Nuuskommentaar: Jonges besluitloos, ou toppies weet niks

stembriefDit is ‘n betreklike universele verskynsel dat die ouer geslag hul bekommer oor die jongs se gebrek aan algemene kennis, wat onder meer daartoe lei dat koerante wat ‘n verjongingskuur op hul redaksies toepas ‘n verlies aan korporatiewe geheue ervaar, en opsigtelike blapse die lig laat sien. Soms lyk dit behoorlik of die drukkersduiwel amok gemaak het.

Nou dui ‘n peiling aan dat 26% van die jong mense nie beplan om volgende jaar te gaan stem nie. Byna 20% weet nog nie vir wie hulle gaan stem nie.

Pondering Panda, wat in sy peilings op jong mense fokus, se akkuraatheid moet grootliks nog getoets word, maar dat daar algemene kommer is oor die apatie van jong mense oor die demokratiese stemproses is ook so.

Ironies is daar onder jong mense ‘n persepsie dat die “ou mense niks weet nie.”

Baie “ou mense” mag dalk die nodige kennis ontbreek oor presies wie Lady Gaga is, of nie die jongste “modes” oor dwelmgebruik onder jonges op die punt van hul vingers hê nie, en toeklap as dit om by die jongste apps, iPhones, slimfone en vele meer, en so hul name krater maak voor die jonges..

Voor hard oor die jongklomp geoordeel word – let maar na die wêreld waarin hulle grootword, ook in Suid-Afrika. Die minister van justisie. Jeff Radebe, sê korrupsie in die land is besig om te stabiliseer, maar Beeld bespreek in ‘n hoofartikel hoe dit lyk of daar ‘n verband is tussen erge korrupsie in die hoogste regeringskringe is en die weerstand om die geskorste misdaad-intelligensiehoof, Richard Mdluli, te vervolg.  Die persoon in die hoogste amp, pres. Jacob Zuma, se naam word genoem. Nie ‘n mooi voorbeeld wat gestel word nie.

Jong mense, soos baie van die ouer geslag, sukkel om werk te kry. Die behuisingsagterstand raak groter omdat minder HOP-huise met meer geld gebou word, en korrupsie klaarblyklik nie net hierin ‘n rol speel nie, maar ook in opbouende agterstande met infrastruktuur en infrastruktuurinstandhouding.

Met watter voorbeeld van die “ou mense” word die jong mense groot?

Dis nie net in Suid-Afrika waar die “ou mense” nie altoos die beste voorbeeld stel nie. In Nederland het persepsies van die betreklike jong koalisiebewind van premier Rutte so negatief geword dat oor nuwe koalisies onderhandel word – met peilings wat toon die publiek voel die posman op die naaste hoek sal beter as premier vaar.

In die VSA, waar die uiters belangrike webwerf vir die implementering van Obamacare nie eens naastenby die mas opkom nie, skud die jonges die kop en wonder hoe die “ou mense” nie die gebreke kon voorsien en meer doeltreffende tegnologie ingespan het nie. Wie maak dan nog van ancient tegnologie gebruik soos om die gratis nommer wat ook beskikbaar is te bel?

Dié maand is die eeu-herdenking van die eerste kommersiële sigarette, en hoewel die gebruik van hierdie kankerbalkies sedert 1981 in die VSA met sowat die helfte verminder het, stook die “ou mense” wêreldwyd – veral in lande waar die dampiemakers dit nie kan bekostig nie – lustig aan iets wat na raming die kanse dat ‘n persoon koronêre probleme en beroertes sal opdoen met twee tot vier keer, longkanker by mans met 23 keer en by vroue met 13 keer verhoog. Watter voorbeeld stel die “ou mense” aan die jonges?

Baie van die jonger generasie sal ook vir die ouer generasie wat so bekommerd is oor die gebrekkige belangstelling in aktualiteit sê hulle moet ‘n slag bykom … die eise op jong mense om hulle vir ‘n suksesvolle loopbaan voor te berei is enorm. Die eise van die tyd vereis eenvoudig dat hulle begrip van wetenskap, wiskunde en die handel beter moet wees as om al die politieke partye in die parlement te kan opnoem en te weet wat elkeen se beleid is – wat in elk geval vir gehoor tot gehoor ander aksente kry. Hulle moet beurse kry. Hulle het nie werklik (meer) die keuse van die ouer generasie om universiteit toe te gaan om te studeer wat vir hulle interessant is nie. Hulle sien immers hoe die “ou toppies” wat jare gelede deur politici beloof is daar sal “altyd” ‘n groot vraag wees na mense met onder meer staatsleer, omtrent enige ander beroep beoefen as dit waarvoor hulle opgelei is en aan beurse moes terugbetaal.

Weens rasbenepe politiek moet baie jong mense sorg dat hul opleiding van hulle doeltreffende wêreldburgers maak, eerder as goed opgeleides in rigtings wat nie hier, of oorsee, ‘n gekwalifiseerde werk kan losslaan nie.

In ‘n land van meerderheidsoorheersing lyk ander opsies as die stembus om dinge reg te ruk dikwels ook aantrekliker as om “stemme by die stembus te gaan vermors.” Dit is inderdaad belangrik dat ander aspekte van grondwetlike demokrasie, soos persvryheid (wat die kuberruim insluit) en burgerlike samelewingstrukture – soos om lid van AfriForum en AfriForum Jeug te wees, benut word.

Maar soos die ou toppies se ou toppies altoos gesê het: Moenie die een ding doen en die ander nalaat nie.

Gaan stem, en om te stem, gaan registreer as kieser, en probeer tog ook ‘n tydjie inruim om vas te stel watter se party se beleid strook die meeste met jou eie, en watter het darem ‘n skoon rekord ook. En onthou, met die kiesstelsel van ons land is elke stem belangrik – selfs net een ekstra stem kan ‘n reuse verskil maak.

En dis nie ‘n bol tsjol wat die ou toppie gespin het nie. Kom net bietjie by en observe watter dinge jou future gaan laat wobbel of smoother gaan laat loop.

En daar is ook ‘n boodskap vir die ou toppies. Los jul geteem  en stel ‘n behoorlike voorbeeld vir die jonges.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Koos Bester ·

Kan jy nou meer! Dieselfde foefie as met die berig van Suné van Heerden, met my kommentaar daarby, wat julle afgehaal het. Afrikaner-jongmens, moet nie jou hand besoedel deur ‘n kruis (vir watter party nogal? ANC, DA, VF Positief (wat ‘n kortbroek-comrade in die kommunistiese regering het), in daardie verkiesing te trek nie. As jy nie klans sien om saam met die Balck Sash-lid Helen Zille te toi-toi nie, vir wat vir haar party gaan staan en stem! Verydel nie daardie Afrikanernasionalisme wat deur jou bloed bruis nie.
En hier is weer daardie les van nou die dag vir hierdie voetvel van ‘n kommentaarskrywer van die Solidariteit/FW de Klerk- en ander bogte-alliansie, dis nou na aanleiding van ervaring uit ‘n vorige verkiesing:
Dit is normaal dat wanneer ‘n saak skeef geloop het, gevra word, wat nou? “Wat moet ons nóu doen om dié mislukking weer te probeer regmaak?” As die ongeluk ‘n mens getref het, staan hy anders teenoor ‘n saak as daarvóór, toe dit vol moed en met hoopvolle verwagting aangepak is. Hoe moet ons hierdie terugslag verwerk en aanvaar óf … dalk nie aanvaar nie? Dit is die vraag wat op hierdie oomblik by talle bekommerde volksgenote heers. Tog behoort dié uitslag van die verkiesing nie te verbaas nie. Wat die blankes, en des te meer die Afrikaner deel van die bevolking raak, is die oorweldigende getalle-oorwig van die swartes wat in die een-mens-een-stem bedeling op gelyke voet meegeding het. Die blanke kieserspotensiaal het hoofsaaklik dáárom, pragmaties, op ‘n ander wyse as voorheen gesoek na die voor die hand liggende beste hantering van sy maatskaplike en persoonlike belange. Dit is waarom ontleders van die verkiesingsuitslag die swaai weg van die volksgerigte partye, die VF en die AEB, verklaar dat, “wit kiesers gestem het vir ‘n geloofwaardige wit party wat hulle glo hulle voorregte sal beskerm. Witmense glo die DP sal hulle kan beskerm van wat hulle sien as ‘n totale aanslag” (BEELD, 8 Junie 1999).
Dit bevestig helaas die huidige ruggraatloosheid en beginselloosheid van die merendeel van ons Afrikanervolk. Korttermyn-oplossings en materiële belange is die prioriteit van die oomblik. Dog binne die territoriale staatseenheid van ons land kán die Afrikaner nie sy kulturele en politieke selfbeskikking en die verwesenliking van sy oortuigings en belange herwin nie, tensy deur die beleid van afsonderlike ontwikkeling, wat met die staatkundige revolusie van 1994 formeel beëindig is. Na aanleiding van die Franse Revolusie het ‘n Franse skrywer, Albert de Broglie, hom in 1860 as volg uitgelaat oor staat-kundige stelsels wat soortgelyk as die grondslag van die huidige RSA dien.
Wat as die ou régime bekendstaan, het onherroeplik ondergegaan; maar noudat die mense niks anders as gelyke individue meer is nie, wat elk op sigself magteloos is, maar oppermagtig as hulle tot ‘n eenheid verbind word, staan jy sonder verweer teenoor die grillige alvermoë van ‘n meerderheid. … As hulle my vertel dat binne ‘n volkryke nasie, oorlaai met al die goedere van ‘n nuwe beskawing, die algemene stemreg ‘n diktatuur tot stand bring, dan weet ek dat ek daarmee te staan kom teenoor ‘n gesag wat van onderaf legitimiteit ontvang,
uit die krag van eenheid, verhonderdvoudig deur die mag van getalle. Dan sidder ek en ek voel dat dit ‘n vyandelike mag is wie se toekoms deur die gewete en die menslike waardigheid betwis moet word, aldus De Broglie.
Die vrywillige deelname aan die verkiesing veronderstel die aanvaarding van ‘n stelsel waarbinne die tirannie van die getallemeerderheid heers. Ek ken geen nasie wat uit ‘n algemene stemreg gebore word nie, maar ‘n volk wat in die volkshistorie gewortel is, sê die anti-revolusionêre Nederlander,Mr G Groen van Prinsterer. Dit beteken in ons omstandighede, volksgerigte politiek. Daarby aansluitend verwys dr Abraham Kuyper na die nagevolge van die Franse Revolusie ten aansien van die Nederlandse volk, dat die wankele mure van hulle volksbestaan omvergehaal en sy stene afgekap is, slegs om dit op ‘n hoop te stapel sonder om te begin met die oprigting van ‘n nuwe gebou. Die Liberalisme is anti-sosiaal omdat dit individualisties is en in ‘n volk niks anders sien as ‘n aantal siele binne ‘n bepaalde grondgebied.
“En dit bederft en verderft heel ons volksleven. Dit loopt uit op een losrijten van alle banden, om de eenlingen die vijftig minus een zijn, door de eenlingen die vijftig plus een uitmaken, te tyranniseeren. Zoolang men daarin volhardt, komt er dan ook geen beterschap. Dán eerst als de deelen van het volkslichaam weer elk in hun eigen functie zullen kunnen werken, zal de gezondheid van dat volkslichaam weerkeren”, aldus dr Abraham Kuyper.

Nico Kruger ·

Ek stem heeltemal saam dat om te gaan stem gaan nie die Afrikaner aan bewind bring nie. Verkiesings is ‘n getalle speletjie wat ons nie kan wen nie. Maar om nou te beweer dit is ‘n besmetting om te gaan stem is sommer belaglik. Koos beweer nou dat mens daarmee legimiteit aan die STELSEL gee. Koos, betaal jy belasting? En water en ligte. en jou voertuig lisensie? Dan gee jy ook daarmee legimiteit aan die nuwe bedeling. Ons is deel daarvan en kan dit nie weg droom soos jy maak nie. Gaan lees weer in die Bybel wat Jesaja vir die Joodse bannelinge in Babel geskryf het. (Of was dit Jeremia.) Buitendien, watter ander alternatiewe het jy om die stelsel te verander. Oorlog? Jy sit met daardie selfde getalle teen jou. So jou kans om te wen is net so groot as om die verkiesing te wen. En ek ken vir Flip Buys te lank om te weet dat hy nooit deel van enige F.W De Klerk alliansie was nie. So ek weet nie wat jy daarmee bedoel nie.

Koos Bester ·

Nee, ek betaal nie belasting nie. Het nie ‘n werk nie, want Flip Buys en Solidariteit is te hard besig om die Kleurlinge in die Kaap met hofsake werk te gee. En om die NSA te maak werk. En is weg by Radio Pretoria omdat ek nie vir Buys en sy bende se soort politieke twak kans sien nie. Buys het seker vir hom ‘n mooi roete na sy werk in “Centurion” uitgewerk, jy weet mos mnr. Buys, daardie plek wat ons Boere, of die “ou ballies” waarna die kommentaarskrywer snedig verwys Verwoerdburg noem; daardie roete uitgewerk sodat hy nie in al dié onooglike Wit plakkerskampe vaskyk waarin mense woon waarvoor sy mulit-kulti vakbond nie kans sien om werk te kry of hofsake te voer (kollaterale skade van Buys en De Klerk se NSA), soos vir die Kleurlinge nie. Of ek vir my water en ligte betaal? Wat het dit met die prys van politieke eiers uit te waai? Of ek ‘n lisensie het vir my motor? Met ander woorde, is ek ‘n opsetlike wetsverbreker? Ek kan dit wees, soos in lydelike verset. Maar lydelike verset is ‘n spel wat jy teen jou oorheerser speel tot jou politieke voor- en nie tot jou nadeel nie, jy kan my baie dinge vra, maar nie om stjoepid te wees nie. Die gedagte daarmee is gewis nie, die wêreld haat my en ek maak daarna nie. Wil ook nie ‘n soetlief van die liberaliste wees deur my as ‘n “rasbenepene” te laat brandmerk soos Toerien hierbo en weg te staan van Afrikanernasionalisme nie. Daardie soort sedigheid kan Toerien maar op Buys uithaal en Buys op Toerien, dit werk nie vir my nie.
O ja, ek weet van daardie stukkie in Jeremia wat so ‘n klompie sedige predikante voor die vorige verkiesing mee gesmous het. Dat ons mense moet voortgaan om huise te bou en wingerde te plant. Wat daardie sedige predikante nie vir hul gemeentes gesê het nie is dat die profeet met die mense in Babel, met ander woorde die weggevoerdes, ons hedendaagse uitgewekenes, die Afrikaners in die buiteland, gepraat het. MAW die Afrikaners in die buiteland moet huise bou en wingerde plant, ons arme drommels hier sal dit doen, net betyds vir Zuma en Malema om die huise te betrek en die eerste oeste in te samel.
Sterkte met jou besluit om nie te stem nie. Moet net nie dat Toerien of Buys jou ‘n gat in die kop praat nie.

Demokraat ·

Koos, ek reageer nie graag op andere se kommentare, veral as dit deurspek is met swak argumente nie, maar jou uitgangspunte is uiters swak asook hou in gen opsig water nie. As ek raad kan gee, sou ek aanbeveel dat jy die onderhawige saak konstruktief en op nugtere wyse benader en nie met ‘n sterk dosis van emosie nie.

Jou argument van legitimiteit verleen aan die ANC-regering sou jy gaan registreer en stem, is afgesaag en onverkoopbaar. Die Boere van die eertydse Transvaalse en Vrystaatse republieke het tog bly onderhandel met die Engelse ten spyte van vyandskap. So, jy en jou geesgenote sal ook maar moet onderhandel indien julle beter omstandighede wil hê. Om te registreer en te stem is een van die onderhandelings-opsies wat jy het. Indien jy ‘n voorstander van selfregering in ‘n tuisland is, sal jy dit ook moet onderhandel.

Koos Bester ·

Aag, ou vriend, die nie-emosionele demokraat, jou klaarblyklike argument (afgelei van kritiek teen my standpunte), dat kies reg, bly weg van ANC-verkiesings kwansuis nie strook met die metode van die burgers van die ou ZAR, is bollie. Jy vergelyk appels met pere. Dis juis toe die Boere nog met die spulletjie in ‘n onderhandelingsmodus vasgevang gesit het, dat hul politiek gestol was, impotent, so dood soos ‘n dodo. So dood soos die ou NP. So dood op sy voete soos die VF Positief. So bedrieglik soos die DA en sy geldmagmeesters. So geel soos Solidariteit.
Jy kan maar met die ANC-kommuniste onderhandel tot jy blou in die gesig is, jou en die Afrikanervolk se “omstandighede” soos jy skryf, sal nie verbeter nie. Dit sal net versleg. Jy kan gaan stem tot jy blou in die gesig is, jy kan selfs ‘n spesiale vergunning by die vriendelike ANC ontvang om die hele demokratiese stemdag in jou demokratiese stemhokkie te sit met ‘n biblioteek vol stembriewe, jou stem/me soos in elke ANC-verkiesing onder die ANC-grondwet waaraan jy deelgeneem het, sal ‘n gespoeg in die wind wees.
‘n Groot hoera vir ‘n bietjie emosie in die Afrikaner-politiek en bog met julle deur-die-ANC-en-grondwet doodgebloeide demokrate.

koos bester ·

Nou wat het van my kommentaar op Demokratiese Neelsie se snert geword?

Nico Kruger ·

Ek is jammer om weer te moet reageer, maar ek het lank gedink oor die saak. Koos, ek stem nog nie saam met jou interpretasie van Jeremia nie. Die Afrikaners in Australie het vrywillig gegaan. Die Jode is teen hulle sin in ballingskap geneem en moes daar gedwonge onder ‘n vreemde regering leef. Maar verder verskil ek en jy nie regtig so baie nie. Ons land is in ‘n gemors. Al waar ons verskil is wat om daar omtrent te doen. En die probleem bestaan al lankal onder die regses en verskoon my as ek dit nou ‘n lang stroie maak. In 1993 met Codesa was daar ‘n groepie onder Andries Beyers wat weggebreek het van die KP want hulle was van mening dat ons moet onderhandel. Hulle het gese dat die nuwe SA gaan aanbreek al ignoreer ons dit. En hulle was reg. Maar die KP was ook reg. Die wat onderhandel het, het ook niks reggekry nie. Toe kom 1994 en die KP weier om te gaan stem. Hulle se dit gaan ons niks help nie. Weer breek ‘n groep weg (die VF) en se dat dit ons niks gaan help om nie te stem nie. Weer was albei reg. (Of verkeerd). Dieselfde met Pieter Mulder wat besluit het dit is beter om liewer die Adjunk Ministers pos te aan vaar. (Ek werk in die staatsdiens. Ek kon hom vertel het dat ‘n Adjunk Minister het geen invloed nie.) My vraag is: Wat kan ons doen? Afriforum neem baie sake hof toe, tot die regering al die regters gaan verander. (Ek stem ook nie saam met jou oor Solidariteit nie. Hulle probeer iets prakties doen. Om net by mekaar te sit en kla oor die nuwe SA gaan niks verander nie.) So ek weet nie wat kan gedoen word nie. En ek herhaal, oorlog is nie ‘n oplossing nie. Ons kan nooit wen nie. Vra maar die mense wat in lande woon waar daar oorlog is. Ek dink nie iemand wen ooit ‘n oorlog nie. Ek is nie Bart Nel wat bereid is om in die tronk te gaan sit en my vrou en kinders sonder ‘n inkomste te laat nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.