Nuuskommentaar: Kabinetskritiek wydlopend

Parlementsgebou in Kaapstad

Parlementsgebou in Kaapstad

Met 71 ministers en adjunkministers het Suid-Afrika nou ‘n kabinet wat groter is as die parlemente van heelwat lande. Van die algemene verwagting dat president Jacob Zuma die kabinet sou verklein om dit meer koste-doeltreffend en funksioneel doeltreffender te maak, het dadels gekom.

Die parlement van die Europese Unie wat uit 28 lande bestaan is net tien keer groter as hierdie kabinet. Die EU se “kabinet”, die Europese Kommissie, bestaan uit net 28 lede – een vir elke lidland – en daar is druk dat dit verklein moet word. Insiggewend, hoewel daar omsigtigheid moet wees om nie appels te veel met pere te vergelyk nie.

Tog, word na die kritiek van opposisiepartye gekyk, is die ministers en adjunkministers wat die mas gaan opkom, maar yl gesaai. En oor sommige ministers stem al die partye nie saam nie, soos die DA wat Angie Motshekga as ‘n goeie minister van basiese onderwys beskou – ‘n sentiment wat nie deur baie ander gedeel word nie. Die VF Plus beskou die aanstelling van die onteerde Bheki Cele as adjunkminister van landbou as ‘n belediging vir boere.

‘n Paar opsommende stellings kan oor die nuwe kabinet gemaak word:

  • Die Nasionale Vredesverdrag is waarskynlik nou finaal iets vir die geskiedenisboeke. Nie almal sou Marthinus van Schalkwyk se deelname aan die kabinet as ‘n sinvolle verteenwoordiging van “die ander kant” van die nasionale vredesverdrag beskou nie. Toe hy die gehawende reste van die NP (toe die NNP genoem) in die ANC ingelei het “om daar julle stem te gaan wees” het min mense seker verwag dat dit so ‘n bedeesde stemmetjie sou wees. En toe hy uiteindelik wel stem dik maak, naamlik by die omstrede Voortrekkermonument-gesprek tussen Zuma en die Afrikaners kort voor die verkiesing, was dit effektief baie vermanend teenoor die Afrikaner, en het dit nogtans geblyk sy swanesang te wees. Die grondwet is op hierdie akkoord geskoei, die grondwetlike beginsels is daaruit gebore.
  • Die aanwysing van Senzeni Zokwana, vorige president van die NUM as minister van landbou, met Bheki Cele as sy adjunk, lyk maar bra na donker dae vir die landbou. Dit is nou moeilik om te glo dat die georganiseerde kommersiële landbou aanvanklik in hul skik was met die aanstelling van Tina Joemat-Pettersson as minister van landbou – nou word die verligting oor haar vertrek erg getemper deur vooruitsigte wat vanuit die staanspoor nie positief lyk nie. Hoewel Tina ook ‘n kommunis is, was dit opsigtelik baie afgewater. Zokwana is egter ‘n baie uitgesproke kommunis, wat in wese die impak van die kommunisme op die ekonomiese sleuteldepartemente versterk.
  • Die Vryheidsfront Plus wys daarop dat die meeste SAKP-lede in die kabinet portefeuljes behou het, of selfs bevorder is. Die CDP meen daar is ‘n duidelike swaai na radikale links, soos ook getuig uit Zuma se aanvaardingstoespraak met sy tweede termyn-inhuldiging.
  • Waarnemers is oor die algemeen opgewonde dat mnr. Cyril Ramaphosa mede-argitek van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP), dit tog tot adjunkpresident gemaak het. Hierdeur word afgelei dat daar inhoud is in Zuma se volgehoue lippediens aan die NOP. Maar een van Zuma se getrouste kornuite, Jeff Radebe, is as minister in die presidensie aangestel. Sy invloed op Zuma gaan groter wees as dié van Ramaphosa, en hy is trouens goed geplaas om die de facto eerste minister te wees. Die DA het in reaksie op sy verskuiwing hom as power beskryf.
  • Mediaberigte oor ‘n komende propaganda-groepering is toe bewaarheid, met die SABC en die staat se inligtingdiens (GCIS) wat onder meer in dieselfde departement opgeneem word. Ontleders meen dit is om te probeer verseker dat ‘n meer positiewe beeld van Zuma in die binne- en buiteland geskep word.
  • Daar is nou geen Afrikaner meer in die kabinet nie, met slegs twee oud-NNP’s wat as adjunk-minsters “geduld” word. Oor die algemeen lyk dit of minderhede soos bruin en Indiër ook hard gestraf is omdat dié gemeenskappe, soos die Afrikaner en blankes in die algemeen, die ANC die rug toegekeer het. Minderhede wat steeds in die kabinet en as adjunk-ministers die paal gehaal het, is byna almal deur hul SAKP-vrypas daar. ‘n Ander siening is dat die kabinet die ANC se sterk bevoordeling van die “African Africans” weerspieël.

Dit is baie duidelik dat burgerlike instellings oor die volgende vyf jaar nog verder versterk sal moet word, en mekaar se hande nog stewiger sal moet vat, om die land met so min as moontlik deur Zuma se finale termyn te neem.

Landbou-organisasies soos AgriSA en die TLU-SA sal dit heel waarskynlik moeiliker vind om nie-konfronterend met die regering om te gaan. Instansies soos Freedom Under Law en die Sentrum vir Grondwetlike Regte sal hul wakende oog selfs nog verder moet opskerp.

AriForum en Solidariteit se rol gaan aansienlik uitgebrei moet word, en daarvoor is selfs nog meer steun en ondersteuning van die publiek nodig.

Opposisiepartye sal nog harder as in die verlede bo hul gewigsklas moet veg. En die onafhanklike media sal nog sterker gedefinieer hul waghandfunksie moet verrig as teenvoeter vir die propaganda-ministerie en die opkoop van publikasies deur pro-ANC-instansies.

Die voete-slepery met die kabinetaankondiging – op ‘n Sondag – het verseker dat baie koerante en waarnemers nie betyds vir vanoggend se oggendpers hul ontledings in ink kon doop nie, wat beteken dat die land nog ‘n paar dae lank met ontledings gepeper gaan word soos ‘n hele aantal “onbekendes” se geskiedenisse nagespeur en ontleed sal word.

Miskien lewer dit meer aanduidings van tegnokratiese kundigheid op, maar die geskiedenis dui op die teenoorgestelde. Voorts gaan die ontplooiing van departementshoofde en adviseurs ook ‘n impak op die geheelbeeld hê, maar tot dusver het die voorkeur vir kaders eerder as kundiges positiewe verwagtinge gedemp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.