Nuuskommentaar: Jaaroorsig Deel 1

President Zuma during a press briefing

President Jacob Zuma (Foto: GCIS)

Zuma eers daar gelaat

Uit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt is pres. Jacob Zuma beslis ’n groot nuushoogtepunt, ook oor sy rol en betrokkenheid in ander nuushoogtepunte. Tog word hy vir laaste, Vrydag, gebêre omdat Zuma heel duidelik nou op die offensief is (al is dit volgens sommige kommentators ’n ekspedisie om jammergat-simpatie op te vorder – “wat het ek nou eintlik verkeerd gedoen? En dis in elk geval die wit monopolie wat my in die tronk wil hê”). Hy is juis bekend daarvoor dat hy hierdie tyd van die jaar sy voet behoorlik daarin sit wanneer sy adviseurs en toespraakskrywers gaan uitspan het. Dit is dus heel moontlik dat Zuma teen Vrydag met nog ’n juweel vorendag kan kom.

Internasionaal en plaaslik is dit besonder uitdagend om ’n akkurate analise te maak teen die agtergrond van die opkoms van die era van die post-waarheid, die groot probleem van fopnuus (fake news) en verskeie lande se groot propaganda-aksies.

Donald Trump Foto: Ricochet

Donald Trump Foto: Ricochet

Die Trump-oorwinning

Vanuit ’n wêreldperspektief is die grootste nuus heel waarskynlik die verkiesing van Donald Trump as Amerikaanse president. Met die aanvang van die Republikeine se nominasiestryd was daar ’n hele paar sterk kandidate, plus Trump wat deur die media en die Republikeine se establishment as ’n soort grap beskou is. ’n Bekende koerant het selfs verklaar as lesers nuus oor Trump wil lees, moet hulle op die koerant se vermaak-bladsye gaan kyk.

Uiteindelik het Trump die Republikeine se nominasiestryd gewen, en daarna die presidentsverkiesing teen die Demokrate se Hillary Clinton. Meningspeilings het oor die algemeen erg bedroë daarvan afgekom. Met die konsolidasie van stemme by stempunte het dit egter geblyk dat Clinton vir Trump met bykans drie miljoen stemme “geklop” het. Dit is die grootste loesing wat ’n uiteindelike wenner nog in ’n Amerikaanse presidentsverkiesing gekry het. Maroela Media was moontlik die eerste wat vooraf daarop gewys het dat die stelsel van kieskolleges ’n ander wenner as die populêre steun kon oplewer.

Die interessantheid was dat minstens een peiling daarop gewys het dat die Republikeine se kandidate wat tweede en derde in die nominasiestryd gekom het, in die presidentsverkiesing heel gemaklik met Clinton sou afreken, terwyl Trump sou klippe kou. Ontleders het lank daarop gehamer dat die kiesers tussen twee “euwels” moes kies.

Die vraag is nou of Trump gaan regeer soos hy sy nominasiestryd gevoer het? Gaan hy die wêreldwye stryd teen aardverwarming dwarsboom?

En hoe lank gaan die skynbaar beter verhouding met Wladimir Poetin van Rusland hou?

Die uitslag van die Amerikaanse presidentsverkiesing en die Brexit-uitslag word gereeld vergelyk, maar nie op rasionale gronde nie. Daar word byvoorbeeld nie verreken dat Trump wat totale uitgebragte stemme betref, ’n groot loesing gekry het nie. Wat Brexit betref word versuim om te verreken dat Skotland en Noord-Ierland teen Brexit gestem het. ’n Verskynsel wat sedert die Europese Unie tekens van staatvorming begin toon het, word dikwels kunsmatig en doelbewus verswyg. Etniese “onderdele” neig om ’n groter affiniteit vir deelname aan die EU te hê waar hulle gelyke vennote is, eerder as bloot net selfbestuur wat nog erg deur die “moederstaat” beperk word. So was dit polities baie inkorrek om die Skotse uitslag te hard te noem weens die impak wat dit op veral die Katalane, maar ook ander groepe kon hê.

Sirië se president Bashar al Assad (Augustus 2009) Foto: AP Photo/Vahid Salemi, File

Sirië se president Bashar al Assad (Augustus 2009) Foto: AP Photo/Vahid Salemi, File

Sirië

Die Siriese kwessie se belangrikheid vir die wêreld neem eerder toe as wat dit afneem. Dit is ’n komplekse situasie wat nie in ’n enkele internasionale kategorie geplaas kan word nie. Maroela Media het verskeie kere breedvoerig oor die komplekse bevolkingsamestelling geskryf, met die kern van die saak dat die land deur ’n president en kliek regeer word wat tot die Alawiete behoort, ’n subsekte van die Sjiïete, wat op hul beurt ’n klein minderheid teen die Soenies vorm. Die land het oor ’n redelike groot Christen-minderheid beskik (baie het, soos die Christene in Irak, gevlug). Die Christene is op hul beurt uiters heterogeen, met Assiriërs, Armeniërs en Arabiese Christene met bande wat tot die Bisantynse era terugstrek, en nog Rooms-Katolieke boonop.

Binne die geledere van die gewapende opposisie (meestal Soenie-Moslems) het ’n horde groepe ontstaan, sommiges wat duidelik pro-demokrasie is. Hulle is dikwels op etniese grondslae gevorm, soos groepe wat outonomie vir die Turkmene nastreef. Dit was juis tydens ’n vlug om die Turkmene te bombardeer dat ’n Turkse vegter ’n Russiese bomwerper afgeskiet het. (Anders as wat dit klink is die Turkmene en die Turke nie naby verwant nie.) Die Turkmene se stryd teen Siriese verdrukking is veel ouer as die Siriese burgeroorlog, en hulle het ook hul saak heel doeltreffend deur die Unrepresented Nations and Peoples Organisation (UNPO) gestel waarin die Vryheidsfront Plus as Afrikaner-verteenwoordiger erken word, en ewe-eens baie sukses behaal.

Nog ’n belangrike etniese groepering is die Koerde. Omdat van die Koerdiese groepe bande met die Koerdiese PKK het, wat vir heelwat Koerdiese terreur in Turkye sorg, speel Turkye ’n dualistiese rol in Sirië. Sy deelname in die stryd teen ISIS het sterker geword namate ISIS meer aanvalle in Turkye begin loods het, maar dit veg ook teen die Koerde, wat weer veral in Irak deur die geallieerde magte as voorvegters teen ISIS gebruik is, tot ’n bres uiteindelik geslaan is en Irak self nou sentraal staan in die aanslag om Mosoel te herower.

In Sirië het Rusland aan die kant van pres. Bashar al Asad toegetree, en sy aandag verdeel tussen aanvalle op ISIS en die pro-demokratiese groepe. Die stryd om Aleppo vir die regering te herower was besonder bloedig met selfs hospitale wat gereeld onder bombardemente deurgeloop het. Binne die VN bou druk op om solank mense te identifiseer om deur die Internasionale Strafhof of ’n spesiale tribunaal vir misdade teen die mensdom aan te kla.

Terwyl die aanslag om Aleppo op sy felste was, het ISIS wat onlangs uit Palerma verdryf is, hierdie antieke nedersetting weer oorgeneem.

Aleppo is nie net van groot waarde omdat dit Sirië se tweede grootste stad is nie, maar Aleppo het sedert Sirië kunsmatig gevorm is met Damaskus meegeding om die land se belangrikste stad te wees. Die bevolkingsamestelling verskil drasties. Beide maak saam met Jerigo daarop aanspraak om die oudste stad ter wêreld te wees. Die stede kan almal hul herkoms na ongeveer 12 000 jaar terugvoer.

Kort na Aleppo herower is, het Poetin aangekondig dat ’n vredesberaad vroeg in die nuwe jaar in Kazakstan beplan word. Assad het, volgens Poetin, reeds daartoe ingestem, as ook Iran wat vir Assad steun.

Die voortslepende Siriese krisis dra by tot Europa se vlugtelingkrisis.

Terwyl ISIS in veral Irak teruggedryf word en olierykdomme saam met grondgebied kwyt is, is dit duidelik dat dit nie veel, indien enige impak, het om dié organisasie se internasionale vermoë tot terreur te beperk nie. Die onlangse voorval toe ISIS aanspraak gemaak het en ook verantwoordelikheid aanvaar het vir die insident toe ’n man met ’n vragmotor in ’n Duitse Kersmark ingery het, het op ’n wrede wyse gedemonstreer hoe weerloos die publiek kan wees.

Boko Haram (argieffoto) Foto: scgnews.com

Boko Haram (argieffoto) Foto: scgnews.com

Salafisme en terreur

Intussen het Nigerië daarop aanspraak gemaak dat Boko Haram uit sy laaste vesting verdryf is, maar min mense verwag dat dié organisasie sy laaste terreurdaad gepleeg het.

Veral in Europa het al hoe meer stemme begin opgaan dat die stryd teen ekstremistiese Moslem-terreur nie behoorlik verstaan sal word sonder om te let op die impak van die Salafistiese vertakking van Soenie-Islam nie. Dit blyk soms dat sekere Europese moskees al ’n geruime tyd werwing vir die Salafisme doen voor dit opgespoor en plan gemaak kan word. Die internet word ruim ingespan om vatbare mense te lok.

SASSA

Op die plaaslike front word die asem opgehou oor of SASSA daarin gaan slaag om die land se welsyntoelaes betyds oor te neem sodat uitbetalings nie negatief geraak word nie.

Môre se onderwerpe

Môre word die kwessie van rassisme en versoening onder die loep geneem. Ander sake waarna gekyk word, is vanjaar se aardbewings, nuus oor ruimteverkenning en Suid-Afrika in die nuus met argeologiese ontdekkings.

Lees gerus ook Jaaroorsig: Deel 2 en Jaaroorsig: Deel 3

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Rabes ·

Zuma jy’s heeltemal korrek ons wittes wil jou in die tronk hê ,want jy’s ‘n skelm.

John ·

Opjektiewe kommentaar wat die slinkse hand van wereld-manipuleerders raaksien is so skaars soos hoendertande. Die Weste se eenogige leiers, die VSA se huidige militere strategie, Navo s’n, en die VV en die Arabiese lande se magsvergrype word nie ontleed nie. Dis bo verdenking. Die wereldpers, en Hillary het die mag raakgesien en aangegryp, wil ‘n oppermag sonder portefeulje wees (‘n soort hiper-‘Game of Thrones’ speel) want watter skade kan dit self ly? ‘Delete’ net, verander van taktiek en laat ‘n jong vrou dit in die VV voorlees as dit moet. Dis ‘n rekenaarspeletjie van woorde, opskrifte en gedokterde prentjies… Alles kan mos op rekenaar gebeur. Mense vlieg, verdwyn en koninkryke val met die druk van ‘n knoppie. Heerlik verwarrend en die massas word meegesleur soos by ‘n uitverkoping by ‘n ‘grand’ winkelsentrum… Die leuen het nou ook sy base gevang. Watter tragedies wag nog op ons?

Cherokee ·

Wie presies is die Koerde en het die woord ‘koerde’ ‘n enkelvoud? Hierdie goedsaamgestelde artikel Herman, wys weereens daarop dat die moslems ongelooflik aggresief is. En beslis nie net ekstremistiese groepe nie want ek het tot dusver geen moslem hoor kritiek lewer teenoor ISIS, 9/11 en ander ekstremiste, nie.

Herman Toerien ·

Die Koeerde is, soos die Perse (en ons), ‘n baie ou Indo-Germaanse volk. Hulle is dus nie Arabiere nie. Vermoedelik is hulle die afstammelinge van die Mede waarvan ons in die Bybel lees. Met die staatkundige opkerf van die Midde-Ooste is beloftes aan die Koerde verbreek, en het hulle nêrens ‘n eie land gekry nie. Hulle vorm nou minderhede is Turkye (20% ten spyte van ‘n volksmoord ongeveer ‘n eeu gelede), Sirië, Irak, Iran en ‘n paar ander lande. In Irak het hulle nou ‘n semi-soewereine staat, Koerdestan, na die val van Saddam Hoessein (wat gifgas teen hulle ingespan het). Hulle is Moslems, maar ‘n deel behoort tot ‘n mengsel van godsdienste, waaronder die Islam en Christendom. Isis het veral op hulle jag gemaak. In Armenië leef hulle egter in vrede.

Cherokee ·

Baie dankie vir die verduideliking, Herman. Met die vertellings in die Boek van Daniël in gedagte maak dit sin soos jy sê, dat hulle waarskynlik afstam van die Mede.

Frans C ·

Jy kan meer van die Koerde se geskiedenis lees by Fondation Institut Kurde de Paris.

Frans C ·

Wat die Amerikaanse verkiesing betref, moet ‘n mens in agneem dat slegs 55% van die stemgeregtigde kiesers (251.1 miljoen) deelgeneem het aan die verkiesing. Dit beteken dat 45% die uitslag aanvaar omdat hul nie die moeite gedoen het om hul stem uit tebring nie.Ek sou dus nie teveel ophef maak oor die populêre stem nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.