Nuuskommentaar: Kan Cyril 2019-neerlaag afweer?

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa Foto: Werner Beukes/SAPA

Groot verligting, en selfs optimisme, het gevolg op die aankondiging dat adj.pres. Cyril Ramaphosa die pyp gerook het in gister se ANC-leierskapsverkiesing. Die rand se waarde het skerp begin styg selfs nog voor Ramaphosa as wenner aangewys is, wat op oormatige optimisme dui waarteen ekonome waarsku. Maar kan dit die ANC se byna onafwendbare neerlaag teen ’n koalisie van opposisiepartye in 2019 se algemene verkiesing voorkom?

Ramaphosa is immers gewoond daaraan dat hy hospitaal-aangeë van pres. Jacob Zuma kry. Sy uiteindelike stank vir dank was dat Zuma tradisie verbreek het en sy eks-vrou, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, as opvolger opgeroep het. Sy het naelskraap die onderspit gedelf.

Die nie-ANC-kiesers moes hande afgekap toekyk hoe met die toekoms van die land gedobbel word. Die “keuse” waaraan hierdie kiesers nie konvensioneel kon meedoen nie, was ’n voortsetting van die Zumakrasie, gepaardgaande met byna outomatiese ekonomiese rampspoed; en die optimisme wat ’n Ramaphosa-verkiesing teweeg sou bring wat die ANC se kanse in 2019 aansienlik sal verbeter.

Teen dié tyd is dit egter al duidelik dat die land ’n nuwe regering, verkieslik ’n koalisieregering, nodig het om sake reg te ruk.

Zuma kan egter self die reddingsboei van die ANC sink. Zuma is van plan om tot die einde van sy tweede termyn in 2019 as president van die land aan te bly. En selfs al is die druk baie groot op hom om vroegtydig die aftog te blaas, het hy reeds sy opvolger en verantwoordelike ministers vir die wolwe gegooi onder meer met beloftes oor gratis hoër onderwys. Suid-Afrika het eenvoudig nie die geld daarvoor nie. Om geld te gaan leen terwyl die land rommelstatus geniet is peperduur en verhoog net die druk op die staatskas. Om belastings te verhoog terwyl die land se ekonomie in die intensiewe sorgeenheid is, kan verwoestend wees, veral as staatskaping en korrupsie nie end kry nie.

En met Zuma…?

Zuma is nie al blok aan die been vir Ramaphosa nie. Die helfte van die top-ses is Zuma-mense, waarvan twee lede van die sogenaamde Premierliga is. Een hiervan is boonop die ANC se nuwe adjunk-president. Jesse Duarte, wat as adjunk-sekretaris-generaal aangebly het, word volgens mediaberigte met die Guptas verbind. Ace Magashule se twee seuns werk vir die Guptas, en minstens twee verslae van die openbare beskermer wat na verwagting verdoemende bevindings teen hom sal bevat, is ver agter skedule.

Baie sal afhang van wie op die NUK gaan dien, om te bepaal of Ramaphosa sy stempel sal kan afdruk.

Daar is volop advies van politieke partye en ander instellings aan Ramaphosa, sommige met hoë verwagtinge, maar soos dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus maan, ’n vereiste vir sukses is om Zuma byna dadelik te herroep: “Indien Ramaphosa Zuma nie laat herroep nie, sal sy hande afgekap wees en sal Zuma die een hofsaak na die ander voer om voort te gaan met sy plundering van staatbates en al die vrotappel ministers behou. Dit sal die bietjie hoop wat opgevlam het vir die ekonomie dadelik blus en die land sal voortploeter asof niks verander het nie.”

Die ACDP wens Ramaphosa geluk en bid hom sterkte toe, en raai hom aan om diegene wat staatsbates plunder aan die pen te laat ry.

Die DA meen Ramaphosa se verkiesing sal niks verander nie. Die DA meen Ramaphosa was die afgelope vyf jaar deel van die korrupte regering, en hy het Zuma soos taks beskerm. Suid-Afrikaners moet hulle nie om die bos laat lei deur te dink daar sal enige veranderinge intree nie.

Agri SA sê sy steun toe aan die nuwe leierskap, wanneer dit tot voordeel van die landbousektor is. Die nuwe leierskap word versoek om behoorlike aandag te skenk aan kwessies soos landelike veiligheid en grondhervorming.

Destyds, toe Zuma president geword het, het ’n verslaggewer wat intussen redakteur van ’n bekende dagblad geword het, geskryf dat hy dit nie kan help nie, maar hy hou van Zuma as persoon. Zuma het inderdaad as opkomende politikus ’n oorrompelende geaardheid gehad.

Nou, twee termyne later blyk daar min geneentheid teenoor Zuma uit die betrokke redakteur se rubrieke.

Mag diegene wat nou so optimisties is oor Ramaphosa se verkiesing nie later krokodiltrane huil nie.

In die politiek kan een dag ’n baie lang tyd wees. Bitter baie kan tot 2019 verander, en dit mag wees dat ’n sogenaamde groot koalisie ook Ramaphosa kan insluit – maar dan moet Ramaphosa aan die verwagtinge bly voldoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Dries ·

Ek wonder of dit goed is om altyd so negatief te wees. Mense moet hande vat en dank dat ons nou n nuwe President het. Dinge kan nou net beter gaan.

Cherokee ·

Ek het op TV ‘n witman gesien sing saam met die ANC. Wie sê dit was nie Dries nie? Dries Niehaus of so iets. Anders verstaan Dries wel verkeerd wat gebeur het.

Eish ·

Ek is geneig om saam te stem daarmee dat nie veel gaan verander nie. Daar is te veel Zuma mense rondom Ramaphosa wat daarop dui dat selfkorreksie n nagmerrie is wat nie uitgedroom gaan word nie. Verder is hy gebind aan die organisasie se beleid van radikale ekonomiese transformasie en ander luidklinkende konsepte wat die praatpatriotte uitdink om die gepeupel te “mesmeraais.” Hy het dit al male sonder tal gestel in openbare debate, so ek weet nie wat sukkel die kommentators so om dit te verstaan nie. Dalk die Cyril “magic” wat die verstaanslag beïnvloed. Soos Roelfie, Frederikkie en die ander deelnemers aan die fees van die spekskieters ervaar het.
Feit van die saak is dat die organisasie slegs n hoop vir lede skep tot selfverryking soos duidelik blyk uit die welstand van sy leiersfigure wat met weinig die land binnegekom het en in 23 jaar etlike keer oor miljoenêrs is.
Die feit dat meesterkorrupteur en Gupta kroonprins, Magashule, verkies is tot die NUK, bevestig dat die wigte en teenwigte duidelik ingebou is in die leierskap om voort te gaan op die huidige pad van staatskaping.

Née, ons kyk heel in die verkeerde rigting vir uitkoms in die helhool waar die hitte nou met n paar grade opwaarts gaan beweeg.

Die geldbestuur se oge is hoeka gerig op “Skelmbosh” se stout seuns

Koos1 ·

Dit help nie om aan te hou om Roelfie en kie te blameer nie. Dit is gedane sake en kan nie omgedraai of weg gewens word nie. Die kruks van die saak is dat Zuma president gaan bly tot 2019. Daarna gaan Cyril president word (as die ANC die verkiesing gaan wen?). Sy eerste taak moet wees om alle politieke aanstellings in die strafregterlike been van die staat te onttrek en die instellings magte gee om hulle werk sonder beinvloeding te doen. Laat hulle toe om die vrot appels uit te ruik en weg te gooi. Dink maar aan al die top polisie en SARS lede wat uit gewerk is. (Lees maar die boek van Jacques Paaw om te weet wat ek bedoel!).

Cherokee ·

Koos, jy kan op geen manier die blaam verwyder vanaf Meyer en kie nie en klipharde feit is dat kie die blaam op Meyer & De Klerk probeer pak, terwyl kie ja gestem het maar nou skaam is daaroor. Niks gaan werklik verander in die politiek nie want Ramaphosa was tevrede met alles soos dit is.

Chris Ws ·

Dries,jy moet weer gaan lees.Zuma is steeds die land se President en wel tot Mei 2019.Ramaphosa is nou die anc president,nie die Staats President nie.Zuma kan dus voortgaan met sy vernietigings werk vir nog meer as ‘n jaar.
Wat sal help is as hier ‘n Zim-plan op hom getrek word wat hom dwing om handoek in te gooi.Ek se hoe gouer hoe beter.

Hannelie ·

Dankie Chris Ws, gedink Dries en ‘n paar mense verstaan nie regtig die verkiesing nie. Dis die ANC wat ‘n nuwe president het, nie Suid-Afrika nie. Ons sit nogsteeds met ou Zuma.

Adam ·

Chris, jy is reg . CR het egter ‘n moeilike taak. Die helfte van die top 6 is pro-Zuma en ek glo dat CR, synde die goeie onderhandelaar wat hy is, ‘n paar manne se seile in ‘n ander windrigting kan draai en ek sal nie verbaas wees indien Maduza ‘n omkeer maak nie. Sy oog is sekerlik gevestig op die Presidentskap erens in die toekoms. Wat insiggewend is, is dat daar geen KZN verteenwoordiging in die top 6 is nie. CR se enigste hoop om die 2019 verkiesing te wen is om Zuma terug te roep met die NUK se steun en alhoewel dit nie te waarskynlik voorkom nie, is dit onontbeerlik vir beide die ANC en SA. Die vraag is of CR ‘n sterk genoeg leier is om dit te kan deurvoer en die feit dat ek telkens na hom as “bang” Cyril verwys, is tekenend van my opinie. CR is egter in ‘n sg “catch 22”: los hy Zuma in sy pos, tesame met sy oorwegend hopelose kabinet, kan hy maar die 2019 Presidentskap op sy maag skryf.

Bert ·

Ai ou Dries. Ek bewonder jou optimisme want dit is ‘n sinvolle manier om te leef maar om ‘hande te vat’, wat ook al dit regtig beteken, gaan net mooi niks aan my of jou saligheid help nie.

ANC beleid, of dit nou Sirrel of Jaap is, gereduseer tot sy eenvoudigste grondbeginsel, is as volg: swart goed, wit sleg. Dit is ons hede en ons toekoms en geen hande vat sal help nie.

John ·

Herman is reg, inteendeel, hy is nogal positief. Dinge gaan erger raak. Juis omdat Cyril gewen het gaan die Zupta’s petrol trap… en hom probeer oorweldig. Staatskaping gaan voortstu en die stryd teen witkapitaal gaan in ‘n lang sepie ontaard. Die rand gaan wipplank ry soos Cyril beleggings lok en sy opposisie dit wegwys…. Die stokou garde en hul nuwe handlangers is steeds in beheer. Hoe meer die ANC verander hoe meer bly dit dieselfde, maar die land gaan ly terwyl die bevolking groei en geld minder raak… Afrika hou van vuurhoutjies en die reuk van bloed sodra hy nie sy sin kry nie…

Vermeende ·

Herman as ek so na alles kyk dan kan en gaan hy.
Cyril gaan die ANC weer laat groei teen koste van die DA, Maimani is nie opgewasse om teen Cyril te staan nie.
Tot en met die 2019 verkiessing gaan SA tetterlik die gevaarlikste tyd in ons geskiedenis ingaan. Zuma het klaar die tafel vir anargie en publieke onluste gedek met sy graatis onderrig na die min van finansies gese het daar is nie nou geld vir dit nie.
Alles kan goed gaan mits Zuma nou herroep word, wat nie lyk of dit gaan ge eur nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.