Nuuskommentaar: Kan Afrikaner en ander minderheidsgroepe by Vlaminge leer hoe kleintjies kan presteer?

Ondersteuners van België vier hul span se 1-0 oorwinning oor Engeland tydens die Groep G-kragmeting tussen Engeland en België by die Wêreldbekersokker-toernooi in die Kaliningrad-stadion in Kaliningrad in Rusland (28 Junie 2018). Foto: Hassan Ammar/AP

Al het die Belgiese Rode Duivels nie vanjaar die sokkerwêreldbeker verower nie, beklee die land die boonste plek op Fifa se jongste ranglys. Die vraag is dus gevra oor hoe so ’n klein landjie so kan presteer. Trots én die vermoë om te oorpresteer speel belangrike rolle, maar dis veel meer kompleks, en die Afrikaner, veral die Suid-Afrikaanse regering, kan belangrike lesse hieruit leer.

België se Rode Duivels het nie vanjaar die sokkerwêreldbeker verower nie, maar verrassend naby daaraan gekom, en in die proses onder meer met die Engelse afgereken. Op die Fifa-ranglys staan hierdie landjie wat normaalweg die agterspeen teen Nederland se Oranje suig, as nommer een, met Nederland wat in die 14de plek is en nie vir die eindtoernooi kon kwalifiseer nie.

Die Vlaamse koerant De Standaard wou trouens in ’n berig weet wat so ’n klein landjie in staat stel om so te presteer.

Terselfdertyd word die vraag gereeld in die media gevra wat Nederland (ook nog tydens die eindtoernooi in Suid-Afrika), propvol legendariese sterre soos Arjen Robben, so laat terugsak het.

Wat België so laat presteer het, is besonder kompleks om te verstaan. Trouens, dit is makliker om te verstaan waarom België nié so behoort te presteer nie. Die uitwerking wat dit op veral die Vlaamse bevolking het, is egter makliker te begryp.

’n Vername beweerde struikelblok wat uitgewys word, is dat “die meeste” Vlaminge nie van die Belgiese staat hou nie. Dié stelling is in skerp kontras met die algemene strekking van vroeëre nuusberigte dat die span se sukses nasionalisme laat opvlam het. Dit was nog op 10 Julie 2018 die onderwerp van Maroela Media se nuuskommentaar.

As na spanlyste van die Rode Duivels gekyk word, wil dit uit die name en vanne voorkom of Vlaminge normaalweg goed verteenwoordig is. Die spelers wat België in die 2018-wêreldbeker verteenwoordig het, sou byna uitsluitlik Vlaamse name en vanne gehad het as dit nie vir die swart spelers was nie. In ’n stadium het ’n kommentator gemeld (moontlik verkeerdelik) dat slegs die doelwagter van die elftal op die veld Franssprekend was. (Albei doelwagters in die uitgebreide span was Franssprekend.) In België kan dit nogal misleidend wees om aan die hand van iemand se van te bepaal tot watter taalgroep hy behoort. So het die Vlaamse premier ’n Franse van.

Uit die meer onlangse berigte wil dit voorkom asof dit eerder die Vlaamse nasionalisme as die Belgiese nasionalisme is wat ’n hupstoot gekry het. ’n Aanduiding hiervan is dat die Vlaamse minister-president (premier), Geert Bourgeois (N-VA), aangedui het dat sy party volgende jaar die verkiesing sal ingaan deur ’n konfederasie voor te staan. Die N-VA het ’n paar jaar gelede ’n beroep op die bevolking gedoen om oor die konsep konfederalisme te besin. Dit was destyds egter nog baie politiek niekorrek, en is heftig gekritiseer, en het op die oog af uit die openbare diskoers verdwyn. Dié keer kon Bourgeois selfs die redes vir sy voorkeur stel sonder om tot stof vertrap te word.

’n Konfederasie is in wese die saambinding van lande wat onderling van mekaar onafhanklik is, met die internasionale reg, eerder as nasionale wette wat tussen die deelnemende lande geld. Die Europese Unie is vandag die naaste aan ’n konfederasie wat nog bestaan. Die feit dat Switserland, wat al baie lank nie meer ’n konfederasie is nie maar ’n federasie, nogtans die woord “konfederasie” in sy amptelike naam behou het, skep dikwels probleme. Verskeie Suid-Afrikaanse partye het al konfederalisme as beleid aangebied, en dan Switserland voorgehou as voorbeeld van hoe goed dit in die praktyk kan werk.

België was tradisioneel ’n unitêre staat, maar ’n proses van groeiende federalisme het dit in ’n federasie omskep. Oor die status van federalisme het  Bourgeois gesê: “As premier het ek meermale ervaar hoe Vlaandere teen die grense van sy bevoegdhede bots.”

Na raming het België nou ’n bevolking van 11,5 miljoen mense, van wie meer as 6 miljoen Vlaamssprekend is. Die Franssprekende bevolking is sowat 3,5 miljoen, met sowat ’n miljoen Duitssprekendes. Die Vlaamse bevolking is nou die mees welvarende deel van die bevolking, en die Vlaamse regering moet jaarliks miljoene euro’s aan Wallonië oorbetaal om die Franstaliges se lewenstandaard nader aan dié van die Vlaamssprekendes te bring. ’n Vlaamse ekonoom het onlangs geskryf dat België se begroting sal klop as die belastingbetalingskoers van die Franssprekendes op dieselfde vlak van wetsgehoorsaamheid as dié van die Vlaamssprekendes gebring kan word.

Die Franstaliges word as die mees eentalige gemeenskap in die wêreld beskou, wat nie in pas is met die feit dat hulle in ’n meertalige land woon nie. Vlaminge moet op skool ook Frans leer, terwyl die Franssprekendes nie Vlaams (ABN) leer nie.

Indien België inderdaad ’n konfederasie word, is Vlaandere nie net wesenlik onafhanklik nie, dit is streng gesproke ook makliker om uit ’n konfederasie te tree as uit ’n federasie. (Brittanje se Brexit-probleme laat dit anders lyk, maar die EU het al vele federale kenmerke ontwikkel.)

Maar wat van ’n samesmelting tussen Nederland en Vlaandere? Die onderwerp was minstens in ’n stadium hard onder bespreking. Nederland én Vlaandere gebruik ook amptelik ABN as amptelike taal.

Toe België en Nederland geskei is, het godsdiens ’n belangrike rol gespeel. België was oorweldigend Rooms-Katoliek en Nederland oorwegend Protestants. Volgens die jongste sensus in Nederland is net minder as die helfte van die Nederlanders nog gelowig. Van die gelowiges is sowat 50 persent Rooms-Katoliek, en minder as 20 persent Protestants. Godsdiens speel ook nie meer ’n belangrike rol in die vorming van ’n Belgiese identiteit nie.

Toe Nederland en België geskei is, is verskeie provinsies as’t ware middeldeur gesny. In ’n stadium was dit ’n redelik aktuele onderwerp in die media oor hoe byvoorbeeld die Brabanters in Nederland hegter bande voel met die Brabanters in België as met ander Nederlanders. (Brabants is eerder ’n taal as dialek en het enkele jare gelede sy eie eerste Bybelvertaling gekry.)

Evert van Wijk som in ’n artikel in De Daagelijkse Standaard die strominge tussen die Vlaminge en die Nederlanders in die konkeks van die wêreldbeker soos volg op: “Nederland steunt massaal de Rode Duivels, maar verdienen ze dat wel gezien het Belgische leedvermaak in verband met de voortijdige uitschakeling van Oranje voor het WK2008? Want wie de grens met Nederland en België passeert ziet afhankelijk van de rijrichting in allerlei varianten tekstborden met daarop: ‘Hier eindigt het WK’, of andersom, ‘Hier begint het WK’. Maar of de Belgen met hun Rode Duivels wegens het niet meedoen van Oranje die steun nou verdienen of niet is voor de meeste Vlamingen Scheiss Egal. Want hoe kun je nu een nationaal team hebben of supporteren als een groot deel van vooral de Vlamingen een broertje dood heeft aan de staat België?” (Verdien die Belge die groot steun uit Nederland vir die toernooi as hulle so leedvermakerig is oor Oranje wat uitgeskakel is?)

Van Wijk meen Hollanderhaat onder die Vlaminge sit soms baie diep. ’n Gevoel van minderwaardigheid speel ’n rol, en neem aanstoot aan ʼn goedig bedoelde grappie dat die Belge dommerig is.

Ten slotte, terug na die vraag hoe so ʼn klein landjie so kan oorpresteer. TV-kyksyfers toon dat die halfeindwedstryd teen Frankryk (wat België verloor het) die hoogste kyksyfers behaal het, naamlik meer as 2 miljoen kykers. Ook ander wedstryde in die kwalifiserende deel is goed deur veral die Vlaminge gekyk. Dit is heel waarskynlik ’n aanduiding van ’n groeiende nasionalisme. Niemand voel meer minderwaardig nie.

Die Vlaminge is hardwerkend, met die sosialiste wat nie juis hond haaraf maak nie. Die Franssprekendes neig egter om sosialisties te stem, en soos die spreekwoord lui: “Sosialisme werk goed tot iemand anders se geld op is.” In hierdie geval is dit die Vlaamssprekendes wat die Franssprekendes se rekening vir ’n sosialistiese paradys betaal.

Kan die Afrikaner en ander minderheidsgroepe hieruit iets leer?

Soos om hard  te werk sodat ’n onbevoegde en soms skelm burgemeester opdragte van die minister van finansies in die wind kan slaan en ’n peperduur ryding aanskaf? Of ’n “ampsbesoek” oorsee gaan aflê, vergesel van ’n reusegeselskap, en agterna nie eens behoorlik oor die reis (en veral verblyf) verslag kan lewer nie.

Ook waar ’n rasbehepte regering die ou apartheidswetboek na ’n blote voorwoord van die nuwe apartheidswetboek laat lyk, en iemand van die wieg tot die graf weens sy velkleur leeggetap word. En as iemand dikbek raak hieroor, hom beskuldig daarvan dat hy eenheid ondermyn.

Die Solidariteit Beweging word verkwalik vir sy Plan B.

Dit sal pres. Cyril Ramaphosa loon om na die Belgiese voorbeeld te kyk voor hy sy Nuwejaarsboodskap lees.

Moenie die Afrikaner se vermoë om te presteer ondermyn nie. Laat eerder toe dat dit die ekonomie help groei, en ook ander inspireer om te presteer.

* Dit was die laaste gewone nuuskommentaar van die jaar. Van môre af word elke dag tot Maandag ’n aspek van die afgelope jaar bekyk. Môre kom van die interessantste wetenskaplike deurbrake en uitvindsels aan die beurt.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae