Nuuskommentaar: Kan ANC nog reggeruk word of á-la-apartheid net vernietig word?

President Jacob Zuma. Foto: SAPA

President Jacob Zuma. Foto: SAPA

In die destydse stryd teen apartheid is dikwels gesê apartheid kan nie hervorm word nie, net vernietig word.

Ongeveer ʼn kwart eeu nadat die vorige regering die laaste apartheidswet uit die wetboek verwyder het, is die vraag nou weer: Kan die ANC hervorm word, of net vernietig word? Vir baie mense was die minister van polisie se amateuragtige verslag oor Nkandla die laaste strooi.

Dit is ongetwyfeld waar dat daar individue in die ANC is wat oor die potensiaal beskik om, sou hulle tot leiersposisies verkies word, die ANC tot ʼn groot mate op ʼn ander koers kan plaas. Maar hoe lank nog voordat die ANC onder sy huidige leierskap onomkeerbaar op die teenswoordige koers(loosheid) gelanseer word?

En intussen is dit duidelik dat die wyse waarop Zuma die mag behou, daarop neerkom dat Zuma = die ANC is. As iemand twyfel, kyk maar hoe konsolideer die ANC selfs om die mees bedenklike saak agter Zuma in die parlement – ook mense wie se lojaliteit teenoor Zuma onder verdenking is, doen lustig mee aan hierdie Zuma-gedirigeerde koor en orkes.

Die Wêreldbank het pas Suid-Afrika se groeivooruitsigte ten spyte van die positiewe impak van laer oliepryse maar bedroewend geskat weens die land se kragtekorte en beleidsonsekerhede.

Soos wat oorle apartheid gerieflik soos ʼn kombers oor alles getrek word wat haper, so kan pres. Jacob Zuma se regeerwyse nou ook as ʼn gerieflike deken oor dinge wat verkeerd loop, getrek word. Zuma, op sy beurt, lê soms vindingrykheid aan die dag om heel onpresidensieel die blaam weg van homself te keer vir dit wat verkeerd is. Van Jan van Riebeeck, “Westerse konsepte” tot “die ander” kry die blaam en natuurlik apartheid en kolonialisme ook.

Tydens die Zuma-bewind het die land skouspelagtig op die korrupsiepersepsie-indeks agteruitgeboer, soos op talle ander indekse waaronder die persvryheidsindeks en veral die persvryheidsindeks van Freedom House. Na berig word, is daar nou ook planne om die berugte snoerwet na ʼn stilswye van 18 maande te teken – ʼn stap wat tot ʼn kettingreaksie van agteruitboerdery op bykans enige indeks sal lei.

Dit is so dat die ANC selfs na die uittrede van oud-pres. Nelson Mandela nog ʼn ruim “vakansietyd” van oorsese sentimente beleef het en die ANC meen dat dit nog bestaan. Diplomatieke en protokol-hoflikheid (en selfs ʼn trippie saam met die kwien op haar koets) word net te maklik verwar as aktiewe steun vir rampspoedige politieke manewales.

Maar beleggers wil geld maak en terwyl korttermyn-strooptogte op die ekonomie in tye van warboel lonend kan wees, is langtermyn-belegging en stabiliteit dan nie gewaarborg nie. En die land betaal ʼn prys hiervoor.

Is daar egter ʼn “regering in ballingskap” binne die ANC wat gereed is om dinge reg te ruk wanneer Zuma die toneel verlaat? En as daar is, wanneer gaan die Zuma-spook verdryf wees?

By baie bestaan die hoop  dat adjunk-pres. Cyril Ramaphosa die man is wat die ANC en die land terug op die regte pad sal lei. Ramaphosa is in ʼn moeilike posisie. Hy is beslis nie Zuma se eerste keuse as opvolger nie en word nou met die een “hospitaal-pass” na die ander onder druk geplaas.

Die Lesotho-krisis is min of meer opgelos (voorlopig altans), maar Eskom en die e-tol is ander kwessies wat hom onder enorme druk plaas en aan sy voete van klei wegbeitel. En tot watter mate gaan hy die sondebok gemaak word met die Marikana-verslag?

ʼn Verdere probleem is dat Zuma wel nou in sy laaste termyn as president is, maar nie noodwendig sy laaste termyn as president van die ANC nie. Zuma het reeds van die parlement ʼn verlengstuk van Luthuli-huis gemaak en daar is bitter baie en moontlik selfs ʼn tronksel, vir Zuma op die spel sou hy sy magsgreep op die regering verloor.

Dit is teen hierdie agtergrond wat Paul Mashatile, voorsitter van die ANC in Gauteng, se “rebellie” teen die minister van polisie se omstrede Nkandla-verslag, met groot belangstelling gevolg gaan word. Kom Zuma en sy kornuite hard op  Mashatile neer, vergroot dit die kanse dat die ANC met Zuma se swanesang Gauteng kwyt kan wees. ʼn Makliker uitweg is dalk om Mashatile gewoon te “kanaliseer” om die saak tot in die ANC se uitvoerende komitee te laat vorder en hom hier in ʼn Zuma-see te laat verdrink.

Daar was immers tevore rebellies teen Zuma, soos die ontstaan van Cope wat ná ʼn belowende begin, nou ook tot die 1%-partytjies gereduseer is. Oor Agang se belowende begin wat nie eens tot die verkiesing gehou het nie, moet liefs min gesê word.

Oor die volgende paar dae sal egter ook geoordeel kan word of Mashatile se rebellie die sluise laat oopgaan het. Of is Zuma se beergreep op die ANC so sterk dat hy steeds die latente kragte teen hom deeglik onder die duim hou?

Zuma is ʼn meester van teer op kwessies. ʼn Onrusbarende aspek is die uitbuit van wat as “swart woede” bekend staan. Prof Jonathan Jansen het pas daarna verwys en Netwerk24 berig so daaroor: “Wanneer ʼn ‘verstommende aantal’ swart mense vir hom sê hy moet “die betekenis van woede in hul kultuur verstaan, sê hy: ‘Wel, ek sê te hel daarmee’.” Hy “bestuur eenvoudig hierdie tendense deur “die ander” te blameer, ongeag die gevolge en te hel met die ampseed en grondwet. En die gevolglike polarisasie in die land.

So lank as wat die ANC hierdie soort “leierskap” duld, so lank kan die ANC nie van Zuma losgemaak word nie en moet dit nie verbaas wees as die houding daarbuite bestaan dat daar geen salf aan die ANC te smeer is nie en dat dit met alle mag gelooi moet word nie.

Die alternatiewe leiers in die ANC het nou al soveel geleenthede verpas om te laat blyk “ons is nie ook so nie”, maar daar word eerder in die koor saamgesing. Intussen word die vreemde konsepte wat Zuma omarm, in die ANC ingebed wat ook die vraag laat ontstaan – kan Zuma se opvolger nog met die beste wil ter wêreld die ANC regruk?

Hieroor is daar verskeie scenario’s. Hy kan dalk slaag, of hy kan gedeeltelik slaag en hierdie negatiewe kragte na die EFF afvoer, of hy kan oorweldig en ge-Mbeki word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Loeis ·

Die artikel spekuleer dat die ANC dalk Gauteng mag verloor.

Net ‘n gedagte hieroor. Die DA het voor verlede jaar se verkiesing voorspel hoe hulle Gauteng sou vat, maar was maar ‘n hele ent uit. Die ANC het nasionaal maar 2% van die totaal verloor, terwyl die EFF met baie meer as dit gegroei het. Dit laat ‘n paar vrae:
1) Die EFF het verseker ANC steun afgeneem, maar dit is onwaarskynlik dat die EFF saam met ander opposisie partye in koalisie sal gaan om die provinsie te vat.
2) Soos dinge nou daar uitsien, sal dit waarskynlik ‘n koalisie van opposisie partye neem om die provinsie af te neem, en dit is AS die ANC se steun verder sou val. Die vraag is of die ANC wel die provinsie sal afstaan, en indien nie, of hulle self ‘n koalisie sal aangaan om die provinsie te behou. Tans is daar net een party wat sterk genoeg is, en ideologies na genoeg aan die ANC is om so koalisie te voer, en dit is die EFF. Moet dus nie te opgewonde raak indien opposisie partye Gauteng afvat nie. Die provnsie mag dalk met ‘n koalisie tussen di eANC en EFF eindig.

Herman Toerien ·

Jy is heeltemal reg Loeis. Die ANC het egter tevore aangedui dat hulle “nooit” met die EFF in alliansie sal gaan nie. In die politiek is “nooit” egter enigiets tussen ‘n oogwink en ‘n bietjie langer soos wat geleenthede vir opportunisme voordoen. By die “vermiste stemme” moet ‘n mens in gedagte hou die stemme wat partye soos die ACDP Cope en ander verloor het, sodat ons in ‘n sin nader beweeg aan ‘n de facto tweepartybedeling, met al die nadele wat dit vir die demokrasie inhou waar partylede aan koukusbesluite gebind is. Ek kry op die oomblik ook nie die indruk ddat die kleiner partye vreeslik baie moeite doen om te groei nie.

Loeis ·

Van die kleiner partye wwerk hard, maar die media swyg hulle pogings dikwels net dood. Ek was vanoggend heel verbaas toe Netwerk 24 vertel het hoe die EFF, COPE en UDM nie teenwoordig was met ‘n Nkandla komitee vergadering nie, terwyl hulle wel dekking gegee het aan Corne Mulder se taamlike harde aanval op die ANC se hantering daarvan, sowel as die IVP se reaksie. VF+ en die IVP het nogal tande gewys en James Selfe hef dit ondersteun.

johan ·

Die anc is uitgedien. Hulle patetiese verskonings vir al die foute wat hulle maak word nie meer deur die mense aanvaar nie.
Die tyd het aangebreek dat hulle gaan.

chris ·

Johan.
Loeis het dit baie mooi gestel dat die Da geen invloed in Gauteng op hul eie sal kry nie .Die ANC se verlore steun gaan na die EFF oor die algemeen.Hieruit kan jy jou eie afleidings maak(ek dink Loeis sin is reg).Die DA se pad gaan ook maar nader aan links wees.Al wat die DA anders maak as die ANC is dat hulle miskien minder korrup is verder is hulle maar net ANC lite.
Dat die ANC uitgedien is en dat hulle moet gaan is waar.Dit gaan egter nie gebeur nie.Jou denkwyse verskil van die Afrika een.

George ·

Ek is ook 100% oortuig dat die ANC nie hervorm kan word nie. Hulle bied huisvesting aan mense met “bloed” op hulle hande wat dit nie in die openbaar sonder beskerming kan waag nie. So al wat oorbly is om die ANC te vernietig.

Grassie ·

Die ANC kan nie “reggeruk” word nie want hulle kan dit nie bekostig nie. Hul magsbasis wat vir hul meerderheid sorg is nie die gewone middelklas-mens nie maar die stemvee wat van die hand na die mond leef. Meer as 16 miljoen toelaag- ontvangers en hul afhanklikes stem vir die ANC omdat hulle glo dat hulle dit sal verloor as die ANC nie die paal haal nie. Om steun te behou oortuig die ANC al die “have nots” dat hulle ellende die witmense se skuld is, en hulle glo dit. Hierdie haat vir bankes wat aangestook word dien as ‘n gom wat verskillende faksies aanmekaar hou wat andersinds uitmekaar sou spat.
Ek glo dat die ANC in die toekoms nog meer na links sal beweeg, selfs op militante wyse, om te voorkom dat hul gepeupel afdwaal na partye soos die EFF, want lg praat die taal wat die mense wil hoor.

HEVW ·

Ek is geensins n politieke kenner nie.Dus is my kommentaar maar kort. Ons kan alle kante toe spekuleer, maar die werklikheid bestaan n swart meerderheidsregering sal bly regeer en dit sal steeds die Afrika- mentaliteit stempel. Ek dink nie ons moet te opgewonde raak dat daar n gematigde regering vir ons iewers in die toekoms weggele is nie. Suid- Afrika bly maar in n bepaalde sin diensbaar aan die totale Afrika-kontunent. Daarby is daar in die die internasionale wereld lande wat n eksploiteerbare regering verwelkom.

Johan 2 ·

100% HEVW…ons enigste behoud kan wees in minderheidsgroep regte, verder kan ons maar net kyk en probeer om met n blok stem reg te kom soos minderhede in ander lande (soos die VS).

HEVW ·

Grassie stem 100% dit is die mees logiese weg in die toekoms. Maroela ek wag vir my kommentaar. Dankie.

Ampie ·

Ek stem saam met Chris. Afrikane is verknog aan mag en sal nooit vrywillig dit laat vaar nie. Bob Mugabe is ‘n goeie voorbeeld. Enige bestelwat in elk geval mag prysgee is verdoem tot die geskiedenis. Vra maar vir FW de Klerk. Die ANC sal nie deur verkiesings mag verloor nie. Hoe swak hulle ook al vertoon die hele staatsmag en staatskas word deur hulle beheer. Mense wat dink die DA kan met verkiesings wen is dromers, onrealistiese dromers.

Cathy Kotze ·

Jacob Zuma romantiseer die era voor beskawing in Suid-Afrika. Hy dans graag met skildvel en spies, vertel van die wonderlike lewe voor witmense hier was, en spog met ubuntu.

Die ANC is gou om al die probleme in Suid-Afrika te beskou as die “nalatenskap van apartheid.” In werklikheid wys al die tekens op die nalatenskap van voormalige swart leiers soos Shaka, Dingaan en andere. Hulle verskriklike wreedhede word daagliks gesien in die Suid-Afrikaanse gemeenskap.

Mense word aangemoedig om hulle kulturele erfenis te huldig, maar ongelukkig sluit dit ook dinge soos voorvader aanbidding, genitale verminking (by inisiasie skole) en argaïese mediese praktyke in. Die ANC het daarvoor gesorg dat sg “tradisionele helers” as eweknieë van dokters gesien word.

Die ANC kan nie hervorm word nie, Hulle mag ook nie langer in beheer van die land wees nie, want hulle is besig om die eens modernste staat in Afrika terug te sleep na die verre verlede toe stamverknogtheid, doodslag en primitiewe gebruike die norm was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.