Nuuskommentaar: Kan inheemse Amerikaners vanjaar verkiesing swaai?

Argieffoto

Aktivisme onder die VSA se inheemse bevolking van 6,97 miljoen, voorheen bekend as die Indiane of Rooihuide, is besig om toe te neem en dit kan ’n invloed hê op pres. Donald Trump se poging om later vanjaar herkies te word.

Dit kan saakmakende aspekte vir minderhede soos die Afrikaner inhou, onder andere of raakvlakke in die behandeling van minderhede ten opsigte van sekere aspekte op oorlogsmisdade kan neerkom weens ooreenkomste met gevalle wat elders wel as oorlogsmisdade beskou word. Dit is ’n onderwerp wat ’n yslike dik verhandeling regverdig, en daarom word die “vleis” by wyse van skakels voorsien.

Die inheemse bevolking van die VSA maak moontlik net 2% van die totale bevolking van 330 miljoen Amerikaners uit, en boonop is ongeveer 32% van die inheemse bevolking jonger as 18 jaar, wat hulle as kiesers diskwalifiseer, maar al hoe meer van hierdie mense steun die Demokrate, met Republikeine wat steun afstaan.

Die kwessie het vroeg vanjaar die nuus gehaal toe die hoofman van ’n inheemse stam by ’n subkomitee van die Amerikaanse kongres gaan kla het dat die kontrakteurs wat aan die groot Amerikaans-Meksikaanse muur werk, met plofstof en stootskrapers deur gewyde gebiede van die stam stoomroller en oneindige argeologiese en kulturele skade aan strukture en grafte wat tot 10 000 jaar oud is, aanrig. Verskeie lyke is volgens ’n berig blootgestel. (Lees gerus hier vir meer agtergrond en besonderhede.)

Hoewel hierdie getuienis ’n redelike hoeveelheid publisiteit ontlok het, het meer vakkundige artikels oor die kwessie nou gesaghebbende tydskrifte begin haal. Dit gebeur egter teen die agtergrond van ’n opkoms van aktivisme onder inheemse mense oor hul regte wat gedurende pres. Donald Trump se bewind agteruit begin boer het. In die breë skets hierdie berigte en artikels agtergrond oor waarom die Republikeinse steun van inheemse mense die afgelope paar dekades van die Republikeinse Party na die Demokratiese Party begin swenk het. Dit geskied teen ’n agtergrond van ’n tyd toe dit, vereenvoudig gestel, ’n feit was dat die sogenaamde Suidelike Demokrate juis as die konserwatiewe rasbewustes beskou is, met die Suidelike Republikeine wat hulle meer vir die regte van gekleurde mense beywer het. In die noorde was die posisie min of meer omgekeerd.

Ook hierdie geskiedenis is pas weer opgediep toe Bobby J. Donaldson na ’n keerpunt in die geskiedenis van die regte van gekleurdes in Suid-Carolina gedurende die veertigerjare verwys het. Destyds, onder die leierskap van die Demokrate (lees Suidelike Demokrate), is stemreg aan gekleurdes in dié staat vir die sogenaamde “primaries” gekeer in weerwil van ’n hofbevinding deur die Amerikaanse Supreme Court.

Vandag staan daar ongeveer vyf inheemse Amerikaners in verkiesings vir die Demokratiese Party vir elke een wat as kandidaat wat vir die Republikeine staan. Die detail van hoe die steun histories verskuif het, word hier verskaf. In die breë kom dit daarop neer dat hoewel die inheemse mense tradisioneel die Republikeine gesteun het, die geleidelike uitskakeling van die Noord-Suid-verskille tussen ondersteuners van die twee groot partye die inheemse steun na die Demokrate laat swaai het. Dié proses het baie van die skrywers oor hierdie onderwerp tot die slotsom laat kom dat die proses tydens die Trump-bewind sy afloop teen ’n versnelde tempo nader. Die faktore wat hiertoe bydra, word hier deur die organisasie Culture & Survival op rekord geplaas. Die Britse Independent berig breedvoerig (met video-opname) oor uitlatings van Trump waarin hy Elizabeth Warren (’n kandidaat vir die Demokrate se presidensiële nominasiestryd) gekoggel het oor haar “Indiaanse” herkoms, en haar Poncahontas genoem het oor sy haarself weens haar hoë wangbene as van inheems-Amerikaanse herkoms beskryf het. (Die woord “Indian” word as polities inkorrek beskou, en in sommige kringe as rassisties soortgelyk aan die gebruik van die k-woord hier, of Nigger in die VSA vir wat vandag as African American bekend staan.)

Maar al sou selfs alle inheemse Amerikaners nou vir die Demokrate stem, sou dit die kanse vir Trump se herverkiesing noemenswaardig benadeel? In van die groot reservate woon baie kiesers tot ses kilometer van moeilik bereikbare stembusse. As in gedagte gehou word dat die uitslae in verskeie state net ’n haarbreedte verskil het, en dat Trump, wat byna 3 miljoen stemme minder as sy vorige teenstander gekry het weens die kieskollege-stelsel, tog die pyp gerook het, kan dit in teorie tog ’n invloed hê. Die ervaring van die inheemse Amerikaners (die Rooihuide) kan ook oorspoel na ander inheemse groepe soos die Inuit (Eskimo’s) van Alaska, die Polinesiërs van Hawaii en Amerikaans-Samoa, Latyns-Amerikaanse migrante wat in werklikheid tot inheemse stamme (soos die Mayas van Meksiko en ander lande in Sentraal-Amerika kom, van wie veral die kinders nie Spaans magtig is nie en daarom slagoffers word van die Amerikaanse grensbewakers, en verskeie al met hul lewe geboet het).

In die proses het Trump hom ook die gramskap van die Internasionale Maya-beweging op die hals gehaal. Baie wit Amerikaners is ook trots dat hulle inheemse voorouers gehad het al word hulle self as wit geklassifiseer, maar steun die inheemse bevolking se belange, en kan dalk ook hul stemme “verskuif”.

Uiteraard slaan die Republikeine terug, met die presidentskandidaat van die Demokrate, Bernie Sanders, wat vanweë sy beeld as sosialis kwesbaar is. Al leef ongeveer ’n kwart van die inheemse Amerikaners onder die broodlyn, is sosialisme tradisioneel in die VSA ’n vloekwoord en word as on-Amerikaans beskryf.  Die politieke redakteur van The Conversation, Naomi Schalit, skryf egter soos volg: “But as scholar Oana Godeanu-Kenworthy writes, it may also be a vestige of a decades-long campaign by the Ad Council, the U.S. government and business interests to demonize socialism and promote capitalism.”

Die Afrikaner en ander minderhede kan net baat deur die saak van die inheemse Amerikaners, veral op juridiese terrein, behoorlik te volg. So ook SA se eerste nasies, die Khoi en San, met betrekking tot eerstenasieregte.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
JC Venter

Die 10 grootste inheemse Indiaan stamme in die VSA vandag is:

Cherokee. 729,533.
Navajo. 298,197.
Choctaw. 158,374.
Sioux. 153,360.
Chippewa. 99,704.
Apache. 96,833.
Blackfeet. 85,750.
Iroquois. 80,822.
Pueblo 74,085
Creek 71,310

In totaal word daar 573 stamme erken.

JC Venter
Jaco

Die ANC en die EFF moet ophou met hulle Trump-bashing en eerder daar gaan leer hoe werk dié “reservate” vir inheemse Amerikaners. Dit lyk mos so al vir my na die “eenkant toe skuif” van ‘n ongewensde minderheid. Doen dan sommer dieselfde met SA se wit mense. Dan is al die “rassisye” met hulle “wit monopolie kapitaal” mos eenkant en nie meer ‘n bedreiging nie.
Ons wat in so ‘n reservaat ge-“dump” word, sal wel ‘n sukses daarvan maak. Weer van vooraf begin is wel traumaties, maar dit kan werk.