Nuuskommentaar: Is vry en regverdig moontlik in die era van die post-waarheid?

Buite die nasionale verkiesingsentrum in Pretoria. (Foto: Maroela Media)

Verkiesingsdag is eers môre, maar soveel gerugte oor ongerymdhede het reeds in omloop gekom dat ʼn mens nie anders kan as om te wonder of die verkiesing vry en regverdig verklaar sal kan word nie.

Geloofwaardige berigte oor dinge wat nie pluis is nie, is gelukkig minder volop. Met nog net die eerste van twee dae vir spesiale stemme verby, is daar berig oor leë stembokse wat in die veld gekry is, asook ’n skool wat as stemlokaal sou dien wat aan die brand gesteek is.

Of dit voldoende is om in pas met die regering se beheptheid met middelmatigheid die verkiesing, soos Suid-Afrika met die Mugabe-besmette verkiesings in Zimbabwe gemaak het, tot “voldoende” vry en regverdig te verklaar, sal eers later beoordeel kan word. Teen dié tyd beleef bitter baie kiesers die sogenaamde “era van beheptheid met middelmatigheid” as ’n eufemistiese politiek korrekte uitdrukking vir hopeloos in sy kanon in.

Ongedurigheid met die onvolmaakte is ook nou in Europa, op die vooraand van verkiesings van die Europese parlement, aan die broei. Filosofies ingestelde ontleders span die akademiese terme mildelik in. Lees gerus hier.

Hierdie skrywer het self gister weens kanker ’n spesiale stem tuis uitgebring. Dit was ’n hele geselskap van polisie en OVK-amptenare wat die stem kom opneem het. Slegs een party het ’n waarnemer gestuur, en dit was die ANC. Met die munisipale verkiesing was daar ook ’n DA-vrywilliger op die toneel.

Teen dié tyd is dit ’n uitgemaakte saak dat die BLF aan die verkiesing deelneem, al mag hulle volgens wet nie deelneem nie omdat hul lidmaatskap wit mense uitsluit. In die Vryheidsfront Plus se regstryd om die onreg te voorkom het die OVK reeds in die hof op sy baadjie gekry, maar skynbaar niks gedoen om die brouwerk betyds ongedaan te maak nie. Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, stel dit so:

“Dit is regtig kommerwekkend as die OVK ’n wet wat die verkiesings moet reguleer bloot as ‘riglyn’ inspan.”

Tegnies kom dit daarop neer dat die OVK se versuim verhinder het dat betyds teen die deelname van die BLF aan die verkiesing beswaar aangeteken kon word. Nou het talle mense reeds gestem. Talle regstegniese vrae duik nou op. Niemand sê dit hardop dat die ganse verkiesing se geldigheid in die slag kan bly nie, maar die Vryheidsfront Plus impliseer dit baie duidelik: “Die OVK het drie groot foute met dié registrasie begaan. Eerstens het die hoofverkiesingsbeampte nie sy besluit om die BLF se registrasie goed te keur in die Staatskoerant aangekondig soos wat die wet vereis nie.”

Dit word gedoen om aan ander partye die geleentheid te bied om teen die registrasie appèl aan te teken. Die hof het verlede week hierdie aspek van die VF Plus se betoog teen die registrasie aangehoor en bevind dat die OVK wel in dié opsig gefouteer het. Volgens die hof is die gevolg hiervan dat die appèltydperk teen die registrasie van die BLF nog nie begin het nie. Dit is hoe die VF Plus dit ook sien. “Hierdie uitspraak is belangrik aangesien dit oënskynlik ’n praktyk van die OVK is om nie hul besluite om politieke partye te registreer onverwyld in die Staatskoerant te publiseer nie.”

Dit bring die registrasie van die betrokke partye in die gedrang en hou selfs ’n bedreiging vir demokrasie in Suid-Afrika in. Die BLF-geval is slegs een voorbeeld hiervan. Partye se reg om appèl aan te teken teen die registrasie van ’n politieke party, in hierdie geval die BLF, word hulle dus ontneem.

Die foto van die ongebruikte stembokse wat langs ‘n pad in Tzaneen, Limpopo gevind is. (Foto: Twitter)

“Die Verkiesingskommissie (OVK) het volgens die kieshof nie aan die wetlike voorskrifte voldoen met die registrasieproses van die BLF nie en dit kan ná die verkiesing ’n invloed hê op die toekenning van setels in die parlement en in sekere wetgewers. Daar moet voldoen word aan die wet, dit mag nie slegs as ’n riglyn gesien word nie. Die VF Plus sal namens die publiek terugslaan wanneer dit wel gebeur en voortgaan om sy waghondfunksie te vervul wat die staat en ander instellings se nakoming van wetlike voorskrifte betref.”

Oor waarom die OVK so hardkoppig klou aan hul wetsoortreding, kan maar net bespiegel word. Kan dit wees dat die BLF soveel steun binne die OVK geniet dat die wetsverbreking ondanks ’n hofbevel voortgesit word? Of dat dit die ANC is wat gesteun word, en dat gehoop word die BLF sal soveel EFF-stemme wegrokkel dat die EFF nie soos algemeen verwag word, beduidend sal groei nie?

Die uiteenlopende uitslae van peilings mag volkome in die kol wees en deur geografiese faktore, die publiek se reaksies op nuusgebeure en vele meer verklaar word, maar die feit dat ons nou in die era van die post-waarheid leef, maak duidelik baie kiesers erg wantrouig.

In ’n gebalanseerde land sou die kanse dat die BLF genoeg stemme sou trek om ’n setel te verower, skraler gewees het as dat Hlaudi Motsoeneng (de facto-oudbaas van die SAUK en nou leier van die ATM) ná die verkiesing president gaan word, soos hy self voorspel. Maar daar is soveel polarisasie en die BLF teer daarop, dat dit nie heeltemal onmoontlik is dat die BLF ’n setel of twee kan losslaan nie.

Bid dat die Here jou wanneer jy jou kruisies gaan trek, sal lei en seën.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andreas ·

Iemand moet tog net nie uitgesluit word nie, dit is nou diegene wat swart van kleur is, so obsessief is die regeringsinstellings en die swart mense, dat hulle soos met skole die standaard verwater of wetgewing ‘middelmatig’ sal toepas, die doelpale doelbewus skuif in hul gespeel met woorde om terwille te wees.

Maar dan is dit met ‘n volgende verkiesing mos nou soveel makliker om die dwarslat nog laer te stel in die toepassing van regulasies en wetgewing, die skuif van doelpale, en intussen vlie uitnemendheid by die venster uit, in effek was daar nog nooit van sprake nie.

Dries du Toit ·

Ek sien vreeslik baie gevaarligte. Die stempels storie op die stembrief wat nou die rondte doen is hoogs ontstellend. Die liewe Vader behoede ons

Bella ·

Received from resident
Just to let everybody know we went to cast our special votes today and by chance both my husband and myself noticed that the ballot papers weren’t stamped on the reverse side. We approached them and they then stamped them. Without the stamp they won’t count at all. So please be vigilant when you vote on Wednesday.

Jerry ·

Dit maak nie saak wat die VF se of doen nie, die howe se gunstige uitsprake ten spyt, sien sal julle die BLF in die parlement sien! Organisasies soos die MRK en die OVK sal nooit in der ewigheid n revolusionere organisasie soos die BLF teengaan nie, hulle sal eerder die howe teengaan deur die howe se beslissings doodeenvoudig te ignoreer, totdat die howe ook lateraan abdikeer. Die VF het duidelik nog niks geleer nie en besef nie dat witbevoorregting en teenrevolusionere optredes op alle vlakke van die samelewing met hand en tand beveg word. Die VF kan verwag om vir die volgende 5 jaar in die parlement, deurlopend verneder te word totdat daardie besef van wie is deesdae baas in SA en wie is klaas, begin insink! Die manifestos van die opposisie partye van wat hulle wil doen na hierdie verkiesing, moes 5 jaar gelede al gedoen gewees het. Jy moes terug geslaan het of versoen het toe jy nog kon, nou is dit groot moeilikheidsoek, maak nie saak watse opsie jy nou kies nie, hulle gaan nou aan jou doen wat apartheid aan hulle gedoen het! Julle moes net geluister het dan sou dit nie so erg hande uitgeruk het nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.