Nuuskommentaar: Jaaroorsig 2 van 2018: Pres. Cyril Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Net meer as ’n jaar gelede, op 18 Desember 2017, het die destydse adjunk-president, Cyril Ramaphosa, die leierskapsverkiesing van die ANC naelskraap gewen. Ramaphosa het adjunk-president geword toe hy sy steun aan pres. Jacob Zuma toegesê het tydens Zuma se herverkiesing tot ANC-president. Ramaphosa se keuse is waarskynlik gemotiveer deur sy eie planne om president te word, en slegs Zuma kon nog net een termyn dien.

As beloning het Zuma vir Ramaphosa (weliswaar eers na ’n ruk) adjunk-president gemaak.

Met die verkiesing van Zuma se opvolger was die vreemde politieke “kys” egter lank reeds uit, en Zuma het sy eksvrou, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma se kandidatuur gesteun.

Ramaphosa se verkiesing, naelskraap of te nie, was oor die algemeen verwelkom. Enigiets sou immers beter as Zuma wees, en tweedens het Ramaphosa oor die jare op verskeie terreine respek afgedwing. Hy was byvoorbeeld met die stemming op die ANC-kongres oor die onteiening van grond sonder vergoeding daarteen gekant. Trouens, daar kon min negatief oor Ramaphosa gesê word buiten dat hy, as adjunk-president, heelwat van die staatskapingsonheilighede moes geweet het, maar daaroor geswyg het.

Opinies oor of Ramaphosa ’n goeie president is of nie, hang hoofsaaklik af van die erns waarmee die grondgrypkwessie sonder vergoeding opgeneem word. Die gevare is legio, en Landbouweekblad het dit onlangs baie goed in ’n artikel saamgevat: Bloot die debat oor die grondgrypkwessie het daartoe gelei dat die land ’n daling van 7% in kapitaalvorming beleef het. ’n Daling van 10% sou beteken dat die BBP-groei R454 miljard minder sou wees, en dat die Tesourie se inkomste R262 miljard minder sou wees. Boere se bankskuld sou beteken dat banke R160 miljoen aan invorderbare skuld sou verloor. Die Landbank meen as hy as krediteur nie beskerm word nie, kan dit daartoe lei dat R41 miljard dadelik aan sy krediteure betaal moet word. So ver dan die ekonomiese syfers wat deur die Landbouweekblad geopper is.

Die meningsvormers wat hulle positief oor Ramaphosa uitdruk, lê swaar klem op opmerkings en versekerings wat die president periodiek maak. Om skeptici “gerus” te stel, word daarop gewys dat Ramaphosa se verkiesing die land van ’n nog groter Zuma, of te wel, Zupta-ramp gespaar het.

Presies hoe ’n groot ramp hierdeur voorkom is, blyk uit die Nugent-kommissie se verslag oor die inkomstediens, en uit getuienis voor die Zondo-kommissie.

’n Tweede faktor wat Ramaphosa se beeld ernstig skaad, is sy ontkenning in die VSA van pres. Donald Trump se stelling dat plaasmoorde in Suid-Afrika voorkom. Daar is later erg lomp konteks gebring, maar die feit bly dat Ramaphosa ’n onware stelling oor ’n ernstige en emosionele kwessie gemaak het.

Hoewel Ramaphosa se versoeningsdagtoespraak vele positiewe elemente bevat het, en deur sy voorsangers in die Afrikaanse pers beklemtoon is, het die toespraak ook verontrustende elemente bevat soos sy verdraaiing van die feite rakende Bloedrivier.

Volkekundiges “van die ou soort” het daarop gewys dat dit in die swart kultuur as goeie hoofmanskap beskou word as die hoofman aan elke gehoor vertel wat hy wil hoor. Volgens tradisie sou hy saans in die kraal van familievuurtjie na familievuurtjie stap, en by elke vuurtjie vir die mense vertel wat hulle wil hoor.

Zuma was ’n perfekte voorbeeld hiervan, soos blyk daaruit dat hy in Julius Malema se geboortedorp in ’n toespraak gesê het die jong skeibreker is ’n toekomstige president. (Dit was voor die groot uitval.) Die groot probleem is dat hierdie soort opmerkings gereeld die massa-media gehaal het, en die mense by ander vuurtjies dan ook die boodskap wat nie vir hul ore bedoel was nie, gehoor het.

In die jongste verlede word dieselfde beskuldiging voor Ramaphosa se deur gelê, naamlik dat hy vir elke gehoor vertel wat hulle wil hoor. So het die Afrikanerbond die president daarvan beskuldig dat hy nie hou by stellings wat hy tydens die AB se 100-jarige vieringe voor sy hoofraad gemaak het nie.

Hierdie soort “taktiek” rysmier dus die bak van mooi broodjies oorsee om beleggings te lok as Suid-Afrikaanse burgerlike instellings, soos AfriForum, buitelandse inligtingsveldtogte hou om die teenstrydighede uit te wys en die waarheid bloot te lê. Vandaar die groot woede wat hierdie veldtogte by regeringslui en naïewe Ramaphosa-ondersteuners ontlok.

Tydens die vorige bedeling het verskeie politieke wetenskaplikes gereeld die model voorgehou dat wanneer ’n bevrydingsbeweging aan bewind kom, dit tien jaar (twee verkiesings) daarmee kan wegkom deur alles wat verkeerd is, voor die deur van die vorige regering of koloniale mag te lê. Wanneer die tien jaar verstryk, het die nuwe regering gewoonlik reeds die derde verkiesing gewen, maar aan die uitslae gemerk die ou taktiek gaan nie weer die pyp rook nie. Dan word ’n ander populistiese saak verhef, soos beloftes van grondgryp. Zimbabwe het geblyk ’n goeie voorbeeld te wees. Wat hier in Suid-Afrika gebeur, is min of meer ’n presiese replika van dié “model”.

Daar is ander vrae. Stuur die boodskap dat Ramaphosa ’n “prosespresident” is, nie ’n verkeerde boodskap uit aan korruptes en bedrieërs, en veral potensiële toekomstige skelms, dat dit nie ernstige misdade is nie? Is die term “prosespresident” nie maar deur sy apologete geskep om ’n slaprug-president se rug te beskerm nie? Moet die oproepe dat die president die regte boodskap uitstuur deur meer kragdadig op te tree dus laat vaar word?

Of loop ons dan die gevaar dat die probleem vinniger as die oprol daarvan sal groei?

Ontoereikende optrede (veel meer as net wetstoepassing) het daartoe gelei dat bendes en bendegeweld en dwelmhandel vinniger in sekere dele van die land gegroei het as die mate wat wetstoepassing en maatskaplike dienste dit kon bekamp. Nou het die probleem so erg geëskaleer dat verskerpte wetstoepassing en meer mannekrag met groot moeite teruggerol kan word. Moet die drenkeling se agterstewe nie eers uit die water gesleep word voor die water uit sy longe gepomp word nie? Want solank die agterstewe in die water lê sal die see leeggepomp moet word om voor te kom.

Kortom, word genoeg gedoen om die kwaad wat Zuma gesaai het, soos sy opmerking dat korrupsie ’n Westerse begrip is, nie eers daadwerklik gesmoor word alvorens die slang se kop afgekap word nie?

Soos die ou mense gesê het: “Moenie die een ding doen en die ander nalaat nie.”

En nee, daar steek nie wysheid daarin dat in 2019 se verkiesing vir Ramaphosa gestem moet word omdat dit die beste vir die land is nie. Want ’n stem vir Ramaphosa is ’n stem vir die ANC, en die feit dat Zuma en verskeie van sy adjudante deur hul takke genomineer is as kandidate in volgende jaar se verkiesing, toon dat die ANC steeds erg verrot is.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae