Nuuskommentaar: Is Zuma nou in hoek vasgeverf?

Adv. Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer Foto: Universiteit Stellenbosch (US)

Adv. Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer Foto: Universiteit Stellenbosch (US)

Met môre se uitspraak in die konstitusionele hof oor die kwessie of die Openbare Beskermer se magte bindend is, sal daar ook heelwat duidelikheid kom oor of pres. Jacob Zuma homself met vele aktiwiteite so vasgedraai het dat dit noodwendig tot sy politieke einde sal lei.

Baie Suid-Afrikaners glo die uitspraak sal rigting gee of Zuma enigsins geskik is om as president te dien.

Die konstitusionele hof het egter ʼn reputasie dat dit innoverende uitsprake lewer – soms met groot vrug, andersins met heelwat duwweltjies in die pad.

Aangesien Zuma se eie advokaat in sy betooghoofde erken het die OB se bevindings is wel bindend, sal dit tog as verrassing kom as die hof anders besluit.

Trouens, ʼn belangriker vraag is of van die ander Grondwetlike Hoofstuk 9-instansies se bevindings na die uitspraak groter bindende krag gaan hê. In die dae toe PanSAT nog redelik gefunksioneer het, is talle bevindings gemaak wat bloot geïgnoreer is, soos dat die regering self die grootste oortreder van die grondwetlike taalbepalings is.

ʼn Interessante geval is PanSAT se bevinding dat Vrystaters die opsie behoort te hê om VS naas FS op hul voertuie se nommerplate te gebruik. Die destydse LUR vir vervoer het dié bevinding op “appèl” na die Menseregtekommissie geneem, wat dit na die destydse disfunksionele Bloemfonteinse kantoor verwys het om te hanteer, maar nooit gedoen is nie.

Sou Vrystaters na hierdie hofuitspraak weer ʼn opening hê om die kwessie te heropen?

Hoewel ander grondbeginsels ter sprake is, is dit vir baie Suid-Afrikaners ʼn groot frustrasie dat die ouditeur-generaal jaar na jaar met verdoemende verslae kom, dit in verkose rade bespreek word en dan net te dikwels geïgnoreer word.

Zuma se regspan se  grootste vrees is dat die hof bevind dat Zuma “uitdagend” oor die OB se Nkandla-verslag was. Volgens Zuma het hy nog nooit ʼn onwilligheid getoon om vir ʼn gedeelte van die Nkandla-“verbeterings” te betaal nie, maar die media het ruimskoots aangehaal uit voorbeelde waar dit baie moeilik is om tot die gevolgtrekking te kom dat hy inderdaad herhaaldelik geweier het om gedeeltes te betaal.

Dit sal jammer wees as die uitspraak ruimte vir verdere juridiese akrobatiese toertjies deur Zuma en/of die ANC laat. Vermoedelik sal die hofuitspraak nie ruimte vir verdere bokspronge laat nie.

Die aanduidings is egter dat Zuma geen planne het om die tuig neer te lê nie en trouens nou pogings aanwend om sy posisie te konsolideer. Hy het hom onder meer duidelik tot die groot Zoeloe-bevolking gewend om sy rug sterk te maak, onder meer deur die hou van toesprake in Zoeloe, of met groot dele in Zoeloe. Hy moker ook die rassetamboer hard om algemene swart steun teen ʼn wit gemeenskap te wen, deur onder meer te hamer op die beledigende “white supremacy.”

Een van die interessante argumente oor waaom Zuma nie nou afgedank moet word nie, is dat so-iets die ANC sal verdeel en chaos sal veroorsaak, iets wat volgens hierdie argument nog slegter vir die land sal wees as om Zuma nie die trekpas te gee nie.

Die teenargument is bloot dat die ANC die kanker te lank vertroetel het en nou baie moeilik die noodwendige gevolge kan ontduik. Heel moontlik reageer die wêreldmarkte positief daarop.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anne ·

Zuma is ‘n politieke Houdini. Ten minste het hy ‘n loobpaan vooruitsig as hy nie meer die land kan (wan)bestuur nie.

Zirk ·

Die hofuitspraak sal ook toon hoe sterk is SA se demokrasie asook die onanafhanklikheid van ons regstelsel. Die moontlike negatiewe uitkoms daarvan, is ondenkbaar.

Hendrik ·

Hy verf sommer bo-oor homself en dan is almal maar net te bang om hom aan te vat. Al die artikel 9 departemente is deur klein zumatjies geinfiltreer en almal sal hom ondersteun.

John ·

President Zuma het mos gese hy sal ‘iets’ terugbetaal. En nou weet ons wat die rol van die beskermer is. So? Dis wat hy gaan se. Wat gaan verder gebeur? Niks. Die bedraggie wat hy moet terugbetaal moet nog bepaal word. As ‘hy’ meer as R5 milj ‘teruggee’ sal ek verbaas wees.

Oom Kalahari ·

@Herman Toeriwn, soos gewoontlik weereens ‘n uitstekende en sinvolle skrywe uit jou pen.
Vele uitdagende houdings op hoë vlak (Hoog Geplaasdes) deur verskeie persone was al in die verlede tot die Onafhanklike Regsbank gedoen om die eerbaarheid en optrede te toets. Soos al vele ook deur ons Pres. Zuma op verskeie optredes hoog op die platform aan die land besing het dat niemand verhewe is bo die Gereg nie. Daarom glo ons as die publiek en gemeenskappe dat Geregtigheid hier sal seëvier.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.