Nuuskommentaar: Jaaroorsig 3: Die buiteland met die fokus op Trump, (Dis)May en Brexit, én Noord-Korea

Donald Trump, die Amerikaanse president, praat met verslaggewers buite die Withuis in Washington DC. (Foto: Ting Shen, Xinhua)

Pres. Donald Trump

As president van die VSA en magtigste man ter wêreld is geen mens waarskynlik in staat om sulke diep voetspore in die wêreldgeskiedenis te trap nie soos pres. Donald Trump. Onortodoks beskryf waarskynlik nie volledig sy styl van doen en late nie.

Weens ruimtebeperking kan slegs na die laaste ruk van die jaar verwys word.

Die jaar staan einde se kant toe met Trump wat weer groot nuus is. Sy verkiesingsbelofte van die voltooiing van die muur tussen die VSA en Mexiko om onwettige immigrante te probeer uithou, het nou daartoe gelei dat vele federale amptenare Nuwejaar sonder salaris ingaan, nadat die federale regering deels moes sluit weens ’n armdrukkery oor die begroting, en die Demokrate wat weier om ’n bedrag van meer as $5 miljard vir die bou van die muur goed te keur. Trump is vasbeslote dat dit goedgekeur moet word.

Die aanduidings is dat die verlammende magspel nie lank sal kan voortduur nie. Van die begin van 2019 af het die Demokrate meerderhede in die Huis van Verteenwoordigers, na die Republikeine beide huise beheer het, en wat hul posisie aansienlik versterk. Waarnemers glo ook ’n kompromis sal aangegaan word – ’n groter bedrag vir grensbeveiliging, maar nie genoeg om vir die bou van die muur aan te wend nie.

Intussen neem die kontroversie toe met die “immigrante-karavaan” wat die grens vanuit Sentraal-Amerika bereik het, asook begin deursypel het. ’n Seun is in Amerikaanse aanhouding aan griep oorlede, wat internasionale veroordeling en binnelandse herbesinning tot gevolg gehad het.

Dít, terwyl ’n media-aanslag deur ’n groot deel van die media nog kwalik minder geword het.

Trump is ook in die nuus oor sy besluit om die Amerikaanse troepe uit Sirië te onttrek. Die vernaamste kritiek teen Trump, binnelands en buitelands, is dat hy die oorwinning op ’n skinkbord aan pres. Bashar al-Assad besorg. Sewe Arabiese lande wat met die aanbreek van die burgeroorlog kant teen Al-assad gekies het en hul diplomatieke sendings uit Sirië onttrek het, gaan dit nou weer heropen, ’n aanduiding dat hulle nou sy oorwinning as gegewe aanvaar. Na berig word, het die Koerde, wat die ruggraat van Amerikaanse operasies uitgemaak het, nou met Al-assad begin onderhandel omdat Turkye volgens aanduidings Sirië gaan binneval wanneer die Amerikaners onttrek het, en veral daarmee teen die Koerde wil optree.

Trump het kort ná sy aankondiging besoek aan die Amerikaanse troepe in Irak gebring, maar sonder om enigsins met die Irakse regeringslui te skakel of een te ontmoet. Irak het dit as ’n klap in die gesig ervaar, en die Amerikaners versoek om hul troepe te onttrek.

Trump se optrede is nie sonder gevolge nie. Volgens die jongste Rasmussenpeiling het Trump se buitelandse beleid en sy ekonomiese beleid minder steun van die kiesers gekry. Altesaam 47% van die kiesers meen Trump se hantering van die ekonomie is goed, terwyl 51% nog in Oktober regmerkies aan die president uitgedeel het.

Net 43% steun nou die president se buitelandse beleid, terwyl 45% in Oktober en 47% in Junie tevrede was.

Daar is ook ’n klein afname in die persentasie Amerikaners wat meen die land is in die regte rigting op koers, en staan nou op 40%. Dit moet egter in perspektief gesien word – teen die einde van Barack Obama se tweede termyn was die tevredenheidsvlak maar sowat 20%.

Intussen word die Wit Huis deur ’n rits afdankings van top-regeringslui gekenmerk. Trouens, dit herinner aan Trump se rol in sy TV-reeks, The Apprentice, waar “werknemer” ná “werknemer” kort en kragtig moes hoor: “You are fired.” Daar is ook bedankings van senior regeringslui.

Dit lyk of die gevaar dat Trump nog voor die einde van sy termyn in ’n staat van beskuldiging geplaas en potensieel in die tronk kan beland effens stoom verloor het. Sy vyande wil blykbaar eerder nou daarop fokus om seker te maak Trump word nie oor twee jaar vir ’n tweede termyn herkies nie.

Premier Theresa May

Theresa May, Britse eerste minister, lewer ʼn toespraak by die Confederation of British Industry (CBI) se jaarlikse konferensie in Londen. (Foto: Kirsty Wigglesworth, AP)

Theresa May het op 13 Junie 2016 premier van Brittanje geword nadat haar voorganger, David Cameron, weens die uitslag van die Brexit-referendum bedank het.

May se premierskap word deur storm op storm gekenmerk, en sy is in ’n stadium as ’n “dead woman walking” beskryf. Tog het sy, te midde van ’n groot vertoon deur haar teenstanders oor haar “ongewildheid”, ná haar Brexit-ooreenkoms met die Europese Unie ’n mosie van wantroue oorleef.

Vroeër het sy haar premierskap behou ná ’n vroeë verkiesing wat sy aanvanklik bitterlik teengestaan het, al het haar Konserwatiewe Party sy volstrekte meerderheid verloor.

Vier ministers, onder wie die minister vir Brexit-aangeleenthede, het bedank oor die ooreenkoms.

May probeer, ondanks besluite deur die EU om nie te heronderhandel nie, wel “groter duidelikheid” kry.

Boonop is daar groot aandrang vir ’n nuwe referendum nadat peilings aangetoon het dat die meeste kiesers nou voortgesette lidmaatskap sou verkies. May skop verbete hierteen vas, al was sy self aanvanklik teen Brexit gekant.

Twee van die skynbaar mees onoorkomelike probleme is die grens tussen Ierland (lid van die EU) en Noord-Ierland (deel van Brittanje), en die posisie van Gibraltar, wat deur Spanje, ook lid van die EU en daarom met ’n vetoreg oor Brexit, opgeëis word. Die grens tussen Ierland en Noord-Ierland is vir alle praktiese oorwegings wesenlik afgeskaf wat beteken Britse goedere kan via Noord-Ierland die EU doeanevry binnekom. Veral Frankryk is bekommerd hieroor.

Die gevaar bestaan dat Brittanje die Europese Unie uiteindelik sonder ooreenkoms kan verlaat. Ekonome wys egter daarop dat so ’n stap Brittanje ekonomies baie hard sal tref. So tussenin het May ’n wye reeks beleidsveranderings in verskeie departemente aangebring.

Die vraag of sy ’n tweede ystervrou is, of bloot hardkoppig, is nog nie beantwoord nie.

Veral vrugteboere in Suid-Afrika, soos dié veral in die Wes-Kaap, sal hoop dat die nuwe uitvoerooreenkomste wat met Brittanje (dan buite die EU) gesluit sal moet word, nie nog bykomende vereistes bevat nie, veral in geval van ’n Brexit sonder ooreenkoms. Die huidige EU-ooreenkomste bevat reeds verskeie vereistes wat jaarliks geoudit word, soos die gehalte van die werkers se behuising, genoeg storte by die werkplek, en uiteraard die gehalte van die vrugte. Besproeiingswater wat te veel E. coli bevat, kan problematies word en daar was al groot kommer hieroor.

Noord-Korea

Pres. Donald Trump van die VSA saam met die Kim Jong-oen, die Noord-Koreaanse leier. (Foto: Kevin Lim/The Straits Times via AP)

Noord-Korea se beeld as aggressiewe kluisenaarstaat het in Junie vanjaar ’n wending geneem toe die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-oen, en pres. Trump in Singapoer ontmoet en samesprekings gevoer het. Ondernemings is oor en weer gegee, en Trump het gesê hy het “verlief geraak op Kim”.

Intussen het ’n skaakmat blykbaar ontwikkel waar die een van die ander verwag om die eerste tree te gee – dat Noord-Korea moet begin uitvoering gee aan sy belofte van kernontwapening, en dat die VSA sy streng ekonomiese sanksies teen Noord-Korea moet ophef.

Volgens senior Amerikaanse regeringslui hoop Trump om in Januarie of Februarie 2019 weer met Kim byeen te kom vir ’n spitsberaad.

Intussen glo die VSA Kim het die “blaaskans” benut om meer missiele te bou en nuwes te ontwikkel, asook om Noord-Korea se kernvermoë uit te brei. Dié standpunt word deur verskeie kenners van Noord-Korea gedeel.

Intussen lyk dit egter of sake tussen Suid-Korea en Noord-Korea taamlik voor die wind verloop. Die Suid-Koreaanse regeringshoof, pres. Moon Jae-in, en Kim het hierdie jaar al drie keer byeengekom. Moon het gehoop om Kim vanjaar nog in sy hoofstad, Seoel, te ontvang.

As deel van die meer ontspanne verhouding tussen die twee Koreas het ’n trein onlangs, en vir die eerste keer in meer as ’n dekade, van Suid- na Noord-Korea vertrek. Opmetings word ook gedoen om meer trajekte en paaie van die twee lande met mekaar te verbind.

Waarnemers wys egter daarop dat die volle inwerkingstelling hiervan sal afhang van die opheffing van Amerikaanse sanksies, en dat die VSA weer wag vir stappe deur Noord-Korea om met sy kernarsenaal weg te doen.

Moon het ook ’n beroep op die VSA gedoen om te voldoen aan ’n wens van Noord-Korea, naamlik dat die VSA ’n deklarasie uitreik dat hy hom gaan beywer vir ’n vredesverdrag wat die oorlog tussen die twee Koreas formeel sal beëindig. Tans geld nog net ’n skietstilstand en is die twee lande nog formeel in ’n staat van oorlog gewikkel.

Japan se posisie in die verbetering van verhoudinge met Noord-Korea is kompleks. Japan dring aan op die terugkeer van alle ontvoerde Japannese wat Noord-Korea al tevore ontvoer het. Geheime samesprekings tussen amptenare van Japan en Noord-Korea oor die kwessie het reeds twee keer vanjaar plaasgevind.

Op die formele terrein werk Japan via China en Rusland aan sy verhoudinge met Noord-Korea. Hoewel Japan formeel die VSA steun, het verhoudinge versuur oor Trump se “Amerika eerste”- ekonomiese beleid, wat Japan se ekonomie benadeel.

Ander sake

Minstens twee instansies, AfriForum en die Instituut vir Rasseverhoudinge, het aangedui dat hulle die kwessie van grondgryp sonder vergoeding in die buiteland gaan wikkel. In AfriForum se geval is dit die voortsetting van ’n bestaande projek.  Gaan die Suid-Afrikaanse regering, met sy so-so minister van internasionale betrekkinge, hierdie veldtogte doeltreffend kan teenwerk, of gaan die regering teenspoed uit die buiteland begin kry?

Die oproer van die geel jassies in Frankryk, wat na België en Nederland uitgebrei het, moet in die oog gehou word.

Gaan die Vlaamse kiesers die gedagte met die volgende algemene kiesers steun dat België in ’n konfederasie omskep word?

Wat hou die toekoms met pres. Wladimir Poetin se verwagte verlengde termyn en die eskalerende Koue Oorlog in?

* Dít is die voorlaaste jaaroorsig vir 2018. Môre word na ander nuushoogtepunte van Suid-Afrika gekyk wat nog nie in ander nuushoogtepunte aan die beurt gekom het nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae