Nuuskommentaar: Israel en Palestina – ’n hedendaagse apartheidstaat?

(Foto: Jack Guez/AFP)

Die afgelope naweek het die departement van sport, kuns en kultuur sy steun onttrek aan die Mej. Heelal-kompetisie wat binnekort in Israel gaan plaasvind. Sodoende sal die Suid-Afrikaanse regering nie meer Suid-Afrika se deelname aan Mej. Heelal steun nie.

Hierdie hele debakel het eintlik plaasgevind omdat die regering sterk gekant is teen Israel in die hele Israel-Palestina debat. Israel moet hanteer word as die onderdrukkende apartheidstaat wat hulle is – deelname aan hierdie kompetisie sal hulle net van legitimiteit voorsien.

Diegene aan Palestina se kant van die debat meen uiteindelik dat die Jode onregmatig Palestina beset en nou hul teenwoordigheid daar wil afdwing met geweld en onderdrukking ten koste van die Palestyne. Diegene aan Israel se kant van die debat meen uiteindelik weer dat die Jode ʼn historiese en huidige reg op die omgewing het – sodoende moet ʼn oplossing gesoek word waarin die Jode en Palestyne saam en op gelyke voet in die omgewing kan voortleef. Albei kante en groepe is dus vas oortuig dat dit hulle grondgebied is en dat hulle aanspraak daarop mag en kan maak. Een van die groot verskille tussen die twee kante is hoe die uiteindelike oplossing vir die probleem lyk.

Wanneer daar oor die huidige stand van sake in Israel met betrekking tot die Palestyne gepraat word, geskied dit baie in die idioom en paradigma van Suid-Afrika se eie apartheidsverlede. Dit sal dan ook verduidelik waarom die kwessie spesifiek vir die regering ʼn netelige kwessie is waaroor hy doodeenvoudig sy mening moet lug – dit dan ook ter ondersteuning van dit wat hy sien as onderdrukte Palestyne.

Dit is egter nie net die Suid-Afrikaanse regering wat met Israel vandag in hierdie idioom handel nie. Eric Goldstein, uitvoerende direkteur van Human Rights Watch vir die Midde-Ooste en Noord-Afrika, verduidelik dat dié organisasie nie sommer ligtelik tot die gevolgtrekking gekom het dat Israel se beleid vandag gelykstaande is aan apartheidsbeleid nie. Dit is op grond van die drie feite van oorheersing, sistemiese onderdrukking en onmenslike dade teen Palestyne.

Palestyne leef volgens Goldstein uiteindelik onder sistemiese onderdrukking en diskriminasie wat hulle tweedeklasburgers in hulle eie land maak. Dit terwyl diegene in die besette Palestynse gebied, die sogenaamde Gasa-strook, grootskaals onderdruk word en die vlugtelinge se terugkeer verbied word.

Suid-Afrika se eie voormalige hoofregter, Moegoeng Moegoeng, bevind homself weens geloofsredes weer aan die kant van die Jode in hierdie geveg. As Christen kan hy uiteindelik nie oordeel teenoor Israel en die Jode uitspreek nie en moet hy lief wees vir hulle. Die Bybel is vir Moegoeng belangriker as enige ander dokument en dien as basis vir die geloofs-historiese aanspraak wat die Jode op Israel het – van so vroeg as 1300 v.C.

ʼn Politieke kommentator, en ortodokse Jood, soos Ben Shapiro bevind homself ook aan hierdie kant van die debat. Hy doen groot moeite om te verduidelik hoe die Israel-Palestina-konflik nie so eenvoudig en onskuldig is as wat mense dit dikwels skets nie. Diegene wat teen die Israelse regering veg, is die de facto regering van die Gasa-strook wat eintlik maar die terroriste groep Hamas is. Dus is die huidige debat en geveg nie so eenvoudig soos die onskuldige, onderdrukte Palestyne teenoor die bose, onderdrukkende Jode nie. Dit is uiteindelik ook ʼn geveg tussen Israel en ʼn terroristeorganisasie.

Shapiro verduidelik hoe Hamas die totale vernietiging van Israel as Joodse staat voorstaan – dit is ʼn posisie wat ten diepste antisemitisme bevorder. Hamas poog in sy optrede en spandering van geld nie om die Palestyne in die Gasa-strook op te hef en help nie, maar eerder om Israel en dus ook die Jode te vernietig.

In Israel leef Palestyne met die volle en gelyke burgerskap van Jode, maar onder Hamas leef daar nie een Jood nie en sal dit waarskynlik ook nie sommer gebeur nie. Shapiro verduidelik hoe die Israel-Palestina-konflik nie handel oor grense, geloof of regte nie. Dit handel uiteindelik oor die feit dat Israel as Joodse staat bestaan en dat terrorisme van groepe soos Hamas nie wil hê dat Israel as Joodse staat moet bestaan nie. Sodoende maak dit jou nie antisemities om Israel se optrede te veroordeel nie, maar kom dit wel op antisemitisme neer om Hamas se kant in hierdie geveg te kies.

Hoewel die feite op die tafel uiteraard altyd saak maak, is die media se hantering van enige kwessie byna net so belangrik soos die feite self. Dit wat die media skryf, word uiteindelik die waarheid en dit wat die politieke elites op die agenda toelaat, is uiteindelik dit waaroor geskryf word.

Sodoende speel die Israel-Palestina-konflik in ʼn moderne konteks af waarin die waarheid net sover strek as wat dit gepropageer kan word. Dit is dan ook soveel te meer waar in ʼn wêreld waarin internasionale organisasies, belangegroepe en regerings op groot skaal inmeng by ander se konflik. Die Israel-Palestina-konflik hang dus nie net van die Jode en die Palestyne af nie, maar ook van die rigting waarin die internasionale debat deur betrokke rolspelers gestuur word.

Suid-Afrika het ook geleer dat die besluite van konflikoplossing uiteindelik van binne kom, maar hoegenaamd nie in isolasie geskied van eksterne druk nie. Die groot vraag is dan nou watter weergawe van die werklikheid hier die oorhand gaan geniet. Elke kant van die debat glo vas dat hulle reg is en dat hulle optrede regverdigbaar is.

Anders as die Suid-Afrikaanse apartheidstaat in die laat 1980’s is die morele mat egter nog nie so onder Israel uitgeruk nie. Die Suid-Afrikaanse apartheidstaat sou nooit kon voortleef nie vanweë die morele en ideologiese holheid van die instelling. Daar was net soveel kritiek en druk van binne as wat daar van buite teen die apartheidsregering was – die einde was onafwendbaar.

Dit is egter nie die geval vir Israel nie. Sodoende is die vraag of Israel nog die ideologiese en morele oorhand het wat nodig is om hulle weergawe van die oplossing te kan laat voortleef? Selfs belangriker – kan Israel sy weergawe van die oplossing aan genoeg rolspelers met genoeg mag verkoop om sy voortbestaan te verseker?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Fred

Israel wil oplossings vir die konflik probeer vind terwyl die palesteinse leierskap slegs alles wil oorneem deur die uitdelging van die Jode met geen kompromieë nie. Soos in die artikel, daar woon baie Palesteine reeds in Israel met gelyke regte, maar geen Jood in Palestina nie, nou hoe dan nou?
Daarom is nog geen einde in sig nie.

casper

Intussen is Suid Afrika die wereld se grootste rassistiese land wat met die wet rasse skeiding doen – en geen kommentaar daaroor in die wereld nie.
Blankes is net nie welkom in die land van hulle geboorte nie !!

Fred

Dankie Monica vir ‘n goeie en gebalanseerde werkstuk.

Nici

Al die lande om Israel behoort aan die arabiere wat nie sal rus voor hul die klein stukkie wat aan die Jode behoort ook het nie. Die land was eeue lank Israel en toe hul uitgedryf is uit hul land het die Romeine wat hul tempel afgebrand het die naam van Israel verander na Palestina. Die arabiere wat in Israel oorgebly het is toe so genoem. Hul is Israeli arabiere met stemreg. Daars geen apartheid hier nie. Daars geen Palestina nie net Israel.

Grassie

Die stryd tussen Israel en die Filistyne (Gasa) duur al meer as 3000 jaar. Dink maar aan die botsing tussen Dawid en Goliat. Ongeveer 70 NC is die Jode verslaan en oor die hele wêreld verstrooi. In die Bybel staan geskryf dat die Israeliete wel weer in die verre toekoms sal terugkeeren hul land terugneem. (Sien Esegiël 37) Dit het ongeveer 2000 jaar later gebeur en op 14 Mei 1948 het hulle dit finaal gedoen. Die stryd tussen Israeliet en Filistyn is nou hervat. Israel is die enigste land in die wêreld wie se kaart en transport baie noukeurig in… Lees meer »