Nuuskommentaar: Jacob van Riebeeck

Pres. Jacob Zuma, adjunkpres. Cyril Ramaphosa en adjunk sekretaris-generaal van die ANC, Jessie Duarte by die ANC se 103de herdenking in Kaapstad-stadion op 10 Januarie 2015 Foto: Elmond Jiyane, departement van kommunikasie

Pres. Jacob Zuma, adjunkpres. Cyril Ramaphosa en adjunk sekretaris-generaal van die ANC, Jessie Duarte by die ANC se 103de herdenking in Kaapstad-stadion op 10 Januarie 2015 Foto: Elmond Jiyane, departement van kommunikasie

Nou weet ons dit ook: Suid-Afrika se probleme het begin toe Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom het.

Dit was een van die juweeltjies wat pres. Jacob Zuma tydens sy Kaapse ekskursie kwytgeraak het, toe die ANC hul 103-jarige herdenkingsmakietie in die skadu van Tafelberg gehou het.

Tydens die uitstappie het Zuma ook weer gesê die ANC sal regeer tot die wederkoms, en dat oorle apartheid vir Eskom se probleme verantwoordelik is.

Doen enigeen méér moeite as die president om die mense van Suid-Afrika in hul eie laers in te jaag, of soos Tim du Plessis dit in Rapport noem, kampe?

Die ANC het ’n ongekende beheptheid met ras, eerder as die meer moderne en volkeregtelike konsep van minderhede waarvan taal en kultuur die hoeksteen uitmaak.

In ʼn hoofartikel getiteld, Wit mense is nie ‘die gevaar’ in Suid-Afrika, vra Die Burger en Beeld pertinent: “Verklaar die ANC dan – ondanks sy verklaarde beginsels van veelrassigheid – wit mense tot die vyand? Wil hy ’n nasionale versoeningsprojek kelder deur verskillende rasse teen mekaar uit te speel?”

Die koerante het dit hier veral teen die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantshe, wat in die jongste tyd ’n besonder radikale baadjie aantrek.

Tim noem ʼn hele paar faktore oor waarom verskillende groepe in Suid-Afrika by mekaar verbypraat in wat hy heel gepas die debat van die dowes noem.

Die konsep van groepe wat mekaar nie hoor nie is ook nie nuut nie. Oud-pres. Thabo Mbeki het ook by geleentheid van ’n dubbelverdiepinghuis gepraat met die armes wat op die een, en die rykes wat op die ander verdieping woon, met geen trappe wat die twee verdiepings verbind nie.

Volgens die ontleders op Sondagaand se RSG-program, Kommentaar, het Zuma met die maak van sy mees bisarre stellings van sy geskrewe toespraak afgewyk. Dit beteken net een ding – Zuma meen sy “rehabilitasietyd” waartydens hy die wêreld vol gestuur is om as “superdiplomaat” statuur te gaan opdoen terwyl ’n wag voor sy mond geplaas is, nou verby is. Dit is egter duidelik dat Zuma in die beredderingsfase niks geleer het nie, en steeds vassteek by sy geykte, feitelik en historiese (en deeglik bewese) onjuisthede.

Of nee, hy het iets geleer, en wel by Mugabe geleer. Wanneer dit nie meer werk om alles wat verkeerd te gaan op die regering van die vorige bedeling te plaas nie, en kolonialisme vir omtrent alles wat nie reg is nie te blameer, dan paai jy die massas met beloftes van grond. En Zuma het verskerpte grondhervorming vanjaar in die vooruitsig gestel, maar anders as in die geval van Mugabe, darem in terme van wetgewing wat volgens Zuma in pas met die grondwet sal wees. Maar dan klink sy ambisie om die regbank te “transformeer” eintlik onheilspellend.

Dit het waarnemers ook opgeval dat Zuma groot gewag gemaak het van die Vryheidsmanifes, terwyl die Nasionale Ontwikkelingsplan kwalik genoem is. Dit moet in gedagte gehou word dat van die opstellers van die Vryheidsmanifes, waaronder prof. Ben Turock, ook reeds verduidelik het dat die Vryheidsmanifes in die gees van destyds opgestel is, en nie vandag klakkeloos toegepas kan word nie.

Zuma het hom ook oor ’n verskerpte aanslag teen korrupsie uitgespreek, maar komende van ’n man soos Zuma, en wat boonop onlangs nog korrupsie as ’n Westerse konsep beskryf het, is dit sowaar ʼn geval van sien is glo.

Dit was weliswaar die ANC se eie makietie, en vir ’n bepaalde gehoor bedoel. Die president se sogenaamde 8 Januarie-toespraak (wat nie noodwendig op die 8ste gelewer word nie) word egter as ’n goeie aanduider beskou van wat in die staatsrede sal staan. Maar as dr. Piet Croukamp meen die naweek se toespraak was een van die mees inkoherente toesprake wat hy nog gehoor het, dan wys dit hoe wyd mense reeds by mekaar verby praat. Tot watter mate Zuma self ’n hand in sy toespraak gehad het, is nie duidelik nie, aangesien dit vooraf algemeen in die media gerapporteer is dat van die ANC se belangrikste ringkoppe vooraf in Kaapstad saamgetrek het om die toespraak te skryf.

Dit is egter hoogs te betwyfel of die staatsrede ’n meer inklusiewe benadering sal volg. Zuma en sy voorgangers het immers getoon dat hulle wyd hou as dit by kwessies kom wat vir die Afrikaner na-aan die hart lê soos plaasmoorde. Kan die bruin mense enigsins verwag om in die toespraak te hoor dat hulle nie meer as “oorverteenwoordig” in die Wes-Kaap beskou word nie, en dus nie meer in dié provinsie aan nasionale demografiese kwotas onderwerp gaan word nie? Sal daar enige kans wees dat versekerings gaan kom dat Afrikaans nie verder gemarginaliseer gaan word nie?

Maar veroorsaak rampgebeure soos die naweek se ANC-makietie die laertrekkery (of saamtrek in kampe), of stimuleer dit bloot ’n proses wat lank reeds aan die gang was? En is dit noodwendig net sleg?

Die beskuldigings teen die adres van die Afrikaner dat hy laer trek, is nie nuut nie, en allerlei verwikkelinge word hom teen die kop geslinger om die stelling te motiveer.

Maar as die Afrikaner laer trek, doen hy dit nie alleen nie. Die opkoms van die Bruin Belangebeweging kan ook as ’n manifestasie hiervan beskryf word. En wat anders is die sleepsels van die Swartbewussynsbeweging?  Hoe anders verklaar ʼn mens die openlike bestaan van instansies soos die Black Lawyers Association, Black Journalist Organisation, African Farmers’ Union en vele meer? Terwyl gematigde Afrikaners skrum in die rigting van ʼn volkeregtelike en grondwetlike begrip van die begrip “volk” of minderheid, verhard die regering sy rasgedrewe kriteria vir onderskeid. En is daar noodwendig teenreaksies.

Hoe meer vervreemd ’n groep in hul eie land voel, hoe sterker sal die kollektiewe organisasie wees om nie net te beredder nie, maar selfs uit te bou. Hierin speel die burgerlike instellings ’n al hoe groter rol, met die Solidariteit-beweging wat in baie opsigte die pas aangee, soos nou selfs die stigting van ’n eie universiteit. Die interessantheid is dat hoewel die woord “solidariteit” internasionaal dikwels in die konteks van “staat binne ʼn staat” gebruik word, daar min indien enige naspeurbare verwysings is waar ’n soortgelyke vinger van Solidariteit in Suid-Afrika verwys word.

Met die bekendstelling van Akademia was dit uit reaksies duidelik dat baie Afrikaanssprekendes Solidariteit nou as ’n soort waarborg teen totale verdringing in eie land beskou, waar Solidariteit nie net op die arbeidsterrein betrokke is nie, maar met die ondersteuning van Helpende Hand en AfriForum bykans elke aspek van ’n Afrikaanssprekende se lewe aanraak.

Met Maroela Media is selfs ʼn beduidende en snelgroeiende voetspoor in die media-omgewing afgedruk.

Hoewel daar duidelike ooreenkomste is, is daar tog ook groot verskille tussen wat die Solidariteit-beweging en ’n entiteit van korporatiewe selfbeskikking doen waarvoor die grondwet voorsiening maak. ʼn Vingerwysing van “’n staat binne ʼn staat” sou dus onvanpas wees.

Of die Afrikaner en ander minderhede reg optree om in laers (of kampe) saam te trek, en of dit geregverdig is, is ’n grootliks politieke debat.

Die belangrikste les is egter dat die ANC nie kan verwag dat hy voortgaan om op ’n rasbenepe grondslag minderhede te vervreem en dan verwag dat alles sal regkom nie.

As Zuma kolonialisme wil blameer kan hy immers nie die vinger net na Jan van Riebeeck en wat daarop gevolg het, wys nie. Ook die swart mense in Suid-Afrika is relatiewe laat-aankomelinge, en wat hulle met die inheemse bevolking binne die hoër reëvalisotope gedoen het, strek nou ook nie juis die swart mense tot eer nie.

Hierteenoor het Van Riebeeck streng voorskrifte gehad oor hoe die inheemse bevolking hanteer moet word, wat soms frustrerend onprakties was. Maria van Riebeeck word uit geskiedenisbronne beskryf as iemand wat besonder baie gedoen het om verhoudinge tussen die Nederlanders en die inheemse bevolking te verbeter, en dat sy ook ’n slag daarmee gehad het.

Ongelukkig lyk dit nie asof die vervanging van Zuma noodwendig verligting gaan bring nie. Teen die periodieke uitsprake van mense soos dr. Blade Nzimande en nou Gwede Mantashe, klink Zuma dikwels baie mak.

Adjunkpres. Cyril Ramaphosa het ’n gedugte taak om hom as vernaamste opvolgkandidaat te vestig. Sodra die persepsie ontstaan dat hy die gunsteling van die “ander kampe” of laers is, kan sy teenstanders dit baie maklik in die huidige gepolariseerde klimaat teen hom gebruik. Die nadeel is dat die land in wese sal moet wag tot hy die leisels oorgeneem het voor dit duidelik sal wees in watter rigting hy sal beweeg.

Die aanloklikheid van ʼn eie “laer” waarbinne reg en geregtigheid geskied, korrupsie nie geduld word nie, en ’n strewe na uitnemendheid sterk staan, asook ’n manier van die Here dien wat nie knaend as godslasterlik ervaar word soos Zuma en sy kornuite se “godsdiensuitsprake” nie, word dus al hoe aantrekliker. In dié laer word Geloftedag in sy korrekte konteks gedenk, en is daar nie so baie erg aan versoeningsdagvieringe wat volop bekpraatjies is en wat dan teenoorgestelde optrede oplewer nie.

Maar as daardie laer hom na die radikale randakker-konteks verplaas, verkrummel die pilare van internasionale reg, en sal dit die Afrikaner in die woestyn vasgevang hou.

In alle billikheid bevind die Afrikaner hom minstens nie volledig in ’n laer nie. Statistiek toon duidelik dat die meeste Afrikaners vir die DA stem, wat nié in daardie laer is nie. Links-liberales gebruik ook graag hierdie verskynsel om te toon dat die meeste Afrikaners nie ’n behoudende streep weg het nie (en dus ipso facto gevalle soos Steve Hofmeyr se sing van die Stem die rug sal toekeer), maar versuim ook om te meld dat peilings duidelik toon hoekom die meeste Afrikaners vir die DA stem. Dit is egter ʼn debat vir ʼn ander dag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hanno Visagie

Dit is voorwaar tragies dat die meeste Afrikaners vir die ANC-light stem.

Francois

Goeie kommentaar, maar ek is definitief nie een van die Afrikaners wat vir die DA stem. Daarvoor neig die DA te veel links en bring alhoemeer swartes in hul topstruktuur, soveel so dat nie lank sal wees voor Zille as leier vervang word deur ‘n swarte. Afrikaners wat dus vir hulle stem sal dan vir swart leiers stem en kan dan netsowel vir die ANC stem.
Zuma se “toespraak”? Ou retoriek wat nie eers kommentaar werd is nie.

Grassie

Van 1992 af beséf die meer behoudende Afrikaners dat laer trek, met gepaardgaande selfversorging en selfbeskerming, die enigste wyse is waarop blankes in die land sal kan voortbestaan. Nou, na 22 jaar, begin die ja-stemmers stadigaan en teësinnig ook die moontlikheid oorweeg, dit is asof hul oë begin oopgaan. Ek dink dit is egter vir ‘n “verligte” hel swaar om toe te gee dat hy dalk verkeerd was. Die tyd sal maar leer wie groepeer waar.

pop

Francois, daar gaan nooit weer n wit regering kom nie. As daar swart mense is wat baklei vir ons almal se plek in die son , se ek stem vir daai party. So los maar die DA uit. Die Kaap is n bewys dat die party werk.

jakoos

Herman, natuurlik is dit lagwekkend om te hoor hoe Zuma vir arme ou JanvR blameer vir wat nou skeefloop in SA, maar dit is werklik tyd dat ons leer dat die Afrikaner (maar ook die sg. “bleeding-heart liberals” onder Engelse en Afrikaanssprekendes) lank nie meer by die ANC in tel is of deur die ANC as ‘n bedreiging gesien word nie. Dis Malema en sy soort wat gevaar vir die ANC inhou – nie Zille en haar hans-kakie swartes nie. Zzuma en kie weet dat hierdie soort uitsprake en nuwe ‘dreigemente’ van grondhervorming goed afgaan by swart kiesers. Hulle kraai… Lees meer »