Nuuskommentaar: Kan alles weer bymekaar gehark word?

Betogers buite die Coligny-landdroshof tydens die beskuldigdes se vorige verskyning (28 April 2017). Foto: @IanCameron23, Twitter

Hompie Kedompie het van die muur afgeval en sy skerwe lê die wêreld vol. Die ANC het miskien nog nie geval en gebreek nie, maar hy hang aan sy vingerpunte aan die lysie, en die een vinger ná die ander gaan los – of dui die dorpe wat brand daarop dat die groot val reeds plaasgevind het?

Kan Hompie Kedompie weer aanmekaar gesit word?

Wat baie duidelik is, is dat die uitrafeling, of selfs uitmekaarval van minstens dele van die land, nie onder die huidige leierskap van die ANC aanmekaar gesit kan word nie.

Maar sal enigeen van die potensiële leiers wat nou genoem word, genoeg leierskap aan die dag kan lê en genoeg steun kan werf om die land se brokstukke weer bymekaar te kry?

Ons sien gereeld die bordjie “Onder nuwe bestuur” by die ingang tot ’n sake-onderneming wat onder die vorige bestuur nie die pyp gerook het nie. Die bewoording is veelseggend, nie baie beskeie nie en impliseer: “Ons kan beter doen as die vorige bestuur.”

In die geval van die ANC sal dit stellig die geval wees. ’n Mens sal ver moet gaan soek na iemand binne en buite die ANC wat ’n groter gemors van die land se bestuur kan maak as pres. Jacob Zuma. Terwyl sy erg gebrekkige skoolopleiding dikwels as rede vir sy swak prestasie voorgehou word, is dit egter nie die hele prentjie nie. In ander lande het presidente met min tussen die ore baie suksesvol regeer deur die wysheid aan die dag te lê deur hulle met goeie adviseurs en ondersteuningspanne te omring – en na die adviseurs te luister.

Maar wat gaan in Zuma se administrasie aan? Kennelik is daar minstens hier en daar ’n knap adviseur, en van sy mees verleentheidwekkende sêgoed het rondom Kersfees gekom wanneer sy adviseurs vakansie hou. Maar hy luister selde na hulle, of hy hoor nie wat hulle sê nie, of hy laat hom deur sy ja-broers voorsê (of diegene wat glo die land en regering sou gekaap het). Of ’n bedenklike buitelandse beeldpoetser-firma moet die klippe uit die pad probeer rol. Zuma het pas herhaal dat hy nie foute wat hy maak kan regstel as niemand hom sê wat hy verkeerd doen nie. Dit terwyl hy hof toe gesleep moes word om die afdanking van Pravin Gordhan en die gevolglike rommelstatus na die oppervlak te bring. Zuma moet behoorlik horende doof wees om so ’n absurde stelling te maak.

Zuma is op pad uit. Of dit nou ná ’n geheime stemming tydens ’n mosie van wantroue gaan wees, of dat hy die aftog te midde van die rollende massa-aksie gaan blaas, of ná die verkiesing van ’n ANC-president in Desember vanjaar – die een of ander tyd gaan hy vertrek. Of sy nagmerries saam gaan vertrek, moet nog gesien word. Tegnies kan ’n mens byvoeg dat enige van die hofsake of die gestolde verslag van die openbare beskermer oor staatskaping ook sy kop kan eis, maar dis duidelik dat hy en sy kornuite, onder meer in die vervolgingsgesag, sal watertrap vir die vale.

Dit is intussen stil op die front oor of hy hom in Desember weer as ANC-president verkiesbaar sou stel. Daarmee sou hy met dieselfde magsbasis as president van die land kon bly regeer tot sy tweede termyn in 2019 verstryk, en daarna as ANC-president die “regte” president soos ’n marionet beheer.

Ons lees gereeld in leserskommentare dat mense wat niks van Zuma dink nie, hom wel as president wil aanhou, want hoe langer hy aan bewind is, hoe moeiliker gaan dit vir die ANC wees om ná 2019 steeds aan bewind te wees.

Die keersy is natuurlik dat hoe groter die gemors is, hoe moeiliker gaan dit vir die nuwe regering wees om Hompie Kedompie weer aanmekaar te sit.

Dit is sekerlik nie nodig dat dit wat verkeerd is en verkeerd loop hier herhaal word nie. Almal weet daar is brandpunte, soos byvoorbeeld dele wat oorwegend deur bruin en Indiër bewoon word, daar in Coligny met sy eiesoortigheid, maar terselfdertyd dalk nie so in isolasie van situasies wat elders aan die prut mag wees nie. Vandag spoel Max du Preez sy mond kwaai uit oor wit mense op Coligny wat byvoorbeeld nog die “k”-woord gebruik wat tot die situasie bygedra het. Hy gaan egter verder en kritiseer Solidariteit en AfriForum, en is in die proses weer baie selektief met sy feite.

Wat Max skryf, kan egter nie sommer alles saam met die badwater op die “daisies” uitgegooi word nie. Kort-kort vang ’n wit mens ’n rassistiese stommiteit aan (byvoorbeeld op Facebook waar hy noodwendig gevang gaan word), en ’n mens voel dat so ’n persoon ná die Penny Saparrow-geval en soortgelykes, eintlik net van onnoselheid aangekla kan word.

Konflik-resolusie, versoening, die bou van gesonder intergroepverhoudinge en soortgelyk is ’n veel komplekser proses, en behoef geen Supra-opstokery en leierskapstilswye nie (soos Max ook uitwys).

Weens Zuma se Zumafikasie, Zoeloefikasie en patronaatskap is die oplossing vir die land se probleme ingewikkelder as om net van Zuma ontslae te raak. Voeg hierby die beleid van kaderontplooiing waar geskiktheid om die werk te doen en die regte kwalifikasies maar min punte getel het.

Dit is noodsaaklike veranderings wat ’n nuwe regering eenvoudig sal moet aanbring om die land weer vorentoe te kan neem.

Die groot vraag is egter hoe hierdie nuwe regering daaruit gaan sien. Koalisiepolitiek is sterk in die lug, maar dit bly voorlopig onwaarskynlik dat ’n koalisie sonder die ANC gevorm kan word. Partye soos die NFP en Agang sal heel waarskynlik saam met die ANC ’n koalisie wil vorm. Dit sal ook loon om te gaan kyk hoe partye gestem, of waar hulle ten gunste daarvan gepraat het tydens die debat oor plaasaanvalle en die onteiening van grond sonder kompensasie. Hulle het hulle beslis nie by die DA geskaar nie, maar maak nou deel uit van die DA-geleide veldtog om van Zuma ontslae te raak.

Kortom, die land het nou reeds groot belang daarby dat ’n gematigder faksie van die ANC die leiding neem. Dit verhoog die kanse dat ’n sogenaamde groot koalisie gevorm sal kan word.

Nkosazana Dlamini-Zuma, een van die opvolgkandidate vir Zuma (al is dit nog net informeel), het in ’n stadium skynbaar so weggestaan van Zuma se ondersteuning, dat verskeie analiste geoordeel het sy besef Zuma se assosiasie met haar veldtog is vir haar ’n stok in die wiel. Die afgelope naweek is dié bondgenootskap egter in geen onduidelike terme nie, herbevestig. As sy ongelukkig is daarmee, sal sy opnuut afstand moet begin plaas.

Hier kom ‘n enorme oorlog binne die ANC, waar verskillende faksies min gaan ontsien om hul “verteenwoordiger” verkies te kry. Dis moeilik om die uiteinde daarvan te voorspel.

En juis daarom bly dit miskien beter dat Zuma nie tot Desember uithou nie – dat Ramaphosa ’n tydelike verstek-kaartjie kry en sonder vrees vir faksies sy sê kan sê en sy ding kan doen.

Maar is dit aanmatigend om te aanvaar dat Ramaphosa die beste opsie vir die land inhou – minstens tot ’n koalisie die bewind oorneem? Weens omstandighede moet Ramaphosa voortdurend sy kaarte na aan sy bors speel sodat niemand werklik met oortuiging kan sê hy gaan die regte dinge doen nie. En intussen slinger Zuma die een “hospitaalpass” in sy rigting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Leendert ·

Ai Ramaphosa? Is dit al wat hulle het, al verskil met Zuma is dat hy nie korrup is nie. En ek kan werklik nie glo dat ons nog duime vir Cyril hou nie, dalk omdat sy beeste vir rekordpryse gegaan het.

Adam ·

Jy is korrek Leendert. “Bang” Cyril het gewys hy kan nie sterk leierskap bied nie en wat nog erger is, is dat die ANC geen ware leier in hul geledere het nie, iets wat eintlik reg oor die politieke spektrum die geval is.

Leendert ·

Adam ek het amper Matthews Phosa se naam hier bo bygevoeg, hy gaan ook mos tot die stryd toegetree, maar toe kom ek ook tot jou konklusie, hulle het net nie die leiers nie.

Attie No 1 ·

Ek staan daarby Herman, hoe langer Zuma bly hoe beter!

Gert ·

100% korrek. “Maar dalk moet oms dit stil hou want niemand sal ons tog glo nie”

Dirk ·

Iemand het by geleentheid gesê dat indien daar twee geleerde swartes is ‘n Afrikastaat is, is die een die leier en die ander die opposisie met vegtende onderdane tussen hulle. Hier aan die suid punt van Afrika kan dit dan ook nie anders wees nie. Daar is dalk ‘n klein verskil. Hier is twee ewe ongeleerde leiers teenoor mekaar. Een vir die ANC en een vir die EEF.

Om te dink dat dinge besig is om uitmekaar te val is so ‘n klein biedjie van die kol af. Wat tans gebeur is maar blood strategie. Dit is ‘n kwessie van twee vlieë met eenhoumorsdoodteslaan. Die een vlieg is maar altyd die wit burgers en die ander is die ANC.

Die EEF weg aan twee fronte. In die geveg gebruik hy die onderdane om die wit burger tot vrees en knegskap te dryf terwyl hy daarmee saam die ANC as uitgediende struktuur wil ontbloot. Die ANC aan die anderkant speel in die hande van die EEF deur nerens in te gryp nie. So poog dit die selfde as die EEF voor te gee en wil tog nie as die beskermer van die wit burger gesien word nie.

Die pap val daarom op die grond en stap verval by die deur in. Dit is Afrika. Hier kan dit tog nie ander wees nie. Of is dit Jacobin op ‘n swart perd?

Max, wel Max is Max. Wag nog vir die openbaarmaking van sy beweerde Zuma dossier iewers in ‘n kas.

Hendrik ·

Los vir ou Max want hy het ň paar lekkerlees boeke geskryf.

John ·

Dis jammer dat die pers en die opposisie nog nie met die naam van ‘n beter kandidaat in die midde van die ANC vorendag gekom het nie. Dit was/is ‘n terroriste organisasie, dis waar, maar is daar sowaar niemand effens te vertrou nie? Cyril was gister aan’t vas in simpatie met die Palestyne, so hulle nonsens is vir hom grootliks van belang. Antie Zuma is die anderkant van die Zuma-muntstuk… met dieselfde geldwaarde en die Gupta-tv-kanaal besing haar… wees gewaarsku. Die president-in-die-ry situasie in die ANC is erg siek soos by ‘n vervalle buitepasiente-lokaal waar ‘sterwendes’ enduit moet bly sit vir die nursie met die dokter op vakansie. Ons moes nie Zuma hierdie kans gegee het om ook ons toekoms te beheer nie.

Boerseun ·

Die Grondwet is ‘n rassistiese stommiteit, wat my laat wonder of ‘n witmens regtig rassisties kan wees, want ons reageer tog maar net op die ANC se rassistiese Boerehaat wat hulle (saam met die NP) in die Grondwet verskans het. Swart mense pleeg daagliks honderde meer en erger rassistiese stommiteite (soos om wit mense se huise af te brand in Coligny), maar dis ok…

humor ·

John alles n nare nagmerrie – waarheid wat jy stel. Dit is maar seker hefaan le nog voor.

Jan Lemmer ·

Al die verskillende plekke waar die oproer begin en aangaan het dalk meer daaragter as waaraan enigeen dink. As nr 1 sy mense stuur om orals oproer aan te blaas kan hy noodtoestand uitroep. Die noodtoestand kan voortduur en geen verkiesing sal vg jaar kan plaasvind nie agv die noodtoestand. Dit is al manier hoe hy in beheer van sake kan bly en kan voortgaan soos oom Bob van langsaan. Anders is Potgieterstraat Hotel sy voorland en hy sal daar wegbly solank hy kan.

humor ·

Dit verbaas my dat daar nog nie van ons eie mense is wat agter die skerms werk en die nodige inligting aan die noodsaaklike mense kan deurgee nie.

Johannes Meintjes ·

Terwyl gemeenskappe maar apaties toekyk hoe hulle eie voortbestaan verkrummel. Selfs die manipuleerende magte daar buite moet nou al begin bekommerd raak. Wat help alles as die buit gepunder en die sisteme onregeerbaar geword het as as jy uiteindelik daar aankom, of as die nuwe bestuur instap?

Carel Delport ·

generasie X en die baby Boomers moet eenkant staan.
Die 1994 paaiery is verby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.