Nuuskommentaar: Januarie 2017 – Zuma bly gemene speler

President Zuma during a press briefing

President Jacob Zuma (Foto: GCIS)

Kan daar ná een maand van 2017, veral ’n maand waarin daar verskeie ingrypende veranderings ingetree het, sinvol projeksies vir die res van die jaar gemaak word? Omtrent al wat seker is, is dat dinge gaan verander.

Met die eerste maand  van 2017 so te sê op sy rug is dit nou ’n algemene speletjie om dié maand met verlede jaar s’n te vergelyk en projeksies vir die res van vanjaar te maak.

Inderdaad is daar baie nuwe verwikkelinge, waarvan die ampsaanvaarding van pres. Donald Trump van die VSA sekerlik die ingrypendste is. Die plaaslike nuustoneel word oorheers deur pres. Jacob Zuma, hoewel die opvolgstryd wat in Desember ’n hoogtepunt behoort te bereik, lank nie die enigste “show” in Suid-Afrika op die planke is nie soos sommige meningsvormers te kenne gee nie.

Zuma bly egter die grootste enkele gemene deler, asook gemeenste speler,wat sake vir ontleders en ernstige kiesers baie moeilik maak. Dit is duidelik dat die era van die post-waarheid voortgesit word, en dat dié brousel goed gelaai word met fopnuus, regeringspropaganda en kubergapsing; en dat hierdie brousel ’n klimaat skep waarin samesweringsteorieë en ontkennings weer ’n omvangryke oplewing toon – lekker gedryf deur die ruimte wat die kuberruim bied.

In hierdie klimaat van wantroue en selfs massa-paranoia eskaleer die verskynsel van ideologiese onverdraagsaamheid. Veral die liberaliste, wat veronderstel is om vrye denke te ondersteun, word erg van onverdraagsaamheid en bevooroordeeldheid beskuldig. Van die gebruiklike sêding, “ek verskil van jou, maar ek sal jou reg om te verskil tot die dood verdedig”, is daar weinig sprake. Dit is egter nie ’n gans nuwe verskynsel/opvatting nie nadat Rhoda Kadalie al enkele jare gelede geskryf het dat politieke korrektheid die diktatuur van die liberalis verteenwoordig.

Rou vitrioel oorspoel daagliks van alle ideologiese hoeke die kuberruimte, en nie alleen is die objektiewe ontleding van feite onder druk nie – selfs die onvervreembare reg van ontleders om feite so objektief moontlik te beoordeel, is onder vitrioeldruk.

Kortom, die ontleder wat nie ’n ekstreme standpunt, hoe besaai met fopnuus en propaganda ook al, as vertrekpunt gebruik nie, kan amper weet hy gaan die konka met vitrioel op hom omgekeer kry. Soms is dit bewysbaar duidelik dat die leser wat so kras kommentaar op rubrieke lewer, daardie stukke glad nie gelees het nie, en die oorspronklike skrywers onder meer kritiseer oor “feite” wat glad nie in die stukke genoem is nie.

Gelukkig is daar wel lesers wat weldeurdagte kommentaar lewer en dit waardeer dat Maroela Media nie altyd by die politiek korrekte draaiboek hou nie. Juis in ’n poging om objektief werklike feite onder die loep te neem.

Dit dan die agtergrond.

Uit korrespondensie met Amerikaners in verskillende dele van die VSA is dit duidelik dat Trump met sy verkiesingsbeloftes (waar hy in die uitvoering daarvan reeds een bloedneus in die hof weg het), op rou senuwees ’n vrugbare teelaarde kon vind. Uit Washingtonstaat in die Noordweste van die VSA skryf ’n boer onder meer:

“There are four languages posted and used now at the Department of Motor Vehicles. English, Spanish, Russian and Vietnamese, which reflect the latest wave of immigration in our area. If you go to a Supermarket you can hear 4 to 5 Languages – Russian, Spanish, Chinese, Vietnamese, Korean, and … English. Get away from the Western Coastal Cities, and you hear predominantly English, and the Agriculture workers speak Spanish.”

Dit staan in skrille kontras met die versugting by baie om die “baie ou” VSA te laat herleef: “Do not let the government do for you that you can do for yourselves.”

Die “ou VSA” word beskryf as: “It is White, English Speaking, and Christian.” Die “nuwe VSA word beskryf as: “Then there is the new emerging America. It is ‘Multicultural’, multi-language, Non-Christian. It is very government dependent.”

Dié boer, wat aangetroude Indiese familie het wat in Nederland woon, en trots op dié familie is, gee nie te kenne vir wie hy gestem het nie, maar as uitgesproke Christen word die indruk geskep dat Trump ook sy stem gekry het.

Is dit nie feitlik identies met die waarneming wat Wes-Europreërs in hul lande beleef nie?

Uit Maryland aan die teenoorgestelde kant van die VSA skryf ’n vroueboer: “The election has caused a lot of anger. Especially that Trump is doing what he said he would do. I’m a supporter – this country is out of control. Someone has to make hard decisions. But you cannot admit it publicly because you are then automatically a racist, sexist, etc. People were tired and want a radical change.”

Of die voorbeelde van ’n regser verskuiwing in die VSA en Wes-Europa so ’n eenvoudige verskynsel is soos wat sommige kommentators dit maak wat hygend opgewonde die drade bymekaartrek, sal die tyd leer. Wes-Europa is bekend daarvoor dat politieke en ideologiese golwe in sterk siklusse kan voorkom. Dink maar aan die permissiewe liberale era van Joop den Uyl, met Christen-demokrate wat ’n dekade of wat later ’n ruk die politieke toneel in verskeie lande oorheers het.  In ʼn stadium was daar ’n ideologiese veronderstelling dat die politiek so vervloei het dat die ideologiese spektrum nie meer as ’n reguit lyn van regs na links uitgebeeld kan word nie, maar as ’n ronde bal waar ’n “linkse” party sekere beleidsrigtings met ’n “regse” party sou deel.  Dit was in daardie stadium so nommerpas, dat sommige waarnemers (insluitend die uwe) dit ook in Suid-Afrika probeer verkwansel het.

Die opkom van duidelik regse partye (of soos dit in eie geledere genoem word, nasionalistiese partye) soos dié van Geert Wilders en Marine le Pen, het dié model egter laat sneuwel.

Gaan die gebruiklike liberale onverdraagsaamheid en ook weerstand uit die middelgrond ’n nuwe vervloeiing keer om weer ’n ideologiese bal eerder as ’n reguit lyn te vorm?

Op die plaaslike politieke toneel speel die ideologiese stryd hom ook af, maar elkeen is erg aan hibriede-vorme gekoppel. Word na die ANC se linkse kritici geluister, kan die ANC nie eerlik lid wees van Sosialisme Internasionaal nie, periodieke bekpraatjies ten spyt. Die beoogde stigting van die Werkersparty deur Numsa is ’n uitvloeisel hiervan.

So is daar ook vrae oor die versoenbaarheid van die DA se beleidsmanifestasies met dié van Liberalisme Internasionaal.

Uiteindelik sit Zuma egter met omtrent al die saakmakende speelkaarte in sy hand. Hy kan die ekonomie byvoorbeeld erg omkeer deur Brian Molefe as nuwe minister van finansies aan te wys en Pravin Gordhan uit die kabinet weg te laat. Hy kan soortgelyke moleste veroorsaak deur sy eie “jail free ticket” te probeer koop deur sy gewese vrou, Nkosazana Dlamini Zuma, as nuwe minister van finansies aan te wys.

En dis maar enkele voorbeelde van waar hy deur “strategiese” skuiwe, of deur ’n versuim om iets te doen soos om gediskrediteerdes in saakmakende poste te verwyder, die land enorme skade kan berokken om sy eie bas in die post-Zuma-era te beskerm.

Hoeveel gelees kan word in die Russies-Turkse vredespogings in Sirië is ook moeilik bepaalbaar. Noord-Korea bly ’n los kanon (met kernplofkoppe). China maak sy stem al dikker. En dan is daar nog die yslike Spaanssprekende wêreld wat dikwels in die konteks van internasionale politiek vergete bly.

Een maand nadat verskeie dramatiese veranderinge ingetree het, is heeltemal te min om eenvoudige optelsomme te probeer maak om vir die ganse wêreld toekomsvoorspellings te maak.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

Gaaf ·

Altyd uitstekend! Vandag ek van Herman uitgevind het het ek ophou om die beeld te koop.

HEVW ·

Om voorspellings in die besonder te maak in hierdie land is seker moeilik maar tog nie heel onmoontlik nie. Die grootste % daarvan kan korrek wees.Om in die bree te voorspel heelwat makliker. Kan hiedie man tog nie aan sy ore gegryp word en van sy troon af geruk word nie?

John ·

Wat sekerlik waar is, is dat Herman en Leopold geen kritiek kan verduur nie. Almal wat iets durf piep wat na kritiek klink, word summier as onbelese en dom afgemaak. Beide het deur die jare bladsye vol geskryf in plaaslike koerante, en lesers moes dit vir soetkoek opeet of ‘n brief aan die amptelike brieweblad van die betrokke koerant rig waar dit ooreenkomstig die koerante se amptelike standpunt hersien is en dan dalk geplaas is, as die ‘ruimte’ dit sou toelaat. Deesdae is ander eetgoed a la Koekedoor ook te koop. Nou gooi die ooms gereeld hul speelgoed uit die stootwaentjies. Hoekom?

Herman Toerien ·

John. Die redes vir ongelukkigheid vitrioel-kritiek deur sommige lesers word in hierdie stuk gelys, bv dat lesers bewysbaar nie die stuk lees nie, en dan vitrioel uitstort oor dinge wat nie in die oorspronklike stuk genoem is nie. Dis regtig nie lekker om so deeglik as moontlik navorsing te doen en dan op “sterkte” van duidelike fopnuus onder ‘n stortvloed slegsêery deur te loop nie. Ek het bv ‘n klankbordpaneel van kundiges van links na regs wat my stukke lank voor publikasie kry, en betyds kan reageer as hulle meen ek dwaal. Vanoggend is ek egter deur ‘n regsgesinde kundige wat ek baie hoog ag groot lof toegeswaai.

Leopold Scholtz ·

Beste John, jy beweer ek maak almal wat nie saamstem nie, af as “onbelese en dom”. Kom ons voer nou ‘n intelligente gesprek hieroor. Met ander woorde, een wat op feite en logika berus. Ons begin deur jou ‘n kans te gee om aan die lesers te vertel presies wanneer het ek enigiemand as “onbelese en dom” bestempel. Nadat jy dit gedoen het – en sommer die datums en verwysings ook gee – kan ons verder praat. As jy dit nie kan doen nie (en ons albei weet jy kan nie), sal jy mans genoeg wees om jou woorde terug te trek en ekskuus te vra? In alle billikheid: Dalk is ek maar net dom, maar ek sien nie hoe ‘n mens ‘n behoorlike gesprek kan voer op die basis van ‘n geskel soos joune nie. As ek jou onbillik beledig, vra ek by voorbaat ekskuus, maar ek is regtig nuuskierig na jou antwoord.

MTSteyn ·

Herman, ek het begrip vir jou dilemma – om elke dag oorspronklike kommentaarstukke neer te pen wat meeste lesers sag op die oor streel.

Maar jou inleidende paragrawe oor die ou vitrioel kwessie is mos nou al behoorlik holrug gery, en moet dalk maar nou ‘n stille dood sterf. Nie alle kritiek op jou kommentaarstukke is ongegrond, onwaar of onlogies nie.

Wees eerder verheug daaroor dat baie Afrikaners die skaap mentaliteit afgeskud het die afgelope ’20 Jaar van Ontnugtering’ (my patent op hierdie frase), en nie meer alles opvreet wat vir hulle gevoer word nie.

En laat my toe om te herhaal wat ek al reeds hier genoem het; die tyd vir middelgrond politiek is verby! Die wereld sal weer terugkeer tot slegs twee kampe.

Henry ·

Ek stem met MT Steyn saam. Vir wat dit ookal werd is…
:-)

Ter aansluiting. Ek vind dit heel ironies wanneer Herman Toerien sê:
“…Van die gebruiklike sêding. ‘ ek verskil van jou, maar ek sal jou reg om van my te verskil, tot die dood verdedig, is daar weinig sprake’…”
Inderdaad!

Ek is nie eers amper oortuig daarvan dat MM se sensurering van teenstellende standpunte – of wat mens dit ookal wil noem – te alle tye konsekwent hou by die voorskrifte wat verskaf word, by die lewering van kommentare/kommintare nie.

Indien die skrywer van ‘n artikel gevoelig vir ander standpunte is, sluit die kommentaar gedeelte. Eezy peezy.
Sommige van Leopold Scholtz se kritici gaan soms heel oorboord met hul veroordelinge en ek is aangenaam verras dat hy dit op waardige wyse hanteer – sover dit moontlik is. :-)

Naarskrif
Ek het oor die algemeen groot respek vir Herman se artikels wat daagliks verskyn en van wonderlike toewyding en werksywer getuig.

Ou Afrikaner Vlakvark ·

Welke persentasie Afrikaners kan aan my kort en bondig stel wat is die 2017 Afrikanervolk se visie? Wat is sy ononderhandelbare waardestelsel? Hoe sien die Afrikanerouers die toekoms van hul kinders in Suid-Afrika? Afrikaners, quo vadis, waarheen my liewe volk? Gee jul kinders leiding en visie.

John ·

Herman ek sten saam dis vreeslik lekker om gevly te word, na ‘n flukse stukkie werk, maar laat jou kritici ook toe om te gedy. Of andersins skryf ‘n boek… en dan kry jy weer kritiek uit ‘n ander oord wat dalk net meer belese is as die Amarula-pleps soos ons. Leopold, ek skuld jou nie ‘n verskoning nie, ek is of was nie een van jou studente of kinders nie. Net die manier waarop jy my kritiek hanteer, bewys my punt. Ek gaan nie die speelgoed vir jou optel nie. Doen so voort en vat kritiek soos ‘n man…

Leopold Scholtz ·

Beste John, as ek ‘n advokaat in ‘n Engelse hof was, sou ek nou ges^e het: “I rest my case, m’lord.” Jy het presies my punt bewys. Baie dankie daarvoor.

Theuns ·

Herman en Leopoldt ek geniet julle welderdagte kommentaar! Moet julle nie steur aan die p ingeligte hill_ bullies nie. Ekonthou hoe jy sommige kommentators gevra het om te veduidelik waar die 150 000 oeroue kedawers vandaan kom? ek is deur diezelfde menere uitgeskel as lid van die plat aarde gulde.Ek wou nog kommentaar lewr toe MM skielik die kommentare stop. Ek weet waar daardie oeroue kadawers vandaan kom maar ek sal seker op n brandstapel beland as ek sou se! Ek weet jy weet ook. Kom ons hou dit maar geheim tot die menere meer savvy het. Groete.

Die Afrikaner Varkerasie Genootskap ·

Ons Afrikaner Varkerasies waardeer Herman Toerien en Leopold Scholtz se kommentare. Ons mis Max du Preez se insette. En ons wil baie meer humoristiese kies-in-die-tong satiriese tekenprente in Maroela Media sien. Ons moet baie meer lag vir al die politieke gekhede.

Ons Afrikaner Varkerasies waardeer nie moddergooi en dermuitrygery oor trivialiteite nie. Die soogdierleeftye is eenvoudig te kort daarvoor. Ons fokus op kreatiewe skeppende insette om vrede, reg en geregtigheid en voorspoed te bevorder. Ons wil met alle soogdiere in vrede saamlewe. Die vraag is “Hoe?”

Ons vra: “Wat is die 2017 Afrikaner-volk se visie? ” Kort en kragtig.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.