Nuuskommentaar: Jaaroorsig Deel 3

Occupy Wall Street-betogings (November 2011) REUTERS/Brendan McDermid (UNITED STATES - Tags: CIVIL UNREST POLITICS BUSINESS)

Occupy Wall Street-betogings (November 2011) REUTERS/Brendan McDermid (UNITED STATES – Tags: CIVIL UNREST POLITICS BUSINESS)

Dramatiese verskuiwings in wêrelddenke

In ’n onlangse artikel in die Christian Science Monitor skryf Peter Grier dat 2016 onthou sal word as die jaar van ontwrigting. Hy voeg dit by ander jare waar aardskuddende gebeure wêrelddenke in ’n rigting geslinger het. Hy noem 1968 se studente-onluste, die val van die Berlynse muur in 1989 en die opkoms van Islamitiese terreur in 2001.

’n Hele lang lysie kan hierby gevoeg word. Dink maar aan die Occupy Wall Street-veldtog van 2011 wat bykans wêreldwyd uitgebrei het na die Amerikaanse regering talle maatskappye finansieel moes uithelp na Wall Street gestruikel het. Dit het denke oor inkomste-ongelykheid, inhaligheid in die finansiële sektor, korrupsie en soortgelyk deel van baie se kollektiewe gewete gemaak. Dit is in Europa voorafgegaan deur ’n veldtog om politici en die media meer moreel aanspreeklik te maak. Met die post-Wall Street gebeure was die media, en veral koerante, egter dikwels op die voorpunt om wanpraktyke bloot te lê. Die fokus het toe verskuif na groter morele aanspreeklikheid by die politici en die korporatiewe sektor, veral bankbase.

Volgens Grier was vanjaar ook so ’n gedenkwaardige jaar, en lys ’n hele aantal wêreldgebeure

Hy spreek veral drie gebeurtenisse aan, naamlik die verkiesing van Donald Trump tot Amerikaanse president, Brexit en die opkoms van veral “regse” populisme in Europa.

Maar eers kyk ons na ’n erg ontwrigtende gebeurtenis in Suid-Afrika.

studentebetogings 2015 feesmustfall fees must fall

Studentebetogings (Oktober 2015) (Foto: verskeie bronne, sosiale media)

Studente maak amok

Diensleweringsbetogings en stakings wat gewelddadig raak, het al so ’n deel van die Suid-Afrikaanse samelewing geword, dat dit nie sommer meer die impak van vroeër het nie.

Ook studentebetogings en studente-onluste gepaard met omvattende vandalisme en intimidasie, veral naby aan eksamentyd, is nie nuut in die land nie. Die studente-opstand gekoppel aan die #FeesMustFall-veldtog het tog nuwe elemente bevat. Soos nog nooit tevore nie is die eertydse wit universiteite ingesleep.

Die skade deur brandstigting en ander vorme van vandalisme in 2016 het teen die begin van Oktober vanjaar reeds R600 miljoen beloop. Baie skade is hierna ook aangerig, onder meer deur Wits-studente en meelopers wat Johannesburg se strate in orgies van plundering en vernielsug ingevaar het.

Kort-kort het ’n deelnemende student op TV verklaar dat hulle nie misdadigers is nie. Wat is hulle dan? Die psigiese koste aan studente wat wil studeer, en aan dosente is onberekenbaar. Al ontken sommige universiteite dit, was daar talle bewyse, waaronder koerantfoto’s, van sekere personeellede wat voorbokke was met die aanhitsing van die geweld.

Uiteindelik het die universiteite wat reeds hul klasgeldverhogings vir 2017 bekend gemaak het, verhogings van 8% aangekondig. By sommige universiteite, soos die Universiteit van Wes-Kaapland, gaan dit die studente nie veel raak nie omdat studente met behoeftige ouers (ouers wat minder as R600 000 per jaar verdien) en dus vir finansiering deur die finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) kwalifiseer die oorgrote meerderheid uitmaak. In die geval van die Kaapse Skiereiland se Universiteit van Tegnologie is dit 90% van die studente wat ook nie die impak van die verhoging sal voel nie.

Benewens gratis onderrig, was daar verskeie ander eise, waar die doelpale telkemale verskuif is. In ’n stadium is selfs gratis sanitêre doekies vir vroue geëis.

Die studente-onluste was ’n groot klip in die maag van diegene wat hard probeer het om rommelstatus vir die land af te weer.

Hoewel aanvanklik probeer is en gedeeltelik daarin geslaag is om die studente-protes veelrassig te hou, was die spore van die leerstellings van die Frans-Karibiese geweldsfilosoof, Franz Fanon gou duidelik. Trouens, van die leiers het openlik aanspraak gemaak daarop dat hulle deur Fanon geïnspireer is. Fanon se werke is baie sterk ras-gesentreer.

Tog is meer raakvlakke met die ontplooiing van nuwe denke oor ras (hoofsaaklik vanuit die oogpunt van swart studente en swart belangegroepe) in die VSA te bemerk. Kort-kort is daar voorvalle van rassespanning en selfs rasse-onluste by Amerikaanse universiteite. Dit het onder meer daartoe gelei dat van die universiteite swart koshuise, of swart gange in koshuise, geskep het waar die andersoortige kultuur ruimte vir uitlewing het.

In Suid-Afrika het die #FeesMustFall-beweging gereeld die stryd teen Afrikaans aan die bors gedruk. Die gevolglike hofstryde oor die behoud van Afrikaans, met AfriForum en vennote aan die spits teen universiteitsowerhede, het tot dusver gemengde resultate opgelewer. Die saak teen Kovsies sal waarskynlik eerste in die appèlhof, en selfs moontlik die konstitusionele hof beland, en duidelikheid gee oor hoe ingebed minderheidsregte in die Suid-Afrikaanse Grondwet gevestig is.

Intussen groei Solidariteit se private Afrikaanse universiteit Akademia, hand oor hand, en is die leersentrums vir 2017 landswyd uitgebrei.

In dié stadium lyk dit hoogs waarskynlik dat die studente-onluste volgende jaar gaan voortduur, en weer naby eksamentyd gaan eskaleer.

brexit

Foto: Pixabay.com

Nuwe wêrelddenke?

Dit wat Grier as ontwrigtende faktore lys, is eintlik ideologies onderling sterk verbind. So simplisties soos wat sommige ontleders dit maak, is dit ook nie. Om ’n groot swaai in die VSA te verabsoluteer hou byvoorbeeld nie rekening daarmee nie dat Trump, wat populêre steun betref, die grootste loesing ooit in ’n Amerikaanse presidentsverkiesing (byna 3 miljoen stemme) gely het. Die kieskollegestelsel het hom egter ’n oorwinning besorg. Voorts was Hillary Clinton erg ongewild, ook by Demokratiese kiesers.

’n Groot gemene deler is die instroming van miljoene vlugtelinge, en veral Moslems na Europa. Die gereelde voorvalle van Islamitiese terreur help nie om die gesindheid te kalmeer nie, en ten spyte van pogings om die Islamitiese terreur voor die Salafistiese vertakking te lê, word die Islam gewoonlik as een geheel beoordeel.

Dit moet ook onthou word dat oorheersing deur ’n bepaalde ideologie neig om siklies van aard te wees. Baie Suid-Afrikaners sal die name van Joop den Uyl en Olaf Palme goed onthou weens hul vurige teenkanting van apartheid. Hulle was egter in ’n internasionale konteks deel van ’n liberale beweging wat sterk elemente van permissiwiteit bevat het. “Sex shops” het in Nederland op straat geopen, aborsies is gewettig en vele meer. Walletjiesstraat het ’n internasionale toeriste-aantreklikheid geword.

En ’n paar dekades later was Christen-demokratiese partye in groot dele van Europa aan bewind. In baie gevalle was die Christelike aspek hiervan erg afgewater, en het koalisies ook beperkend ingetree.

Hoe blywend die “regse populisme” nou gaan wees, moet nog deur die geskiedenis beoordeel word. Volgens Grier se bron stem een uit elke vier Europeër nou vir partye wat as ekstreem regs beskou word.

Môre

Môre word van 2016 se vernaamste nuusgebeure gelys.

Lees gerus ook Jaaroorsig: Deel 1 en Jaaroorsig: Deel 2

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

hanno ·

Oor die Amerikaanse Presidentverkiesingsuitslag gee die volgende Praag-artikel van 23 Desember verdere perspektief : Non-white California gave Hillary the “popular vote”.

LeonR ·

hanno, WAAR op praag is daardie artikel asseblief. Wil dit lees mjaar kry dit nie.

Dankie Leon

Frans C ·

Die gedagte van gratis dit en gratis dat is so gewild dat dit algemeen aanvaar word as ‘n middel om die werklike en gewaande ongelykheid van die verlede reg te stel.

Maar alles wat iemand gratis ontvang het ‘n koste implikasie vir iemand anders,Die koste verbonde aan sg gratis water en elektrisiteit word eenvoudig verhaal in die hoër tariewe
van betalende verbruikers.Die rede hiervoor is eenvoudig, nl die verskaffers van water
soos bv die Rand Waterraad en verskaffer van Elektrisiteit uitgawes aangaan om die dienste aan munisipaliteite te voorsien.

Hulle doen dit gewoonlik deur dit dmv grootmaat (bulk) tariewe aan munispaliteite te verskaf van af nasionale netwerke.Munisipaliteit ontvang dit dus nie gratis nie en moet die koste tesame met hul eie verspreidingskoste erêns verhaal en dit doen hul deur die tariewe van betalende verbruikers so te verhoog-dat water en elektristeitrekeninge vir talle gesinne een van die grootste uitgawe items geword het.

En tog hou die ANC die foefie steeds voor as synde ‘n daadwerklike bydrae tot armoede verligting te lewer.Dit sou beter wees om elke verbruiker se verbruik te meet en die sg
gratis verbruik deur middel van subsidies vanaf die staat te probeer te subsidieër.
Die miljarde rande van onwettige uitgawes kan hiervoor aangewend word.

Laer tariewe vir betalende verbruikers kan lei tot groter besteebare inkomste en miskien ‘n inspuiting in die sukkel ekonomie beteken.

Theuns ·

Dankie Herman vir jou 2016 kommetaar in 3 dele. Jy is voorwaar baie besig. Die kommentaar wat ek by deel 2 geskryf het het ek goed bedoel juis omdat ek weet jy werk verniet! Omdat jou kommentaar altyd waar, reguit, onbesoedeld ondersoekend is en die dilema van die witman en die Afrikaner verwoord is ek van mening dat dit in ander wereld tale vertaal moet word en aan die wereld media versprei moet word sodat hulle kan sien wat hier by ons .aan die gang is. Vir al met betrekking tot Plaasmoorde en Rassisme. Jou artikels is ook nie propagandisties nie en kan vir die waarheid ondersoek word deur die internasionale media. Op die oomblik praat ons net met ons self deur nie die relevante artikels te vertaal en te versprei nie. Wat is die protokol om dit te doen en wat dink jy van die voorstel? Groete. Theuns

Suné van Heerden ·

Dagsê Theuns

Dankie vir die voorstel.
Maroela se redaksie sal vroeg in 2017 die voorstel oorweeg en hierop reageer.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Theuns ·

Beste Sune,
Baie dankie vir jou reaksie! Ons moet die leuns met die waarheid beveg!

Groete
Theuns

Wern ·

Ek het deel een en twee heeltemal gemis en sien nie skakels hier daarheen nie.

Ou Vlakvark en Kie ·

Geagte mnr Herman Toerien en Me. Sune van Heerden,

Dankie vir al jul insette. Ons varkerasies en die Suid-Afrikaanse Homo sapiense moet in 2017 fokus op pittige en satiriese humor in hul kommentare vir plasing in Maroela Media. Die opbouende kreatiewe kommentare is die hartklop van demokrasie in die stryd om reg en geregtigheid vir alle inwoners van hierdie wonderlike land Suid-Afrika.
Groetnis: Ou Vlakvark, Ou Bosvark, Ou Erdvark, Ou Krimpvarkietjie en laaste maar nie die minste nie Ou Vuilvark. Viva 2017!

Ansie ·

Ek wil net terug kom by Theuns se kommentaar, dit is so waar wat jy se, dit is hoog tyd dat die wereld verneem wat in Suid Afrika gebeur, en ek is bly met Maroela se voorneme om in 2017 iets daaromtrent te doen. Ek woon in Nederland en hier hoor jy niks van wat in S A aan gaan nie. En 3 X niks van plaasmoorde. Ons wat hier bly en die land ken, en ook die nuus lees probeer die mense inlig oor die gebeurtenisse , dan kyk hulle jou verbaas aan en is stom geslaan oor dit wat hulle hoor. Maar dit moet van die media kom, dan treft dit doel. So Maroela, hoop om in 2017 van julle te hoor in die Europese media. Dan nog net dit, ek het onlangs die boek van Martin Bosma gelees, MINDERHEID IN EIGEN LAND. Daar lees jy hoe die vurk in die steel sit, ek gee dit vir almal wat dit wil lees, sodat hulle hier kan wakker word omtrent die geskiedenis van ons mooie Suid Afrika, en wat regtig gebeur het. Natuurlik is daar foute gemaak, maar soos dit nou gaan is ook nie die oplossing nie.
Groete………. Ansie B . Uit Nederland.

Therese van Schalkwyk ·

Ansie,
Die gewelddadige aanrandings en moorde op weerlose mede-Suid-Afrikaners gedurende die Kerstyd veral is skokkend en laat my amper sprakeloos. Wat sê ‘n mens wanneer bejaarde mense in hul huise doodgeslaan word deur landgenote?
Stem saam met dié wat hierdie gru-verhale in die buiteland wil vertel, maar wanneer mense soos Steve Hofmeyr presies dit wil doen, word hy geboikot en beswadder deur gewese Suid-Afrikaners. (Johann de Villiers vroeër vanjaar in Nederland)
Selfs binne SA word bekommerdes gereeld kwalik geneem en daarop gewys dat “almal deur dieselfde misdaad en geweld geteister word”. Die feit dat dit nie wit bendes is wat swart mense aanval en vermoor nie, word nie in ag geneem nie.
Totdat alle Afrikaners en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika nie saamstem dat hulle beperkte getalle baie ernstig bedreig word nie, sien ek geen oplossing vir hierdie stelselmatige volksmoord/uitwissing wat in Suid-Afrika afspeel nie.
Buitelanders gaan nie omgee wanneer SA’ners self nie genoeg omgee nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.