Nuuskommentaar: Kan die bekamping van radikale afpersing Afrikaans red?

Graffiti op 'n muur by die Universiteit van Pretoria tydens betogings oor die taalbeleid by dié universiteit in Februarie 2016 Foto: Verskaf

Graffiti op ‘n muur by die Universiteit van Pretoria tydens betogings oor die taalbeleid by dié universiteit in Februarie 2016 Foto: Verskaf

“Kort voordat (die raad van die US) oor die mosie gestem (het), het die voorsitter gewaarsku dat indien die mosie aanvaar word (dat die raad sigself verbind tot gelyke status vir Afrikaans en Engels as onderrigtale en die betekenisvolle ontwikkeling van Xhosa as akademiese taal as ’n prinsipiële uitgangspunt), ‘brand die universiteit’; toevallig (?) presies dieselfde as dít wat die rektor van die Universiteit van die Vrystaat vroeër vanjaar gesê het toe daardie universiteit ook in die proses was om Afrikaans as primêre taal van onderrig af te skaf.” So skryf adv. Jan Heunis, voorsitter van die US-konvokasie en lid van die US se raad op Netwerk 24.

Die mosie is met 13 stemme teen agt verwerp. Afrikaans het verloor.

Het iets soortgelyks nou by Tuks gebeur waar ’n taakspan aanbeveel het dat slegs Engels voortaan as onderrigtaal aan die UP gebruik word? Hier moet nog ’n klompie water in die see loop, maar die aanbeveling het gekom kort nadat die EFF weer slagspreuke oor #AfrikaansMustFall op mure gespuitverf het.

Of dit vrees vir “brand” is, of ’n rits ander redes wat onder meer deur die Seunse Weenkoor voorgehou word, of bloot dosente wat ’n kleiner werklas het as al die klasse slegs in Engels is, die gemene deler bly dat ’n minderheidsgroep se grondwetlike regte vertrap word. Die kwessie het dus al ’n paar keer in die hof gaan draai, en nog hofsake is onderweg.

Oor die beginsel van grondwetlike regte wat liefs versaak moet word om uit die gyselaarsgreep van radikale te ontsnap, kan daar in beginsel geen debat gevoer word nie. ’n Grondwet beteken niks as dit op die rak lê en stof vergaar nie.

Dit raak ingewikkelder wanneer kwasie-redes soos “uitsluiting” voorgehou word. Die kritiek op die nuwe private Afrikaanse koshuis by Tuks, wat deur AfriForum gesteun word, getuig van ’n sterk gevoeligheid oor beskuldigings van uitsluiting, al is die koshuis ook uitdruklik nie-rassig.

In ’n omvattende artikel in Rapport skryf die redakteur, Waldimar Pelser, dat die koshuis “nominaal kleurblind” is. Hy skryf onder meer: “Die grief is dat belowende Afrikaanse (lees wit) studente weens raskwotas nie plek in koshuise kry nie.”

Hy gee toe dat die koshuis wettig is, maar beskryf dit as gevaarlik.

Baie van Waldimar se argumente mag pragmaties water hou, maar was dit nodig om self ook mee te doen aan die verdagmakery van AfriForum se verklaarde beleid teen rassisme, wat onder meer insluit dat dié organisasie saam met verskeie ander ’n verenigde front teen rassisme gevorm het?

Waldimar se voorbeelde oor hoekom swart studente die bestaan van Afrikaanse klasse (onder meer) koppel aan beter prestasie deur wit studente, kom presies net so uit Amerikaanse universiteite waar swart en Latyns-Amerikaanse studente dikwels ook swak vaar. Ook hulle kla oor ’n kultuur wat vir hulle vreemd is.

Natuurlik kan Suid-Afrika gaan kers opsteek oor hoe ander lande hierdie kwessie hanteer, hoewel die taalmedium in die VSA nie ’n uitgedrukte faktor is nie. Wat dit betref moet dalk eerder gekyk word hoe Vlaams hom op tersiêre vlak naas Frans, ook ’n wêreldtaal, kon handhaaf. Daar word g’n niks gediskrimineer nie, elke taalgroep kry sy eie, volkeregte regte.

Is diegene wat “met die beste bedoelings in die wêreld” hul beywer dat met Afrikaans as universiteitstaal weggedoen word, nie bewustelik of onbewustelik besig om die Grondwet te ondermyn nie? Dit is prinsipieel ’n paradoks dat met die mond bely word dat die Grondwet die hoogste reg is, en dat dit ’n goeie Grondwet is, maar terselfdertyd word die Grondwet in die praktyk in die tande geskop.

Ja, dit is belangrik om mekaar beter te ken en te verstaan. Trouens, nog voor die huidige bedeling het die destydse president van die RGN, dr. Tjaart vd Walt, gesê as mense mekaar nie verstaan en begrip vir mekaar het nie, sal geen Grondwet werk nie, ook nie die beste in die wêreld nie.

Die Grondwet mag vol foute wees, en dit mag selfs heeltemal ontoepaslik wees vir ’n heterogene samelewing soos in Suid-Afrika, maar dit is al wat ons vir die afsienbare toekoms het. Trouens, as daar taamlik fundamentele veranderings sou kom, sal dit waarskynlik wees as die ANC en die EFF, saam met kleiner radikale partye, saamspan om ’n tweederde meerderheid te verkry om veranderings aan te bring wat uiters ongewens kan wees. (Juis hierom is die uitoefening van stemreg so belangrik).

Suid-Afrika is nie die enigste land wat te kampe het met radikalisering, en veral jong radikalisering nie. In Januarie vanjaar het die sekretaris-generaal van die VN, Ban Ki-moon ’n program, Plan of Action to Prevent Violent Extremism, aan die algemene vergadering voorgelê. Vroeg in April is ’n konferensie hieroor in Genève gehou.

In sy onlangse hoofartikel kyk die Christian Science Monitor omvattend na dié probleem. Dit noem verskeie groot inisiatiewe wêreldwyd.

Die groot gemene deler van al hierdie planne is dat voorkomend opgetree moet word, hetsy in die ouerhuise of ander instellings. Die bekamping word soms vergelyk met die projekte om die siklus van dwelmverwante bendegeweld in sekere gemeenskappe te probeer omkeer.

Om die Grondwet te gaan verwring om radikalisme ter wille te wees, is egter nie een van die voorgestelde oplossings nie.

Tog sal die Solidariteit Beweging se aangekondigde regs- en ander aksies oor die sportkwotabeleid in sommige kringe as onnodig provokatief ervaar word. Maar weer eens die vraag: Wat is dan die nut van wette en die Grondwet as dit geïgnoreer word?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
JC

Goeie artikel!

Therese van Schalkwyk

Die voorheen Afrikaanse universiteite het gekies tussen Afrikaans en “radikale afpersing” en die radikale afpersers het gewen. Die mees tragiese aspek van hierdie kwessie is die ruggraatlose oorgawe van hoofsaaklik Afrikaanssprekendes. Mag al die meedoeners se name iewers opgeteken word vir ons nageslagte se inligting.

Basson

Ons ‘probleem’ is heel moontlik ons is te beskaaf en nie radikaal (genoeg) om ‘n impak te maak nie? Staan maar en mompel in die tou en dan gaan ons maar weer aan onder nuwe onderdrukkende dwangreels. Ek vra nog – die sg taalkommmisie was NIE verteenwoordigend van die ‘eerste lyn belanghebbenes’ soos studente en ouers nie, maar was fyn uitgesoekte invoortoring inwoners wie geen impak ervaar agv hulle aanbevelings nie. Ek moet amper R100k/j betaal vir my kind se studies aan UP, en ek is volkome oortuig dat die intimideerders beurse en studiehulp ontvang? (So ek is weereens benadeel)… Lees meer »

Loeis

Waldimar Pelser, gevaarlik is ‘n persepsie. Die skrywer merk dat die anti-Afrikaanses onder andere argumenteer dat Afrikaanssprekendes bevoordeel word omdat Afrikaanse studente in hule eie taal onderrig word, en nie-Engelssprekendes nie. Daar is twee probleme met bg argument: 1) loer bietjie na die betogings. Daar is byna altyd ‘n blanke, Engelssprekende wie heel voor in die andersins swart betogers beweeg. By US was dit feminis Kaylie Thomas wie die leiding geneem het met Open Stellenbosch. 2) Na meer as twintig jaar van ANC regering is swart tale nie uitgebou tot akademiese tale nie. Hulle wil nou “gelykheid” bewerkstellig deur van… Lees meer »

John

Rapport se redakteur, se een voet staan in die deur na die buiteland. Hy het skynbaar dit self erken. Hy praat vreeslik graag Engels. Die laataand programme op Kyknet waarheen Engelse dikwels as gaste genooi word, dien as bewys. Sulke mense probeer verkleurmannetjies wees. Dit werk nooit en rig net skade aan. Miskien is dit die uiteindelike oogmerk. Die probleme wat die Afrikaners/ Boere tans ondervind is ‘n draaikolk van teenstrydighede en elke gerekende akademikus of gesiene kundige probeer sy eie kwakagtige medisyne vir die ‘kwaal’ van Afrikaanswees verkoop. Die taaltrein het ook ‘n massa gratis saamryers, meestal op die… Lees meer »