Nuuskommentaar: Kan een (VN-) swaeltjie ʼn somer maak?

António Guterres. Foto: Manuel Elias/VN

António Guterres. Foto: Manuel Elias/VN

Een swaeltjie maak nie ʼn somer nie, maar die VN Veiligheidsraad se aanwysing van die Portugees, António Guterres, as nuwe sekretaris-generaal van die VN, kom op die oog af baie na daaraan. Maar wie is dié mens oor wie byna almal opgewonde is?

Vir baie mense is die naam, António Guterres (67), onbekend, maar oor ʼn paar maande sal sy naam so bekend begin raak soos dié van Ban Ki-moon. Na verskeie stemrondtes, is Guterres eenparig deur die VN se Veiligheidsraad as nuwe sekretaris-generaal van die VN aangewys. Slegs een formaliteit bly nou oor voordat Guterres formeel aangewys word om op 1 Januarie volgende jaar die leisels by Ban Ki-moon oor te neem.

Dié ruimhartige, gedrewe Portugese gesinsman en opgeleide ingenieur, word allerweë as baie geskik beskou. Hy was al onder meer Portugese premier en die VN se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge, ʼn pos wat hy ʼn dekade lank beklee het en waarin hy, deur self betrokke te raak, groot sukses behaal het.

Hy ken die skerp kant van die lewe. Sy eerste vrou is aan kanker oorlede en hy het weer in getrou. Kinders is uit beide huwelike gebore.

Guterres word as ʼn hoogs-gemotiveerde sosialis beskou, maar sy diepe verbondenheid aan sy kerk het uiteindelik ʼn wig tussen hom en suiwer sosialisme ingedryf. Maar selfs toe hy as leier van die Sosialisteparty die premier was, het hy staatsondernemings geprivatiseer en ʼn sake-vriendelike omgewing bevorder.

Godsdienstige oortuigings speel by hom steeds ʼn belangrike rol om sy oortuigings te vorm. Hy glo onder meer godsdiens dryf mense om vir vreemdes om te gee.

Terwyl hy Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge was, het die probleem geweldig toegeneem. Gedurende sy dienstermyn, van 2005 tot 2015, het die aantal mense wat van hul huise moes vlug, tot 63 miljoen verdubbel. Die konflik in Sirië dra baie hiertoe by, maar danksy Guterres se fisiese teenwoordigheid, is hy goed vertroud met baie van die wêreld se vernaamste brandpunte, juis in plekke soos Sirië, Suid-Soedan en ander.

Benewens Portugees, praat hy ook Spaans, Frans en Engels vlot, wat hom ook baie geskik maak vir die pos.

ʼn Vroeë aanduiding dat die Veiligheidsraad raakgevat het met hul keuse van Guterres, is dat sy kandidatuur entoesiasties deur Rusland en die VSA gesteun is. Rusland het juis aanvanklik aan die spits gestaan van die veldtog om vir die eerste keer iemand uit Oos-Europa tot sekretaris-generaal verkies te kry.

Kritiek is ook reeds uit feministiese geledere uitgespreek nadat meer as vyftig lande aangedui het hulle sou verkies dat ʼn vrou vir die eerste keer die leisels oorneem. Guterres se voorgenome aanstelling is reeds deur een van hierdie groepe as ʼn ramp beskryf. Die enigste vrou wat egter as kandidaat gestaan het, die Bulgaar Kristalina Georgieva, het in ʼn vroeëre uitklopstemming agtste uit die tien oorblywende kandidate gekom.

Oor die algemeen is daar egter nou weer positiwiteit rondom die pos van sekretaris-generaal. Ban Ki-moon het aanvanklik goed gevaar, maar mettertyd het sy kantoor onmagtig begin voorkom. Dis nie wat die wêreld nou nodig het nie.

Te veel kan ook nie van Guterres verwag word nie. Hy is wel gedrewe en soms erg ongeduldig met state wat voete sleep, maar in sy nuwe amp gaan hy as hoogste VN-amptenaar nie oor werklik baie mag beskik nie.  Van sy voorgangers het egter ook al gewys die beperkte magte behoort nie ʼn struikelblok te wees om doeltreffend te wees en onder meer konflik op te klaar nie.

Hy blyk besonder goed toegerus te wees om die wêreld se voorste diplomaat te wees. Ban Ki-moon het hom voorheen al as een van die VN se groot leiers beskryf. Nou kry hy werklik die geleentheid om te wys wat in hom steek.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vögel ·

In SA is dit moontlik vir een aasvoël om ‘n helse verskil te maak . . .

Theuns ·

Wens hom net voorspoed toe en dat hy voorspoedig sal wees!

Gerhard Burger ·

Baie dankie vir ‘n skets oor die volgende waarskynlike s-g van die VN, en wat ook sommer lekker gelees het. Al sal hy nie werklike mag hê nie, sal hy tog oor bepaalde invloed beskik. Iets wat opsigself ‘n bepaalde vermoë om te kan doen, meebring – wat hy al bewys het gedoen kan word. Uiteindelik bly dit daarom ‘n belangrike posisie binne die VN.

John ·

Die vlugteling-probleem gaan toeneem en met Me VSA naas hom tydens die aanstelling-aankondiging weet ons nou wie sy grootste kameraad is. Immigrante word nie geveel in Portigal nie, maar hy order ander lande op grond van sy sg Christelike-gewete. Vergeet van objektiwiteit by die’ ‘wonder-oom’.

Fem ·

Ek dink feministe is baie teruggesit deur die duitse leier. Ons het soveel meer van n vrou verwag. Op die ou end maak geslag niks saak nie, die persoon wie die beste resultate lewer moet regeer, ongeag geslag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.