Nuuskommentaar: Jeugdag en die onverwante drie skandes, met ’n sleutel-arrestasie in die lug

Opsomming

Zindzi Mandela (Foto: Twitter)

Tot watter mate regeer oudpres. Jacob Zuma spreekwoordelik uit die graf? Die vraag was die naweek weer aktueel met drie aangeleenthede wat die nuuswêreld se aandag getrek het, naamlik ’n klein haatspraak-oorloggie deur die Zuma-aangestelde ambassadeur in Denemarke, Zindzi Mandela; ’n beweerde poging van Ace Magashule, ’n prominente Zuma-kornuit, om die parlement te kaap; en die aansoek in die hooggeregshof om die verslag van die Seriti-kommissie tersyde te stel, waarin Zuma se naam ook intensief verweef is.

Pres. Cyril Ramaphosa het tydens sy Jeugdagtoespraak jong mense verseker dat hulle nie die verlore geslag is nie. Of dit so ʼn ongekwalifiseerde feit is, is ’n vraag vir ’n ander bespreking. Wat wél waar is, is dat die Jeugdagviering op die langer termyn onthou gaan word vir drie nuusgebeure wat veel belangriker voetspore die toekoms in gaan gee, hoewel van die land se belangrikste Afrikaanse nuusdienste dit nie eens die moeite werd geag het om te noem nie.

Die drie sake is:

  • In die eerste plek die bedenklike, erg rassistiese twiets van Suid-Afrika se Zuma-aangestelde ambassadeur in Denemarke, Zindzi Mandela. Dit is insiggewend dat Mandela haar klaarblyklik van haar pa en sy versoenende standpunte distansieer en haar openlik by haar ma, Winnie, se radikale opvattings en uitlatings skaar. Sy gaan egter veel verder met haar monduitspoelery oor wit mense. Sy oortref selfs die EFF se retoriek, en haar uitlatings klink soos die ergste wat die BLF nog kon opdis.

Lees die reaksies van Maroela Media, Rapport asook AfriForum.

  • Die tweede is die nuus, volgens verskeie media, dat die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, beplan het om die parlement dié week met Zuma-gesindes te kaap deur spesifiek die parlementêre komitees se voorsitters met Zuma-kornuite te laai. Dié nuus val saam met ’n bewering, met volop geloofwaardigheid gelaai, dat Magashule binnekort gearresteer gaan word. Na berig word, het Ramaphosa die komplot in die wiele gery.

Lees gerus hier, hier en hier.

  • Die derde behels nie ’n skandaal op sy eie nie. In teendeel, dit is ’n broodnodige stuk briljante joernalistiek, naamlik ’n goed nagevorsde artikel op Netwerk 24 oor die abortiewe Seriti-kommissie van ondersoek se “bevindings” oor die wapenskandaal, ’n albatros wat sommer van vroeg af in die nuwe bedeling om die ANC se nek hang; so erg dat dit as nuusitem eintlik al so afgesaag geraak het dat die bevolking erg afgestomp is. Minstens is die vooruitsig nou daar dat baie Suid-Afrikaners hul selfrespek om Suid-Afrikaners genoem te word, sal kan skoonwas en trots op daardie identiteit kan wees. Lees gerus Jacob Rooi se artikel Lees ook hier.

Die hervatting van die wapenondersoek durf nie net as die opgrawe van ou koeie beskou te word nie. Nee, hierdie koeie moet in ’n veel beter toestand wees as die arme koeie van die Vrede-suiwelprojek.

Natuurlik is daar ’n groot aantal nuuswaardighede wat met bogenoemde meeding. Dinsdag vind ’n baie belangrike tweede ronde-verkiesing van ’n Britse Tory-leier plaas en dit lyk of die pro-Brexit-Boris Johnson se posisie as vernaamste aanspraakmaker versterk gaan word.

Pres. Ramaphosa se staatsrede Donderdag gaan Suid-Afrika in talle opsigte “plaas”.

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: @SA Gov News/Twitter)

Daar is selfs sterk verwagtinge by baie dat Ramaforie kan herleef, maar ’n nugtere ontleding toon dat dié verwagtinge heel moontlik deur negatiewe aspekte oorweldig kan word, soos byvoorbeeld Ramaphosa se reaksie op sy taakspan se verslag oor landbou en grondsake.

Die verslag het reeds ’n onaangename klankie opgedoen deur van die belangrikste landboukundiges se insette doelbewus uit te sluit, klaarblyklik met die doel om die sosialistiese denke te laat oorheers.

Gebruikers van sosiale media het erg onder Mandela en haar breedsprakigheid ingeklim en haar onder meer daarvan beskuldig dat dit eintlik ’n stywe slaapdop is wat aan die woord was.

Een van die ernstiger implikasies is dat diplomate veronderstel is om alle burgers van hul land van herkoms te verteenwoordig. ’n Wit mens wat hom/haar vrywillig deur haar laat verteenwoordig moet besonder sag in die kop wees. Sy spoeg ook op Ramaphosa se inhuldigingstoespraak waarin hy die nasie die versekering gee dat hy almal se president is. Dit is iets wat hy nog moet bewys en het beslis nie dié soort “ondersteuning” van ’n ambassadeur nodig nie.

Wat die Magashule-poging betref, is die enigste verrassing die gehalte van sommige van die kandidate wat hy as portefeuljekomiteevoorsitters wou laat kies.

Sekerlik die mees omstrede is oudminister Faith Muthambi, Sy was onder die eerste slagoffers van Ramaphosa se kabinetsuiwerings en nie net omdat sy ’n slaafse navolger van Zuma is nie. Haar bekwaamheid kon nog bitter min mense oortuig.

Die inhegtenisneming van Magashule wat al jare lank “op hande” is, word al lank afgewag. Die vorige arrestasie, destyds nog deur die Skerpioene, is deur die destyds nuutverkose pres. Zuma gedwarsboom deur die Skerpioene te ontbind. Die groot vraag is nou nie so seer of hy gearresteer gaan word nie, maar waarvoor.

As die Vrede-suiwelprojek een van die redes is, sal dit die publiek se vertroue in die land se vervolgingsgesag ’n yslike hupstoot gee.

Wat die Seriti-kommissie betref, naamlik dat die Zondo-kommissie dit ook ondersoek, het dit intussen plek-plek steun begin kry.

Maroela Media het reeds verskeie kere lewe in die gebeente van die skandaal geblaas en dit het so onlangs as op 11 Junie vanjaar weer onder die vergrootglas beland. Lees hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Henry McDonald ·

Glo nie Afrikaanse nuusdiens per se is verantwoordelik vir die verswyging van nuusgebeure soos hierbo genoem nie. Die arme Afrikaansprekende nuuslesers lees slegs die nuus berigte wat aan hulle voorgele word deur diegene wat dit skryf. Moet ook maar maak soos vir hulle gese word en loop blykbaar ook die gevaar om aan die einde van Junie geen salaris van die met skuld verswelgde SABC te ontvang nie……..(berig elders)

Landvaneensydigheid ·

Praat die verraaier en lafaard nog? Lankal gedink hulle het hul pryse gevat en erens gaan wegkruip…

Tokkie ·

Dit is goed dat die wêreld kan sien hoe rassisties Zinzi Mandela is – dis die wêreld wat geskreeu het apartheid maar nou is die einste ambassadeur wat deur Zuma aangestel is die grootste rassis van almal nogal in n land soos Denemarke

Ben ·

Met so n wit Koningin Margarethe aan wie sy haar geloofsbriewe moes oorhandig. Sy het as ambassadeur haar nou ook behoorlik na die keel gegryp. Skande!

Andreas ·

Herman, kyk jy kan raakvat, die hele rubriek, elke woord, maar wat ek die meeste geniet het is die een in jou eerste sin … “spreekwoordelik” …

Koos ·

Mnr Ramaphosa beter vinnig wakker skrik en nog vinniger optree teen twee van die ANC se top ses, David Mabuza en Ace.

Hierdie ouens is net daar om hul eie doelwitte te bereik.

Raak en vinnige optrede om hierdie perde in die stal te kry is uiters noodsaaklik.

Koos ·

Mnr Ramaphosa beter vinnig wakker skrik en nog vinniger optree teen twee van die ANC se top ses, David Mabuza en Ace.

Hierdie ouens is net daar om hul eie doelwitte te bereik.

Raak en vinnige optrede om hierdie perde in die stal te kry en “binne” te hou, is uiters noodsaaklik.

humor ·

Andreas moet tog nie dat dit wat Roelf Meyer se enige hoop vir jou beteken nie. Jy gaan teleurgesteld wees.

Andreas ·

Hoekom ek dit hier geplaas het is ek hoop hy lees die rubriek én die kommentare. Kyk hy loop vertel mos nou al vir jare van die voorspoed wat ons gaan tref die dag as C aan die stuur van sake is. Hy sê mos in die berig Cyril het 5 jaar waarin hy homself kan bewys, maar hy vergeet dat met dié dat Zuma voortydig ‘n “leemte” gelaat het, is Cyril nou al ‘n jaar en half al president.

Stiks ·

Was dit nie vir dit wat ons blanke mense van vroeg af in hierdie land vermag het nie, sou sy nie nou so lekker in Denemarke kon “wine en dine “ nie

Al ·

Zindzi Mandela moet eerder die SA ambassadeur in Zimbabwe raak. Dan kan sy sien hoe ñ groot mislukking ñ land raak wat anti-wit is.
Dis ñ skande dat die ANC regering nog geen kommentaar oor haar kommin rassistiese uitsprake lewer nie.
Die ANC trek SA grond toe deur die mag wat Ace het omdat hy onder topses is van NUK.

Andreas ·

Ons moet tog net haar uitspraak van S&P en die ander graderingsagentskappe weghou, as hulle die land nog verder afgradeer, sal ek op my beleggings moet inbetaal.

JanBotha ·

Niemand met net n Klein bietjie vetstand soy die Seriti verslag glo nie.
Dis so nodig dat dit weer getoets moet word.

Gert van Wierdapark ·

Sereti klink amper soos plekkie waar die a en see huisies by die see het, met wit strand, rustige golwe en geen Guptas in sig nie! Die Sereti verslag sou in kaartspel as die “Joker” beskou word. As ek nie mis het nie, is die Verslag destyds mos op 1 April vrygestel! Vriend “Ace” van die Vrystaat behoort reeds gewoond te wees aan die kleur van die Cheetah-truie. Hy behoort goed te lyk in ‘n Oranje-pakkie! Me Mandela. Se Ambaas-sa-deur toesprakie het toe nie in ‘n Sprokie uitgedraai soos sy gedink het dit sou nie! Pres CR MOET haar dus wys waar die deur is om te gaan! Miskien moet sy en Carl Niehaus saam begin sing =”hoe ry die trein, hoe ry die trein Nkandla se trein! He-he-he!

Linda ·

Herman Toerien praat die waarheid !!! Ek dink die ANC is te groot vir Ramaphosa om orals te wees en alles te weet, te veel Zuma ondersteuners nog daar !!!

John ·

Daar steek baie meer in die storie oor Ace en sy moontlike vervolging. Mens wil raai dat CR inligting bekom het… dalk het iemand kom klik oor planne wat gesmee word deur sekere mense. Dinge kan in die volgende paar dae oorkook indien CR nie stewig in die saal sit nie.

Nic ·

Om Shakespear gelyk te gee: Indeed there is something rotten in Denmark!

Andreas ·

Herman, kom ek sê vir jou hierdie uitspraak van Zindzi Mandela is die oortjie van die seekoei, dis hoe hordes, hordes en hordes van hulle, die BLF, die EFF en nog ‘n menigte ander teenoor blankes voel. Dit is die saadjie wat vir der jare gevoed is wat nou besig is om te ontkiem en tot uitbarsting kom.

Dis die ingesteldheid van die mense wat aangespreek moet word, beginnende in effek by die mense wat daardie saadjies plant. En waar is dit waar mens moet begin? By die ingesteldheid van mense soos hoofregter Mogoeng met sy uitsprake wat die Afrikaner misken, Cyril Ramaphosa, Ace, Angie Motshekga, Lesufi, jy noem dit, die lys het net nie einde nie.

Leon ·

Zindzi Mandela moet onder diselfde wet aangekla word an gevonnis word as wat hulle die vrou aangekla en gevonnis het wat die mense op Durban se strand aan sekere diere vergelyk het. Sy moet baie jare agter tralies beland. Maar sy sal seker ‘n goeie bevordering kry en ‘n masiewe bonus kry vir wat sy gedoen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.