Nuuskommentaar: Jansen se siening onvanpas vir Grondwet

Jonathan Jansen. Foto: www.ufs.ac.za

Die gewese rektor van Kovsies het in ’n nuwe artikel laat blyk dat nog min geskuur is aan die persepsies waarmee hy landuit is. Maar hoeveel kan die Grondwet ondergrawe word “ter wille van” hulle wat historiese persepsies ten koste van ander koester en tot geweld oorgaan?

Prof. Jonathan Jansen, oud-rektor van Kovsies, is bekend daarvoor dat hy soms wydsprakig kan wees (en soms gekruide taal daarby kon inspan), en dat hy vaste, vooropgesette idees oor AfriForum en Solidariteit het.

Pas het daar weer ’n artikel uit sy pen op Netwerk 24 verskyn, waarin hy sy verstek-posisies bevestig. Hy beskryf Solidariteit en AfriForum as “regse konserwatiewe” organisasies.

Nou skryf hy dat Afrikaans nie op (voormalige Afrikaanse) kampusse sal oorleef nie.

Hy tree uit die aard van die saak sterk in die bresse vir pogings van verskeie voormalige Afrikaanse universiteite om Afrikaans op hul onderskeie maniere uit te rangeer. Hy gebruik steeds die verskoning van “uitsluiting” wat Afrikaans teweeg sou bring en trap op al die alternatiewe pogings om juis die uitsluiting te voorkom.

Maar, en dit is waar die probleem die meeste in dryfsand vasval, hy gee toe dat universiteitsowerhede voorsien het dat van hierdie planne in die howe sou beland.

Jansen gee toe dat die posisie van Afrikaans grondwetlike en ander erkenning geniet: “As die standbeeld van Cecil John Rhodes ’n simbool van die rasse-uitsluiting, wit bevoorregting, en marginalisering by die Engelse universiteite was, het die grondwetlike bepalings en institusionele statute ter beskerming van Afrikaans as onderrigtaal presies dieselfde funksie vervul in die oë van swart studente op plekke soos Tukkies, Kovsies en Stellenbosch.”

Hier raak Jansen aan ’n aspek wat gereeld in die debat ter sprake gekom het, en waaraan akademici en filosowe deelgeneem het, en ook die skrywer-digter Breyten Breytenbach gereeld sy mond ter behoud van Afrikaans uitgespoel het. Dit is naamlik dat die Grondwet aangebied is as ’n soort Kersboom waarvan betrokkenes net hoef presente af te haal waarvan hulle hou. Grondwetlike bepalings wat nie die breër narratief pas nie moes dus weggebêre word, of in die howe aangedurf word (met die hoop om politieke uitsprake te kry?).

’n Kortpad word dus uit ’n probleem gesoek en selfs die Grondwet staan nie in die pad van hierdie kortpad nie.

’n Interessante aspek is dat universiteite wat verengels dit aanbied as sou hulle hiermee veeltaligheid bevorder. Jansen verwys egter hierna doodgewoon as verengelsing waar Afrikaans verwyder (moet) word.

Watter weergawe moet dan aan die howe opgedis word?

Maar kan die Grondwet so beskou word as sou dit bloot “lastighede” oplewer wat ter wille van kortpad-oplossings ondergeploeg moet word? Het die land nie reeds groot genoeg probleme met ’n regering wat sy meerderheid wil gebruik om ’n tirannie van die meerderheid te skep, en dan kort-kort deur die howe tot orde geroep moet word nie? Tot groot ergernis van die regering.

Moet universiteite as plekke van akademiese uitnemendheid nie juis die voorbeeld stel deur suiwer met die Grondwet om te gaan nie? Moet die wye verskeidenheid vakdissiplines nie ingespan word om eerstens strategieë te ontwikkel wat die probleme wat ervaar is, te voorkom nie, en dit dan na behore só te bestuur dat dit juridies korrek en billik haalbaar teenoor minderhede en hul internasionaal erkende minderheidsregte is nie?

Ten laaste. Dit is nie van pas dat iemand wat aan die hoof van ’n land of instelling gestaan het, daarna uitsprake maak wat as ’n soort voorskriftelikheid aan sy opvolger beskou kan word nie. Só word die outonomie van die nuwe rektor en die ander partye soos AfriForum en Solidariteit se hande eintlik gebind as hulle, synde ’n nuwe besem by Kovsies, tot ’n skikking in goeie gees wou kom.

Die opweeg van menseregte teen mekaar, hetsy individuele of minderheidsregte, is soms baie eenvoudig, maar soms kan die grenslyn baie moeilik bepaal word. Dit word beslis nie opgelos deur die een stel regte te ontken of as minderwaardig te beskou nie.

En dit raak veral tragies dat, as in ’n opvoedkundige opset, die Grondwet na die maan gestuur word deur ’n wil om vandalisme en geweld af te dwing.

Dit beteken ook nie die regte benadering is dat hardvogtig aangedring moet word dat Afrikaans se grondwetlike regte eerbiedig moet word, maar niks gedoen word om negatiewe persepsies oor die taal te besweer nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sanet

Dit is as gevolg van mense soos hy dat rassisme nooit sal uitsterf in SA. Hy is ‘n groot gif vir ons pragtige land en ons wonderlike mense.

Gerhardus Petrus Padda

Ek weet regtig waar nie hoekom Afrikaners enigsins aandag gee aan enigiets wat JJ te sê het nie. Dit is tog duidelik dat in sy ideale staat, iets soos die “Afrikaner” nie bestaan nie. Hy het dit gemeen met die Kommuniste en die “Liberales”. Die kompromieë wat in die Grondwet toegestaan is ten opsigte van taal en kultuur is so swak geskryf en word so maklik ondermyn deur slinkse grondwet “kenners” soos Pierre de Vos dat hierdie “regte” heeltemal niks beteken nie. Aanvaar hulle is die vyand en handel in ooreenstemming daarmee as jy wil hê dat die Afrikaner nog… Lees meer »

Johan. H.

Stem saam humor. Laat hy aanbeweeg, gedra hom soos n LORD.

Eugene

Kyk hoe Kovsies gelyk het voordat hy daar oorgevat het,en hoe dit nou lyk.

Blondie

Ek wens iemand wil vir my verduidelik hoekom die landverlaters se monde altyd die grootste is! Hulle put oneindige genot daaruit, om die onmin, waarmee ons moet saam leef, te stook en aan te blaas!