Nuuskommentaar: Julle sonder tande hoef nie so te lag. Tande sal ge-‘supply’ word

Verwikkelinge in die onlangse politieke verlede het besin oor die betekenisse van terme soos politieke korrektheid, moraliteit, ewehandigheid (of die gebrek daaraan) met die hantering van haatspraak en rassisme, Sturm und Drang, vyfdekolonner en vele meer. Na aanleiding van die kommissie wat ondersoek ingestel het na sake wat nie te lekker in die SAUK was nie, word vandag gekyk na die terme verantwoordelik en verantwoordbaar, en besin oor die verskynsel dat betekenisse verander.

’n Moedelose predikant preek as laaste opsie oor die oordeelsdag om die zeffer-element in sy gemeente teen hul skollie-gedrag, gesinsgeweld, huismoles, Bacchus-aanbidding en losbandigheid te waarsku.

“Ja, daar sal ’n geween en ʼn gekners van tande wees,” sluit hy af. Maar toe hy na die gemeente se reaksie op hul gesigte soek, kyk hy hom in ’n klomp haasbekke vas wat tandeloos breed vir hom glimlag. “En julle sonder tande hoef nie so te smaail nie, tande sal ge-supply word!” ’n Geween en gekners van tande sal daar wees.

Miskien nie juis ’n (tandelose) glimlag nie, maar die meer bekende “hê, hê, hê”. En as die kierankies braai te naby kom, word die selfversekerde gedrag omgekeer en verander die persoon in die voorste Martie Martelg*t.

“Dit was nie ek nie” of “hoe kan ek verantwoordelik wees?”; “daar is nie eens iets soos staatskaping nie” (want daar is dan nie eens ’n funksionerende staat om te kaap nie); en “ek is eintlik die slagoffer hier en nou moet ek vir die regskoste instaan”.

Ja, die leksikon vir Suid-Afrikaanse politieke woordeskat se inhoud kry by die dag nuwe betekenisse, en soms selfs heeltemal nuutskeppings, en soms is die nuwe betekenisse presies die teenoorgestelde as die oorspronklike betekenisse.

Neem nou maar die woorde “verantwoordelik” en “verantwoordbaarheid”. Voorheen het dit die vinger gewys na die persoon wat verantwoordelik is daarvoor dat sekere dinge gebeur en reg gedoen word, en pa moet staan as dinge verkeerd loop. Die uiterste voorbeeld (en ja, dit het meer as een keer reeds werklik so afgeloop), wanneer ʼn vliegtuig val, bedank die minister van vervoer. Nee, hy het nie suiker in die brandstof gaan gooi nie, maar dinge het in die portefeulje waarvoor hy verantwoordelik is, skeefgeloop. Vandat pres. Cyril Ramaphosa president geword het, was daar wel ’n paar afdankings, veral by semi-private instellings, maar bedank? Ja, enkeles wat gesien het die skrif is aan die muur en dat nog onthullings gemaak gaan word, het “self” bedank, terwyl hulle luidrugtig die skuld iewers anders probeer verplaas.

En hulle is legio. Die jongste toevoeging (ten tyde van die skrywe hiervan) is oudminister Faith Muthambi (ja, sy was jou werklikwaar ’n minister, en die vrag klagtes teen haar is, volgens haar, omdat dit bekend is dat sy en Zuma vriende is). In ’n stadium, toe Zuma president was, is berig dat haar arrestasie op hande was, onder andere oor enorme koste wat aangegaan is om haar ma, ’n rits ander familielede, vriende en begunstigdes wat sy Kaap toe laat vlieg het vir haar inhuldiging as minister, en boonop in luukse hotelle laat bly het – op belastingbetalerskoste. Oor ’n ondersoekkommissie se bevinding dat sy as minister in die redaksionele onafhanklikheid van die SAUK ingemeng het, beteken iemand praat snert, en ’n skuldigbevinding aan iets ongerymd beteken daar word agter die skerms ’n vendetta teen die persoon gevoer.

Die voormalige bedryfshoof en de facto‑baas van die SAUK, Hlaudi Motsoeneng se ontkenning van skuld beteken op die aarde niks nie, gegewe dat terwyl hy die leisels gehou het, hy gereeld gespog het hoe hy die SAUK se bedryfsverliese in wins omskep het. Dit terwyl die balansstate op die absolute teenoorgestelde dui. Lees gerus Jan‑Jan Joubert se uiteensetting van sake waarin Muthambi as minister skeefgetrap het.

Die meester vir die herskryf van die leksikon is egter die huidige Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane. Terwyl sy lustig die lakens aan selfs die regters van die Konstitusionele Hof uitdeel wat haar vroeër skuldig bevind het, wil sy darem self soos ’n regter behandel word. Die konsep van wanneer ’n persoon skuldig is aan minagting van die hof het sedert die nuwe grondwetlike bedeling heelwat verander, en word ook sterk deur die kwaliteit van ’n regter se werk beïnvloed. Die leksikon, soos die OB dit wil lees, herinner aan die sêding – hy wat brûe verbrand, is die eerste wat kla as hy nie meer kuiermense kry nie. Om die etiek van die regsberoep aan te val sluit haar nie uit nie. In plaas van selfondersoek te doen, word die verantwoordbaarheid elders heen verplaas.

In die VSA is daar nou geskarrel onder presidentskandidate van die Demokratiese Party. Dit blyk nou van die kandidate het Trump so blindelings begin veroordeel dat hy (Trump) nou ook deurgeloop het vir sake wat deur oudpresident Barack Obama ingestel is. Trouens, die kandidate is nou aangesê om te let op die moontlikhede dat hulle hul eie party in die proses meer skade aandoen as vir die Republikeine. Kortom, hou tog ook die regte mense verantwoordelik en verantwoordbaar.

Die rol wat die media speel, is ’n onderwerp op sy eie. Van die media word verwag om ’n waghondfunksie te verrig, en daarom sal kwessies soos die omgaan met persvryheid en korrupsie gereeld onder die soeklig kom.

Dit is beslis nie die media se taak om politici wat skeefgetrap het, soos ’n joernalis aangerand of gedreig het, se optrede te help verdoesel nie, ’n les wat Julius Malema en die EFF al harder deur die howe en tribunale sal moet leer.

En nee, anders as wat ’n voormalige premier van Mpumalanga destyds gesê het, dis nie in die haak vir ’n politikus om kluitjies te bak nie. Maar reg of verkeerd, verskeie politici en hoë ampsbekleërs se onvermoë om die waarheid in te span, het hulle nou al duur te staan gekom. Die howe se koers om hoës self vir regskoste, of ’n deel daarvan, te laat instaan, is uiters belangrik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Dankie vir die artikel Herman. Soos ons almal weet is die kort opsomming wat in SA aan die gang is, wat die Reg-ering ens betref, is ons fantastiese voorbeeld van ‘n Kakistokrasie!!! Die gevolge daarvan is soos ‘n “tsunami” met “seekat-arms” wat verwoestende gevolge vir ons as burgers op feitlik elke lewensterrein het!

Wens Coetzer ·

Baie dankie Herman vir ‘n weereens puik artikel. Terwyl ek gelees het, het die volgende Bybel teksversies by my opgekom:
JESAJA 5:20-21 “Ellende wag vir dié wat sleg goed noem en goed sleg,
wat van duisternis lig maak en van lig duisternis,
wat bitter soet noem en soet bitter.
Ellende wag vir dié wat dink hulle het die wysheid in pag,
wat dink hulle het baie verstand. “
Die agterstevoor draai van die realiteit, beskryf ons wêreld vandag baie gepas. Hoeveel verder moet dit nog gaan voordat binêre denke heeltemaal uitgewis word? Die weiering om die verskille tussen goed en sleg, duisternis en lig, bitter en soet, te erken?

Herman Toerien ·

Baie dankie vir al die mooi reaksies. Ek waardeer dit baie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.