Nuuskommentaar: Kakistokrasie versus tegnokrasie vir Afrikaans

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê selfbestuur sal nog momentum kry soos wat Afrikaners sien hoe hierdie projekte sukses begin behaal. Foto: Reint Dykema.

Terwyl die Konstitusionele Hof gister, volgens sommige kommentare, Afrikaans minstens op tersiêre vlak ’n nekslag toegedien het, het die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad op dieselfde dag groot entoesiasme by baie gebring oor ’n lewensruimte vir Afrikaans en sy sprekers.

Gister was dit Heldedag (vir die Afrikaner), maar soos Geloftedag is dit nie meer op die kalender as sodanig aangedui nie. Saam met Hemelvaart en Stigtingsdag is die kalender van dinge wat die Afrikaner oor baie jare gekoester het of sy eie gemaak het, formeel nie meer deel van die land se simboliek nie. Maar is die Afrikaner en Afrikaans nog deel van hierdie land waar so baie aandui hulle voel soos vreemdelinge in hul eie land?

Boonop was daar gister die finale uitspraak in die Konstitusionele Hof oor die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid, en die vernaamste konsensus is dat dit ’n reuseterugslag vir Afrikaans is. (Laat ʼn mens liefs nie hierdie geleentheid benut om dit meer simbolies beskrywend maar minder fatsoenlik te beskryf nie.)

Op dieselfde dag is egter ook ’n belangrike beraad, ’n Toekomsberaad, onder leiding van die Solidariteit Beweging gehou. ’n Pad vir Afrikaanssprekendes en Afrikaans is uitgespel, en van groot geld is gepraat, maar nie net gepraat nie, dit is reeds op indrukwekkende wyse besig om te realiseer – al sê die aljimmerse bitterbek Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi (die uwe is sterk in die versoeking om sy aanvanklike disleksiefout, Lefutseki, net so te gebruik), en sy kollegas dis ’n gruwel.

Dié beraad is veel meer as ’n beraad van hoop, dit realiseer. Die Afrikaner, wat voel Afrikanerhelde het verdwyn, sal iewers in die nabye toekoms sy geskiedenis weer ruim met helde kan aanvul. Ja, ’n kombinasie van ontnugtering en Christelike versobering en afkeer van menseverering het ’n impak op die definisie en hantering van helde, soos dat een wat uit sy min, baie vir die armes gedoen het, teenoor die welvarende wat groot planne met fanfare ophemel maar in die praktyk niks doen nie.

Maar nou word veel deur talentvolle, beskeie mense gedoen en sal dit moeilik wees om mense soos Flip Buys en Dirk Hermann, om maar ’n paar te doen, met hul instemming in ’n heldegalery van leiers op te neem.

Hannes Noëth tydens Solidariteit se 2019-Toekomsberaad. (Foto: Reint Dykema)

Danksy Sol-Tech, Akademia en ander sal baie Afrikaanssprekendes hul studies in Afrikaans kan voltooi. Danksy AfriForum kan baie Suid-Afrikaners nou veiliger slaap. (Lees gerus Maroela Media se artikel oor Solidariteit se Toekomsberaad van hoop.)

Die entoesiasme van die mense wat die beraad bygewoon het, staan in skrille kontras met die uitsprake van belanghebbendes oor die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die US se taalbeleid. Die uitspraak, en veral die minderheidsuitspraak, is egter minder Afrikaansverwoestend as wat die aanvanklike berigte aangedui het. Daarvolgens behou Afrikaans (en ander inheemse tale) sekere regte soos in die 2016-taalbeleid opgeneem, maar die onus berus by veral die Afrikaanse studente om sekere prosedures te volg om daardie regte af te dwing. Sodoende gaan draai elke dingetjie nie in die (peperduur) howe nie. Lees gerus Maroela Media se berig oor belanghebbendes se reaksie op die hofuitspraak hier.

Gaan die belanghebbendes bereid wees om die verlangde prosesse te volg, want volgens die aansoekers wat die hofaansoek gebring het, ignoreer die US daardie dele van die beleid wat vir Afrikaans ’n staanplek bied.

Miskien is die woord “piesangrepubliek” meer korrek om die huidige gehawende Suid-Afrika te beskryf as kakistokrasie, maar dalk is die twee terme ook bitter moeilik te onderskei. Hoe kan enige staatsbestel waar die Lesufi’s, Malema’s, Zuma’s, Gupta’s, Magashule’s en ander ’n invloedryke sê het, of gehad het, enigiets anders as ’n kakistokrasie beskryf word? ’n Land wat in weerwil van sy grondwet en die talle internasionale verdrae wetgewing gaan deurvoer vir grondgryp sonder vergoeding?

Dr. Danie Langner van die FAK wys die helde van die Afrikaanse gemeenskap uit. Foto: Reint Dykema.

Danksy Solidariteit en ander instansies waar Afrikaans sentraal staan, funksioneer ’n de facto tegnokrasie reeds taamlik goed in Suid-Afrika. Daar is baie definisies vir tegnokrasie, insluitend spookstories soos dat dit anti-demokraties of anti-Christelik sou wees. ’n Behoorlike studie bring aan die lig dat dit bloot beteken dat wanneer die regering sy vermoë verloor om ’n land effektief te regeer, kundiges op verskeie maniere hul kundigheid aangewend kry om die (demokraties verkose) regering in staat te stel om kundigheidsgebreke te oorkom. ’n Gebrek aan kundigheid is nie al probleem nie. Institusionele rassisme en die kleptokratiese staatskaping wat die land beleef het, is self enorme probleme en sal nie sonder ’n tegnokratiese inspanning oorkom kan word nie.

Baie politieke nuutskeppings gaan ander terme gebruik as die bekendes soos kakistokrasie en tegnokrasie, en unieke omstandighede gaan nuwe terme vereis. Hiermee kan taalkundiges sterk handjie bysit om soos die mense van Ysland maak, om nie elke keer as nuwe tegnologie nuwe terme vereis, dit bloot uit Engels te gaan haal nie. Daar word eerder woorde uit die ou Skandinawiese tale wat in onbruik verval het gesoek, en hieruit woorde gekies wat pas by nuwe goed soos TV’s, telefone, moderne rygoed en ander.

Die positiewe gesindheid wat hom in weerwil van die hofuitspraak manifesteer word soos volg deur Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond saamgevat: “Wat jammer is, is dat Engels die enigste wenner is van die taalgesprek in Suid-Afrika. As die geskiedenis eendag ʼn oordeel moet fel, sal dit met ernstige spyt wees dat die maklike uitweg in 2019 gevolg is. Die nuwe taal kolonialisering vind plaas deur ideologie wat in die howe en deur politici bevorder word. Afrikaanssprekendes moet egter nie moed verloor nie. Daar is soveel ander inisiatiewe wat deur Afrikaans ʼn verskil gaan en sal maak. Dit is die positiewe ervaring wat ons elke dag beleef.

“Die durf en die liefde wat al die gebruikers van hierdie taal het, is ontwikkel uit die ryke verskeidenheid van mense wat hierdie hul vaderland noem. Sulke (hof-) uitsprake kan net tydelik die taal se pas inkort, maar dit sal net met meer weerbarstigheid oor grense breek en blom soos wat reeds ervaar en versien word … ’n taal sonder grense!”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Lollie

Pragtig Solidariteit! Ek stem vir Afrikaans en SO bly julle baklei daarvoor en vermag so baie. Baie dankie!

Die Stem

Die Stem en Oranje Blanje Blou en Die Vierkleur sal altyd my prioriteit bly tesame met my Afrikanerskap en Afrikaanse Taal.
Dit is soos dit is.

Afrikaans

Ek vir jou – Suid-Afika!!
Dit is waarvoor ek staan.
Geloof , Respek en liefde vir my Taal, my Land en my God.

Jerry

Dit is n feit dat afrikaans n taal is sonder grense, daarvan getuig afrikaans wat emigreer asook mense van verskillende rasgroepe wie bly en wie die taal magtig is en wie die taal praat. Pompjoggies, mediese personeel, sekuriteit, winkelassistente, tuiniers, huishoudsters, bedelaars ens. oor alle rasgrense praat steeds die taal. Dit is net die rewolusionere politici, howe en aktiviste teen afrikaans wie afrikaans as die taal van die verdrukker beskou en om daardie rede die taal en die sogenaamde verdrukker teiken. Die een se dood is die ander een se brood is van toepassing waar afrikaans sonder enige daadwerklike effektiewe… Lees meer »

humor

Ja baie waar. Daar is nie net hoop nie, sake en instansies is besig om te realiseer. Maar en dit is n groot maar ons mag nie net teen burgerregtelikeliggame oprank nie. Dia Afrikaner SAL MOET BESEF die tyd is daar en dit is nou om ons almal met woord en daad by hierdie liggame te voeg en ons sal harder moet praat en werk.