Nuuskommentaar: Jaaroorsig deel 5: Zuma die neet

Pres. Jacob Zuma.  Foto: DoC

Pres. Jacob Zuma. Foto: DoC

Die jaar 2016 sal onthou word as die jaar toe die begrip “Zumakrasie” na “Zuptakrasie” verander is. In die proses is ʼn ou woord, staatskaping, weer opgediep en afgestof.

Verskeie analiste meen pres. Jacob Zuma is na die Nenegate-insident aan die einde van verlede jaar eintlik ʼn “lame duck”, iets wat heel waarskynlik minstens gedeeltelik waar is.

Dat Zuma (nog) nie die langverwagte kabinetskommeling aangekondig het nie, selfs nie nadat ʼn aantal ministers en adjunk-ministers openlik in opstand gekom het teen sy voortgesette leierskap nie, soos die gepoogde mosie van wantroue in hom binne die NUK, is ongewoon in wêreldpolitiek.

Maar dat iemand te midde van soveel storms weier om self te loop, is ook ongewoon in ʼn moderne demokrasie. Bygesê, in Brasilië, Venezuela en Suid-Korea het beleërde presidente ook die hakskene ingeslaan.

Teen die einde van die jaar het waarnemers twee Zuma’s bemerk. Die een probeer simpatiesteun monster, deur oral in sy toesprake te vra wat hy nou eintlik verkeerd sou gedoen het. Volgens Zuma sit selfs sy felste politieke opponente met ʼn bek vol tande as hy dit vra. Dit klink na ʼn erg wollerige wolhaarstorie wat nie eens as fopnuus sal deug nie.

Die ander Zuma is op die offensief en dit lyk asof veral SABC 3 hom hierin steun. Hy het selfs kerkleiers gevra om hul neuse uit die politiek te hou, maar het oor die algemeen hier op sy baadjie gekry.

Zuma het eenvoudig deur die jaar omstrede gebly. Na die land rommelstatus net-net afgeweer het, het Zuma verklaar hoe wonderlik dit is dat die veldtog wat hy gelei het om rommelstatus te voorkom, geslaag het. Min ingeligtes sal anders dink as dat die rommelstatus ten spyte van Zuma en nie te danke aan hom nie, afgeweer is.

Vanjaar sal veral onthou word as die jaar waarin Zuma se rasbewustheidsonderrok baie ver uitgehang het. Onlangs nog het hy, kort na sy “versoeningsdagtoespraak”, gesê hy sal nie bedank nie, want dit sal beteken dat hy hom aan die wit monopolie oorgegee het. Hy het kort daarvoor gesê hy gaan nie bedank nie, want sy vyande wil hom in die tronk hê.

Sy “versoeningsdagtoespraak” was erg uitlokkend en kan op geen manier as ʼn boodskap van versoening beskou word nie. Gelukkig het die natuur (volgens die vereniging vir sangomas was dit die voorvaders) ingegryp en die markiestent omgewaai. Ongelukkig het mense seergekry terwyl Zuma en sy geselskap soos bang hase gevlug het (aldus beeldmateriaal).

Met sy amptelike toespraak vir die veldtog teen rassisme, het Zuma ook eerder skade aangerig as wat hy die bepalings van sy presidentsamp uitgeleef het. Hy het onder meer na wittes as “white supremacists” verwys.

Daar is (nog) verbasend min bohaai oor Zuma se beweerde rol om met staatsfondse en die veiligheidsdienste ʼn vakbond as teenvoeter vir AMCU in die platinumgordel te skep. Indien Zwelinzima Vavi Zuma nie hieroor ʼn struikrower genoem en daarvoor redelike nuusdekking gekry het nie, sou min mense geweet het van die saak wat hom in die Noord-Gautengse Hooggeregshof afspeel.

Die twintigjarige herdenking van die ondertekening van die huidige grondwet het onlangs plaasgevind. Daar was vanuit talle oorde oproepe vir wysigings daaraan, maar weens uiteenlopende redes.

Een van die leemtes wat uitgewys word, is dat die grondwet ongesond baie magte aan die president gee om sleutelaanstellings te doen. Toe die grondwet aanvaar is, was pres. Nelson Mandela nog aan bewind en is iets soos die Zuma-verskynsel net nie voorsien nie. Zuma het dié magte egter mildelik ingespan om sy regering van patronaatskap te skep – tot enorme skade vir die land. Dit het hom uiteraard ook ʼn gewilde teiken vir staatskaping gemaak.

Dit is nie altyd duidelik of Zuma uit onkunde of doelbewus stellings maak wat versoening na die maan stuur nie. Hy sal byvoorbeeld tot die graf onthou word vir sy stellings oor Jan van Riebeeck en dat swart mense voor sy koms in harmonie geleef het (en baie pret gehad het).

Vanjaar het hy steeds op hierdie snaar bly tokkel, deur onder meer vol te hou wittes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel. Boonop het hy ook kaf (op TV nogal) gepraat, deur te sê die grond, wat swart mense in elk geval het, is van die droogste en onvrugbaarste in die land. Geen reënvalkaart sal hiermee saamstem nie. Trouens, Zuma het hom as prominente vaandeldraer van die post-waarheidera gevestig en het hierin al graad gekry toe dit elders nog vir latere leiers in die kleuterskool geleer is.

Soms was ʼn kluitjie duidelik uit onkunde, soos toe hy sakelui meegedeel het Afrika is nie net die grootste kontinent nie, maar al die ander kontinente kan ook saam in Afrika inpas.

Ai, as al die bedoelde en onbedoelde kluitjies vanjaar bymekaar getel word, trek ons seker al by “eleventy twenty threehunderd miljôn”.

Zuma is baie lief daarvoor om die opposisiepartye daarvan te beskuldig dat hulle knaend hof toe hardloop en sodoende die ANC se meerderheidsregering aan bande te lê. Dat hy self ook vir elke bakatel hof toe hardloop, sien hy nie in nie.

Die feit dat Zuma meestal die sake verloor (soms nie deur opposisiepartye aanhangig gemaak nie, maar deur individue of burgerlike instellings) toon immers Zuma het min respek vir die grondwet. Dit het onder meer in die Nkandla-sage tot ʼn skrobbering van grondwetlike pligsversuim deur die konstitusionele hof gelei. Die parlement se kop is ook gewas.

Die bande-sage maak binnekort ʼn draai in die appèlhof en daarna in alle waarskynlikheid in die konstitusionele hof. Zuma loop die gevaar om lank tronk toe gestuur te word.

Dit lyk tans asof baie van Zuma se teenstanders aanvaar hy sal tot die ANC se kongres in 2017, wanneer die ANC sy leiersverkiesing hou, die leisels hou. Dit is moontlik en Zuma het in ʼn stadium self gesê hy sal hom weer as ANC-leier verkiesbaar stel.

In 2019 verstryk Zuma se tweede termyn as staatspresident en moet hy volgens die grondwet die amp ontruim. Indien Zuma dan steeds die ANC-president is, sal dit die proses in die ANC om ʼn opvolger as staatspresident te kies, baie ingewikkeld maak, selfs al bedank Zuma dan ook uit sy ANC-pos.

Hoewel die ANC kliphard probeer het om Zuma nie as faktor vir die ANC se agteruitboerdery met vanjaar se munisipale verkiesings in te sluit nie, kon hierdie waarheid nie vir altyd ontken word nie. Dié ontevredenheid gaan toeneem namate 2019 naderkom en Zuma steeds die kitaar slaan. Die Zuma-spook dreig om die soustrein al korter en korter te maak soos kaders hul setels aan die opposisie afstaan.

Waarnemers wys nou al lank daarop dat skandale wat die land seermaak, nie noodwendig as skadelik vir die ANC beskou word nie. So is die geledere in die verlede telkemale om Zuma gesluit wanneer hy ʼn skadelike of lagwekkende stelling gemaak het. Soms is instansies wat op Zuma se tone van klei getrap het, van dislojaliteit of selfs hoogverraad teenoor die land beskuldig. Dis uiteraard bog.

Nietemin, sy uitsprake, soos dat die ANC sal regeer tot die wederkoms, is verskeie kere deur die hoofstroomkerke veroordeel, maar die ANC het klokslag die geledere hierom gesluit. Vanjaar het dit egter gelyk asof die entoesiasme, om Zuma uit selfgemaakte slaggate te help, aan die verdamp is. Baie van die felste kritiek teen Zuma kom immers nou uit die ANC self.

Waarnemers verskil oor waarom die ANC-lede van die ad hoc-komitee oor die SAUK  nou so openlik krities teenoor die eertydse raad en bestuurslede van die SAUK kan wees, aangesien dit ʼn maaksel is wat tot onlangs nog teen alle logika in gesteun is.

Twee hoofredes word genoem. In die eerste plek word gemeen die ANC-LP’s maak nou rug styf na die Openbare Beskermer in die Nkandla-verslag die parlement en Zuma oor grondwetlike pligsversuim voor stok gekry het.

Die tweede is dat Zuma se mag en gesag nou so deur die ANC se interne magstryd verswak is, dat Zuma nie werklik opdragte kan gee dat van sy begunstigdes beskerm word nie.

ʼn Derde opsie, wat hier en daar kop uitsteek, is dat Zuma wag dat die parlementêre stelsel namens hom sy gefaalde kornuite vir die wolwe gooi en hy sy mag en invloed kan gebruik om nuwe kornuite aan te stel. In dié verband word byvoorbeeld genoem Zuma kan dalk vir Hlaudi Motsoeneng as nuwe voorsitter van die SAUK-raad aanstel. Hlaudi bly immers ʼn verhewe figuur binne die Zuma-dampkring van die ANC.

Is daar iets positief van Zuma te sê?

Ja, hy het waarskynlik die omstrede snoerwet stil-stil gerak en nie geteken nie. Sy groeiende rasbenepenheid maak dit egter moeilik vir die positiewe om deur te skyn. Die uiltjie wat hy tydens die jongste mediumtermyn-begroting geknip het, plaas hom in die kategorie van Robert Mugabe.

Sy regeerstyl bring net te veel krisisse.

“Watter krisisse? Hê, hê, hêêê.”

Lees ook:
Jaaroorsig Deel 1
Jaaroorsig Deel 2
Jaaroorsig Deel 3
Jaaroorsig Deel 4

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Hennie ·

Sy dag sal kom stadig maar seker. Geregtigheid sal see vier. Wonder net is dit ons wit mense boere of wit appe se skuld dat hy so korup is. Elke keer ptobeer hy die lig van hom af draai om rassistiese uitlatings te maak maar hy sal sy dag in die hof kry dan sal hy boet vir sy dade. Ons nie eedele so called presedent.

Leendert ·

Toe ek Leopold Scholtz se jongste artikel ‘n dag gelede hier lees, daar waar hy vertel dat Poetin gesê het hy sal nooit abdikeer nie, toe dink ek so aan Zuma, dit lyk my die twee is dieselfde perd se stert.

Theuns ·

Herman jou skryfstyl is “tops”. Ek het lekker gelag. So paar dae terug het ek gelees dat Lindiwe Susulu gese het dat die Regering gaan ‘n in diepte ondersoek instel na die Orkaan wat Zuma se toespraak ontwrig het en sy Markies Tent weggewaai het en die persone wat daarvoor verantwoordelik was met die volle mag van die gereg te vervolg. Dink jy dit was Fop Nuus of is dit die waarheid? Groete.

Herman Toerien ·

Hallo Theuns. Dankie. Ek weet egter nie of die storie om Lindiwe fopnuus is nie. So ver ek weet kon die polisie nog nooit ‘n tokkelosssie gevng en voor die hof gesleep ky nie. hê, hê, hêêê

John ·

Die ANC het presies geweet wie Zuma was toe hy as president aangewys is en Mbeki uitgedruk is. Hulle het Zuma gekies omdat hy hul lewensfilosofie versinnebeeld. Ons wil graag so glo die res van die ANC is oulik en ongelukkig om vasgevang te wees in Zuma se roekelose web. Nee. Hulle het dieselfde mentaliteit want as dit by stem kom steun/ondersteun hulle hom en gaan ook vir Zumamma om dieselfde redes kies. Sy sal die status quo handhaaf en selfs nog erger wees…

Sarie ·

Die grootste fout wat begaan is was om Mandela as heilige te sien. Hy en die ANC het die vorige leiers ‘n rat voor die oë gedraai. Plaas daar geluister is na Buthelezi en Constand Viljoen dat ons eerder in ‘n kulturele federasie moet ingaan wat miskien beter sou werk. Almal was bekommerd oor die bloedbad wat nou plaasvind.

Simon ·

Z het by ampsaanvaarding n eed afgele dat hy al sy kragte sal inspan tot voordeel van die land en AL sy inwoners.
Sy afwesigheid uit die land in die tyd rondom die Marikana insident en kort daarna met die uiters skade like staking by n motormonteer aanleg het destyds al uitgewys dat hy die Grondwet minag en dat hy dus nie verder geskik is om die land te regeer nie.
Snaaks dat n politieke kommentator proffie by een van die universiteite dit nie kon insien nie op n gereelde RSG program.
Dat Z se vyande hom in die tronk wil sien is onbetwisbaar. Hy het ten spyte van sy ampseed die land oneindige baie skade aangedoen met die gebeure rondom die sg Nenegate saga.
Nou probeer hy n eierdans uitvoer om verged ingredients te ontkom, maar sy dag sal kom baie beslis binne n jaar van nou, so seker as wat die son more weer sal skyn.
Die publiek se polities geheue is laaaank.
Vermoede bestaan dat hy op die ou end nie eens in Nkandla sal woon nie.
Daar is per slot van rekening n Batebeslagleggingseenheid wat
beslag le op bates wat op onregmatige wyses (lees ook l”korrupte wyses”) bekom is.

Grassie ·

Zuma het vier opsies in 2019.
Hy kan net aftree en op Nkandla gaan sit en hoop vir die beste. Dit is ‘n onwaarskylike keuse, want die tronkdeure wink.
Of hy kan ‘n ooreenkoms met die regering aangaan – amnestie vir al sy wandade en hy onttrek van die openbare toneel en gaan sit op Nkandla. Ek glo nie sy opvolgers sal instem nie.
Of hy vlug landuit, miskien na Dubai waar daardie huis met die dertien badkamers op hom wag.
Of hy probeer ‘n staatsgreep uitvoer. Hy kan bv. gedurende sy laaste paar maande openbare onrus aanstook en dit dan as ‘n verskoning gebruik om ‘n noodtoestand af te kondig en die grondwet op te skort. Daarna kan hy a la Mugabe soos ‘n neut aan sy mag vasklou. As hy bv. binnekort vir Des van Rooyen as minister van verdediging aanwys sal dit ‘n 100% aanwysing wees dat dit sy beplanning is.
Herman, baie dankie vir hierdie reeks artikels. Dit is uitstekend om te lees en weer te lees. Voorspoedige nuwe jaar vir jou en jou familie. Ek hoop ons sien jou nog baie jare hier op Maroela.

Nico ·

Ek stem saam met Grassie. Moet nooit vir Zuma onderskat nie. Die man sonder kwalifikasies het al meer hekkies oorkom as enige ander president in wêreldgeskiedenis. Hy het beslis nog ‘n paar kaarte in die mou. En geen daarvan voorspel goeie dinge vir SA nie.

Lance ·

Al hoe die man in sy posisie aanbly is net agv die mense wat hom omring wat hy aangestel het uit guns wat hom nou ”skuld” …hy is verseker nie in die posisie deur kundigheid (het net n std 3) of vernuftigheid nie …en dit is hoe dit in Afrika werk. So hyself en die om hom weet byna niks hy is ook meer in die hof as op kantoor so geen wonder SA is nou op die randtjie van rommelstatus …dalk is 2017 die jaar dat SA uiteindelik rommel status sal bereik wat mens seker kan se ons verdien met die anc wat SA nou vir almal opgemors het …want alles wat staat is sukkel of is in n groot finansieele gemors SAA, poskantoor , SAUK ….en nog baie voorbeelde …die geld is weg ..gesteel …IT’S GONE ! en so ook baie kundige mense wat die land reeds veraat het en vervang is deur mense wat dink hulle kan… wonder net wie die ligte hier gaan afsit …

Johann ·

Indien enige wit persoon net waag om iets te uiter wat na moontlike rassisme klink is hy/sy afgedank en in die hof, maar maneer kan sê net wat hy wil

Lewies ·

Sienisme! kyk maar wat se die verklarende woordeboek oor die saak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.