Nuuskommentaar: Is verdeelde ANC nog sleg vir die land?

Argieffoto

Argieffoto

Is die duidelike kloof in die ANC nou tot die relatiewe voordeel van die land, of verhinder dit die ANC om die land behoorlik te regeer?

Dit lyk inderdaad asof die reputasie van relatief “skoon en bekwaam” van die sogenaamde Gordhan-faksie se invloed op die land en veral die ekonomie, ten spyte van enorme struikelblokke soos die studente-protes, ʼn groter positiewe uitwerking het as wat ʼn stabiele Zuma-regering sou kon hê. In die ontleding skiet Herman Toerien eerder uit die heup as om die gebruiklike navorsing in te span, met die hoop dat lesers hul insigte vrymoedig sal neerpen.

ʼn Dekade of wat gelede was dit nog hoogmode in die media en onder opposisiepartye om die gedurige dwarstrekkery in die ANC as ʼn probleem te noem wat dienslewering en eintlik die bestuur van die land, in die wiele kan ry. Dit het min of meer, polities korrek, behels dat as die ANC hierdie rangeerdery in die soustrein, in plaas van op die spoor van die soustrein, tot bedaring bring, die ANC in staat sal wees om die land behoorlik en tot voordeel van almal te reageer.

Noudat die interne dwarstrekkery die kenmerke van ʼn openlike opstand begin inneem, is die stemme oor hoe goed dit sou kon gaan as die ANC nie so verdeeld is nie, baie stil. Selfs die ANC het tydens die afgelope verkiesing by ʼn groot deel van sy eie kiesers gestik in sy pogings om “ʼn goeie storie te verkondig” en het blaam na oral geslinger, soos na apartheid, Jan van Riebeeck, die grondbesitters, rassisme (iets waaraan wittes eksklusief skuldig sou wees) en vele meer.

Die huidige studente-opstand, wat skynbaar besig is om op talle kampusse die oorhand  te kry, is in ʼn sekere sin die kersie op die koek daarvan om die ANC, eerder as die vorige bedeling, vir die probleme en gewaande probleme te blameer. Die roekelose maak van beloftes, wat nie nagekom kan word nie, is hoog op die agenda. Ja, onder die eise tel dinge soos die “dekolonisasie” van leerplanne en ander sake wat skynbaar anti-modernisties is.

Maar sou die ANC beter kon regeer het sonder die verdeeldheid?

Die antwoord kan hoogstens net ten dele “ja” wees. Politieke ontleders skryf al jare lank korrupsie het endemies in Suid-Afrika geword. Die Wêreldbank sê korrupsie beroof ʼn land van sy toekoms. En korrupsie word nie met die nodige erns bekamp nie, met veral politieke gunstelinge wat skynbaar onaangetas bly, met ook ʼn verbete geveg binne die regsproses om te keer dat pres. Jacob Zuma self op meer as 700 aanklagte tereg moet staan wat die hoofvlieg in die salf is.

Natuurlik help dit ook nie as die regeerders, of dan een kamp daarvan, voortdurend elders veldbrande stig om die aandag van die probleem te lei nie. Dit verbreed net die onstabiliteit en die stand van die ekonomie is op die spel.

Teen hierdie agtergrond is die tweespalt in die ANC eerder stabiliserend van aard as destabiliserend, want dit rem nog groter probleme soos staatskaping en ʼn strooptog op die tesourie.

Die bewerings van staatskaping het ʼn interessante uitwerking. Verskeie ministers het duidelik groot ongemak met die moontlikheid dat lede van die kabinet van buite gekaap is. Dit ruk ou wonde oop van ou koloniale sienings soos sigbare en onsigbare voogdyskap, waar die ministers van nuwe selfregerende gebiede nie as opgewasse / volwasse genoeg beskou is om self onafhanklike werk te verrig nie en hul toutjies van elders getrek is.

Die DA en Vryheidsfront Plus se jaarlikse “rapporte” vir ministers dui ook daarop dat ʼn groot deel van die kabinet erg onbevoeg is, met Faith Muthambi wat waarskynlik nuwe standaarde aan die onderpunt van die skaal stel. Tog loop hierdie swak ministers meestal oor van selfvertroue en om hulle te verdink daarvan dat hulle eintlik net die poppe van ʼn poppespel is, gaan nie goed af nie.

En solank die vorige Openbare Beskermer se verslag oor staatskaping geheim gehou word, hoe langer gaan hierdie ongemak in minstens ʼn deel van die kabinet, voortduur. Aangesien ʼn deel van die kabinet, gerugsteun deur ander ANC-swaargewigte, Zuma nou die rug toekeer, frustreer die smoring van die verslag die moontlike onthulling van Zuma se eie “verkoopbaarheid” aan kapitaalryke en vrygewige toutjietrekkers.

Die huidige verdeeldheid kan slegs stabiliserend wees solank die groep oor genoeg mag beskik om veral die ekonomie te beskerm. Verder moet die groep, wat nou onder meer die minister van finansies, Pravin Gordhan en adj.pres. Cyril Ramaphosa insluit, as “goeie ouens” uitstaan.

Ramaphosa se beeld is die afgelope aantal jare geknou, beginnende by sy rol by Marikana en later hoe hy “hospitaal-aangeë” van Zuma se kant hanteer het. Verskeie gesaghebbende kenners het ook gemaan Gordhan is nie ʼn foutlose engeltjie nie, maar dié stemme het grootliks stil geword in die konteks van die krisis waarop die land nou balanseer.

En byna al die ander skeibrekers se reputasies is geknou deurdat hulle ook in die verlede, wanneer Zuma in die sop beland het, om hom laer getrek het.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jordaan ·

Die sogenaamde “goeie ouens” (Gordhan, Ramaphosa, ens) het almal gestem vir Zuma se behoud toe die parlement moes besluit oor Zuma se skending van die Grondwet vroeer vanjaar. Daar sal baie water in die see moet loop voordat ek een van die ANC se senior lede gaan vertrou.

Vra maar net ·

Een vragie rakende die eerste paragraaf in die berig…..Wánneer het die anc ooit die land behhorlik regeer (gelei) sedert zuma op agteraf wyse van Thabo Mbeki ontslae geraak het? Een skandaal op die ander het gevolg en hy en sy slaafse navolgelinge stel ‘n voorbeeld dat daar géén wet in die land sommige bevoordeeldes tot verantwoording kan roep nie, want hulle steur hulle doodeenvoydig nie daaraan nie.

Klong ·

Ons in SA kan regtig staat maak op die oppissie partye en die waardes wat voorheen oorheers het.Kyk maar na baie Afrika lande bvb Zim word in grond bestuur deur een man

Riaan ·

Lyk my hulle raak bang vir vervolging as SA nou gaan onttrek van die ICC in navolging van Burundi.

Hendrik ·

n blindeman kan met n stok voel dat een man in die regering vir sy eie sak of sakke begin volmaak het en steeds nie genoeg het nie. daar is nou soveel wat sy voorbeeld volg dat die vuur oral opslaan en kan nie meer beheer word nie. Hy hits studente eerder aan deur te sê dis n teken van demokrasie. As dit demokraties is wil ek nie in my wildste drome demokraties wees nie.

latie ·

zuma moes self gese sy nasie is lui en hy self ook lui daai man ou zuma

let wel ·

Ek glo dis n goeie ding dat waar n politieke party so swak die land regeer interne woelinge en rusies die beste ding is wat kan gebeur. Verbeel jou indien n totale korrupte politieke party oor n soliede mag beskik, hoe swaar sou die landsburgers nie gekry het nie? verder is ons almal mismoedig oor die huidige gebeure wat ons land kniehalter maar tog is dit beter dat die sweer oopbreek en dat ons die beste moontlike oplossings soek. Gelukkig is daar n paar ANC lede wat common sense het.

KP ·

Suid Afrika word lankal en is van die begin af van buite deur die buiteland regeer. Dit is nou net buiteland teen die Guptas. Waar kry die EFF sy geld vandaan om sy stryd te voer, die buiteland. Waar die buiteland apartheid gebruik het gebruik hy nou mense binne die land teen mekaar om verdeeldheid te bring en gaos te saai om sodoende die land onregeerbaar te maak. Korrupsie is maar net n maklike manier om hulle hande, hulle doelwit op ons grondstowwe te kry.
Dit is presies wat Amerika begin het en nog altyd besig is om te doen in die ooste. Amerika soek eintlik net hulle olie en voel verder vrede vir die mense in die lande.

Rynhardt ·

Die Anc is vir 22jaar sleg vir SA met sy druiping van ekonomiese groei en diskriminering! n Verdeelde Anc laat die rewolusionere groepe navore tree.Die politieke bestel was so georganiseerd agter die skeems dat dit verder bestaan uit Anc-faksies!

Kobus ·

Hulle is almal soos ‘n spul brommers om ‘n mishoop. Sodra enigeen bietjie ver van die feesmaal wegbeweeg, sal die gemis van die reuk van verderf hom terugbring na die bron. Die feit dat ‘n brommer verder van die hoop af is as ander, maak hom nie minder van ‘n brommer nie, dit maak hom net ‘n verdwaalde brommer. Al hierdie sg “goeie ouens” is in wese niks anders nie as opportunistiese napraters wat besef hulle moet so bietjie verder van die mishoop af beweeg om minder na brommers te lyk. Inderwaarheid is hy slegs opsoek na sy eie, nuwe, vars mishoop waarop hy en sý napraters kan heers. Tot die volgende een kom! Sela.

Johann van Staden ·

‘n ‘Onverdeelde’ ANC was vir 22 jaar nie in staat om die land behoorlik en verantwoordelik te regeer nie. Ek sit my geld eerder op ‘n verdeelde ANC met die hoop dit dit sal lei tot die totale ondergang van die korrupte gespuis wat glad nie die belange van die land en sy mense enigsins geag het nie. Sodra die ANC sy meerderheid in die nasionale regering verloor en ten minste tot ‘n groter mate verantwoordbaar gehou kan word en sinvolle besluite geneem kan word, of ‘n ander party die regering kan oorneem (ook sonder ‘n 2/3 meerderheid) sal dinge verander in hierdie land. Dan sal ekonomiese stabiliteit heers, werkskepping en groei sal ‘n beter toekoms vir almal in hierdie land skep.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.