Nuuskommentaar: Kabinet bietjie van als, baie van amper niks

David Mabuza. (Foto: ANA)

Met die eerste Ramaphosa-kabinetsamestelling is tegelyk raakgevat en drooggemaak. Dit lyk egter of daar netto wins in die proses gemaak is. Die rand het vanoggend sterk gestaan danksy Nhlanhla Nene se aanstelling, en het in ’n stadium R11,56 teen die dollar gestaan.

Wie gedink het dit is maklik om ’n kabinet saam te stel – in elk geval een wat veronderstel is om sake te begin regruk, het waarskynlik nog nooit ’n ander leiersposisie as dié van roterende klaskaptein beklee nie. Jacob Zuma het met meesterskuiwe kort voor hy sy goedjies gevat en geloop het, die reputasie van ’n knap skaakspeler gekry, maar of dit geregverdig is, sal eers later bepaal kan word.

Met die aanstelling van die Ramaphosa-kabinet word ’n mengsel van raakvat en droogmakery bemerk. Normaalweg sou tien veranderinge aan die kabinet as ingrypend tel, maar Suid-Afrika het ’n buitengewoon groot kabinet. Boonop is die tien wat heeltemal weggelaat is, behoorlik onaanwendbaar, en sou die “strategiese” behoud van die enkeles hiervan ondenkbaar wees.

So het Mosebenzi Zwane en Faith Muthambi baie hard daaraan gewerk om hul ongeskiktheid as ministers aan te toon. Die twee het hulle as heel kundige droogmakers bewys. Hul oudkollegas wat saam met hulle die trekpas gekry het, het meestal een groot gemene deler – ’n gemak waarmee kluitjies gebak word. Die meeste het voorts ’n besondere talent om erg gebelg te klink en te lyk as die krom vinger na hulle wys.

Malusi Gigaba. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Die nuwe kabinet het klaarblyklik ook nie daarin geslaag om die regering te ont-Gupta nie.

Die Vryheidsfront Plus het in sy reaksie die sleutel vasgevang: “Daar is verskeie groot teleurstellings wat ernstige vrae laat ontstaan oor pres. Ramaphosa se erns om staatskaping uit te roei. Die eerste is die adjunkpresident, David Mabuza. Mabuza is ʼn omstrede figuur oor wie ʼn wolk hang van aantygings oor korrupsie, politieke sluipmoorde en Gupta-bande. Dit bevestig die feit dat pres. Ramaphosa die ANC bo Suid-Afrika stel.

“Nog ʼn vrot appel wat in die mandjie behou  is, is min. Malusi Gigaba wat in tipiese ANC-styl ‘herontplooi’ is na die pos van binnelandse sake. Terwyl hy voorheen minister van binnelandse sake was, is dit hom juis ten laste gelê dat hy die Guptas se aansoek om Suid-Afrikaanse burgerskap versnel het.”

Die “goeie” en “slegte” word met skynbaar dodelike sekuurheid uitgewys: “Nog ʼn mistasting is die aanstelling van die totaal onbevoegde min. Bathabile Dlamini wat as minister van maatskaplike ontwikkeling misluk het, en nou aangestel is as nuwe minister van vrouesake.

“Sy is vandag weer gedagvaar om voor die Menseregtekommissie (MRK) te verskyn en is nie bevoeg om as minister op te tree nie. Dit is nog ʼn bewys van pres. Ramaphosa se party-lojaliteit.

Nhlanhla Nene. Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

“Positiewe aanstellings is die terugbring van min. Pravin Gordhan as minister van openbare ondernemings en min. Nhlanhla Nene as minister van finansies.

“Hierdie aanstellings sal meer beleggingsvertroue skep veral in die lig daarvan dat die kredietgraderingsagentskappe openbare ondernemings en die bestuur daarvan geïdentifiseer het as een van die groot redes vir die afgradering van Suid-Afrika se kredietwaardigheid.”

Met die verkiesing van Ramaphosa in die plek van Zuma, het verskeie belangrike politici daarop gewys dat dit min gaan verg om ’n verbetering op Zuma te wees.

En dit laat die vraag – weerspieël die nuwe kabinet genoeg veranderings om ooglopende verbeterings te wees? In sommige gevalle nie, maar om Nhlanhla Nene terug in die pos van minister van finansies te kon kry, tel sekerlik as een van Ramaphosa se grootste suksesse tot dusver.

Die beloofde verkleining van die kabinet gaan omtrent net so ’n groot uitdaging wees en dit kan rampspoedig wees om hiermee te wag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anoniem ·

Ek sien ook die aanstelling van Pravin Gordhan as Minister van Openbare Ondernemings as ‘n positiewe skuif., net soos Nhlanhla Nene se heraanstelling. Tussen daai twee hoop ek hulle kry die Titanic gedraai sodat Eskom die ysberg nie stamp nie…

Frederick ·

Groot waardering vir die rol van opposisie politiek, maar onthou hulle sou waarskynlik in dieselfde gat trap m.b.t. die amp van adjunk president en ander twyfel agtige aanstellings. Mabuza is ANC adjunk nie a.g.v. die wel willendheid van C.R. nie, maar a.g.v. politieke vernuf. As sulks het hy die potensiaal om of n waardevolle bondgenoot te wees of n gevaarlike teenstander…Hou jou vriende na en jou vyande selfs nader. (Boonop is dit ANC gebruik dat party adjunk ook dien as staats-adjunk; en CR is bloot n rat in die grooter stelsel wat nie gebruike voorskryf nie maar voortsit)Enige staatshoof sou gegewe die onlangse interne party struwelinge aan bande gelê word deur faksie politiek. Net omdat die Zuma faksie (as een van vele ander) grootendeels n nederlaag toegedien is, beteken dit nie hulle hande is afgekap nie. C.R. moet nes enige ander leier in sy posisie kompromieë aangaan. Verloor die veldslag vandag en wen die oorlog in n wyle.
Ek beskou die opposisie nie as engele nie en weet in die sfeer van politiek kan hulle in alle waarskynlikheid dieselfde foute begaan. Dit alles gesê, kan mens nie verhelp om bitter te proe wanneer die verwagtinge hoër was nie. Opposisie kan die land beter dien deur van nou af die telleurstellende aanstelings met valk oë aanspreeklik te hou… en ophou deur goedkoop uitsprake te maak wat intellektuel arm is.

Jerry ·

Tereg is dit so dat CR nie n roterende klaskaptein tipe leier is nie, inteendeel wys sy rekord dat hy n uitstekende leier en onderhandelaar is. By verre is hy die beste leier vir die tyd om rampspoed af te weer. Die feit dat hy eers met alle ANC swaargewigte beraadslaag is juis tekenend van n persoon wat nie halsoorkop besluite maak nie en wie ander se insette as belangrik ag. N leier met insig sal ook eers wag vir die aanbevelings van die staatskaping kommisie se aanbevelings en dan sal hy almal verbaas wanneer hy die gereg gaan toelaat om sy gang te gaan. So raak hy in elk geval van die staatskaping geimpliseerdes ontslae. Die VFP kan baie doen vir die beskerming van Afrikaner belange deur n hand van vriendskap en versoening na CR uit te reik, want niks sal so rampspoedig wees vir die Afrikaner as om te moet hoor dat Solidariteit en Afri-Forum nie hul mandaat gestand gedoen het om waarborge te beding vir selfbeskikking en n volkstaat!

Paul ·

Kan iemand aub help, wat het van Edna Molewa, die minister van omgewingsake geword? Bestaan die portefeulje nog en wie is die nuwe minister as dit nog bestaan, of het dit dalk met ‘n ander portefeulje saamgesmelt. Ek soek oral, maar kry niks. Baie dankie, ek waardeer.

Manie ·

CAR is n swak leier. Al wat hy gedoen het was om al die faksies binne ANC tevrede te stel. Daarom is hy bereid om skelms in sy kabinet op te neem. Hy het vir jare nie n woord gesê oor bedrog en staats kaping sodat hy kan president word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.