Nuuskommentaar: Jonges besluitloos, ou toppies weet niks

stembriefDit is ‘n betreklike universele verskynsel dat die ouer geslag hul bekommer oor die jongs se gebrek aan algemene kennis, wat onder meer daartoe lei dat koerante wat ‘n verjongingskuur op hul redaksies toepas ‘n verlies aan korporatiewe geheue ervaar, en opsigtelike blapse die lig laat sien. Soms lyk dit behoorlik of die drukkersduiwel amok gemaak het.

Nou dui ‘n peiling aan dat 26% van die jong mense nie beplan om volgende jaar te gaan stem nie. Byna 20% weet nog nie vir wie hulle gaan stem nie.

Pondering Panda, wat in sy peilings op jong mense fokus, se akkuraatheid moet grootliks nog getoets word, maar dat daar algemene kommer is oor die apatie van jong mense oor die demokratiese stemproses is ook so.

Ironies is daar onder jong mense ‘n persepsie dat die “ou mense niks weet nie.”

Baie “ou mense” mag dalk die nodige kennis ontbreek oor presies wie Lady Gaga is, of nie die jongste “modes” oor dwelmgebruik onder jonges op die punt van hul vingers hê nie, en toeklap as dit om by die jongste apps, iPhones, slimfone en vele meer, en so hul name krater maak voor die jonges..

Voor hard oor die jongklomp geoordeel word – let maar na die wêreld waarin hulle grootword, ook in Suid-Afrika. Die minister van justisie. Jeff Radebe, sê korrupsie in die land is besig om te stabiliseer, maar Beeld bespreek in ‘n hoofartikel hoe dit lyk of daar ‘n verband is tussen erge korrupsie in die hoogste regeringskringe is en die weerstand om die geskorste misdaad-intelligensiehoof, Richard Mdluli, te vervolg.  Die persoon in die hoogste amp, pres. Jacob Zuma, se naam word genoem. Nie ‘n mooi voorbeeld wat gestel word nie.

Jong mense, soos baie van die ouer geslag, sukkel om werk te kry. Die behuisingsagterstand raak groter omdat minder HOP-huise met meer geld gebou word, en korrupsie klaarblyklik nie net hierin ‘n rol speel nie, maar ook in opbouende agterstande met infrastruktuur en infrastruktuurinstandhouding.

Met watter voorbeeld van die “ou mense” word die jong mense groot?

Dis nie net in Suid-Afrika waar die “ou mense” nie altoos die beste voorbeeld stel nie. In Nederland het persepsies van die betreklike jong koalisiebewind van premier Rutte so negatief geword dat oor nuwe koalisies onderhandel word – met peilings wat toon die publiek voel die posman op die naaste hoek sal beter as premier vaar.

In die VSA, waar die uiters belangrike webwerf vir die implementering van Obamacare nie eens naastenby die mas opkom nie, skud die jonges die kop en wonder hoe die “ou mense” nie die gebreke kon voorsien en meer doeltreffende tegnologie ingespan het nie. Wie maak dan nog van ancient tegnologie gebruik soos om die gratis nommer wat ook beskikbaar is te bel?

Dié maand is die eeu-herdenking van die eerste kommersiële sigarette, en hoewel die gebruik van hierdie kankerbalkies sedert 1981 in die VSA met sowat die helfte verminder het, stook die “ou mense” wêreldwyd – veral in lande waar die dampiemakers dit nie kan bekostig nie – lustig aan iets wat na raming die kanse dat ‘n persoon koronêre probleme en beroertes sal opdoen met twee tot vier keer, longkanker by mans met 23 keer en by vroue met 13 keer verhoog. Watter voorbeeld stel die “ou mense” aan die jonges?

Baie van die jonger generasie sal ook vir die ouer generasie wat so bekommerd is oor die gebrekkige belangstelling in aktualiteit sê hulle moet ‘n slag bykom … die eise op jong mense om hulle vir ‘n suksesvolle loopbaan voor te berei is enorm. Die eise van die tyd vereis eenvoudig dat hulle begrip van wetenskap, wiskunde en die handel beter moet wees as om al die politieke partye in die parlement te kan opnoem en te weet wat elkeen se beleid is – wat in elk geval vir gehoor tot gehoor ander aksente kry. Hulle moet beurse kry. Hulle het nie werklik (meer) die keuse van die ouer generasie om universiteit toe te gaan om te studeer wat vir hulle interessant is nie. Hulle sien immers hoe die “ou toppies” wat jare gelede deur politici beloof is daar sal “altyd” ‘n groot vraag wees na mense met onder meer staatsleer, omtrent enige ander beroep beoefen as dit waarvoor hulle opgelei is en aan beurse moes terugbetaal.

Weens rasbenepe politiek moet baie jong mense sorg dat hul opleiding van hulle doeltreffende wêreldburgers maak, eerder as goed opgeleides in rigtings wat nie hier, of oorsee, ‘n gekwalifiseerde werk kan losslaan nie.

In ‘n land van meerderheidsoorheersing lyk ander opsies as die stembus om dinge reg te ruk dikwels ook aantrekliker as om “stemme by die stembus te gaan vermors.” Dit is inderdaad belangrik dat ander aspekte van grondwetlike demokrasie, soos persvryheid (wat die kuberruim insluit) en burgerlike samelewingstrukture – soos om lid van AfriForum en AfriForum Jeug te wees, benut word.

Maar soos die ou toppies se ou toppies altoos gesê het: Moenie die een ding doen en die ander nalaat nie.

Gaan stem, en om te stem, gaan registreer as kieser, en probeer tog ook ‘n tydjie inruim om vas te stel watter se party se beleid strook die meeste met jou eie, en watter het darem ‘n skoon rekord ook. En onthou, met die kiesstelsel van ons land is elke stem belangrik – selfs net een ekstra stem kan ‘n reuse verskil maak.

En dis nie ‘n bol tsjol wat die ou toppie gespin het nie. Kom net bietjie by en observe watter dinge jou future gaan laat wobbel of smoother gaan laat loop.

En daar is ook ‘n boodskap vir die ou toppies. Los jul geteem  en stel ‘n behoorlike voorbeeld vir die jonges.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Koos Bester

Kan jy nou meer! Dieselfde foefie as met die berig van Suné van Heerden, met my kommentaar daarby, wat julle afgehaal het. Afrikaner-jongmens, moet nie jou hand besoedel deur ‘n kruis (vir watter party nogal? ANC, DA, VF Positief (wat ‘n kortbroek-comrade in die kommunistiese regering het), in daardie verkiesing te trek nie. As jy nie klans sien om saam met die Balck Sash-lid Helen Zille te toi-toi nie, vir wat vir haar party gaan staan en stem! Verydel nie daardie Afrikanernasionalisme wat deur jou bloed bruis nie. En hier is weer daardie les van nou die dag vir hierdie… Lees meer »

Nico Kruger

Ek stem heeltemal saam dat om te gaan stem gaan nie die Afrikaner aan bewind bring nie. Verkiesings is ‘n getalle speletjie wat ons nie kan wen nie. Maar om nou te beweer dit is ‘n besmetting om te gaan stem is sommer belaglik. Koos beweer nou dat mens daarmee legimiteit aan die STELSEL gee. Koos, betaal jy belasting? En water en ligte. en jou voertuig lisensie? Dan gee jy ook daarmee legimiteit aan die nuwe bedeling. Ons is deel daarvan en kan dit nie weg droom soos jy maak nie. Gaan lees weer in die Bybel wat Jesaja vir… Lees meer »

Koos Bester

Nee, ek betaal nie belasting nie. Het nie ‘n werk nie, want Flip Buys en Solidariteit is te hard besig om die Kleurlinge in die Kaap met hofsake werk te gee. En om die NSA te maak werk. En is weg by Radio Pretoria omdat ek nie vir Buys en sy bende se soort politieke twak kans sien nie. Buys het seker vir hom ‘n mooi roete na sy werk in “Centurion” uitgewerk, jy weet mos mnr. Buys, daardie plek wat ons Boere, of die “ou ballies” waarna die kommentaarskrywer snedig verwys Verwoerdburg noem; daardie roete uitgewerk sodat hy nie… Lees meer »

Demokraat

Koos, ek reageer nie graag op andere se kommentare, veral as dit deurspek is met swak argumente nie, maar jou uitgangspunte is uiters swak asook hou in gen opsig water nie. As ek raad kan gee, sou ek aanbeveel dat jy die onderhawige saak konstruktief en op nugtere wyse benader en nie met ‘n sterk dosis van emosie nie. Jou argument van legitimiteit verleen aan die ANC-regering sou jy gaan registreer en stem, is afgesaag en onverkoopbaar. Die Boere van die eertydse Transvaalse en Vrystaatse republieke het tog bly onderhandel met die Engelse ten spyte van vyandskap. So, jy en… Lees meer »

Koos Bester

Aag, ou vriend, die nie-emosionele demokraat, jou klaarblyklike argument (afgelei van kritiek teen my standpunte), dat kies reg, bly weg van ANC-verkiesings kwansuis nie strook met die metode van die burgers van die ou ZAR, is bollie. Jy vergelyk appels met pere. Dis juis toe die Boere nog met die spulletjie in ‘n onderhandelingsmodus vasgevang gesit het, dat hul politiek gestol was, impotent, so dood soos ‘n dodo. So dood soos die ou NP. So dood op sy voete soos die VF Positief. So bedrieglik soos die DA en sy geldmagmeesters. So geel soos Solidariteit. Jy kan maar met die… Lees meer »