Nuuskommentaar: Jacob Rondrits se wegjaagkarretjie

President Zuma during a press briefing

President Jacob Zuma (Foto: GCIS)

Pres. Donald Trump van die VSA het pas die moeilike vakmanskap van eerste 100 dae in die amp agter die blad. Dié vakmanskap lê nou vir aangewese pres. Macron van Frankryk voor, terwyl die politieke speelveld in Suid-Afrika nou so verander het dat pres. Zuma nie meer soos voorheen met alles kan wegkom nie, maar hom nou skielik vasloop. Hy beleef as’t ware ’n splinternuwe “eerste 100 dae met ’n splinternuwe speelveld”. Of dalk nou ’n mynveld. Sy reaksie is nog om druipstert die aftog te blaas wat die situasie vererger.

Frankryk kry ’n nuwe president – een wat taamlik oorweldigend deur die Franse kiesers self aangewys is. Hy is die jongste sedert Napoleon.

Hierteenoor sit Suid-Afrika met ’n taamlik bejaarde president wat nié deur die kiesers verkies is nie. Een wat taamlik uitgebak is.

Afgesien van sekere groot kwessies, soos Frankryk se voortgesette lidmaatskap van die Europese Unie, en standpunte oor immigrasie, is nog nie baie oor Emmanuel Macron bekend nie. ’n Koerantopskrif vat dit eintlik goed saam: “The man who is ‘not Le Pen’ – and now president of France.”

Wie Macron self eintlik is, sal duideliker word soos sy presidensiële termyn verloop.

’n Verkiesingskaart toon dat Macron, afgesien van enkele noordelike distrikte, landwyd meerderheidstemtellings, en selfs groot meerderheidstemme, oor Marine le Pen van die regse Front National behaal het.

Intussen word feitlik landwyd, en op verskillende fronte, hard gewerk aan voorbereiding vir ’n post-Zuma Suid-Afrika. Dit beteken dat Zuma se termyn as president, wat bestem is om in 2019 ten einde te loop, kortgeknip word, en hieraan werk verskeie instansies en veldtogte. Zuma voel ook al meer die druk.

Die naweek het Zuma nie as spreker opgedaag by ’n saamtrek in Vuwani nie. Min. Des van Rooyen, wat namens Zuma moes praat, is uitgejou.

Dit volg minder as ’n week nadat Zuma druipstert die aftog moes blaas by Cosatu se hoof-Meidagviering in Bloemfontein. Zuma en die ander sprekers is so uitgejou dat die verrigtinge gekanselleer moes word, en Zuma ook daar druipstert die aftog moes blaas.

Dit volg te midde van Zuma wat algaande sy statuur deur magsvertoon probeer woema gee. Sy persoonlike gevolg (waarvoor die belastingbetalers opdok) is al yslik groot. Met sy laaste staatsrede is die weermag op ’n ongewoon groot skaal ontplooi.

Die grens tussen magsvertoon en om as bang uitgebeeld te word, is egter bitter klein, en sy weghol-taktiek help nou nie om hom as iets anders as ’n lafaard uit te beeld nie – boonop een met intelligensiedienste wat hom ook liederlik met veiligheidsinligting in die steek laat.

En ’n president wat kort-kort “weens veiligheidsoorwegings” die aftog moet blaas, verloor eenvoudig aan statuur – nie ’n gawe verwikkeling te midde van ’n poging van sy teenstanders om rollende massa-aksie aan die gang te sit nie. Boonop kry hy kort-kort die kous oor die kop in die howe.

Pres. Donald Trump het pas sy eerste 100 dae aan bewind voltooi, wat soos volg saamgevat word: “During his first 100 days in office, former businessman Donald Trump has been confronted with the harsh reality of being president of the United States.

“When Bashar al-Assad gassed his own people, Trump responded with the hellfire of 59 tomahawk missiles. When ISIS gained control of a network of fortified underground tunnels in Afghanistan, Trump dropped the ‘Mother Of All Bombs’ on them. And when Kim Jong Un continued with long-range missile tests, Trump ordered an ‘armada’ to the Korean Peninsula.

“At home, Democrats have vowed to resist all things Trump while House Republicans have resisted each other.

“Still, the biggest story of President Trump’s first 100 days in office is the war he’s fully engaged in with what he calls the ‘fake media’. It’s a conflict that rages every second of every day.”

Vir Macron lê die leerkurwe nog voor, hoewel hy as voormalige minister van finansies sekerlik beter voorbereid sal wees op wat voorlê as wat Trump was.

Maar wat van Zuma? Sy eerste 100 dae is al lankal verby, maar tog bevind hy hom in ’n baie soortgelyke posisie as ’n president wat die een harde les ná die ander leer. Oor dinge wat hy sê en doen waarmee hy in die verlede eenvoudig skotvry daarvan afgekom het, dans die poppe nou behoorlik. Skielik word hy vanuit die geledere van die Groot Ses gekritiseer – ook in die openbaar. Hy het duidelike vyande binne die NUK en die kabinet. Albei alliansievennote van die ANC, Cosatu en die SAKP, vra openlik dat hy moet bedank. Sy vriendskap met die Guptas word ’n al groter remskoen. Die ANC in sy magsbasis, KwaZulu-Natal, is verdeeld tot die vlak van politieke sluipmoorde nadat Zuma by die leierskapstryd ingemeng het. Opposisiepartye kom nou met buitengewoon groot getalle na vore wanneer optogte gehou word of petisies die ronde doen wat vra dat Zuma moet gaan.

In die parlement skree die EFF hom dood.

Zuma het die winde van verandering ook sleg gelees, en gebaseer op ’n amateuragtige “intelligensieverslag” die minister en adjunkminister van finansies afgedank, en in ’n japtrap rommelstatus op die land omgekantel.

Nou moet hy in die hof redes hiervoor aanvoer, nadat Zuma gedink het sy uitvoerende gesag om kabinetslede aan te wys en af te dank is onbeperk. Net so liggies vergeet die Grondwet bepaal dat alle uitvoerende optredes deur die regering rasioneel en verantwoordbaar moet wees.

Dis ook nie van gister af nie dat Zuma sy teenspoed met die rassekaart probeer besweer. Oor die regering se dubbele standaarde word die regering nou deur Solidariteit by die VN verkla. “Mens wis nie rassisme uit deur dit te pleeg nie,” sê Connie Mulder, afdelingshoof van die vakbond Solidariteit se navorsingsinstituut, oor waarom hulle ’n klag gaan indien by die VN se Komitee vir die Eliminering van Rassediskriminasie en by die Internasionale Menseregtekommissie.

Vir Zuma is dit ’n haas onbekende ervaring dat byna alles wat hy nou doen, iewers teenspoed kry. Hy weet duidelik nog nie hoe om daarop te reageer nie, soos blyk uit die “verduidelikings” wat sy kantoor uitreik.

Om bloot te besluit dis nie meer lekker om in hierdie omstandighede president te wees nie, is waarskynlik ook nie ’n opsie nie. Dit kan onder meer die pad teer vir die DA se hofpogings om hom op meer as 700 aanklagte van bedrog te laat teregstaan – iets wat Zuma in sy maanskyn-en-rosegeurdae van presidentskap gemeen het hy het vir altyd laat “verdwyn”.

Dit lyk ook of die Seriti-kommissie se hoogs verdagte bevindings oor die wapenskandaal eersdaags ná ’n hofhersiening soos ’n yslike blok om Zuma se nek kan bly hang.

Die reaksie om die nuwe omstandighede met ’n weghollery te “besweer” is onwaardig, en help net vinniger aan die politieke graf graaf. Hy het geen keuse nie as om sy ampstermyn in ’n loopgraaf te voltooi nie … behalwe as hy die beter opsie volg en ter wille van die land die amp neerlê.

Gaan draai solank die slinger van die wegjaagkarretjie – die karretjie waarmee heeltemal uit die politiek van die land weggejaag kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anoniem ·

Ek was lanklaas so optimisties dat Zuma se einde nader kom. Gelukkig sal hy nie vroeg uitkom op mediese parool vanweë hoë bloeddruk nie, want stres is mos die witman se siekte.

Jordaan ·

Ons het al voorheen so gedink. Intussen gaan hy en sy kaders voort om te steel en rassehaat aan te blaas sonder enige skynbare gevolge. Ek sal maar wag met die vonkelwyn.

Ramkat ·

Dat n land se President n baie groot lyfwag kontigent om hom vergader om hom te beskerm teen persoonlike aanvalle is tog.nduidelike teken dat hy ongewoon ongewild is in sy eie land.
Dat hy uitgejou word om te verseker dat sy toe spraak nie gehoor kan word nie en dat hy selfs on welkom is y nasionaliteite geleenthede is n geweldige klap in sy gesig.
Dat dit nie by Namawan se dikkop ingang maak nie wys tog net verder dat hy totaal ongevoelig is teenoor die behoeftes van die bevolking.
Dat hy druipstert moet wegkruip van geleenthede wys dat hy verseker bewus is van sy veragtelike status.

John ·

Moenie asem ophou nie… My raai is erge aggressiewe teenaksie vanaf Zuma, want sy adjunk begin nou ook die skroewe stywer aandraai, verkondig ook radikalisme en vra nederig omverskoning vir al sy sondes. Die vonke gaan binnekort begin spat en dit sal nie winterkaggelvure wees nie. Ann7 toon die ‘Saksiese’ magte begin nou ook wild ‘skietgoed’ vergader om die troonkamers te beveilig want die verre tuisland is meer gehawend as ons slegste plakkerkamp. ‘n Vyf- of sesspalt in die glo eensgesinde mega-perfekte ANC word nou ontbloot… en die siel van die beweging wat eintlik maar neerkom op die najaag van Mammon vanuit verskillende hoeke… wat steel tot ‘n egte mensereg wil laat verklaar.

Hans ·

zuma bly homself met God vergelyk.Hy dink dis n speletjie soos in 1838.Ons moet geduldig wees en aanhou bid.

snoefie ·

hy vlug nie druipstert van die uitjouery weg nie. die uitjouery is die bewys van demokrasie suksesvol in werking. die aftogblasery is dus n klop op die skouer. sy koffie is koud.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.