Nuuskommentaar: Jaaroorsig Deel 2

President Zuma during a press briefing

President Jacob Zuma (Foto: GCIS)

Rassisme

Rassisme het die land vanjaar in bykans enige moontlike gedaante besoek, en soos taks sy merk van verwonding gelaat.

Dit wat die meeste nuusdekking kry, is voorvalle waar (wit) individue iets van ’n rassistiese aard kwytraak. Dit versprei daarna soos ’n veldbrand, en die skuldiges word weer en weer vervolg en gestraf, sodat daar noodwendig by baie ’n vorm van simpatie vir die persoon ontwikkel.

Iets waaroor Maroela Media al lankal waarsku is die onewehandigheid waarmee dit dikwels hanteer word, en klowe wat sodoende dieper oopgaan. Die persgesig-voorval by Maties waarmee ’n ruimte-tema by ’n partytjie uitgebeeld is, het heeltemal te lank en boonop onnodig die gedaante van “blackfacing”-verguising gehad voor daar formele onskuldigbevinding was.

Een van die meisies wat valslik daarvan beskuldig is dat sy haar gesig “swart” gesmeer het. Foto: Facebook

Een van die meisies wat valslik daarvan beskuldig is dat sy haar gesig “swart” gesmeer het. Foto: Facebook

Dit alles geskied teen die agtergrond van transformasie wat in baie gevalle ’n suiwer ras-aangeleentheid geword het, BEE, “affirmative action” (wat nie met regstellende aksie verwar moet word nie), kwotas, wat onder meer beteken het dat ’n wit Vrystaatse krieketspeler die week nadat hy ’n honderdtal geslaan het, moes terugstaan om kwotas reg te trek toe die wit beseerde kaptein weer na die span teruggekeer het.

Seker een van die mees vertroebelende faktore is die opvatting wat wyd verkondig word dat swart mense per definisie nie rassiste kan wees nie (’n oortreffende rassistiese opvatting), en dat swart mense rassistiese opmerkings en optredes kan pleeg sonder om enige negatiewe gevolge te dra.

Pres Jacob Zuma is daarvoor bekend dat hy sy voet baie diep daarin kan sit, gewoonlik wanneer hy van sy geskrewe toesprake afwyk. Soms maak sy toespraakskrywers egter erg droog. Met sy spesiale anti-rassisme-toespraak verwys hy byvoorbeeld na wit mense as “white supremacists”, ’n term wat internasionaal as erg kwetsend en rassisties teen wit mense ervaar word.

Sy “versoeningsdagtoespraak” is erg uitlokkend. Hoewel dit nie in sy geskrewe toespraak voorkom nie, beweer verskeie mense wat daarna op RSG geluister het dat hy verwys het na die Voortrekkers wat die Zoeloes by Bloedrivier ge-“massacre” het. Of dit waar is of nie is kwalik relevant omdat hy in ’n ander verband iets baie soortgelyks in sy geskrewe toespraak gesê het.

Onlangs is hy wyd aangehaal as sou hy gesê het hy gaan nie bedank nie, want dan gee hy hom aan die wit monopolie oor. Toe die klankinsetsel op SABC 3 se nuus gespeel is, is waar die “wit” sou wees net ’n ligte krr-geluid. Die volgende dag hanteer RSG se program Spektrum weer die “white monopoly”-kwessie.

Dit is baie duidelik dat Zuma nou, waarskynlik meer as ooit, rasbehep is, en waarskynlik die persepsie koester dat wit mense hom in die tronk wil hê. Korrupsie, volgens Zuma, is immers ’n Westerse konsep.

Soos gister gemeld, word Zuma vir Vrydag se nuuskommentaar gelaat.

In Augustus vanjaar het Solidariteit ʼn klag van rassisme in die vorm van ’n skaduverslag teen die regering by die VN se komitee teen alle vorme van rassisme gelê. Die vonke het behoorlik gespat.

Skade tydens aardbewings in Italië (Oktober 2016) Foto: Allesandra Tarantino/AP

Skade tydens aardbewings in Italië (Oktober 2016) Foto: Allesandra Tarantino/AP

Aardbewings

Tot dusver vanjaar was daar wêreldwyd 17 aardbewings van 7 of meer op die Momentmagnitudeskaal, die skaal waarop die Amerikaanse Geologiese Opnamesentrum aardbewingsterkte internasionaal meet. Verlede jaar was daar 19, met 2010 wat met 21 steeds die rekord hou. Vanjaar is nog geen aardbewing van 8 of meer gemeet nie.

Die meeste sterftes, 676, het op 16 April voorgekom toe ’n aardbewing van 7,8 Ecuador getref het. Die tweede meeste, 299, was op 24 Augustus toe ’n aardbewing van 6,2 Italië getref het.

Die sterkte van ’n aardbewing bepaal nie noodwendig die dodetal nie. Op 10 September het ’n skudding van 5,9 die lewe van 23 mense in Tanzanië geëis. Faktore soos die afstand van die episentrum van beboude gebiede, die diepte van die episentrum, of ’n tsoenami ontstaan het en die gehalte van die bouwerk dra alles by tot die dodetal.

In totaal is 1 264 mense vanjaar in aardbewings oorlede. ’n Hele paar mense is ook tydens aardbewings aan hartaanvalle oorlede.

Curiosity (Julie 2016) (Foto: Christian Science Monitor)

Curiosity (Julie 2016) (Foto: Christian Science Monitor)

Ruimteverkenning

Hoewel ruimteverkenning oor ’n wye front plaasvind bly die vernaamste fokus op vordering om Mars met ’n bemande tuig te bereik. Ander projekte wat die verbeelding gaande hou sluit in die ontdekking van meer en meer eksoplanete (met die opgewondenheid groter as aardtipe planete veral in die Goue Lokkies-sone ontdek word); nuwe sterrestelsels; die ontleding van New Horizons se foto’s en inligting wat onlangs eers alles na die aarde teruggesend is; Cassiny se byna voltooide werksaamhede om Saturnus; en Juno se besoek aan Jupiter.

Pas is bekend gemaak dat Curiosity bepaal het dat Mars komplekse chemiese reaksies, soos dit wat lewe op die aarde onderhou, gehad het. Die periode wat Mars bewoonbaar was, kon tientalle, en selfs honderde miljoene jare lank geduur het. Curiosity het reeds meer as 200 meter van Mount Sharp in die Gale Krater bestyg. Hy bevind hom nou in ’n gebied wat bekend staan as die Murray-formasie, met ’n bodem wat daarop dui dat dit eens onder water was. Nasa het die Murray-formasie as ’n bonanza beskryf omdat alles wat hulle met Curiosity wou bestudeer, in dié area saamgetrek is. Al die eienskappe wat bewoonbaarheid sou ondersteun, is hier teenwoordig.

Die pad na bemande reise na Mars is egter baie lank, en heelwat tegnologie om dit te kan doen moet nog ontwikkel word.

Die MeerKAT-projek by Carnarvon, wat uiteindelik deel van die SKA gaan uitmaak, het reeds sy eerste beelde opgelewer en ’n magdom nuwe sterrestelsels is in die klein venstertjie waardeur na die ruimte geloer is, ontdek.

Verskeie maatskappye maak hulle gereed om potensieel onmeetlike rykdomme op asteroïde en ander hemelliggame te gaan “oes”. Van die maatskappye kan al aanstaande jaar met eksperimentele vlugte begin.

Deep Space Industries, en Planetary Resources het hul oë op asteroïde, terwyl Moon Express rykdomme op die maan wil versamel.

Moon Express beoog nie om skagte in die maan te sink nie, maar stukke ruimteliggame wat op die maan se oppervlak lê, op te tel en te ontgin. Na raming is die waarde van delfstowwe wat so op die maanopervlak lê tussen $140 kwatriljoen en $500 kwatriljoen (kwatriljoen = 1 000 X triljoen).

’n Platinumdraende asteroïde so groot soos ’n huis kan meer platinum bevat as wat saam in die aarde se geskiedenis gemyn is.

Een van die oorwegings vir die ruimte-ontginning is dat dit tekorte aan minerale waaroor nasies oorlog maak kan oplos, en dat oorloë so verminder sal word.

Alle lewe op aarde is koolstofgebaseer, maar dit hoef nie noodwendig vir lewe elders te geld nie, het wetenskaplikes bevind. Op aarde is nog geen geval gevind waar ’n lewende organisme silikon en koolstof in verbindings kan laat gaan nie, maar nou het wetenskaplikes ’n ensiem ontwikkel wat dit wel natuurlik laat geskied.

Net soos koolstof, kan silikon vier verbindings vorm wat dit ideaal maak vir die opbou van die lang stringe wat nodig is om molekules te vorm.

Die ontwikkeling sal vermoedelik van groot betekenis vir die farmaseutiese bedryf wees.

SA paleontologiese en argeologiese ontdekkings

Terwyl Suid-Afrika as Wieg van die Mensdom gereeld met toonaangewende ontdekkings vorendag kom, is die argeologiese ontdekkings dikwels maar vaal in vergelyking met die ontdekking van stede wat lank terug onder die see of onder oerwoudbedekking verlore geraak het. Tog is dit nie minder belangrik nie.

In Augustus is bekend gemaak dat ’n deel van die voetbeentjie van ’n homonied gevind is wat ’n dodelike tipe kanker bevat het. Die beentjie is 1,7 miljoen jaar oud.

Navorsers het bevind dat mense uit die Middelsteentydperk sowat 65 000 jaar gelede en later, by Howiesonspoort silkreetklippe eers met vuur verwarm het om beter lemme uit die kerne van die klippe te kon kap. Die omgewing is bekend daarvoor dat dit die oudste bewyse van die gebruik van pyle en boë ter wêreld opgelewer het.

Vroeër is berig dat ’n groot hoeveelheid ronde klippe wat by ’n Suid-Afrikaanse argeologiese uitgrawingsterrein gevind is, minstens ten dele gebruik is om vyande of wild mee te gooi.

Navorsers van die Indiana Universiteit, Bloomington, asook argeoloë van ander instellings, het ondersoek ingestel na die doel van die tennisbalgrootte klippe wat by die Grot van Vuurherde by Makapan aangetref word. Hoewel aanvaar word dat die klippe veeldoelig was en ook vir ander doelwitte aangewend is, blyk dit uit matematiese opnames dat die klippe oor die optimale grootte, gewig en vorm beskik het om teikens van 25 meter ver mee te tref.

Die klippe se ouderdomme wissel tussen 1,8 miljoen jaar en 700 000 jaar oud.

Môre se onderwerpe

’n Artikel in die Christian Science Monitor se opskrif beskryf 2016 is: “The year of disruption.” Môre kyk ons na die studenteopstand in Suid-Afrika maar ook ander sake wat die wêreld ontwrig het.

Lees gerus ook Jaaroorsig: Deel 1 en Jaaroorsig: Deel 3

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jan ·

Ditto Zuma, ditto ANC regering, ditto ANC jeugliga, ditto Julius, ditto ens,ens. Dit kom uit die hart, dis wederkerig.

Jan ·

En ek is oneindig teleurgesteld in my land. (Ek was nie so nie, het die afgelope klomp jaar so geraak, bitsig.)

Johann ·

Ek kyk 90% van die tyd net so die eerste paar skote en luister ‘n paar sinne, van die nuus, dan loop ek eerder weg en gaan hou my met iets anders besig.

Mvs ·

Wat noem ons min zuma wrede plaasaanvalle? Teaparty? Rassisme bestaan net n hul taal vir wittes. Ons altyd di vark in verhaal maar hul mag…. Word so be……!

Christa van Deventer ·

Dit is nie tussen rasse nie. Maar tussen lig en duisternis

Lance ·

Daar was nooit iets regtig oor rasisme …maar Januarie 2016 …toe is almal rasiste …en so het die anc dit nou probeer gebruik en ry om die verkiesing te beinvloed …nou ja ons weet hulle het sleg verloor toe. Anc het geen plan en gebruik nou maar halms soos rasisme …en n studie het bewys die meerderheid mense kom goed met mekaar reg…net n paar vrot appels wat dit sleg maak vir die res. Hulle gesigte lyk pers ….waar kom hulle aan swart ….soek rede om sensasie te maak lyk my …tragies dat mens SO leeg is van jouself !

Hennie ·

Ja as mens skuldig is aan alerhande bedrog en diefstal en nie eers deur jou kiesers erken word as eedel nie, dan probeur mens die tiepe taktiek van apartheid en rassisme net om die spotlight weg te kry van jou self. Ek kan nie dink dat daar nog so iets bestaan nie behalwe in die regeering.

piet ·

Dit is en was so erg dat pers die nuwe swart geword het. Dit was skandelik van hoe De Villiers dit hanteer het. Hy het baie respek met dit verloor. Die idiotiese politici het nooit respek gehad om te verloor nie.

Johanna Botha ·

Die mense behou net hulle posisies deur ander korrupte mense te betrek wat dan die ene wat die werk gegee het ”skuld” …dis Afrika ! En so is alles reg todat jy uitgevang word en dan ontken mens net alles want dis nooit jy nie ….dis rasisme of die holruggeryde appartheid se slud alryd ….tog SO voorspelbaar die mense !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.