Nuuskommentaar: Kabila nou die nuwe Mugabe

 

Pres. Joseph Kabila (Foto: GCIS/Flickr.com)

Hoe gaan adj.pres. Cyril Ramaphosa teenoor die korrupte bewind van pres. Joseph Kabila in die DRK reageer? Deur ter wille van Afrika-broederskap weg te kyk, kan dit moeilik raak om Suid-Afrika en die wêreld te oortuig dat Suid-Afrika nou self ’n skoon blaadjie omslaan en die korrupsie van die Zuma-bewind gaan begin oprol.

Terwyl daar ’n bepaalde Suid-Afrikaanse perspektief oor die Demokratiese Republiek van die Kongo is, moet die Belgiese perspektief ook ter harte geneem word. België was die voormalige koloniale owerheid, en handhaaf ’n wisselvallige verhouding met die DRK, wat veral ontwikkelingshulp insluit. Pas het België alle humanitêre hulp wat deur regeringskanale sou vloei, opgeskort, en so het 25 miljoen euro beskikbaar geword wat nie deur nie-regeringsorganisasies gebruik sal word om die akute nood van die bevolking te probeer verlig nie.

Terselfdertyd het die Rooms-Katolieke Kerk, wat sowat die helfte van alle Kongolese verteenwoordig, hom openlik téén Kabila gedraai. Kardinaal Laurent Monsengwo het te kenne gegee dat daar nou aan die einde gekom is van wat verduur kan word.

Die spreekwoord, “que les médiocres dégagent” (ruim die middelmatigheid op), het in omloop gekom. Dit maak saak, want die RKK beheer die onderwys en gesondheidsdienste in een van Afrika se potensieel rykste lande, maar wat soveel endemiese korrupsie beleef dat dit een van Afrika se armste lande, boonop met die grootste inkomstegaping, is.

Die rede vir die kloof wat nou tussen die RKK en Kabila geslaan is, is dat Kablila nié soos die grondwet vereis, aan die einde van 2016 uit sy amp getree het nie. Ná opstande en druk van die RKK is ’n ooreenkoms gesluit dat hy aan die einde van 2017 sou aftree, maar ook daarvan het dadels gekom.

In die daaropvolgende betogings is minstens sewe ongewapende betogers doodgeskiet, minstens 92 is gewond en 180 mense is in hegtenis geneem. Die regering van die DRK ontken hierdie syfers amptelik.

Die wêreld het verlig asemgehaal toe ’n vorige regeringshoof, Mobutu Sese Seko, deur die opstandelinge van Laurent Kabila omvergewerp is. Die ongesofistikeerde Kabila het egter gou geblyk waarskynlik nog meer korrup as Mobutu te wees, maar hy was nie lank aan bewind nie voor hy gesterf het, en sy seun, Joseph, by hom oorgeneem het. Joseph het wel beter opleiding in die buiteland ontvang, en veel is van hom verwag.

Die hoop het egter beskaam. Hy het sy land lam in die knieë geplunder, en leef self in absolute en buitensporige luukse. Hy deel sy “anneksasie” van rykdom na berig word, soos nuwe olievelde, met “buitelandse belange” soos ook uit Suid-Afrika, en spesifiek met familie van pres. Jacob Zuma. So “koop” hy die versekering dat buurlande hom nie sommer uit die kussings sal dwing nie.

Angola, ’n buurland, is na berig word wel bekommerd, maar meer spesifiek oor vrese dat die DRK heeltemal kan inplof.

Die gebeure in die DRK sal hopelik aan mnr. Cyril Ramaphosa toon dat dit sinneloos is om ’n korrupte mede-SAOG-leier te beskerm, bloot omdat hy ’n medelid is of weens Afrika-broederskap. Uiteindelik sal die bevolking van daardie land stem dik maak, soos reeds in Zimbabwe gebeur het. Dít ná veral Suid-Afrika Mugabe lank en in weerwil van volkswil gesteun en sy stert geprys het.

Wat Kabila betref, is dit eenvoudig ’n geval van “meng jou met die semels …” Dit sal Ramaphosa (en Suid-Afrika) loon as gereeld gesien word hoe hy met die staatshoofde met beter reputasies as Kabila en dié van Zimbabwe skouer skuur. Om ’n ander regeringshoof aktief of passief te steun om die bevolking se stemreg en welvaart te steel, is onverskoonbaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eish ·

Afrika vertolking van die Westerse begrip
” opvolgingsbeplanning”

Adam ·

Miskien is dit die rede hoekom sy naam weerhou word maar ander mense se name word bekend gemaak ongeag of hulle al in n hof gepleit het Iemand moet n klag gaan lê teen die persoon Vind uit wie is dit en tree op

Jacobus ·

Dit wat die res van Afrika al reeds deurgegaan het en in die meeste gevalle nog steeds deurgaan, moet Suid Afrika nog deurmaak.

1) Korupsie en staatskaping – ons is daar
2) Hongersnood – as die grondonteiening plaasvind is dit volgende want die plase sal braak lê en kos sal nie na die stede vloei en die mense in die stede sal nie soos in Zimbabwe kan terugkeer na die platteland om te oorleef nie. Beleggings sal onttrek word, rand sal verswak, mense met kennis en vaardighede sal vlug, ens.
3) Opbreking in faksie of stam (Afrikaner, Zulu, Xhosa, Sotho, ens.) verband – jy sorg vir jou eie mense en hulle sorg vir jou – sien Somalië ens. as voorbeeld
3) oorlog – ‘n natuurlike opvolging van bogenoemde – sien enige land in Afrika as verwysing.
4) Herhaling en voortsetting van bogenoemde stappe vir ‘n onbepaalde tyd met tussenposes van ‘n soort van vrede maar geen voorspoed vir die meerderheid mense en veral die minderhede.

Ek hoef nie Nostradamus te wees om die toekoms te sien nie, kyk net na die geskiedenis van die wêreld, dit herhaal hom altyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.