Nuuskommentaar: Kaf en koring geskei voor mosie teen Zuma

Pres. Jacob Zuma. Argieffoto: Ntswe Mokoena, GCIS

Wen of verloor, vandag se geheime stemming in die mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma gaan die land se politieke styl merkbaar laat wysig. Dis maklik om in euforie te verval oor die opsigtelike voordele, maar politici wat nie die beste belang van die land en sy mense dien nie, sal stellig skuiwergate vind om die voordele te rysmier. Maar as dit daartoe bydra dat ’n merkbare aantal LP’s ingevolge hul ampseed stem, is al reeds heelwat vordering gemaak.

Die algemene verwagting is dat vandag se mosie van wantroue ’n lakmoestoets is vir LP’s om te wys of hulle die beste belang van die land en sy mense op die hart dra, en of hulle ’n aptyt het om verder met populistiese retoriek van flater na rampspoedige flater voort te foeter. Nie dat daar met die land reeds in rommelstatus nog ruimte vir flaters is nie.

Vandag se stemming bied inderdaad aan verantwoordelike LP’s (en ’n mens wil graag glo dat hulle in die meerderheid sal wees) die geleentheid om so te stem dat onbevoegde persone nie weer ’n amp sal ruik nie.

Een wat homself mooi so kom opdring het, is die adjunk-minister van hoër onderwys, Mduduzi Manana. Hy is nou in die spervuur omdat hy, volgens beeldmateriaal, ’n vrou in ’n eetplek aangerand het. Dis die einste persoon, wat volgens ooggetuies, tydens die parlementêre debat oor plaasaanvalle uitgeroep het: “Bury them (die boere) alive!” Hy het op die oog af daarmee weggekom, maar Google het ’n baie lang geheue.

Het die ANC destyds gepas teen hom opgetree, het die party nie nou hierdie verleentheid gehad op die vooraand van die mosie van wantroue nie. Die party kan net homself bedank, net soos die party pa en ma moet staan daarvoor dat Zuma nog president is en volhou om die land en die ANC in ’n ernstige knyp in te “bestuur”. Juis nou dat daar weer ’n vlaag wrede plaasmoorde is, laat Manana se beweerde optrede in die parlement ’n besonder bitter smaak.

En die #GuptaLeaks is nog lank nie klaar nie. Juis vanoggend berig die Daily Maverick dat Zuma self bevoordeel is deur miljoene rande wat die Guptas gespandeer het om die huis in Waterkloof van Zuma se vrou, Bongi Ngema-Zuma, af te betaal. Dié bewerings is voorheen in geen onseker terme nie ontken deur ’n antwoord wat deur Bell Pottinger voorberei is.

Politici is egter nie al wat vandag terug “skoolbanke” van harde politiek toe is nie. Die “skoolklok” lui ook vir ’n groep akademici, intellektuele en senior joernaliste wat taai in die bek byt oor die geheime stemming wat plaasvind. Die basiese argument klink heel edel – hoe minder in ’n oop demokrasie (of eintlik enige politieke bestel) in die geheim gebeur, hoe beter. Openheid moet die sleutelwoord wees.

Waar dié argument werklikheidvervreemd raak, lê ietwat elders, naamlik Suid-Afrika se verknogtheid aan die stelsel van koukusgebondenheid. In die VSA het pres. Donald Trump, ten spyte van uitgebreide presidensiële magte, hom ’n paar keer teen die kongres vasgeloop al het sy party meerderhede in albei huise. Die VSA se volksverteenwoordigers is egter primêr aan hul kiesers verantwoordbaar, en nie die party nie. Hulle kan dus volgens hul gewete stem, al beteken dit dat hulle dan saam met die opposisie stem (van wie se verteenwoordigers weer saam met die meerderheidsparty kan stem).

Dis egter nie heeltemal so eenvoudig as om die Amerikaanse stelsel as ideaal voor te hou nie. Dit leen hom tot die ontwikkeling van belangegroepe en “lobbies” wat hard werk om verteenwoordigers te identifiseer wat “geswaai” kan word, en dan daarvan werk te maak. Omkopery en ander ongerymdhede het al voorgekom, en deurlopend word aan wetgewing en reëls gewerk om die leemtes teen te werk.

Die Suid-Afrikaanse stelsel van koukusgebondenheid kon weer nie voorkom dat staatskaping plaasvind, en enkele politici skynbaar diep kon skep nie. Al manier om die gewenste openheid te verkry, is deur ’n geheime stemming. Dis wel ’n pragmatiese eerder as beginseloorweging. Maar tot tyd en wyl die stelsel van koukusgebondenheid getemper is (soos wat die konstitusionele hof nou die saadjies van gesaai het, en die speaker, Baleka Mbete, die saailinge uitgeplant het), is die geheime stemming die suiwerste manier om moontlik die LP’s so ver te kry om die regte ding te doen.

Totdat die geheime stemming plaasvind, sien die land nou nog ’n aspek van demokrasie in aksie, naamlik massa-optrede waar mense met hul voete gaan “stem”. Neem dit ’n groot genoeg omvang aan, behoort dit weifelaars te oortuig om hul kruisies so te trek dat Zuma môre ’n oud-president is. Hoewel Suid-Afrika nie ’n formele stelsel van “lobby” het nie, kan aanvaar word dat LP’s vandag goed bearbei gaan word om na die een of ander kant te stem.

Of die bevoordeeldes van patronaatskap, of veral die bevoordeeldes van staatskaping, nou in die lig van onthulling op onthulling LP’s te probeer omkoop om Zuma te steun, is byna ondenkbaar. Boonop veroorsaak die geheime stemming dat diegene wat omkoop, geen waarborg het dat die omgekooptes wel vir Zuma gaan stem nie.

Die geheime stemming maak dit ook moontlik vir die tegnokrate in die ANC om hulself ongewoon te laat geld.

Die buitelandse media is ook nie baie vleiend teenoor Zuma se jongste tameletjie nie.

Buitelandse media

Trouw skryf onder meer soos volg: “De Zuid-Afrikaanse president Jacob Zuma moet vrezen voor zijn positie. Het parlement stemt vandaag voor de achtste keer over een motie van wantrouwen tegen Zuma. Maar deze keer is de stemming geheim en dat vergroot de kansen van de oppositie.” Lees meer  hier.

Die Telegraph stel dit soos volg: “Jacob Zuma, the South African president, will face a vote of no confidence on Tuesday conducted by secret ballot, a move which increases the chances that he may have to step down.

“The motion, which will mark the seventh (eintlik agste keer) attempt by opposition parties to remove Mr Zuma from office, comes amid mounting public concern over the president’s performance.

“It was first tabled by the opposition Democratic Alliance (DA) after Mr Zuma ordered a major cabinet reshuffle in March and fired the country’s respected finance minister, prompting the nation’s credit rating to be downgraded to junk.” Lees meer  hier.

The Guardian stel dit so: “A vote on a no-confidence motion that could oust Jacob Zuma is to be held as a secret ballot, increasing the chances that South Africa’s president since 2009 is poised to lose office.

“Baleka Mbete, the parliamentary speaker and national chair of the ruling African National Congress, told reporters on Monday the surprise decision had been made “to ensure the outcome of this very important vote is credible”. Lees meer hier

Jason Burke in The Guardian skryf soos volg: “Jacob Zuma: his exit might be anything but dignified.” Lees meer hier

Wat ook al vandag se uitslag, ’n grootskaalse herskikking van die politiek begin vandag reeds. As Zuma vandag oorleef, gaan sy oorblywende termyn (tot Desember as president van die ANC) en tot 2019 as staatspresident ’n nagmerrie wees. Die #GuptaLeaks is wawyd wakker, en hy sal net eenvoudig nie weet wie in sy eie party om meer te vertrou nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Henk ·

die ANC beloon die wat die meeste en oor die grootste moeilikheid uitgevang word!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.