Nuuskommentaar: Jeugdag – Pennie se vuur of brandstigting?

(Foto: Yaoqi LAI)

’n Senior joernalis doen ’n oproep op Suid-Afrikaners om die 1976-Soweto-oproer deeglik met die herdenking van Jeugdag vandag te verreken. Hy stel ook sy saak, en dis sy goeie reg. Pres. Cyril Ramaphosa tref ’n vergelyking met die skole-opstand destyds en die George Floyd-voorval in die VSA.

Maar is dit nie beter om die gevolglike prestasies as die geweld te vier nie? Moet die sleureffek van die verlede baie van ons kinders se kanse in die lewe vernietig weens politici wat misplaaste norme en selfs verdraaide feite of halwe waarhede vir politieke doeleindes opdis?

 Kan Pennie se vuur die vlammetjie word wat die vuurtoring se lig aansteek?

Vir diegene wat PH Nortjé se boeke, Pennie se vuur en Die groen ghoen, gelees het, sou die toneel van skoolkinders wat soggens vroeg so al klooflangs met die lang pad skool toe by mekaar inval, en saam aanstryk bekend wees. By die skool het meester boonop die lat ingelê as iemand se skoene nie lekker blink nie, of daar ’n kolletjie op ’n hemp of ander kledingstuk bly kleef het. Maar die meeste van die kinders het dit ver gebring en hul potensiaal bereik.

Uit een klas uit die jare toet van ’n klein Namakwalandse dorp het ’n professor met twee doktorsgrade, ’n baie bekende argitek, en twee baie bekende mediese spesialiste gekom. Daar was stellig nog wat presteer het, so met griffie en lei en al. Nie een van hulle het universiteitsvakansies geken nie, want dit was wanneer vakansiewerk gedoen moes word om studiegeld te verdien. Die een het tot sy dood rugprobleme ervaar omdat hy een vakansie aarbeie moes steek.

As ’n mens sake oorvereenvoudig wil stel, kan ’n mens daarop wys dat daar verskillende reaksies op swaarkry en ander probleme is. By die een sou daar klippe gooi en nog proteste wees, by die ander is hard gewerk om die probleme te oorkom. Daar wás probleme, soms onoorkomelike probleme, en sommige van dié probleme was van geslag tot geslag oordraagbaar – die sogenaamde sleureffek van ’n nie-ideale wêreld.

Sowell se ekonomiese denke

Die konserwatiewe swart Amerikaner, prof. Thomas Sowell, is ’n goeie voorbeeld van iemand wat binne een geslag uit die ghetto tot die elite kon uitstyg, en sy pen haal uit om by te bly oor hoekom. As sosioloog sny hy diep, en sy ekonomiese denke staan as Soweconomics bekend. Hy beskryf baie van die verskonings oor hoekom swart mense neig om arm te bly as mites. Op die oog af is hy nou tydens die wêreldwye oproer van die Black Lives Matter-beweging stil, maar tydens soortgelyke omstandighede in 2016 het hy hom wel deeglik uitgelaat in ’n meningsartikel wat as puik beskryf is.

“What about black success? Does that matter? Apparently not so much. We have heard a lot about black students failing to meet academic standards. So you might think that it would be front-page news when some whole ghetto schools not only meet, but exceed, the academic standards of schools in more upscale communities. There are in fact whole chains of charter schools where black and Hispanic youngsters score well above the national average on tests. There are the KIPP (Knowledge IS Power Program) schools and the Success Academy schools, for example.” Lees gerus ʼn verkorte weergawe van sy artikel hieroor hier. Hy wys daarop dat van hierdie oorpresteerderskole in dieselfde ghetto’s geleë is as ander swart skole waar hopeloos onderpresteer word. Soms is die oorpresteerderskole en die onderpresteerderskole in dieselfde geboue gehuisves.

Watter sleureffek sou die beste vir almal wees? Om uit te styg en die hoogste sport te bereik, of om vas te haak en die sleureffek van omstandighede in die verlede te blameer?

Het baie van die swart regters, mediese dokters en ander, sommiges reeds afgetree, nie in dieselfde skole skoolgegaan as die sogenaamde verlore geslag wat met die aanloop tot die Soweto-opstande verbind word nie? En ja, dis nie altyd net moeilik om van swak sosio-ekonomiese omstandighede te ontsnap nie, soms is dit werklik onmoontlik in weerwil van talle uitstygprojekte. Soms is die faktore meer in die geraakte mense self gesetel as in die omstandighede.

(Oorgeërfde) omstandighede vs eie dryfkrag?

Maar die blaam op omstandighede eerder as ’n eie afwesigheid van die wil om vinger te trek, is wel teenwoordig, en groei selfs. Die jongste reeks Rasmussen-peilings in die VSA werp lig hierop: Net 25% van die waarskynlike Amerikaanse kiesers meen die land beweeg in die regte rigting (lees hier). Altesaam 28% van die swart Amerikaanse bevolking meen die meeste Amerikaners is rassiste, en te midde van die protesaksie (wat as protes teen polisiewreedheid beskryf word) meen een uit elke drie Amerikaners dat die land binnekort in nog ’n burgeroorlog kan verval, min swart mense glo die proteste sal tot positiewe uitkomste lei, en die meeste steun vir die verwydering van simbole uit die Konfederale verlede (die suidelike state wat afgestig het) kom van swart mense. (Lees hier.)

Maar hoeveel van die verbeterde omstandighede vir swart mense die afgelope eeu in die VSA kan na protesoptrede herlei word? Hieroor sal geen eenstemmigheid bereik word nie. Prof. Chad Williams, ʼn swart Amerikaner, skryf egter in sy artikel, “100 years ago African-Americans marched down 5th Avenue to declare that black lives matter”: “Thousands marched in silence against racial violence after a riot left hundreds of blacks dead and thousands homeless. The demands of black people in 2017 remain the same as they did in 1917.”

Een van die hinderlike aspekte van die Black Lives Matter-oproer is dat baie mense die gevolglike plundering, vandalisme en geweld – selfs doodslag – verskoon of goedpraat. Maar het die optrede nie ook ’n verdelende aspek nie? Sou die viering van wat bereik is nie ’n veel positiewer voetspoor eerder as ’n bloedspoor laat nie? Of is die newe-effekte nie altyd iets om op trots te wees nie? Dink maar aan skoolboeke wat in riviere beland in plaas van in leerders se hande, ’n provinsie wat een jaar deur omvattende gekonkel met punte skielik wonderlike resultate gekry het, kenners wat gereeld vraagtekens plaas oor die korrektheid van syfers, of die metodiek om punte aan te pas bevraagteken. Wat boonop gestaaf word deur reuse-uitvalsyfers op universiteit ondanks spesiale oorbruggingsklasse. En wat van die blatante ignorering van die voordele van moedertaalonderrig?

’n Klimaat wat geweld bevorder, en onder meer tot die afbrand en vandalisering van skole lei, is tog nie aanprysenswaardig nie. Skole met puttoilette blyk ’n ongeluk te wees wat wag om te gebeur, en weeg swak op teen skole met behoorlike sportgeriewe en -afrigting, wat later druk afhaal van klubs en provinsiale unies om verteenwoordiging deur die afdwing van kwotas te bereik. Suid-Afrika het immers enkele jare gelede 20 jaar ná die destydse pres. Nelson Mandela dit onderteken het, ʼn VN-konvensie geratifiseer wat onder meer kwotas verbied.

Ons jeug verdien beter as om vir die politieke wolwe gegooi te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Werner ·

Wel die sogenaamde staatspresident blaas deesdae rassehaat aan en se die blankes sleg by elke geleentheid nou wie dink nog dat daar hoop is vir versoening ek dink dis verby

Jacobus ·

Desperate spronge. Stook die vuur en almal vergeet van die laaste 26 jaar se miskenning van “ou people ” . Cyril jy moet oppas jy bluf nie eers eie mense nie.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Ek lê die skuld vir die probleme in die onderwys voor die deure van die slapgat houding en onbetrokkenheid van ouer-gemeenskappe van swak presterende skole. #Children’sFutureMatters. Finish en klaar.

Adam ·

Mense besef ongelukkig nie dat dit slegs op hul eie toedoen aangewese is om hulle lot te verbeter. Wat rassisme aanbetref is my eie waarneming nogal interressant. Indien ek na politici luister is ek van mening dat 90% van mense rassiste is en indien ek op straat kyk na my eie belewenis is ek oortuig dat daar 10% rassiste is. Die sondaars is dus die politici wat rassehaat by elke moontlike geleentheid aanblaas en in die proses verhoed dat mense verantwoordelikheid neem vir die verbeter van hulle eie lot.

madels ·

Stem 100% saam dis die politieke partye wat rassehaat aanwakker en ongelukkig luister mense na dit en glo hull

Magriet ·

Het die ouers van ‘n skool met put toilette al ooit bymekaar gekom en self vir hulle kinders spoel toilette gebou? Nee, wag dat iemand dit vir hulle kom doen. Hoekom neem hulle nie eienaarskap nie?

Pierreli ·

Hulle wag vir iemand om hulle te sê wat om te doen, maar die wat dit kon doen mag nie.

Vrijburger ·

Die ANC, net soos die Demokrate hier by ons in die VSA, kweek doelbewus ‘n slagoffermentaliteit by swartmense. Vertel hulle die stelsel is teen hulle, dat hulle buitendien niks gaan bereik nie, dat daar teen hulle gediskrimineer word. Alles om die mense kwaad en afhanklik te hou as stemvee.

david ·

Ek wonder wanneer gaan die Swart bevolking eienaarskap van hulle onderwys geriewe neem. ?

Daar is iets soos “selfdoen”…..
Hoeveel swart skole het al ‘n kermis aangebied om fondse in te samel vir daardie ekstra en soms noodsaaklike geriewe te skep ..?
Vanaf my laerskool dae was fondinsamelings deel van die skool program–
Ek onthou nog die dae van pennieleggings (wie onthou dit nog.?) en tiekie aande waar die moeders allerhande lekkernye soos poedings ens. voorsien het en alles het ‘n tiekie gekos….
Later in my hoerskool jare (hoerskool Carletonville) het ons seuns self die rugbyveld aangeplant.
Daar is ‘n swembad wat ons uit die dolomietklippe uitgegrawe het..ongelukkig het later se kinders daar geswem…
Vir my kinders se klein plattelandse skooltjie het ons ouers uitgehang met ‘n osbraai…vir hulle fasisliteite
En ou Lesufi…kry hy nie eers ‘n bietjie skaam as hy die sport en ander fasiliteite sien by sy geannekseerde skole wt deur ouers daar gestel is ?

Raadslid ·

Daar bestaan nie in ons kultuur iets soos Jeugdag nie. Die toekoms is veronderstel om die jeug sin te wees.

Grassie ·

Ek sien swarigheid vir die toekoms van die land se jeug. Die probleem is, die land is oorbevolk. Die wit deel van die bevolking se getalle is aan die afneem maar die bevolkingsaanwas onder die ander deel van die bevolking kan op die minste as onaanvaarbaar en roekeloos beskryf word. Weens regeringstoelae word kinders in die wêreld gebring sonder enige sekerheid dat daar eendag vir hulle werk, kos, behuising en leefbare bestaansomstandighede gaan wees. Tel daarby die miljoene immigrante wat die land uit ander Afrikalande binnestroom en die situasie word onuithoubaar. Ons land, en veral ons wittetjies, staar ‘n moeilike toekoms in die gesig.

Therese ·

Herman Toerien se daaglikse “Nuuskommentaar” laat ‘n yslike leemte! :-(
Baie dankie vir die verwysing/skakel na die “Silent Protest Parade” van swart mense in die VSA meer as ‘n eeu gelede.
Aangrypende stuk geskiedenis wat enigeen moedeloos laat oor multikulturele samelewings, en of daar ooit wérklik sukses daarmee behaal kan word.
Waarom Europa so gesteld daarop is om dieselfde toekomsprobleme in te voer, gaan die verstand te bowe.

Francois ·

Ek is jammer maar soos ons President Ramphosa en Malema aan fie voorpunt om rassehaat asn te blaas is die land op die rand vsn ineenstorting. Van 1994 tot nou 26 jaar later is al wat die ANC kan wys n land wat onder hulle beheer in junk status is en meeste mense werkloos. N ekonomie wat minus syfers is en dan gee hulle diskriminasie die skuld.

Pierreli ·

Dis makliker om ‘n vuurhoutjie in ‘n skool te gooi as om ‘n baksteen op ‘n ander te lê!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.