Nuuskommentaar: Kaap steeds Hollands, maar Zuma loop weer los

President Jacob Zuma gesels met verslaggewers in Kaapstad (Januarie 2015) Foto: MyANC, Facebook

President Jacob Zuma gesels met verslaggewers in Kaapstad (Januarie 2015) Foto: MyANC, Facebook

Wat gebeur die dag wanneer die strateë wat moes sorg dat Zuma genoegsaam in sy presidensiële statuur “herstel” het, oordeel dat sy beeld genoegsaam gerehabiliteer is dat hy weer ten volle op die land en sy mense losgelaat kan word?

Wel, dit is nou te sien en te lese na Zuma op die Wes-Kaap se armes losgelaat is. Hy (en skynbaar sy adviseurs) het niks uit die foute van die verlede geleer nie. Zuma het in ’n japtrap van die mees omstrede stellings herhaal. Hy het opnuut gesê die ANC sal regeer tot die Wederkoms – ’n stelling wat hom al brildiepte by hoofstroomkerke in die warm water laat beland het.

En ja, hy het weer gesê Eskom se gespartel is oorle apartheid se skuld, ’n onlangse stelling wat reeds deur talle kundiges met jota en titel verkeerd bewys is.

Vir die ANC is dit ʼn doring in die vlees dat die Wes-Kaap die enigste provinsie is wat nié deur die ANC regeer word nie. Dit is voorts ʼn gevoelige puntjie dat soveel van sy ondersteuners uit die ANC-beheerde Oos-Kaap met veel meer hulpbronne na die Wes-Kaap stroom. Dit plaas enorme druk op die Wes-Kaap om onder meer onderwys, gesondheidsdienste, werk en basiese dienste aan soveel migrante te voorsien. Om nie van huisvesting te praat nie. Toe hulle as ekonomiese vlugtelinge beskryf is, was die ANC siedend. Die Burger skryf vanoggend dat Zuma nou gesê het die DA weerhou dienste opsetlik van arm mense in die Wes-Kaap omdat die party hulle as “vlugtelinge” beskou. Elders sou Zuma gesê het die DA weerhou basies dienste om mense arm te hou.

Zuma versuim uiteraard om te meld dat die regering die kwessie soos een van kolonisasie van gebied hanteer, deur onder meer in ’n hofsaak gewikkel te wees om nasionale “kwotas” op die (steeds) eiesoortige Wes-Kaapse bevolkingsamestelling toe te pas.

Boonop wil die Wes-Kaap nie “saamwerk” nie, en hou aan om die res van die land in bykans enige opsig sleg te laat lyk met sy vlakke van dienslewering. Nie dat die Wes-Kaap ’n rits probleme het en wat nie “ingevoer” is nie – probleme soos die bendegeweld en dwelmkultuur wat onder meer in hoë moordsyfers manifesteer, en die Wes-Kaap ook die hoogste aankeersyfer vir dronkbestuur besorg. Ironies het die Wes-Kaap ook nog te kampe met die sleureffek van ’n tydperk toe die provinsie wel deur die ANC regeer is, en die vreemdste dinge byvoorbeeld op die waglyste vir HOP-huise gebeur het. Van die destydse provinsiale ministers weier steeds om hul samewerking te gee aan minstens een komitee van die provinsiale parlement sodat sekere sake opgeklaar kan word.

Benewens die ANC se strewe om die Wes-Kaap te “bevry” is daar ’n tweede oorweging. Die ANC vier die naweek sy 103de verjaarsdag in Kaapstad. Daar word nou hard gewerk om mense te motiveer om die verrigtinge by te woon. Terwyl Zuma nou in hoofsaak op arm mense “losgelaat” word, en sy stellings tot daardie kring beperk sou wees as die media nie “al weer” sake aan ander gehore, vir wie se ore dit nie bedoel is nie, gaan uitblaker het nie, is Saterdag se toespraak ’n kader van ander stoffasie. Hierdie ANC-“staatsrede” word as voorloper vir die werklike staatsrede beskou, en is uit en uit bedoel vir die gehoor wat die media bring.

Die groot vraag is of Zuma se blitsbesoek aan die Kaapse Vlakte se arm gemeenskappe beteken hy dien nou weer volledig as president, of is hy bloot takties aangewend om die tipe gemeenskappe waarmee hy ’n slag het, se koppe te draai? Watter opsie ook al waar is, dit hou vir die ANC risiko’s in. Uit die elektroniese kommentaargeriewe van die Engelse pers is dit duidelik dat opnuut die gek geskeer word met nie net Zuma se stellings nie, maar die blote feite dat hy daar losgelaat is. So was daar volop “waarskuwings” aan die gemeenskappe dat Zuma op pad is, vroue moet hulle gereed hou vir huweliksaansoeke, of dat hulle hulself in hul huise moet toesluit om te keer dat hulle gemolesteer word. Daar was ook genoeg “waarskuwings” dat mense hul besittings moet wegsteek.

’n Sin uit ʼn berig het veral die aandag van hekel-kommentare getrek. ’n Bejaarde vrou wat net met haar staatspensioen na nege kleinkinders moet omsien, het haar lot by Zuma bekla. Zuma het aan haar gesê sy moet moed hou, dit sal beter gaan. Toe joernaliste by haar wou weet of sy Zuma glo, het sy gesê sy hoop so, maar sy glo nie.

Die gespot het van wit en swart gekom.

Sy Saterdag-toespraak word openlik deur die party se ringkoppe geskryf, wat reeds, volgens mediaberigte, daarmee besig is. Trouens, daar word reeds in taamlike detail geskryf oor wat in die toespraak staan.

Wat heel duidelik is, is dat die ANC in hierdie toespraak gaan hou by sy weergawe oor hoeveel beter dit glo onder ANC-bewind gaan. Dit beteken daar gaan weer uiters selektief met gegewens omgegaan word, en ’n rooskleurige prentjie geskets word.

So lank Zuma by sy geskrewe toespraak hou, sal die land waarskynlik nie erge beeldskade opdoen nie. Of Zuma streng by die toespraak gaan hou, en of daar weer uit die heup-verleenthede gaan kom, hang af of die “strateë” nou geoordeel het Zuma se beeld is genoegsaam gerehabiliteer. Zuma se herhaling van dieselfde foute het egter dit taamlik duidelik gemaak dat hy nie “opleibaar” is om warm patats te hanteer nie.

Dit is onwaarskynlik dat Zuma by hierdie groot, soos oom Oubaas sou sê, verleentheid die aankondiging gaan doen dat Suid-Afrika nou sy eie weergawe van die Dakar-tydren gaan hou – die South African Extreme Endurance Corrigated Road and Pothole E-Toll Challenge. Suid-Afrika se pendelaars, boere, taxi-bestuurders en reisigers oefen immers nou al lank hiervoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.