Nuuskommentaar: Kan Afrikaanse joernalistiek homself aan skoenveters optel?

Argieffoto

Argieffoto

Voor die vraag of Afrikaanse joernalistiek hom aan sy skoenveters kan optel behoorlik beantwoord kan word, moet stellig gevra word of Afrikaanse joernalistiek nodig het om reggeruk te word.

Die antwoord is ongelukkig so kompleks soos die vraag. Dit hang af van faktore soos of Afrikaanse joernalistiek, soos baie nuusmedia elders in die wêreld, nog finansieel goed vaar. Slaag dit daarin om die lesers lojaal en in gelid te hou? Bly die kwaliteit goed? Is die nuusvoorkeure in die kol?

Soveel lesers, en soveel luisteraars, en daar sal net soveel antwoorde wees.

Omsigtige antwoorde sonder ’n duidelike “ja” of “nee” en baie kwalifiserende verduidelikings.

Maar kom ons pas vir ʼn oomblik “hoepeljoernalistiek” toe. Hoepeljoernalistiek kan twee betekenisse hê. Die een is dat die media deur die hoepel van die base of die adverteerders spring, en hom weinig steur aan nuus om die nuuswaarde daarvan. Die meer gebruiklike aanwending van die woord is egter dat die media die vrae só vra dat die persoon met wie die onderhoud gevoer is, eintlik net “ja” of “nee” kan antwoord, al beteken dit dat die storie in die proses erg skeefgetrek word. Dit gebeur veral as die vraesteller se eie agtergrond hopeloos onvoldoende is, of wanneer hy/sy erg bevooroordeeld is. Ons sien dit dikwels op TV – die ateljeegas wil nog iets verduidelik, dan is die volgende vraag reeds gevra. Onder andere is ’n sekere Chester Missing baie lief hiervoor.

As die media self net toegelaat word om deur die hoepel te spring wat die vraesteller stel, sal dit waarskynlik so klink: Die gedrukte koerante is veral in die knyp want hul lesersgetalle neem byna voor die voet af. Die kubermedia sukkel dikwels finansieel omdat dit nog nie die vertroue van adverteerders het nie. TV-nuus is gewild maar die objektiwiteit word bevraagteken. Die radionuus kom dikwels nie heeltemal tot sy geloofwaardige reg nie, want die radio word te sterk met vermaak geassosieer.

Watter mediavorm gaan die sterkste daarin slaag om die wolf van die deur te hou? In die VSA is daar selfs ’n uitdrukking vir die media om homself uit die knoffel gelig te kry – bootstrap journalism. Waarskynlik die mees beskrywende Afrikaans hiervoor al wees, joernalisme wat homself aan sy eie skoenveters optrek.

(In die ou dae kon “bootstrap journalism” ook kuise joernalistiek beteken. Die “bootstrap” is toe ook soms ingespan om vroulike ruiters se lang rokke aan hul rystewels vas te maak sodat daar nie per ongeluk ’n stukkie kuit wys nie).

In ’n sin het Afrikaanse media dit moeiliker as byvoorbeeld Engelse media.

Baie nuusvoorsieners, soos Sapa, is net in Engels beskikbaar. Dikwels was die oorspronklike berig in Afrikaans geskryf, en vir gebruik deur Sapa in Engels vertaal, en wat dan weer deur die eindverbruiker in Afrikaans vertaal of herskryf word. Die lys foute wat in die proses gemaak word, word by die dag langer en langer namate Engels sy voetspoor sterker en sterker op Afrikaansgebruikers afdruk.

Dan is daar die druk op taalstandaard. Namate koerante personeel, veral ervare personeel met ’n korporatiewe geheue, moet verminder, raak dit moeiliker om te hou by die norm wat tradisioneel van Afrikaanse koerante verwag word om die standaard en gebruik van Afrikaans te wees. In ’n dialekdeurspekte Europa het formele Bybelvertalings dikwels die vorming van ’n standaardtaal gefasiliteer, maar daarna moes die groter nuusmedia met meer hulpbronne die aflosstokkie neem om die taal na die breë bevolking te standaardiseer, en teen onnodige veranderingsdruk te bestendig.

Daar is ook ander klippies in die skoen. Veral een koerant het erg onder skoot gekom vir wat “hoernalistiek” gedoop is. Hoernalistiek, het dit geblyk, kan enorme skade aan versoening in ’n heterogene land soos Suid-Afrika aanrig as dit politiek-eensydig is, met stewige trekke van adolessensie, en so eerder ’n ideologiese obstruksie as meningsvormer word. Hoewel koerante tradisioneel in die Afrikanergemeenskap moontlik steeds die grootste meningsvormer is, is dit lank nie meer die enigste nie, en veral die kuberruim verseker dat ’n stroom alternatiewe (en dikwels versteurde) sienings verby hierdie obstruksies vloei, en die obstruksie se geloofwaardigheid word oor ’n wye ideologiese spektrum gerysmier.

’n Manifestasie hiervan is wat in Engels as “bashing” bekend staan. Op die oomblik “ry Suid-Afrika op die golf” van Zuma-bashing – van links en van regs en vanuit die middelgrond. Op die oomblik is FW-bashing ook weer flink aan die gang. Meer in joernalistieke verband, is daar egter ook ’n streep ander, soos Piet-bashing, Peertjies-bashing, Christi-bashing, Adriaan-bashing, regses-bashing

Dit is nie tot die sosiale media beperk nie. Van die slagoffers hiervan het juis groot teikens op hul rûe geplak deur ander in die hoofstroommedia te gaan aanval. Ter demonstrasie – die Front Nasionaal het pas in ’n verklaring baie bitter gereageer oor aantygings, “wat ʼn presiese en klakkelose herhaling van Piet Croukamp se stelling oor die naweek is” dat Clive Derby-Lewis se mislukte aansoek om mediese parool, aan die optrede van sy regse vriende te wyte is. Veral die Vryheidsfront Plus word toegetakel. Die FN erken wel dat daar tydens ʼn optog ʼn vlag verbrand is, maar nie ’n SAKP-vlag nie, een waarop die SAKP se simbool self aangebring is.

Maar wat sou ’n gepaste Afrikaans hiervoor wees as die media dit aanwend, of hom deur rubriek- en briefskrywers daarvoor uitleen? Dalk pletterjoernalistiek? Let wel, daar is niks mee verkeerd om pletterjoernalistiek in geregverdigde gevalle in te span nie, mits dit natuurlik met joernalistieke volwassenheid hanteer word en die felheid daarvan deur die omstandighede geregverdig word. Daar sal byvoorbeeld nie juis ’n wenkbrou gelig word as diegene wat die land weens Anine Booysen-tipe aanvalle op Bredasdorp op hol het, behoorlik onder pletterjoernalistiek deurloop nie.

En min verantwoordelike mense sal dink ’n sagte hantering van plaasaanvalle, of nog erger, die verswyging van plaasaanvalle, is gepaste joernalistiek vir hierdie euwel. In sekere gemeenskappe sal die lesers eenvoudig ’n onverdunde pletterjoernalistiek van die media verwag om almal by te dam wat tot die euwel bydra – van die (soms) lakse polisie tot die politici wat horende doof bly, en “meningsvormers” wat skoorvoetend is om die probleem verbaal te takel. Volksblad het onlangs skitterend geslaag toe ’n vlaag grusame plaasmoorde die Vrystaat getref het.

Om duidelik en korrek op te tree verg dat die media behoorlike en gepaste leiding van bo – die direksies, kry.

As deel van die navorsing vir hierdie nuuskommentaar is na die samestelling van Media 24 se direksie gekyk. Onder die direksielede is ’n hele aantal wat goed in die finansiële wêreld gekwalifiseer is. So ver vasgestel kan word, het nie een formele kommunikasie-opleiding nie. Net een, Niel van Heerden, oud-DG van buitelandse sake, het vermoedelik op BA-vlak opleiding in politieke wetenskap. Een, ’n gewese skoonheid, se aanstelling is openlik geloof as ’n stewige bydrae tot die groep se SEB-telkaart (is dit nie dalk rassisties-beledigend nie?). By een se indrukwekkende CV was dit nodig om te meld dat die persoon ook ’n aktivis is.

Maar, verklaar dit nie sekere omstrede joernalistieke aanstellings wat konfrontasie met die lesers ontlok nie – veral vreemd as so ’n publikasie sirkulasiegewys die kreeftegang gaan nie? Verklaar dit nie die effe vreemde besluit om Volksblad – die enigste in die groep wat wins maak – te sluit nie? ’n Besluit wat na groot openbare druk omgekeer is.

Of is die direksie bloot ’n (peperduur) rubberstempel vir besluite wat op ander vlakke geneem word – dalk goeie besluite wat ’n waarnemer van buite weens ’n gebrek aan inligting nie reg kan beoordeel nie?

Die Independent-groep is onder geweldige openbare opinie-druk sedert die Sekunjalo-groep die Independent oorgeneem het en skynbaar sterk simpatiek na die ANC leun. Die Guptas se New Age is mildelik deur staatsadvertensies beloon.

Dit alles verander egter niks aan die vraag nie. Kan die Afrikaanse media, en in die besonder die koerant, hom aan sy skoenveters optel?

As na internasionale tendense gekyk word, gaan veral die gedrukte media ongeag die nommerpas-gehalte onder druk bly en waarskynlik onder groter druk kom. Die migrasie na die kuberruim gaan waarskynlik voortgaan, maar die kuberruim kan slegs dieselfde gehalte diens bied as die adverteerders hul kant bring.  Elke stuk rommelpos wat in iemand se posbus beland wat eintlik as advertensies in die media gehoort het, tap die lewensvatbaarheid van die media. Hiermee word nie dit bedoel wat as deel van die mediamengsel in elk geval die posbus sou verstop het nie, maar wanneer die media nie meer sy deel van die mediamengsel-koek kry nie.

Dit het ander implikasies as net die lewensvatbaarheid van die media. Hierdie rommelpos skeep dikwels Afrikaans selfs in oorwegende Afrikaanse woonbuurte af. Waar dit wel in Afrikaans gedruk is, is dit soms duidelik dat dit nie deur die kundige hande van die koerant se taalmense is nie, en word “skruk wêkende Avrikaans dukwels gepleeg”.

Uiteindelik is dit die nuusverbruiker self wat gaan bepaal watter produk hy gaan kry. Maar voor ’n nuusmedium net geboikot word oor sy vrot Afrikaans, maak die saakmakende mense in daardie medium daarvan bewus. Voor die politiek-ideologiese aanslag soveel aanstoot gee dat die medium die rug toegekeer word, laat weet. As die medium nie die nodige volwassenheid aan die dag lê nie, laat weet die saakmakende mense. Gaan na die direksie, indien nodig.

Afrikaans het al sy mediavorme nodig – gedruk, die radio, die TV en die kuberruim, en van hoë gehalte wat die nuusverbruikers toerus om met waardigheid enige plek ter wêreld as toonbeeld van ’n waardevolle verteenwoordiger van die skoonste taal te kan dien.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

23 Kommentare

Willem ·

Herman,

100% korrek en is dit kommerwekkend, maar glo ek die Afrikaanse media (nie Meroela Media nie) word verseker van bo af met hul aanstellings en die rubriekskrywers wat hulle in plek het, ingespan om die Afrikaner, die Afrikaanse taal, kultuur en instellings verdag te maak en af te breek by wyse van disinformasie en selektiewe beriggewing.

Kyk maar byvoorbeeld hoe vinnig is hulle en veral Adriaan om op enige iets wat die Afrikaanssprekende en die Afrikaner by betrokke is verdag te maak. Adriaan storm net voort en kan ‘n mens sien hy werk onder opdrag, hy is met ‘n spesifieke doel daar en hy leef hom daarin uit. Hy kan nie gou genoeg reageer nie. Vir Max het die SA geskiedenis in 1948 begin. Die mense is manipuleerders.

RSG het sy eie skoot mense wat sorg dat die Afrikaanssprekendes afgebreek word by wyse van sekere aanbieders se kommentaar wat eensydig en op die helde van die geskiedenis pik en waar hulle kan verdag te maak.

So is hier verseker ‘n georkestreerde aanslag teen die Afrikaner.

Die felheid gaan toeneem met die aanslag teen die Afrikaner, die Afrikaanse taal, sy kultuur en daardie instellings, ook deur die ANC en die SAKP, hulle begin al klaar ook van graad R af. Dus is die totale aanslag met ons. Dit is nie eens meer subtiel nie.

Ons is in ‘n krisis, wel ons is verby dit. Ek glo werklik die enigste mense wat mens werklik met die toekoms van die Afrikaanse taal en die Afrikaner se identiteit en sy instellings kan vertrou is Solidariteit met sy vertakkinge. Ek glo ook hulle het dit erns met alle mense sonder bymotiewe, in teenstelling met die voormelde, en is opregte en eerlike mense op wie ‘n mens kan vertrou.

Ons het lankal vertroue in die ander verloor.

Willem ·

Herman,

Ek lees in die afgelope week Christi van der Westhuizen se skrywe in Beeld oor FW, Dan lees ek nou vandag in Rapport die laaste sin in Tim se rubriek. Die twee rubriekskrywers is ligjare van mekaar verwyder. Sy is soos daai persoon van wie Tim in die voorlaaste paragraaf in sy skrywe van praat.

Willem ·

Ek moes ook Leopold Scholtz se naam bygevoeg het. Hy en Tim is die realiste. Hulle kan dinge in konteks sien en evalueer.

Dan kry jy maar mense soos AB en Christi wat net stroomop is, wat nie weet wat realisme is nie, maar hulle klou aan hul skewe beeld omdat hulle niks goeds in enigiets wat Afrikaans of die Afrikaner is kan sien nie. Dit is soos ‘n rooi doek, as hulle daai doek sien, bou daar ‘n weerstand in hulle op wat outomaties is, dit lyk of dit buit hul beheer is.

Herman Toerien ·

Ter wille van my verbintenis tot billikheid. Ek het die volgende inskrywing op my Facebookblad gekry van Hennie van Deventer, oud-redakteur van Volksblad, en afgetrede direkteur van Nasionale Pers of Media 24: “Hennie Van Deventer Die direksie kyk na die sakemodel van die maatskappy en het mos absoluut niks met die joernalistieke model van individuele publikasies te doen nie, Herman.”
Ek stel sake graag reg. My eie gevoel is dat Media 24 dan ook net versigtiger moet wees hoe maatskappynuus oor bv aanstellings ook aan die nuuskant, oor veral News 24 aangekondig word. Onlangs is bv aangekondig die direksie het ‘n nuwe nuushoof aangestel, en een van Media 24 se dagbladredakteurs bykomend as hoofredakteur van Media 24 se koerante aangestel. Dit skep bepaald die indruk na buite dat die direksie hom besig hou met al die vertakkinge van die maatskappy.

Gwen ·

Hennie van Deventer is seker die laaste een wat kan praat oor joernalistiek en die etiek daaragter. Hy het bygedra tot die ondergang van die Afrikaner die hy redakteur van Volksblad was.

Ek het min hoop vir die Afrikaanse joernalistiek as ek kyk na die gehalte van joernalistiekdosente aan die enkele Afrikaanse universiteite wat oor is. Die Afrikaner word in al wat ’n publikasie van Media24 is sleggepraat of stil gemaak.

Selfs Maroela ontkom nie aan hierdie probleem nie deurdat hy oorwegend Solidariteit/Afriforum se agenda (wat nie noodwendig pro-Afrikaner is nie maar wel ten gunste van die DA) in sy berigte laat deurskemer.

Hierdie nuuskommentaar van Herman is na my mening die enigste deel van Maroela wat die Afrikaner uitdruklik goedgesind is.

Thys Human, Pretoria ·

Ek vind dit verstommend dat ‘n ervare koerantman soos Hennie van Deventer die bewering kan maak dat die direksie van ‘n mediamaatskappy “niks te doen het” met die joernalistieke model van publikasies nie. Want baie duidelik bedoel hy met “joernalistieke model” eintlik die politieke, kulturele en groepsgebonde inslag en aanslag van ‘n publikasie. En veral dan moet ek heftig van hom verskil en hom daarop wyse dat die “koerantbase” soos ons hulle jare gelede al genoem het, WEL bree beleid van hulle publikasies bepaal of as geldig stel. Dikwels word hierdie beleid deur die “grootbaas” van die groep verwoord – en nie net in opdragte en voorskrifte nie (eintlik selde iets van die aard) maar deur die aanstelling van redakteurs wat die bree siening steun en sal uitdra. Hennie sou nooit redakteur van die Volksblad geword en gebly het as hy nie die NP van destyds in die bree gesteun het nie – selfs toe daar van vroeere NP-beleid afgewyk is met PW se “gesonde magsdeling” en toe sy “Nuwe bedeling”. Net soos wat ek nie as Oggendblad se redakteur sou kon aanbly het nadat Marius Jooste oorlede is en Willem van Heerden as voorsitter oorgeneem het nie – selfs al het Oggendblad na ’83 bly voortbestaan. Perskor se koerante moes noodgewonge agter PW en sy beraders aanhol – behalwe dat minstens een van hulle selfs te vinnig en te ver gehol het na Willem en kie se sin.

Dit wil voorkom of Naspers onder Ton se baie “bree” beleid ‘n veelheid van sieninge binne die groep handhaaf. Herman het self onlangs verskille tussen die Burger en Beeld se siening oor KKNK en Hofmeyr uitgewys en daar skyn ook ‘n verskil in aanslag te wees tussen Beeld en Rapport se redakteurs. Dit wil amper lyk of daar erkenning verleen word aan “streeksgerigte” sieninge, maar met die dat die Naspers koerante nie meer elkeen sy eie webblad het nie en ek eenvoudig weier om vir internet toegang tot ‘n webblad te betaal, is dit moeilik om hier van ver te bepaal wat eintlik aan die gang is. Dalk het Ton nou maar “baasskap” oorgedra aan mense wat in die koerantgroep in beheer oor media aangestel is

Maar een ding kan ek met sekerheid voorspel: Hierdie veelledige benadering kan nie volgehou word nie. Dit skep erge spanninge en later selfs botsings.

Terloops, mense kan gerus gaan kyk hoe lyk Naspers se direksie deesdae. Pas weer is aangekondig dat Mark Sorour en Steve Pacak as uitvoerende direkteure aangestel is. Die uitvoerende lede van die die direksie is: Bob van Dijk, Basil Sgourdos en Mark Sorour.

En die direksie en bestuurspan van Media24 – beherende maatskappy van alle publikasies – lyk net so “bont” en “multikultureel”!

Klink nie vir my soos “ons mense” nie!

Herman Toerien ·

Sedert my vorige inskrywing was daar op my Facebookblad nog ‘n wydlopende debat oor die aaangeleentheid waaraan onder ander Hennie van Deventer ook deelgeneem het. Ek het versoek dat die debat hier, wat die regte plek is, gevoer word maar dit het nie reaksie ontlok nie. Hennie het oplaas aangedui dat die direksie (in die algemeen en nie noodwendig dié van Media 24 nie) wel al swak redakteurs aangestel het, en selfs ‘n naam genoem. Hoewel my en sy feite ooreenstem, meen ek die nuanseverskil is groot genoeg dat hy van my verskil. Ek wil en kan uiteraard nie graag die debat “namens” hom voer nie. Ander deelnemers het ander aspekte ook aan die bod geplaas, soos die nodigheid van kwalifikasies, en sesifiek ‘n kwalifikasie in joernalistiek, en tereg daarop gewys dat nie almal met die toepaslike kwalifikasie daartoe in staat is om die werk te den nie. Ek self het nie universiteitsplleiding in kommuniksiekunde nie, slegs ‘n hele rits indiensopleidingskursusse wat saam seker net so tien weke geduur het. Ek kan dus nie oor die waarde oordeel nie. Vir my persoonlik het kursusse in oorredingskommunikasie, interkulturele kommunikasie en strategiese kommuniksie veel meer beteken. Natuurlik beteken sulke kursusse net iets as ‘n mens die regte bedsaaitsmênners het, waarvoor ek nie juis afgerond is nie.

Henry ·

Ondervinding het reeds oor en oor bewys dat ‘n toepaslike universiteitsgraad of kursusse nie die tower formule is, wanneer daar na die praktyk se kant toe beweeg word nie. Mens kan skryfkursusse volg dat die biesies aan’t tril gaan, maar dit gaan geen versekering bied dat jy die volgende Wilbur Smith Of Deon Meyer gaan wees nie.
‘n BA LLB is geen waarborg dat die betrokkene ‘n goeie advokaat gaan wees nie. Die vermoë om aangeleerde teoretiese vaardighede, doeltreffend in die praktyk korrek in te span, is eweneens noodsaaklik.
Nietemin. In die joernalistieke wêreld is ‘n vermoë om ‘n storie op/na te spoor en op taalvaardige wyse ‘n nuuswaardige gebeurtenis te beskryf, of kommentaar te lewer, die belangrikste vereiste. Mynsinsiens.
Kursusse en grade kan ingeryg word tot die koeie huistoe kom, maar dit gaan steeds geen versekering verskaf dat ‘n siel in ‘n uitnemende joernalis gaan ontwikkel nie. Ek vermoed dat die ou gesegde ook in die joernalistieke wêreld geld: Jy het dit of jy het dit nie,

Henk ·

My persoonlike opinie oor joernalistiek –
Eerstens moet redakteurs ophou om gatkruipend te wees. ‘n Feit is ‘n feit en enigiets ander as die waarheid is ‘n leuen. Hou op om alles “polities korrek” te wil doen. Hou op om alles in die pers as rassisme aan te spreek wanneer die “oortreder” wit is en dit doodeenvoudig net as misdaad af te maak as die “oortreder” swart is.
Redakteurs moet ophou om te dink hulle is in beheer van die wereld met ‘n ongesonde magsbasis deurdat hulle die pers kan gebruik om alles en almal te manupileer. Ons land se geskiedenis is deurspek daarvan.
Joernaliste moet FEITE weergee soos wat dit is en ophou skuil agter “misverstande” weens die taalgebruik en vertalings kwessies tussen Engels en Afrikaans. Die Britte poog steeds soos in die verlede om via die media beheer te neem oor die Afrikaans sprekende en die engelse taal op almal regdeur die wereld af te dwing.
En Koos Bekker en sy gespuis van Media 24 staan aan die voorpunt in die aanslag. Is ek verkeerd? Waarom het hy dan die gebruik ingestel dat jy vir Afrikaanse nuus op die internet betaal?

Henry ·

Wortel van die kwaad lê by jou raakvat opmerking:
“…Hou op om alles “polities korrek” te wil doen…”
en
“…Joernaliste moet FEITE weergee soos wat dit is en ophou skuil agter “misverstande” weens die taalgebruik en vertalings kwessies tussen Engels en Afrikaans…”

Foeitog ja. Enige siel wat hom/haarself as ‘n joernalis in Suid Afrika wil voordoen, behoort minstens bo-gemiddelde Afrikaans/Engelse taalkennis te hê. Andersom gestel, is dit aanvaarbaar dat ‘n brandbestryder wat by ‘n vuur opdaag sê: “Sorrie, maar waarmee en hoe gaan ek die vuur blus”?

Ag en kan ons nie maar vrede maak met die feit dat ons in die 21ste eeu leef nie? Ruimte vir mekaar se verskille te laat, sonder om die enge oortuiginge wat in die middel van die vorige eeu gegeld het, af te dwing nie.

Thys Human, Pretoria ·

Maroela, wat het geword van my kommentaar vroeer vandag wat glo gemodereer word? Ek kan niks daarin sien wat neerhalend of lasterlik is nie – eintlik net feite en dit steun Herman se standpunt in die bree. Hoe nou?

Thys Human, Pretoria ·

Maroela, julle mag nou maar hierdie stukkie verwyder. Dankie dan vir die plasing van die vroeere een!

Willem ·

Ek lees Charles Smith se rubriek vandag op Nertwerk24. Daarin sê hy dat hy nog nooit soveel keer die woorde ‘verraaier’ of ‘uitverkoop’ in kommentare van lesers soos die afgelope week gelees het nie.

Dit laat my weer by bogemelde gesprek. Die konteks waarin die mense dit gesê het en waarom die mense dit gesê is nie aangehaal of beoordeel nie.

Gerieflikheidshalwe nie.

Ek lees vir jare hierdie en soortgelyke kommentare. Wat ek waarneem en lees is dat by verre sal daardie mense van wie hy in sy rubriek praat, weer JA stem soos destyds.

Wat ek sien en lees is dat die mense De Klerk en die ander onderhandelaars van destyds daardie woorde toedig omdat De klerk-hulle ‘n meerderheidsregering vir ons diverse land met sy multikulturele samelewing beding het, met wigte en teenwigte, waarop FW so op loop mee gegaan het, en hoog opgegee het, al sou dit die groot towerwoord wees wat die minderhede van vergrype, omgekeerde diskriminasie en hatigheid, wat baie keer met sodanige magsoorname gepaard gaan, vrywaar.

By verre was die mense se uitsprake en woede teen De Klerk en die ander gerig omdat hulle tot ‘n Meerderheidsregering toegestem het, terwyl wigte en teenwigte NUL in sodanige model beteken, hulle moes van beter geweet het, dit voorsien het, wat FW toe met wigte en teenwigte probeer paai. Hulle moes hul huiswerk ordentlik gedoen het om alle minderhede in die land van vergrype, ‘n heksejag en afknou deur die meerderheid te vrywaar.

Thys Human, Pretoria ·

Ek het toe op Herman se FB gaan kyk na die gesprek oor die saak. En ek sien Van Deventer is adamant dat hy nie hier op Maroela aan die debat sal deelneem nie. Nogal nie verbasend nie. Tipies van Naspers se mense wat nooit die bestaan van Perskor wou “erken” nie en nou media soos Maroela ook nie erken nie. Daar was heelwat van sy bekrompe soort in ons tyd – en ek vermoed hulle is nog sterk in Naspers teenwoordig.

Maar net weer terug na die kern van die kwessie, nl of die “base” van die pers die politieke en ook joernalistieke toon aangee. Natuurlik is daar nie sprake van daaglikse of gereelde opdragte en vereistes wat aan ‘n redakteur gestel word nie, maar as ‘n redakteur nie die bree sieninge van die “base” deel nie, sal hy nie lank hou nie. En wanneer die base verander soos by Independent Newspapers gebeur het en toenemend onder hierdie groepe gaan gebeur, vind daar noodwendig skommelings en aanpassings plaas. En dis nie net in SA nie – die gebeur die wereld oor.

Wat dan net wys dat die idee en konsep van ‘n “neutrale” onbevooroordeelde, onafanklike joernalis eenvoudig nie waar kan wees en bestaan nie. En wanneer ‘n joernalis nie tuis is op ‘n redaksie nie – hetsy voltydse of deeltydse bydraer – dan loop hy of hy word gevra om te loop.
Dit het met ou Max gebeur by IOL – en vroeer by ander soos Anglo American. Dit gaan weer met hom gebeur by Naspers. Wed jou ‘n bier, Hennie!

Rupert Ashford ·

Goed gestel Thys. Die Ivory tower mentaliteit loop nog net so sterk soos altyd. Dit is nie beperk tot die Afrikaner nie, maar min mense kan by ons kers vashou as dit kom by snobisme – en ou Hennie demonstreer dit nou weer mooi. Hulle reken hulle beheer nog steeds die politieke diskoers in die media. Maar hulle sal: In die “ou dae” het hulle die NP nagepraat en nou praat hulle die nuwe base na en probeer die Afrikaner “social engineer” om in te pas by die “nuwe bedeling”. Dit het nog nooit goed gewerk nie en sal ook nie in die toekoms nie – dit werk eerder hierdie bittere tweespalt in die hand. Verder oor joernaliste: Ons as mense is/was nog altyd ‘n produk van ons ontwikkeling en ons sieninge beinvloed ons uitsprake en standpunte. In die verlede (voor sosiale media) is hierdie tot groot mate bestuur deur die base en was die individu se standpunte getemper deur die bree beleid van die publikasie. Deesdae taan daardie beheer egter en sien mens al hoe meer die individu se standpunte sterker deurskemer – omdat hy/hulle ook FB, Twitter en al daardie gediertes ook gebruik. Sela.

Rupert Ashford ·

Dit. Is. Uitstekend. En baie wyer as net die Steve storie. Die feit dat hy die “guts” het om ook die ander ou (nie God nie) se naam daarin te sit plaas hierdie skrywe op ‘n vlak wat 99% van die gemors wat na die Charlei Hedbo storie gepropagandeer is in die skadu stel. Ek het al vantevore gedink hierdie outjie is geen aap nie, maar nou is en ‘n “fen”.

Willem ·

Maar natuurlik is Thys Human reg. Watter baas of besigheid sal, meer spesifiek, ‘n bestuurder of enige persoon hoër op aanstel as daardie persoon nie die belange en beleid van die instansie op die hart dra nie?

Dit is ook mos logies, goeie genade!

Willem ·

Ter stawing van die meeste se sienings hier bo, kyk maar net watter persone is nuut by Netwerk24 en News24 met hul weeklikse rubrieke.

Thys Human, Pretoria ·

Ja wragtag! Ek sien selfs Tony Weaver skryf nou gereeld vir hulle – en hy word sommer met groot basuin aangekondig as ‘n “struggle joernalis”. En nou gaan hy vir die Afrikaners vertel wat hulle moet dink! Wonder net of hy in Afrikaans skryf – en of dit maar vir hom vertaal word! Ek moet die vrae maar hier stel Maroela, want ek kan nie inskakel op Naspers se webblad nie – en ek wil ook nie!

Willem ·

Jip, ek sien hulle het een of twee ander ook van die Engelse pers oorgeneem, na die nie meer daar welkom is nie, en uitgewerk is.

Nico ·

Herman, ek lees vandag Christi se beskrywing van die tipiese Afrikaner in haar skrywe ivm FW. Ek lyk ook so, my vrou het ook nie jonger geraak nie, nes haar ouers.

Wat ‘n laakbare manier om ouer mense tena te kom. Waarom kan sy nie van die haat onslae raak nie. Sy en AB is omtrent ewe oud. Haat sy haar herkoms?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.