Nuuskommentaar: Kan of moet ons die 1996-Grondwet verdedig?

grondwet-argieffoto-03

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

In ’n artikel wat Dave Steward, voorsitter van die FW de Klerkstigting, geskryf het, word daar sterk in die bresse vir die 1996-Grondwet getree. Dit word veral verdedig teen ’n reeks van ses artikels wat prof. Koos Malan van die UP geskryf het, waarin hy op tekortkominge van die Grondwet wys.

Steward verwys in die artikel na oudpres. FW de Klerk se toespraak, “Bedreigings vir die Grondwet”, wat in 2009 in Potchefstroom gelewer is.

Die stigting ontken blykbaar nie dat daar probleme is nie, maar meen dit is onwaarskynlik dat iets meer bevredigend in die plek daarvan gestel sal kan word. Die stigting het ook al tevore verskeie uitsprake van die Konstitusionele Hof gelys wat as ongrondwetlik beskryf is. Hy glo die beste is om die bestaande Grondwet te beskerm en korrek te laat geld. Trouens, hy herhaal juis probleme wat al tevore uitgewys is, en stel dit duidelik dat die probleme vererger is deur die howe wat die Grondwet waninterpreteer. Voorts meen hy baie van die probleme sou gouer opgelos gewees het as belanghebbendes dit vroeër aangeraak het.

Daar is ’n ou opvatting dat as ’n leier aftree, hy nie as’t ware vanuit die graf moet probeer regeer nie. ’n Waardige terugtrede word feitlik altyd as die beste beskou, al is dit hoe moeilik. Of die jongste artikel wys is, sal die tyd leer, al is dit in elke opsig feitelik korrek. Die feit is egter dat prof. Malan, as akademikus, op sy eie vakgebied veel beter as De Klerk geplaas is om na die leemtes al dan nie van die huidige Grondwet te kyk.

Soos in die artikel uitgewys, is daar reeds lankal kommer uitgespreek oor leemtes in die Grondwet – trouens, dalk eerder foute as leemtes. Een van die vroegste kritici was wyle prof. Marinus Wiechers, wat wyd geloof is vir sy grondwetlike kennis, en ook as een van die hoofargitekte van die Namibiese grondwet beskou is.

Trouens, dit bly ’n groot vraag oor hoe dit gebeur het dat die finale Grondwet ná afloop van die Kemptonparkse onderhandelinge so drasties kon verskil van die skriftelike opdragte van die regering en die NP aan die onderhandelaars. Die opdragte is immers feitlik net so saamgestel uit die Presidentsraad se verslag 1/1990, “Besluitnemings- en konflikbeslegtingsmeganismes en -tegnieke in staatkundige stelsels”.

grondwethof2

Die Konstitusionele Hof. (Foto: Reint Dykema)

Dit is ook ’n oop vraag of die oorgangsgrondwet die beloofde tweede referendum sou oorleef het. Die verdwyning van daardie referendum het die diep wantroue onder wit mense skerp laat toeneem. Verder het die aansprake uit regeringskringe oor die mandaat wat die eerste referendum sou gegee het juis daardie mense wat ten gunste van voortgesette onderhandelings was (waaroor die eerste referendum immers eksklusief sou gehandel het), maar beslis teen die resultaat sou gestem het, ook ontstig deur ’n vals voorstelling te gee oor hoekom hulle “ja” gestem het.

Sou ’n heftiger teenstand teen grondwetlike vergrype die ANC destyds tot ander insigte gedwing het? Terwyl Nelson Mandela die president was, was sy aansien so hoog, ook onder wit mense, dat dit onwaarskynlik lyk of genoeg steun vir so ’n aksie van grondwetlike verset gevind sou kon word.

Ná die NNP se absorpsie “om julle stem binne die ANC” te word (en ’n baie stil stem geblyk het te wees), was dit ’n tyd van herposisionering. Daarna hét instansies soos Solidariteit, AfriForum, Freedom Under Law en Outa gereeld die howe genader. Soms, soos met die saak van die bruin korrektiewedienste-werknemers wat weens ’n te groot “oorverteenwoordiging” van bruin mense in die Wes-Kaap nie bevorder kon word nie, was die stigting self ook ’n party in die geding. Soms wel met sukses, en soms met minder sukses. Minstens sommige uitsprake was, in die woorde van De Klerk, weens waninterpretasies deur die howe, of in die woorde van prof. Malan, weens die ideologiese kaping van die howe, veral ten opsigte van die ANC se transformasiebeleid.

Hoe wys die jongste verklaring is, veral teen die agtergrond van kneusings wat De Klerk ná sy onlangse apartheidsuitspraak opgedoen het en dr. Theuns Eloff se bedanking uit die stigting, gaan van elkeen se mening afhang. Baie sal wonder of Eloff se bedanking nie eerder die sneller vir die verklaring was nie, en dat Malan die “spit” as sondebok moes afbyt. ’n Rugstyfmakery en blaamverplasing, of ’n optrede wat daarmee verwar kan word, is nie aangewese nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Fedup ·

Well, someone is to blame for this mess. And it’s not the citizens.

Burgermeester ·

Grondwet? Watter Grondwet? Daar is geen Grondwet om te verdedig nie, want die korrupte en kommunistiese Regering doen wat hulle wil, en vertrap die burgers van die land in die proses.

Cherokee ·

Vele, ‘n groot massa van die ja-stemmers, het nooit geweet van ‘n sogenaamde ‘tweede referendum’ en het bloot ja gestem omdat die gemiddelde landsburger nie veel weet van politiek en bloot agter die bure aan praat. Nou het òf niemand ja gestem, of beloftes van ‘n tweede referendum wat nooit gerealiseer het nie, word as die sondebok uitgekryt. Ek het vanaf ‘n verhoog aan ‘n KP-kandidaat (Ferdi Hartzenberg) gesê dat die KP was ‘n geslaagde breinbaba van die destydse Nasionale Party, om die regsgesinde stem te verdeel. Advokaat PJ Pretorius het dit bevestig in sy boek Volksverraad. Betreffende politieke kennis het dinge baie verander en mense is meer ingelig sedert digitale koerante die lig gesien het.

Jaco ·

nee stemmers maar net so skuldig: 1 miljoen nee stemme in 1992 het net 2 jaar later na 425 000 vir die Vryheidsfront (ou nee-stem propageerders) verminder. Sedert 1994 het die VF se stemme met elke verkiesing verminder. dit was eers in 2019 weer op vlak van 1994. So waarheen is al die ander nee-stemmers sedert 1994? Almal dood, of almal weg uit SA of almal by die pro-regstellende aksie DA?
Bottom line is, klomp van ons eie mense het vanaf 1994 net nie meer belanggestel nie. Sit en kritiseer alles wat skeefloop in SA, maar wanneer dit kom by stem, dan is daar allerhande verskonings. Een verskoning wat ek BAIE by konserwatiewe wit mense gehoor het is “ons het voor 1994 ons kans gehad. dis nou ‘hulle’ kans”.
Ek gee toe die VF gaan nie wetgewing radikaal verander kry nie, maar meer parlementslede kan hulle darem meer kla oor wat verkeerd loop en meer agter die skerms vir ons mense iets beding.
Maar nou ja, “ek stel nie belang nie” en “dit gaan nie werk nie” wen altyd by ons mense.

Paul ·

Die grondwet het op ‘n “demokratiese” wyse ‘n massadiktatuur daargestel om die nie-denkende te mislei.

Jacobus ·

Kastig ‘n model grondwet – niemand, ongelukkg die howe ook hou hulle hoorende doof.

Jaco ·

kom ons agiteer by die ANC om die grondwet te verander:
apartheid kom terug en word teen wit mense toegepas. wit mense verloor hulle stemreg en word onteien in 8 van die 9 provinsies. hulle word almal na die Wes-Kaap verskuif, waar hulle interne selfregering het. belasting daar is meer as in die res van SA, MAAR buitelandse beleggings word wel daar toegelaat.
vir die interim, totdat die onteienings en verskuiwings klaar is, bepaal die nuwe grondwet ook waar wit mense mag werk en hoe hoog hulle in hulle werk mag styg. skatryk CEO’s stop dus en wit monopoliekapitaal verdwyn.
rassisme word ook finaal in die nuwe grondwet omskryf as iets waaraan net wit mense skuldig kan wees. sogenaamde rassisme teenoor wit mense is maar net ‘n regverdige terugkry vir apartheid.
Ek weet my idees lyk absurd, maar as genoeg van ons “buite die box” dink en met die ANC hieroor praat, kan die dinge dalk net werk. dan weet ons mos nou almal finaal wat mag en wat mag nie en waar ons teenoor mekaar staan

Grassie ·

Ek glo nie die grondwet gaan veel van ‘n rol speel in die toekoms nie. Die regering se optrede terwyl hul kastig die virus bekamp het my al hoe meer onrustig gemaak. Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat hulle, soos gewoonlik, ‘n verskuilde agenda het en baie van hul besluite en optredes niks met die virus te doen het nie. In sy toespraak gister het CR met die sak patats vorendag gekom tydens sy toespraak in Natal. Hy het openlik gesê dat die huidige krisis vr hulle die geleentheid gee om baie veranderings aan te bring om “radikale ekonomiese veranderings” aan te bring. Hy het uitdruklik gesê dat dit swart mense sal bevoordeel. Hier is ongelukkig nie genoeg ruimte hier om meer uit te brei nie.

David ·

In die 1980s tydens die hooggety van die destydse sukuriteitsstaat aparaat het die “liberale” (eintlik Engelse en Max Du Preez) media gereeld gekla dat die howe ‘n “pro executive stance” handhaaf. Die groot klagte was dat die howe se regters aangestel is weens hulle lojaliteit aan die regerende party. As mens kyk na die huidige regsbank is dit duidelik dat daardie klagtes van die 1980s net so oorgedra kan word na die huidige regsbank. Jody Kollapen die regter in die Solidariteit saak teen die Toerisme minister se agtergrond is juis een van slaafse navolging en beskerming van die regerende party teen die ou sekuriteits apparaat. Dis totaal ideologies voorsienbaar dat iemand soos hy ‘n “pro executive stance” sal openbaar wanneer ideologie ter sprake is.

Jaco ·

as jy die regter was, sou jy maar dieselfde gedoen het. jy wil tog nie jou werk verloor nie. Mugabe het dit gedoen: regters wat sy afvat van wit plase as ongrondwetlik uitgewys het, is eenvoudig afgedank en met regters vervang wat konsekwent sy beleid nagepraat het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.