Nuuskommentaar: Jansen se bedanking en sosiale media toon kloof

Jonathan Jansen. Foto: www.ufs.ac.za

Jonathan Jansen. Foto: www.ufs.ac.za

Die reaksie op veral die sosiale media oor die bedanking van die UFS se rektor, prof. Jonathan Jansen, lê foutlyne in die versoeningsproses in Suid-Afrika bloot. Terwyl hy aan die een kant as versoener voorgehou word, meen ander dat sy dikwels onkonvensionele optrede juis rassepolarisasie aanhelp. Kan Jansen in die oorblywende maande van sy dienstydperk sy nalatenskap nog opgeklaar kry?

Die nuus dat die rektor van die UFS, prof. Jonathan Jansen, die tuig neerlê om ’n pos oorsee op te neem, het vir baie as verrassing gekom. Die reaksie op die sosiale media het nié werklik as verrassing gekom nie.

Om die reaksie op te som sonder om te veralgemeen is baie moeilik. Dit bestryk die hele spektrum; van diegene wat hom loof as groot Suid-Afrikaner wat goeie werk gedoen het, tot diegene wat hom as die aartsvyand van Afrikaans en die Afrikaner tipeer. In die proses is die pen dikwels diep in gal gedoop, en soms ook diep in vitrioel.

Selfs sonder sy ideologiese passie sou Jansen se nalatenskap omstrede wees. Hy het dikwels die media gehaal weens sy openbare swetsery, en veral die gebruik van die f-woord het aanstoot gegee. Pas het ouers van ’n skool wat hy toegespreek het, gekla oor beweerde vulgêre taal.

Hy het te dikwels uit die heup geskiet, soos by minstens drie geleenthede ná die afsterwe van prof. Russel Botman, ’n sieklike diabeet, deur te sê Botman het nie vanself doodgegaan nie. Hy het duidelik weerstand teen Botman se transformasie-aksies (wat ook die beleid soos deur die raad oorweeg is, vooruit geloop het), die skuld daarvoor gegee. Daar was voorvalle soos dié met die nimlike prof. Driekie Hay wat buite die hof geskik is, en weens ’n ooreenkoms oor die bekendmaking van inligting, weet bitter min mense ongelukkig wie die blaam moes dra, maar is tog oortuig dat dit Jansen moes wees. Daar was die skorsing van twee studente ná ’n “rassevoorval” waarna die twee studente deur die Menseregtekommissie van rassisme, en die hof van die ander strafregtelike aanklagte teen hulle onskuldig bevind is.

Jansen het teen onder meer die FAK te staan gekom oor die wegdoen met God in die universiteit se leuse, ’n aangeleentheid wat skynbaar nog onafgehandel in die lug bly hang. Gradeplegtighede is nie meer met gebed geopen nie. Kortom, die universiteit is van sy Christelike karakter gestroop.

’n Groot deel van Jansen se motiewe is op die oog af verswaar deur die optrede van sy voormalige studentedekaan, Rudi Buys.

Sy verhouding met Volksblad het soos ’n storieboek in dié koerant gelees en by tye het heelwat suur sop uitgeloop, waaronder ’n klag by die persombudsman. Hoewel die persombudsman die kwessie grootliks in Jansen se guns bevind het, is ook bevind dat die universiteit te snoep was met die beantwoording van medianavrae. Tog vind Volksblad se kunstefees jaarliks op die kampus plaas.

Op die ideologiese front was dit duidelik dat hy ’n groot transformasiedrywer is. Hy het kort ná sy aanstelling klaargespeel met die destydse kultuurkoshuise wat op die versoek van swart studente ingestel is. Hy het beweegruimte gekry hiervoor omdat die kritiese kantelpunt van getalle verander het sedert die aanstelling van sy voorganger.

Met die skrywe hiervan lyk dit of die universiteit en AfriForum op ’n hofsaak afstuur ná die aanvaarding van ’n nuwe taalbeleid wat met Kovsies se tweetaligheid wegdoen. Jansen het hieroor onder die pen van die skrywer en digter, Breyten Breytenbach, deurgeloop.

Gou het Jansen se hantering van die Reitz-vier-geval, wat hy as brouspul by sy voorganger geërf en na die mening van baie mense goed hanteer het, te midde van die omstredenhede in vergetelheid verval. Maar die aanvanklike impak was groot, en die Nederlandse koerant Trouw het in ’n lang artikel Jansen selfs as oudpres. Nelson Mandela se opvolger as nasionale versoener beskryf.

Jansen se gradedagtoesprake het van oorwegend die beklemtoning van akademiese uitnemendheid geleidelik omgesit na ’n beklemtoning van rassekwessies. Van die ideaal het min of meer dadels gekom. In 2009 het Volksblad Jansen aangehaal dat hy die UV tot onder die twee top-universiteite in Suid-Afrika wil ontwikkel, en onder die top-sestig in die wêreld. Volgens die jongste ranglys is die UV nou 1 112de in die wêreld teenoor Ikeys se 249de plek, Wits (324), KwaZulu-Natal (404) en US (420) wat almal steeds beter as die UFS vaar.

Jansen is omstrede. Nie alleen is hy vrygewig om ander, soos Solidariteit en AfriForum as rassistiese bewegings, of mense as rassiste te tipeer nie, maar min mense word waarskynlik so dikwels soos Jansen in koerante se briewekolomme en in die sosiale media as rassis beskryf. Dit van dieselfde man wat eens op sy Facebookblad geskryf het hy raai sy kinders (sy studente) altyd aan om waar amptelike vorms vereis dat ras aangedui word, “human race” in te vul.

Een van die eerste mense wat met blydskap op die sosiale media oor Jansen se bedanking gereageer het, is die studenteraadsvoorsitter, Lindokuhle Ntuli. Baie vriende het dié vreugde gedeel.

Wat die ander kommentare en inskrywings oor die algemeen betref, word die indruk verdiep dat daar ’n groot kloof bestaan tussen die menings van die grootste gros wit Afrikaanssprekendes, en die bruin elite. In ’n vroeë kommentaar het Christo van Rheede Jansen ongekwalifiseerd as groot man geloof, en sy weggaan as verlies vir Kovsies beskryf.

Dit is gevolg deur ’n string soortgelyke lofprysings uit bruin geledere, maar ook van veral wit vroue.

Die bekende Cobus Bester, voorheen van die SAUK, skryf omvattend op sy Facebookblad oor die aard van reaksies wat hieroor op Facebook te lese is. Op die gevaar af dat selektiewe aanhalings nie reg aan Bester se inskrywing sal laat geskied nie, word ’n groot deel hier geplak:

“Die sosiale media speel ’n ooglopende rol in dié agteruitgang. Dis makliker om op ’n afstand goed kwyt te raak waaroor jy in iemand se geselskap sou besin het. Voorvalle waaroor daar in die verlede skaars ’n rimpeling sou gewees het, lok nou ’n histeriese vloedgolf van dikwels skynheilige verontwaardiging en nydigheid soos mense oor mekaar val om hulle morele meerwaardigheid oor ander sterflinge te probeer tentoonstel. Feit, bevestiging en geregtigheid speel selde hier ’n rol.

“Dit word vandag weer deeglik benut ná die nuus dat prof. Jonathan Jansen sy pos as visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat gaan neerlê. Daar word nou wyd en syd weer keel skoongemaak deur allerhande mense wie se eie politieke en ander onderrokke in die proses om hulle enkels gedrapeer word. ‘Kampvegters’ vir Afrikaans wie se spelling ’n duidelike bewys is dat hulle self maar ’n langafstandverhouding met die taal handhaaf, vuurspoegendes oor ‘rassediskriminasie’ wie se uitlatings toon dat hulle self ook maar net vir één ras teen al die ander wil oorlog toe gaan, onkreukbare vlekkeloses wat nie te na aan die spieël óf die venster moet staan nie.

“Jonathan Jansen is seer sekerlik nié ’n foutelose wese nie. Hy het dit tog self al in die verlede erken. Daarvoor het hy eenvoudig te veel passie, te veel seer, te veel menslikheid, ja, te veel foute. Een dag koer en spin Afrikaanssprekendes van die lekker wanneer hy vir hulle regte opkom, die volgende vervloek en verguis hulle die man as sy mening of optrede nie met hulle vereistes ooreenstem nie. So ook onder sy swart medeburgers. Gaan kyk maar wie was van die eerstes wat sy vertrek verwelkom het en moenie dink die wêreld gaan ’n beter plek word vir jou lieflingetjie op Kovsies nie.

“En dis waar die probleem lê. Elkeen wat in hierdie vervloekte, geknelde, wonderlike land van ons dit sou waag om as leier sy hand op te steek, word outomaties die teiken van ’n hele rits kritici wat soos ’n wafferse Madame Defarge en haar mede-tricoteuse sit en wag dat die bloedige koppe om hulle rol. Niemand durf meer ’n fout maak nie. Niemand mag meer waag om aanstoot gee nie. Want ons debatteer nie meer nie. Ons stry en redekawel en vind mekaar nie meer nie. Ons versoen nie meer nie. Ons vervloek en verstoot eerder mekaar. Jaag diegene wat nie die ‘norm’ pas nie liewer ondergronds of landuit.

Ons is besig om ’n land vol Gillian Schuttes te word.”

Die indruk kan gewek word dat saakmakende mense meen dat diegene wat nie trane oor Jansen se vertrek stort nie en dit sê, “almal” gopserig is. Dit strook nie met die werklikheid nie.

Die Solidariteit Beweging het die hoop uitgespreek dat Jansen se opvolger moeite sal doen om bande met die Afrikaanse gemeenskap, wat ʼn groot aandeel in die vorming van die universiteit gehad het en steeds het, te versterk. Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, meen die UV se raad het die afgelope paar jaar onder Jansen se bestuur, onder meer deur dreigemente om Afrikaans as onderrigtaal af te skaf, die Afrikaanse gemeenskap vervreem. “Die Afrikaanse kultuur en karakter van Kovsies het grootliks help vorm aan die sukses en uitnemendheid van die universiteit. Afrikaans en Afrikaanssprekendes het boonop ʼn reusebydrae tot die akademiese integriteit van die universiteit gelewer. Laasgenoemde kan en mag nie ontken word nie.”

AfriForum het die hoop uitgespreek dat Jansen se opvolger aktief daaraan sal werk om wedersydse erkenning en respek tussen studente op die kampus te bevorder en ook daartoe sal bydra dat die posisie van Afrikaans as onderrigtaal op die kampus heroorweeg word.

Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het vele omstrede uitsprake van Jansen oor rasseverhoudinge en Afrikaanse onderrig daartoe gelei dat die studente toenemend op rasgronde gepolariseer is en dat die weerstand teen Afrikaans as onderrigtaal vergroot het. “’n Nuwe visekanselier en rektor sal die geleentheid hê om verhoudinge op die kampus te verbeter, brûe tussen studentegemeenskappe te bou en ook die waarde van Afrikaans en ander Suid-Afrikaanse inheemse tale te beklemtoon, eerder as om eentalige Engelse onderrig as enigste opsie vir akademiese uitnemendheid te probeer voorhou.”

Volksblad meng in sy hoofartikel die stroop bietjie met streepsuiker, maar gee reeds in die opskrif krediet met “Rasversoening is UV-rektor se grootste bydrae”.

Volgens die sosiale media verskil baie wat Jansen se boek, Knowledge in the Blood, gelees het. Volgens een kommentaar is die boek ’n plek “waar hy die Afrikanervolk verdoem as naakte rassiste wat ‘gesuiwer’ moet word van hulle rassisme. Kortom, hy hamer op apartheid en ek is seker hy haat die Afrikaner … in Afrikaans”.

Jansen is nog ’n paar maande in die tuig, en kan dié tyd goed gebruik om die verwarring oor sy nalatenskap op te klaar, nie net ter wille van sy eie nalatenskap nie, maar ter wille van die klowe, ook rasklowe, wat nou ’n duidelike produk van die huidige warspul is. Niemand kan dit namens hom doen nie, net hy self. Die ander kan, en moet hom die geleentheid daartoe gun.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Sarie ·

Jansen was inderdaad ‘n omstrede karakter As opvoedkundige het hy moedertaalonderrig wat as die beste manier van onderrig beskou word nie regtig krediet gegee met sy verengelsingsbeleid nie. Hy het dit ook teen Wiskundige Geletterdheid op skoolvlak gehad deur te sê dat enige kind kan Wiskunde op n hoër graad baasraak. Sy boek oor rassisme in die Afrikaner se bloed het ook bewys dat hy nie so anti-rassisties is as wat hy voorgee nie. Blykbaar het die eerste probeerslag in die asblik deur homself beland oor dit wat hy daar kwyt geraak het. Te reg het Breyten gesê dat as enige Afrikaner so ‘n boek oor swartes en bruines sou skryf Jansen voor in die koor sou staan om dit te veroordeel. In die meeste gevalle het hy gepraat voor hy gedink het. Hy het egter ‘n hoë dunk van sy vermoë gehad en nie maklik om verskoning gevra nie. Almal weet waar Kobus Bester op die politieke spektrum beweeg. Sal nie vergeet hoe hy soggens as daar oor iets omstrede gepraat word die regses gewaarsku het om nou nie weer dit of dat te sê nie.

Kobus ·

Jip ek stem. Dan die seunse weenkoor het dit in Beeld, Rapport en op Netwerk24 gedoen, Kobus Bester en Ian Wessels het op RSG gedurig fout by die Afrikaner gesoek, op die swakhhede gehamer, van Paul Kruger af, tot wie weet waar.

Herman ·

Hy moet vinnig gaan, en sommer so klomp ander saamvat. Sal nie name noem nie, daar is te veel.

Emil ·

Die hele prentjie is sommer baie duidelik gestel. Dankie aan Maroela Media. Die simptome is duidelik een van Narsistiese persoonlik en alles wat daarmee saamgaan. Die uiteinde daar is geen salf aan te smeer nie. Hoop hy kry opdraande van alle oorde waar hy ook land!

Theuns ·

Herman nog in goed gebalanseerde stuk kommentaar. Die Kloof is duidelik nl. die wat vir Johnathan Jansen is en die wat teen hom is. Waar pas ek in? Ek is teen hom! Hoekom? Omdat ek net die skade sien wat hy gedoen het! Die skade berig jy volledig oor soos byvoorbeeld die volgende. Die afsluiting met gebed en sy minagting van die Afrikaner se Godsdiens Kultuur! Die Instelling van Engels as die voertaal van UV. Weer die oustorie ” Engels Engels wat jy sien en hoor, ou Jonathan het ons taal by UV vermoor! Die vloekende priester wat almal wat wit is uitskel vir rassiste. So kan n’n mens aangaan! Baie baie dankie Johnathan dat jy besluit het om te loop. Daar anderkant sal jy vir ‘n slag moet werk! Wonder wat gaan jy die wit Amerikaners van beskuldig. Dat hulle die Indiane uitgemoor het? Beste Groete

Xa ·

Ja die wit amerikaners se tyd kom net soos ons sn. Hulle kinders gaan nog groot boet, eers Dan gaan hulle besef wat ons moes deur maak. Maar Dan is dit te laat vir hulle. Teen die tyd dat die naive meerderheid van n volk besef wat aangaan, dan is dit te laat.

Loeis ·

Dalk besef hulle nie die fout nie, want die media vertel hulle elke dag hoe reg hierdie foute is.

Met spesiale erkenning aan Max du Preez en Pieter du Toit, in die geval van Suid-Afrika…
Gaan iemand dit ontken?

Moeggepraat ·

Die woord ‘foutlyne’ soos gebruik met verwysing na die versoeningsproses, is die inversie van die idioom “moenie ‘n berg uit ‘n molshoop maak nie”. Dit laat my dink aan ‘n kortverhaal wat handel oor ‘n gekraakte wasbak, met die verskil dat in die huidige disposisie en diskoers die wasbak besig is om te disintegreer. Die Bitterheid en vitrioel van die Afrikaner is die manifestasie van teistering en sielkundige afbreek van identiteit en of dit nie genoeg is nie, word daar verwag dat skuldgevoel en apologie ons moet vertroebel tot valslike erkenning van boosheid.

John ·

Ja, wat moois kan ‘n mens se oor die hele sage, die’ afgetopde UV-sepie? Miskien was daar ‘n bietjie te min seep in die troebel water om ‘n hele paar ouens se monde mee uit te spoel. Hierdie was ‘n Afrikaanse universiteit, maar massas Engelsgesindes is ingevoer, ook baie vanuit die buurstaat. En hulle dans ook die vastrap dat die stof so staan, vir gratis Engelse lesings. Ja, dit was ‘n droe somer en nog waterbeperkings ook, so daar was genoeg vastrapplek. Die UV is nou skynbaar meer as duisendste agter die tyd. Miskien sal die volgende rektor skaam kry daaroor. Net miskien…

Rynhardt ·

Dit is nienodig virgroot verduidelikings nie. Die man het selfdie kloof gemaak.Gaan nog verdere skade veroorsaak waar hy gaan.Hy het geen nalatenskap nie. Hy moet so gou as moontlik vertrek en sy maatjies ook.

wynand ·

Sy nalatenskap is skade.Wil nooit weer iets van hom hoor nie.Hy sal soos mis voor die son verdwyn. n niemand word en bly.

Roger B ·

Ek beskou Jansen as agterbaks en ‘n huigelaar. Hy dans op die wysie van ANC en liberale klanke. ‘n Held in sy eie droom wêreld en dié van eersgenoemdes.

Oupa D ·

Raak gesê, Roger! ‘n Held in sy eie droomwêreld. Wil prof. Wim nie dalk Jansen se voorbeeld volg nie?

koot ·

Vir my is/was hy ‘n vars bries en duidelik ‘n man wat onder moeilike omstandighede ‘n verskil wou maak. Hy praat Afrikaans sonder askies en foutloos. Hy’t deernis vir sy studente (wat hom soms lelik in die steek gelaat het) en is duidelik ‘n mens mens sonder voorkeur vir kleur – iets wat ons nie van sy teenstanders kan sê nie. Hy is jonk en ambisieus – waarom sal hy langer sukkel in ‘n land wat nie vooruit wil gaan as een nasie nie. Al die Vise-Kanselliers kry pak van alkante af. Ek sal ook my goed vat en loop as ek Wim de Villiers is, want ook hy kan skynbaar niks goed doen nie. Niemand sal ooit in die ‘behoudendes/laertrekkers’ se oë goed wees nie – miskien moet Generaal De La Rey maar weer opgegrawe word sodat hy julle kan lei – weg, weg na Koerland. Daar waar almal vasgehaak sit in die doringbos van ons en hulle en Sarie Marais julle volkslied is.

Baai Prof Jansen. Jy sal diep gemis word. Alles van die beste met jou toekoms.

Emil ·

Die spreekwoord se: Eendrag maak mag, tweedrag breekkrag. Verhoudings is belangrik vir ons samelewing. Laat jy maar gaan oompie! Ek voel as die suur pruim smaak in my mond van sy onvermoe.

ig ·

Baai Jonathan,ons gaan jou nie mis nie en vat sommer vir Koot saam sodat hy jou tasse kan dra.

vermeende ·

En dit is hoe ons sukses meet in Afrika, hoeveelste was UV voor hy daar begin het.
Sy sukses word met Zuma se maatstok gemeet wat SA tot op die randjie van romelstatus het.

Seker maar rassisties om te verlang na die ou, ou dae toe sukses aan prestasie en vooruitgang gemeet was en meriete gegeld het. Die dae toe jy water by enige kraan kon drink.

Ek is seker n rassis………hoe lekker verlang ek nou terug.

Joann ·

Koot doen hier die boere land van ons n guns en gaan saam met Jansen asb.ek vra mooi.

koot ·

Joann, die vraag vir jou is: sal die boere dan tevrede wees? Ek twyfel sterk. Daar sal altyd oor iets gejeremiade word – dis in ons bloed, oooo weeeee ….

selma ·

Moenie dat ons oor iemand soos hy stry kry nie.
Hy is dit nie werd nie. Laat hom gaan en agter ‘n bult in n newel verdwyn.

John ·

Koot (‘n regte boere-naam). As ek nou instap by Ikeys en die plek herstruktureer en totaal verafrikaanse en ‘n ossewa reg voor die hoofgebou staan maak. Wat sal die Engelse se? Oulik. Lankal tyd. Waar’s die volkspele-laer? Hiert jou lekker diing! Nee! Die wasmasjiene sal die volgende dag ‘n klomp onwelriekende onderklere moet was. Hoekom is daar nie nog universiteite gebou vir die mense wat ander tale praat nie? Antwoord my asseblief! Dis gratis.

koot ·

Een woord John (lekker kakie naam) – koste. As elkeen sy universiteit wil hê, wat gaan dit kos? Enige snuiter wat ‘universiteit’ haal behoort die wêreldtaal Ingils te kan praat. Julle kan julle laer trek en daar Afrikaans praat – ek praat dit suiwer – en die dinge wat die hele nasie raak los en DINK aan praktiese kostebesparing. Miskien is daar dan geld sodat regtige arm studente gesubsideer kan word. In kort, werk bietjie uit hoeveel dit sal kos om vir elke taal in die RSA ‘n ‘eie’ universiteit te skep – fasiliteite en lektore en al – doen my die guns en antwoord, dis verniet. Terloops, ek sal nooit verstaan hoekom die Afrikaner homself as ‘n bedreigde spesie beskou in ‘n diverse land nie. Daar word aanmekaar wal gegooi. Of nee, miskien is dit net 90% Maroela-lesers wat so voel. Ek hoop so.

Christo ·

Moenie bekommer nie hy gaan vir Afrikaans baklei in Amerika!

Sê maar net ·

Ek hoop hy vat die ingevoerde Argentynse afrikanerhater ook saam. Sy is een van die groot voorstanders van die alles-engels beleid, want sy verstaan nie Afrikaans nie. Op Litnet is daar een van haar skrywes in Afrikaans gepubliseer, waarin sy vir Jônittin aanhaal oor die rassisme in die Afrikaner se bloed. Dit was ‘n baie swak vertaling van die oorspronklike deur iemand wat vlugtig by Afrikaans verby geloop het of ook vol rassisme is, want die poging was maar power. Asof die vertaler nie die ingebore kennis van die taal het en nie die vermoë het om die regte woorde te vind nie.

Ben Prinsloo ·

Jammer Koot, as daar minder Inkandlas gebou word, minder vliegtuie vir die prez gekoop word en ek kan nog baie meer aanhaal dan kan ons amper vir elke dorp n universiteit bou. Maar met n regering wat deur die Guptas regeer word sal daar vir amper niks geld wees nie. Kom ek maak die stelling vir jou baie maklik: niemand werk met iemand anders se geld soos met sy eie geld nie. Verder wil ek jou ook net daarop wys Koot dat die blanke Afrikaner die enigste nasie in die wereld is wat vir n ander nasie moet sorg en regeer terwyl hy hom stelselmatig verarm, vertrap en vermoor. Jammer Koot dit is ongelukkig hoe die meeste Maroela Media lesers dit insien en ons is nie verkeerd nie. Laastens Koot dit is hierdie selfde mense wat die Palestyne ondersteun ten koste van Israel. As jy die verhaal ken sal jy weet waarvan ek praat. Afsonderlike ontwikkeling Koot of die paw paw gaan die fan slaan, by hook or by krook.

koot ·

Ai jammer Ben, laat ek verder jou dag bederf – jy veralgemeen geweldig en jy is erg emosioneel. Ek laat jou vir ‘n rukkie sodat jy bedaar. Ek praat nie graag met ‘n histeriese man nie, want dan is die strydperk ongelyk. Vat ‘n blaas, vat ‘n kans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.