Nuuskommentaar: Juridiese verstikking

In Suid-Afrika het verskeie politici die howe, en by name die grondwetlike hof, as die werklike opposisie van die ANC beskryf. Dit het rooi ligte oor die skending van die skeiding van owerheidsmagte laat flits. Boonop kom voorbeelde gereeld aan die lig waaruit dit wil voorkom of baie regeringsleiers geen begrip het van die skeiding van regering en regerende party nie. ‘n ANC-woordvoerder is byvoorbeeld onlangs verkla omdat hy sy werkgewer – die munisipaliteit – se eposgeriewe en tyd gebruik het om amptelike ANC-kommunikasie mee te versprei.

In ‘n grondwetlike demokrasie waar die oppergesag van die grondwet gevestig is, of soos in Engels gestel, die Rule of Law, word gereeld na die leerstuk van die trias politica verwys.

Intussen het daar oral ter wêreld ‘n beweging ontstaan wat hulle daarvoor beywer dat die oppergesag van die regering in die demokratiese-verkose parlement, en nie die nie-demokratiese howe nie, gesetel moet wees. Argumente wat graag aangevoer word is dat verskeie belangrike verwikkelings, soos die vrystelling van slawe, nie die gevolg van die howe se grondwetlike vertolking was nie, maar die parlement. ‘n Opvallende kenmerk van hierdie veldtog is dat dit gewoonlik in betreklik homogene state soos Australië vastrapplek kry waar minderhede nie aan grondwetlike beskerming uitgelewer is nie.

In Nederland het die direkteur van die Prof. Mr. B.M. Teldersstichting, dr. P.G.C. van Schie, pas in ‘n voorlegging aan een van die politieke partye, die VVD, ‘n voorlegging gedoen waarin hy argumenteer dat die regters daar ook buite die grense van demokrasie optree.

Die blote feit dat die voorlegging aan die VVD gedoen is, is insiggewend. Dit was tot 2004 die politieke tuiste van die populistiese politikus, Geert Wilders, wat nou as leier van PVV die aandag trek. Die VVD word as ‘n regs-liberale volksparty beskryf.

Van Schie het dit nie net oor die regters wat wette anders interpreteer as wat die parlement met die opstelling daarvan bedoel het nie, maar ook hoe die inhoud van internasionale verdrae op die regsuitleg en selfs verder in Nederland se politiek ingetrek word. Hy meen die politici daag dit nie genoegsaam uit om die demokrasie te laat geld nie. Boonop, meen hy, is daar kruipende ondermyning van demokrasie deurdat die regters toenemende politieke besluite neem.

In wese meen hy dat die regbank dikwels buite die perke van die skeiding van magte speel. Dit is interessant dat die staatsregkenner, prof. Marinus Wiechers, gereeld ‘n lansie breek dat ander tegnokrate as regslui, ook as regters tot die grondwethof toegelaat moet word, soos waarvoor die grondwet voorsiening maak. Of dit in die konteks van die politieke werklikheid van die land en die ANC se beleid van kaderontplooiing wys is, is ‘n ander vraag.

Dit laat nogtans onwillekeurig die vraag ontstaan of die balans van regte, waaronder minderheidsregte, in Suid-Afrika nie in ‘n baie groot mate en selfs te veel in een, juridiese, mandjie beland het nie. Die juridiese, en spesifiek staatsreg, is immers nie die enigste dissipline wat die politieke dinamika in ‘n staat bestudeer en beskryf nie.

Kan die grondwetskrywer en –vertolker werklik ‘n behoorlike insig vorm sonder om behoorlik kennis te neem van die dinamika wat die politieke sosioloog analiseer en formuleer? Gaan sake soos grense en magte van provinsies ooit sonder spanning wees as die politieke geograaf buite rekening gelaat word? Al te dikwels word die politieke wetenskaplike gemarginaliseer omdat hy nie ook as ‘n grondwetlike kenner beskou word nie.

‘n Probleem wat hiermee saamloop is dat die verkorte regstudie in Suid-Afrika volgens baie waarnemers baie praktisyns oplewer wat nog nie oor ‘n behoorlike regsinterpretasievermoë beskik nie, en dat ‘n neiging tot wettisisme posvat terwyl die grondwet juis so geskryf is dat dit deur interpretasie, die presendentereg en wetgewing uiteindelik die nodige vleis sal kry. Sake wat volgens regulasies en ordinansies, of argaïese buite-kontekswetgewing ingestel is, beland gereeld voor die howe terwyl dit teen alle gesonde logika in skree. Ervare regslui wil soms skree van frustrasie wanneer hulle hul in sulke insiglose mure vasloop.

Die beste ondersoeker sal nie sommer in Suid-Afrika by die Openbare Beskermer of die Menseregtekommissie werk kry as hy nie oor ‘n regsgraad beskik nie, wat die vraag laat ontstaan tot welke mate die juridiese kruiping al hier te lande skadelik ten koste van ander dissiplines wortel geskiet het.

Dit is egter nie net simplistiese politiek wat in ‘n heterogene land op ‘n diktatuur van die meerderheid, of selfs ‘n de facto-eenparty- of tweeparty-outokrasie afstuur wat ongemak met ‘n wyer vertolking van die oppergesag van die reg het nie, daar is ook pogings om die oppergesag van die reg politiek-ideologies te kaap.
Van die reaksie op Regter Lamont se uitspraak in die Julius Malema-haatspraakverhoor toon dat die liberale dogma by baie ‘n sterker oorheersende begrip oproep as die werklik geldende volkereg wat deur die regter in causale verband ingespan is.

Die reaksie in Nederland op Van Schie se voorlegging wissel van volmondige saamstem en selfs die uitwys van analoë in die VSA wat as bedreigings voorgehou word, tot menings dat die regbank juis die waardes van die beskawing waarvan Nederland deel uitmaak verskans.

In Suid-Afrika, met sy heterogene samelewing, is dit selfs nog meer nodig dat die hele spektrum van vakdissiplines as klankbord ingespan moet word om te sorg dat die grondwetlike demokrasie optimaal doen wat dit veronderstel is om te doen – en nie in ‘n rigting gekaap word wat regte, ook minderheidsregte, verslons nie of so uitrafel dat dit in ‘n diktatuur van die meerderheid omskep word nie.

(Die opsteller is in politieke wetenskap, politieke geografie en staatsreg gekwalifiseer)

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

theoprinse ·

Ek stryd al baie jare vir die (her) stelling dat elkeen gelyk is voor die wet alleen. Maar mede deur die kommunistiese ontwikkeling in Suid-Afrika is in Nederland artikel 1 Grondwet, gelyke regte en verbod op diskriminasie … uitgebrei tot die hele kommunistiese samelewing ingevoer. Pim Fortuyn is mede vermoor deur sy uitspraak op die radio dat hy dit gedrocht artikel wou ophef. As Republikein stel ek die Wet hoër as die Grondwet. Die Grondwet hoër as internasionale verdrae soos van Europa of die Verenigde Nasies (van China en die Organization of the Islamic conference) Ek steun direkteur van Schie van die Nederlandse Telder stigting.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.