Nuuskommentaar: Is Vlaams Belang se wins ook in Afrikaner se belang?

Tom van Grieken, leier en voorsitter van die Vlaams Belang. Foto: (AP Photo/Virginia Mayo)

Bied die opkoms van die regse Vlaams Belang in die afgelope Belgiese verkiesing aan Suid-Afrikaners wat minderheidsregte hier tot hul reg wil laat kom, en druk van oorsee probeer werf om plaasaanvalle te veroordeel, dalk nou groter positiewe moontlikhede as in die verlede, of bly dit goeie raad om liefs wyd te hou?

Reg of verkeerd, baie Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners het ’n instinktiewe aanvoeling dat hoe meer vordering regse partye in hul eie lande maak, hoe beter is dit vir die Afrikaner. Ander glo weer daardie partye is so ongewild in hul eie lande dat enigeen wat met hulle assosieer, eenvoudig ook gekontamineer word. ’n Spreekwoord uit die 17de eeuse Nederlands, “Wie

zich onder den draf mengt, dien eten de zwynen”, beteken immers dieselfde as by ons: meng jou met die semels dan vreet die varke jou.

Een van die baie voorbeelde wat toon dat partye met ’n regse inslag in België nie by almal gewild is nie, is dat die vorige keer wat ’n Belgiese koning formeel samesprekings met so ’n party gevoer het, in 1936 was. Dit het in die praktyk beteken dat die Vlaams Belang ook nie by koalisie-onderhandelings ingesluit kon word nie.

Maar nou, met die pas afgelope verkiesing in België waar vir die Europese parlement, die Belgiese Federale regering en die etniese deelstate gestem kon word, hét die koning wel ook met die Vlaams Belang samesprekings gevoer. Die Vlaams Belang, wat tot voor dié verkiesing as ’n soort randparty beskou is, het sterk gegroei. In teenstelling hiermee het die Franssprekende Wallonië skerp na links geswaai.

Die Vlaams Belang het voorheen as die Vlaamse Blok bekend gestaan, maar is in 2004 deur die federale hof as party verbied omdat die beleid sterk rassistiese elemente bevat het. Die party het as nuwe party, die Vlaams Belang, herrys, met ’n beleid wat nie so duidelik rassisties is nie. Die party het sy radikale karakter probeer verander na ’n konserwatiewe party.

Hoewel die Vlaams Belang meer gematigd is, het die ander partye ’n beleid in plek gehou met die doel om Vlaams Belang van die ander te isoleer sodat dit nie as koalisie-vennoot oorweeg word nie. Hierdie kwarantyn het as die cordon sanitaire bekend gestaan. Herinner dit nie aan die voorverkiesingsrelletjie toe die Onafhanklike Verkiesingskommissie die Black First Land First as party geregistreer het wat aan die verkiesing kon deelneem nie, in weerwil daarvan dat sulke rassistiese partye wetlik van sodanige registrasie uitgesluit moes wees?

Dit lyk of die Vlaams Belang se groei met die afgelope verkiesings ’n einde aan dié taktiek gemaak het, waar dit tot die vorige verkiesing, toe Vlaams Belang op nasionale vlak net drie setels kon verower, nou 18 gewen het. Na Sondag se verkiesing het die Vlaams Belang sy setels op federale vlak met 15 opgeskuif. Slegs drie partye het nié setels verloor nie – die Vlaamse Belang, die PVDA+/PTB wat tien bykomend verower het, en die DéFI wat sy skamele twee setels behou het. Hiermee het Vlaams Belang die party met die tweede meeste setels geword.

Die betreklik regse N-VA, wat die Vlaamse regering die afgelope aantal jare regeer, het steeds as die sterkste Vlaamse party op federale vlak uit die stryd getree, deur 25 setels te verower na dit agt setels afgestaan het. Die leier, Bart de Wever, het na die uitslae amper almal bekend was, erken dat sy party “verloor” het.

In Vlaandere het min of meer dieselfde patroon ontwikkel. Die N-VA het met 24,8% as grootste party uit die stryd getree, die Vlaams Belang het 18,5% getrek, en die Vlaamse Christen-Demokrate (CD & V) 15,4%. Die Groenes en die Vlaamse Belang is al beduidende partye wat steun bygekry het. Na die vorige verkiesing het dit 551 dae geneem om ’n nuwe regering saam te stel. Nou moet die proses – en hopelik nie die tydsduur nie – weer plaasvind.

Tom van Grieken, leier en voorsitter van die Vlaams Belang, kom by die paleis in Brussels aan vir sy ontmoeting met die koning. Foto: (AP Photo/Virginia Mayo)

Nederlandse joernaliste spot dikwels verslaggewers uit die buiteland wat oor hul verkiesings kom skryf: “Die politiek in Nederland is gans te skisofrenies vir ’n buitelander om te volg.” België se verkiesings behoort eintlik komplekser te wees, maar daar is ook soveel vaste patrone dat dit minder “skisofrenies” is. In hooftrekke kan gesê word die Vlaminge neig die afgelope paar verkiesings verder na regs, en Wallonië verder na links Dit laat plek-plek ’n slegte smaak. Die hardwerkende en kapitalistiese Vlaminge dra jaarliks miljarde euro’s by om die sosialistiese en armer Walloniërs op dieselfde sosio-ekonomies vlak te probeer bring as die Vlaminge.

Wat miskien nou meer van belang is, is die vraag in hoe ’n mate die tendense in België (en tot ’n mate in ander Europese lande waar die regse partye dikwels van nietig tot beduidend aan die groei is), sienings oor Suid-Afrika en spesifiek die Afrikaner beïnvloed.

Tot onlangs het van die regse partye, dikwels ten regte, bloot die reputasie gekry dat hulle pro-Nazi is, en hulle was tot nietigheid by die kiesers gedoem. Regse Afrikaners wat in die verlede bande met die Vlaamse Blok probeer sluit het, is dan oor dieselfde kam geskeer, en alle uitreikpogings was dan gekontamineer. Van hierdie Afrikaners het dan nog meer skade aangerig om in onderhoude met Europese TV-stasies te beweer die Joodse volksmoord het nooit plaasgevind nie. By geleentheid moes AfriForum, wat met uitreik-aksies en die bekendstelling van plaasmoorde besig was, hom van so ’n TV-onderhoud distansieer.

AfriForum en ander instansies, soos die Instituut vir Rasseverhoudinge, se veldtogte oor spesifiek plaasmoorde, is juis nou besig om vrugte af te werp. Pas het die Franse rubriekskrywer wat veral in Nederlands skryf, Sylvian Efimenco, ’n stukkie uit ’n Afrikaanse brief wat hy ontvang het, gepubliseer. “Om 14.57 uur eergisteren kreeg ik dit bericht: ‘Ek is baie bly jy skryf oor die plaasmoorde. Drie plaasaanvalle al weer vandag!!! Ons hoop buiteland gaan Suid Afrika [sic] help.” Die opskrif van sy jongste rubriek lui: “Schrijven dat blanke boeren aan de hoogste boom moeten worden opgeknoopt, gaat te ver.” (Maroela het in ’n nuuskommentaar en ’n artikel onder Nou pra’ jy, hieroor geskryf, onderskeidelik hier en hier.)

Dit gaan ’n goeie kenner of twee kos om Suid-Afrikaanse uitreikinstansies te adviseer oor die wysheid van die potensiële en werklike goedgesindheid van erg regse partye te benut, en in hoe verre dit benut kan word.

Dit is egter duidelik dat goeie bande met positiewe of neutrale skrywers soos Efimenco aktief nagestreef moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan Botha ·

Met die uitbreek van die Anglo-Boere oorlog, het President Krüger vergeefs probeer steun werf by ons stamlande Nederland en Frankryk.

Dit was egter ‘n Emily Hobhouse wat die versterwing van vrouens en kinders dmv haar foto’ s aan die breë publiek bloot gestel het.

Sal regerings ons boere help? Ek glo nie.

Wat dalk sal help is as die breë publiek druk op hulle onderskeie regerings uitoefen.

fred ·

ek het Tom van Grieken ,die nuwe voorzitter vab Vlaams Belang ingelig oor die politieke toestand hier en spesifiek die plaasmoorden.
Hy het geantwoord dat hy die Zuid-Afrikaanse boerenbelangen in het parlement sal verdedige……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.