer primitiewe gedragspatrone, wat dan deur opstoker-voorbokke met ‘n skynregverdigheid uitgebuit en misbruik word. Maar as die revolusie nou voortgaan, wat is die vooruitsigte? Wie sal dan regeer? Waarmee (als is vernietig), – of gaan ander dan intree, oorneem en met ‘n ysterhand regeer as die lakeie hulle vuil werk gedoen het en beide die verligtes asook die verkramptes apaties van die stoep-af bly toekyk het in die nuwer Nuwe SA?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.