Nuuskommentaar: Is voortrek van eie ras rassisme?

hande kultureel diversiteit rasse

Argieffoto (Foto: maxlkt, Pixabay)

Rassisme, so weet Suid-Afrikaners, is ’n baie, baie komplekse saak. Selfs in sy kruste vorm word daar koppe gestamp omdat die misbaksel-opvatting in sekere kringe voortleef dat ’n swart persoon “per definisie” nie ’n rassis kan wees nie, en op die oog af gee juis die SA Menseregtekommissie (MRK) die toon aan om hierdie opvatting te institusionaliseer.

Presies dieselfde haatspraak deur een, word in die mond of daad van die ander “vryheid van uitdrukking” – met die pleger se ras die enigste faktor wat bepaal watter kant toe die saak inslag vind.

Hierdie onewehandige optrede kan ’n gevaarlike bron van konflik voed en kweek.

Oudpres. Jacob Zuma het hom by geleentheid ’n stroom formele klagtes van haatspraak op die lyf geloop deur te sê wit mense het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel. Dit het die MRK op die oog af met ’n yslike klip in die maag gelaat.

Opnames toon immers dat ongeveer 85% van die swart mense die president se opvattings as feit aanvaar. ’n Paar jaar later, en dié opvatting het so deel van die land se historiese geheue geword dat dit formele regeringsbeleid is en prosesse in aantog is om artikel 25 van die Grondwet (deel van die Handves van Menseregte) te wysig.

Boonop vorm dit die grondslag van nog minstens twee radikaler partye se standpunte hieroor, naamlik die EFF en die BLF. Ook die PAC-leier het in sy repliek op die president se mees onlangse staatsrede oor hierdie aspek sy lyf behoorlik Malema gehou.

Pas het die liberale prof. Anton van Niekerk van Stellenbosch in ’n artikel erg onder instansies soos die FAK, Solidariteit en AfriForum ingeklim oor die oprigting van ’n standbeeld ter herinnering aan die baie kinders wat in die Anglo-Boereoorlog dood is. In breë trekke het hy dit daarteen dat die kinders uit ’n bevoorregte groep (sy woorde) so vereer is, en swart kinders van dié erkenning uitgesluit is. Dr. Danie Langer, voorsitter van die FAK, het hom breedvoerig geantwoord.

Niemand kan egter stry dat, wêreldwyd, sommige kinders met meer kanse grootword as ander, en dat ras dikwels ’n groot persentasie van dié probleem uitmaak nie. In Suid-Afrika word hard gespook met “oorgeërfde” armoede wat so maklik na institusionele rassediskriminasie in die verlede teruggevoer word. Hier, soos elders, word daar nie werklik vrae gevra oor hoe lank “omgekeerde diskriminasie”, “regstellende” optrede en bemagtiging “geregverdig” is om die ongelykhede uit te wis nie.

Hier word breedweg gekyk na die beëindiging van apartheid. Die laaste apartheidswet is etlike jare voor 1994 deur die vorige regering uit die wetboek verwyder. In die VSA word breedweg gekyk na die tydperk wat op die beëindiging van die Amerikaanse Burgeroorlog gevolg het, die einde van slawerny, of die beëindiging van die beleid van segregasie. Daar is selfs nou ’n nuwe definisie van nierassisties wees onder radikale groepe. Iemand kan alleen nierassisties wees as hy restitusie betaal het – ’n idee wat baie sterk plaaslik inslag gevind het, asook volgens die Zoeloe-kultuur se opvatting dat vergifnis slegs op restitusie kan volg.

Soos in Suid-Afrika is die uitvoering van “affirmative action” (wat nie met werklike regstellende optrede verwar moet word nie) dikwels vol slaggate. Die Los Angeles Times stel dit vanoggend onverbeterlik: “They Are Milking the System”.“It’s a noble idea: helping disadvantaged Americans by steering municipal, state and federal contracts to qualified minority-owned companies. But in many instances, government agencies have not vetted those companies. An L.A. Times investigation has found that, since 2000, the federal government and authorities in 18 states, including California, have awarded more than $300 million under minority contracting programs to companies whose owners made unsubstantiated claims of being Native American.”

Ondertussen het die Nederlandse dagblad, Trouw, berig oor ’n metode wat binnekort in die VSA in werking tree op ’n skynbaar nierassegrondslag deur kinders met minder kanse ook regverdig te laat deelneem aan die kanse wat hulle verdien. Ook dit klink na iets wat in Suid-Afrika reeds in ’n gewysigde vorm beslag gekry het, naamlik om sekere kategorieë kinders se punte aan te pas.

Die norm vir die uitsoek van kinders met ’n minder kansryke uitdaging om geleenthede te kry soos om sekere prestige-universiteite te kan bywoon, is die ouers se welstand. Dit word in groot mate bepaal deur die welvarendheid van die omgewing waarin die kind grootword. Faktore wat kinders vir die bykomende punte laat kwalifiseer, is as jou ouers arm is, laag opgelei is, nie Engels kan praat nie, en as jou ouers geskei is. Nog punte kan verdien word as die mense in die buurt waar jy woon min verdien, die huispryse laag en die misdaadkoers hoog is. Ten slotte, as jou skool nog van lae gehalte is, kry jy ook bykomende punte.

Daar is uiteraard baie probleme met dié nuwe planne, soos dat dit die motivering om ’n omgewing te verbeter kan demp omdat die pasella-punte kan begin opdroog, maar ten minste is dit ’n poging om die lot van kinders te verbeter.

Dit kan kwalik vergelyk word met situasies soos waar daar blatant aksie teen Steve Hofmeyr geneem word, maar geen kritiek uit dieselfde monde teen Zindzi Mandela, Suid-Afrika se ambassadeur in Denemarke, kom nie. Lees gerus Maroela Media hier.

Die Afrikanerbond verwys na die geval van Ashwin Willemse en die MRK se lomp hantering hiervan, en van ander sake:

Ashwin Willemse. Foto: SuperSport

“Die Afrikanerbond het al telkens gewaarsku dat die SAMRK in sy optrede alle kredietwaardigheid en integriteit verloor het. Die Ashwin Willemse-sage en die Schweizer Reneke-geval het dit bewys. Openbare verhore en ondersoeke ná meer as ʼn jaar in die Willemse-geval en ná ses maande in die Schweizer Reneke-geval en die SAMRK se dawerende stilswye ná die aanvanklike koorsagtige haas om te ondersoek en in te meng, is ʼn duidelike bewys dat die SAMRK nie meer vertrou kan word om enige rassevoorvalle te ondersoek nie.

“Ons volstaan met ons beroep op die president om ʼn proses te begin om die mandaat en werksaamhede van die SAMRK  te hersien, sowel as om die ernstige leemtes en gebrek aan doeltreffendheid van hierdie statutêre Hoofstuk 9- grondwetlike liggaam aan te raak, aangesien rassepolarisasie waarskynlik op sy ergste is sedert apartheid. Ons ontken geensins dat Suid-Afrika nog worstel met rassisme in alle samelewings en by alle rasse, wit en swart, nie. Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie moet egter aanspreeklik gehou word vir Suid-Afrika se nuwe rassisme omdat hulle sienderoë toegelaat het dat die haatspraak en opruiende spraak onbeantwoord gebly het.

“Wat veral nou nodig is, is dringende optrede teen aanstigters van rassehaat met ‘beweerde voorvalle’ van rassisme soos wat die Ashwin Willemse-geval nou al te duidelik begin uitwys.”

Hierdie woorde van Jan Bosman, uitvoerende hoof van die AB, was skaars koud toe berig Netwerk24 van ’n aanval op die sosiale media op Nick Mallet deur ’n lid van die Kings se uitvoerende raad, Bantwini Matika. Hy het Mallet onder andere ’n rassis genoem. Die uitvoerende raad doen nou stappe teen Matika.

Die ou waarheid bly maar van krag – rassisme kan nie deur rassisme beveg word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Arie ·

Die ding is hulle hou nie van wet en orde nie! so alles wat hulle doen is reg en alles wat ons doen is verkeerd, hulle kan sê wat hulle wil ons kry boetes. Dis ‘n siek grap wat nooit sal weggaan nie

marco polo ·

Blankes betaal nog aanmekaar restitusie. Ons noem dit sommer net belasting.

Johan ·

Die mense wat hulle Geskiedenis ken, sal onthou dat kort voor die Groot Trek ‘n rits hofsake in die Oos Kaap was waar mense onder aanmoedig van liberale sendelinge klagtes teen plaas eienaars gelê het. Die meeste klagtes is as vals en ongegrond bewys. Tans is daar ook ‘n vloed van sg rassistiese aantygings van veral die radikale kant… Meeste is vals en ongegrond.
Ons moet leer om mekaar te respekteer en as volwaardige burgers te behandel.

Chris du Plessis ·

Voortrek op grond van ras is rasisme.
Die ANC het reeds meer as 114 nuwe ras gebaseerde wette gemaak wat teen blankes diskrimineer.
Maar die reg op selfbeskikking, wat n internasionale reg is soos vervat in die VN se Internasionale Verdrag vir Politieke en Burger Regte, Art. , sowel as in internasionale mense regte, stel wel dat n etniese groep die reg het om homself te bevorder op ekonomiese, sosiale en kulturele vlak en selfs politieke vlak. Bg verdrag is ook deur RSA onderteken. Afrikaners (of enige ander etniese groep) het dus n reg om hulself op n etniese/volksgrondslag te bevorder of bevoordeel.

Boy van die Suburbs ·

Dis nie ‘n kwessie van voor trek nie! Dis ‘n kwessie van ‘n Volk se oorlewing! As ons nie na onsself kyk nie, gaan niemand anders na ons kyk nie…….

Gert van Wierdapark ·

Die enigste dag waarop ons nog op mense-regte kan uitleef, is natuurlik op Mense-Regte dag op 21 Maart, want dis n openbare vakansie-dag. “Geen bekommernisse op die dag – dink nie eens dan aan die MRK nie!

lewies ·

Tronkstraf wat deur die hof opgele is vir rassisme sal die probleem oplos, maar ook tronkstraf vir diegene wat mense beskuldig van rassisme en deur ‘n hof as ongegrond bewys word. ‘n Swaard wat twee kante toe sny.
Ek weet nie watter een van bogenoemde is die moeilikste om te bewys nie. Dis vir die hof om te besluit.

Nederkaner ·

Weet jy, dis die beste ding wat ons as Afrikaners kan doen. Hulle het hul menings oor ons. Die beste is ons doen besigheid met mekaar en daai wie ons nie soos slegte mense behandel nie.

Andreas ·

Terloops, hierdie toespraak was vanoggend in Sandton gelewer.

Andreas ·

Ek sien van die ministers was ook by die geleentheid, een of twee het aantekeninge gemaak en ek wens mens kon hierdie video by Cyril en alle politici uitkry, dat hulle kan hoor wat Mogoeng oor kundigheid en kundige aanstellings te sê het, hoe mense verkies word, verantwoordbaarheid. En die man was nogal driftig oor daardie net 18 munisipaliteite uit die 257 wat skoon oudits gekry het.

Johan ·

Ons as wittes moet net besef ons het voorkeer behandeling vir meer n leeftyd ervaar van die banke tot werkverskaffing en posbekleeing al raad is om te versoen met ander

Andreas ·

Johan, jy het nie idee waarvan jy praat nie en jy dra nie die waarheid uit nie. Ontleed wat jy gesê het. Dus as iemand jou in die grond vertrap, moet jy met hom versoen? Wat beteken versoen vir jou?

Deon ·

Wittes se bubbletjie het gebars. En steeds is daar wittes wat nie weet hoe om dit te hanteer nie.

Johan ·

Mag die Goeie Vader ons as wittes se Geestelike oe oopmaak die hemele behoede ons!

Andreas ·

Ek weet die Bybel sê jy moet die ander wang ook draai, maar daar staan nie dat mens twee lewens het nie, dus as een opgebruik is dat daar nog een oor is nie.

Andreas ·

Johan, kom ek sê so, die voortrekkers het toentertyd Die Bybel in die wa-kis saamgery, hulle was Godgelowige mense … waarmee moes hulle versoen? En Piet Retief?

Adam ·

Om voorkeur aan jou eie mense te gee kan nooit as rassisme gesien word nie. Daar moet immers gemene delers tussen mense aanwesig wees wat die basis van die verhouding tussen hulle daarstel. Dit beteken nie dat mense ander mense sonder respek kan hanteer nie en inden daar wedersydse respek tussen partye is en almal word oor dieselfde kam geskeer sal daar groter harmonie wees. Hierdie doodgewone stukkie logika het ongelukkig nog nooit traksie in SA gekry nie.

Kobus ·

Die ekonomiese gemeenskap is te geintergreed om voorkeur aan jou eie mense te gee. Daarom het die staat se pogings met BEE en RA ook misluk.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.