Nuuskommentaar: Kan radikale Islamitiese terreur nog verslaan en uit SA geweer word?

Boko Haram (argieffoto) Foto: scgnews.com

Boko Haram (argieffoto) Foto: scgnews.com

Radikale Islamitiese terreur wêreldwyd

Terwyl kommer toeneem oor die mag van die bose Islamitiese Staat (IS) in Sirië en Irak, het die Boko Haram in Nigerië ’n belangrike sentrum verower.

In die Nederlandse koerant Trouw vra Seada Nourhussen in ʼn ontledende artikel of Boko Haram onverslaanbaar geword het – en die prognose is nie goed nie. Boko Haram het pas die stadjie Baga aan die Tsaadmeer in die noordooste van Nigerië verower, en ’n internasionale strydmag wat daar gestasioneer was juis as teenvoeter vir Boko Haram, verjaag. Talle mense het in die meer verdrink. In Amerika het die verhoor begin van die oorlewende verdagte in die bomontploffings tydens die Bostonse marathon.

Intussen stroom jong mense uit lande soos die VSA, Nederland, België, Frankryk en ander om as jihadgangers by die IS te gaan aansluit.

Hoekom gebeur dieselfde skynbaar nog nie in Suid-Afrika nie? Of vind dit wel onder die radarskerms plaas? Met die Amerikaans-geleide inval in Irak was daar immers nie ’n skaarste aan Suid-Afrikaanse jong Moslems wat probeer het om Saddam Hoesein te hulp te snel nie. Daar is immers volgehoue bewerings dat Al Kaïda ruim van Suid-Afrika se gebrekkige wetstoepassing gebruik maak om logistiek te reël, en daar was selfs berigte oor opleidingskampe. Al Shabaab se “wit weduwee” het ook ’n ruk met vals identiteitsdokumente in Suid-Afrika gewoon.

Die Islam in Suid-Afrika

Die indruk wat nie-Moslems van die Moslems in Suid-Afrika kry, is baie uiteenlopend. Aan die een kant is daar die werk van die Gift of the Givers wat sterk humanitêr optree, en aan die ander kant erge militantheid in onder meer protesaksies teen Israel, en in die poses solidariteit met die radikale Hamas.

In Suid-Afrika behoort na raming sowat 1,5% van die bevolking tot die Islam, maar soos elders in lande waar die Islam ’n minderheid is, ervaar die bevolking die indruk van ’n veel groter voetafdruk sodat persepsies oor hoeveel Moslems daar werklik in die lande is, gewoonlik grootliks oorskat word.

Suid-Afrika het drie hoofstroom-Islamitiese migrasies beleef. Die eerste was as slawe en politieke bannelinge uit veral Indonesië, destyds die VOC se hoofkwartier in die Ooste (hulle word eintlik verkeerdelik Maleiers genoem). Die tweede fase was die invoer van Indiese werkers op suikerplantasies waarvan ongeveer 10% Moslems was, en die derde groepering, die huidige instroming van ekonomiese vlugtelinge en onwettige immigrante met herkomste uit verskillende wêrelddele soos Somalië, Nigerië, Bangladesj en Pakistan.

Breedweg word aanvaar dat die meeste Moslems in Suid-Afrika tot die Soenie-groepering behoort, met ’n veral Kaapse minderheid Ahmadiyya wat na die pasifisme neig.

Neo-Salafisme en diversiteit in die Islam

Die radikale Salafisme, of tegnies meer korrek, neo-Salafisme, is ’n onderdeel van die Soenie, en is aan die wortel van die IS, Al Kaïda, Boko Haram, die Taliban en Al Shabaab. Dit sal verrassend wees as dié leerstellinge nie ook in Suid-Afrika neerslag sal vind nie.

Tog moet gewaak word teen veralgemening. En juis op die gevaar af van oorvereenvoudiging – in Duitsland is die aanbied van godsdiensonderrig in staatskole verpligtend (maar nie die neem daarvan nie). Tot enkele jare gelede was dit vanselfsprekend die Christelike godsdiens, maar weens die groot getalle Moslems in Duitsland, is die Islamitiese opsie aangebied. Die vind van geskikte Moslems om die klasse aan te bied was egter baie problematies. Ongeag land van herkoms, hetsy Turkye, Iran, Sirië, Egipte – die onderliggende gevaar het altyd bestaan dat die jong mense met staatsfinansiering geradikaliseer sou kon word. Sektariese en politieke faktore het groot vraagtekens oor die geskiktheid van baie potensiële leerkragte geplaas, hetsy Soenie of Sjiïet (die radikale Hizbollah van Libanon is Sjiïties en in noue vennootskap met pres. Bashar al-Assad van Sirië en die regering van Iran). Die mees geskikte kandidate het op laas geblyk van Indonesiese herkoms te wees. Hierdie Islam het histories ’n eiesoortige karakter ontwikkel soos verskillende godsdienste oor die eilande gespoel het, en telkemale elemente van die oues behoue gebly het.

Uit die tradisionele verhale van die Kaapse Moslems blyk dit hoeveel elemente van selfs die oer-tradisonele godsdienste hiervan ook na die Kaap gekom het – van bose dzins en dzienies en allerlei toorkunsies, en die “Slams” wat ontbied word om te kom uitwys waar ʼn vermoorde begrawe is of die doepa versteek is wat ʼn huis vervloek. Omdat dit in die suiwer Islam onaanvaarbaar is, word dit “uitgefaseer”. Tog gee die waarde wat aan Sjeg Youssouf se praalgraf as bedevaartsplek geheg word ’n aanduiding van afstand van die Salafiste, wat praalgrafte vernietig in dele wat onder hul beheer kom, soos by Timboektoe en in die IS-“kalifaat.”

Hoe word die radikale Islam beveg?

Hierdie agtergrond skets maar ten dele die probleme wat die gematigde wêreld het om die opkoms van die radikale Islam te stuit. Dit kan nie maar net militêr verslaan word waar dit manifesteer nie, en om dit binne sy politieke en religieuse konteks te stuit, gaan bitter moeilik wees terwyl dit soveel momentum vorentoe het.

’n Goeie voorbeeld is die VSA en bondgenote se gepoogde onttrekking uit Afganistan. Die Taliban is nog lank nie verslaan of sy godsdiensweergawe “uit die mode” onder die bevolking nie. Uit Afgaanse regeringsgeledere kom al hoe meer oproepe dat die geallieerde magte tog nie volkome moet onttrek nie.

Die politiek-religieuse konteks is bitter ingewikkeld. Die Salafisme is nou verwant aan die Wahabisme, wat in Saoedi-Arabië oorheersend is (en gereeld die Weste met uiters wrede strawwe skok). Dit is dus van buite gesien, nie altyd so maklik om die “goeie” van die “slegte” te onderskei nie, en onkunde het al tot gevaarlike mistastings gelei. Waar ingegryp is, soos in Irak, is argumenteerbaar ’n groter gemors agtergelaat as dit wat tot niet gemaak het. Om afstand te hou, soos in Sirië, het ewe-eens ’n groter gemors agtergelaat, naamlik die IS.

Wat dit wel tot gevolg het, is ongelukkigheid in lande wat baie Moslem-immigrante het. In Duitsland, en in besonder die voormalige Oos-Duitsland, het die groep, Pegida (Patriotiese Europeërs teen die Islamitisering van die Weste) tot stand gekom. Pas, in Dresden, het 18 000 mense ten spyte van ’n verbod, aan ’n optog deelgeneem (lees gerus meer in die Christian Science Monitor).

Die kommer is dat die sentimente eintlik dieperliggende sentimente soos anti-Semitisme en ’n weerstand teen immigrasie onderlê. Uiteraard voed dié sentimente weer jong Moslems om te radikaliseer en vervolging te trotseer om jihadgangers te word. In die proses word gematigde Moslems en hul leiers soms ander onmoontlike druk geplaas – terwyl hulle vrede en versoening predik, word so oor die Islam veralgemeen dat hul eie jong mense in reaksie vatbaar vir radikalisering word.

Intussen bly die militêre opsie onafwendbaar. Die radikale toon min respek vir die leerstelling van die Koran dat die Christendom en Joodse godsdiens ook as ware godsdienste erken word, en Christene word op min of meer dieselfde wyse gejag as die Jazidi’s. Minstens twee voorvalle het in Kenia voorgekom waar vermeende Al Shabaab-terroriste uit Somalië gyselaars dele uit die Koran laat opsê het. Die wat nie kon nie (dus gewoonlik Christene), is tereggestel. Oor hoe die militêre optrede gestruktureer moet wees, bestaan meningsverskille. Aan die een kant behels dit die offensief wat veral deur hommeltuie (drones) behartig word om geselekteerde mense wat as sleutelfigure en besonder boos beskou word, uit te wis. Die Amerikaanse Seals word soortgelyk ingespan soos die operasie om van Osama Bin Laden ontslae te raak. Of dit ’n sinvolle impak het, en of die veelkoppige slang net nog meer koppe bygroei vir elkeen wat afgekap word, is ook oop vir debat.

Wat wel duidelik is, is dat halfhartige optrede soos Nigerië teen Boko Haram ook nie werk nie. Boko Haram brei eenvoudig die gebied onder sy beheer algaande uit. Kameroen, daarenteen, lyk of dit met meer beslistheid teen Boko Haram optree, maar solank as wat Nigerië nie dieselfde doen nie, gaan Kameroen voortdurend geïnfiltreer word.

Bomontploffing by Bostonse marathon

In die VSA speel ʼn kantlyn-toneel hom nou af. Volgens die jongste Rasmussen-peiling wil die meeste Amerikaners hê dat Dzhokhar Tsarnaev (21), die vermeende Bostonse bomplanter, die doodstraf opgelê word vir sy aandeel aan die ontploffings by die marathon byna twee jaar gelede.

Die laaste mense wat in Massachusetts tereggestel is, was in 1947. Die doodstraf is in 1982 in dié deelstaat afgeskaf. Dit is egter ’n uit en uit federale saak wat beteken die doodstraf kan opgelê word, en die potensiële jurielede wat teen die doodstraf gekant is word outomaties gediskwalifiseer.

Tsarnaev se verhoor het Maandag in Boston begin. Die proses om ’n geskikte jurie te vind, vind nou eers plaas en kan nog die hele Januarie duur. Die hofsaak self kan nog tot die middel van die jaar duur.

Bomme in twee drukkokers het op 15 April 2013 tydens die wêreldbekende Boston-marathon ontplof. Drie mense is dood en sowat 264 mense is beseer, waarvan sommiges baie ernstig.

Die verdagtes is as twee Tsjetsjniese broers, Dzhokhar en Tamerlan Tsarnaev geïdentifiseer. Tamerlan is kort hierna dood toe hy in ’n skietgeveg met die FBI verskeie kere raakgeskiet is, en sy broer hom met ’n gesteelde voertuig omgery het in ’n poging om weg te kom. Dzokhar is ’n paar dae later na ’n uitgebreide soektog gevind waar hy in ’n boot in iemand se agterplaas geskuil het.

Twee beelde word van Dzhokhar geskets – een as ’n  jong man wat deur die radikale Islam beïnvloed is en presies geweet het wat hy doen, en die ander van ’n jong man wat deur sy ouer broer gemanipuleer is. Ouboet was ʼn verbete jihadis.

Hamas

Hoe kompleks die politieke spel kan word, blyk ook uit die jongste verwikkelinge tussen Israel en die Palestyne. Israel het nie net woedend gereageer op die Palestynse owerheid se aansoek om as lidland van die internasionale strafhof toe te tree nie deur die Palestyne se befondsing te staak nie, maar die saak kan daarop uitloop dat Israeli’s en Palestyne op groot skaal oor en weer vir oorlogsmisdade aangekla kan word.

Die Palestynse owerheid is op die oomblik met ’n internasionale veldtog besig om as “volwaardige staat” op te tree, maar sy pogings om ’n eensydige vredeproses met Israel as resolusie van die VN se Veiligheidsraad te laat goedkeur, het gesneuwel onder meer toe die VSA dit geveto het.

Israel hou voet by stuk dat regstreekse onderhandelinge tussen Israel en die Palestynse Owerheid die enigste weg tot blywende vrede bied. Dié proses is op die oomblik op die ys na die regerende PLO ʼn eenheidsregering met Hamas gevorm het. Hamas erken nie Israel se bestaansreg nie, en Israel beskou dit as terreurbeweging soos die IS en Al Kaïda.

Israel beskou die Palestynse Owerheid se poging om tot die internasionale strafhof toe te tree as manier om talle Israeli’s vir beweerde oorlogsmisdade aan te kla. Israel weier volstrek dat dit gebeur.

Volgens ’n ingeligte bron sal so iets daartoe lei dat Israel, deur pro-Israelse belangegroepe in te span, veral Hamas-lede vir oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom in onder meer Amerikaanse howe laat aankla. Duisende Hamas-lede kan so onbepland voor strafhowe beland.

Die geld wat Israel nou weerhou, is Palestynse belastinggeld wat die Israelse inkomstediens namens die Palestynse owerheid insamel. Israel betaal maandeliks sowat $150 miljoen aan die Palestynse owerheid oor. Die weerhouding van die geld sal die ganse Palestynse administrasie lamlê. Heelwat geluide van ’n Palestynse opstand word nou gemaak.

Lees die volledige berig in Trouw.

Die oplossing in Suid-Afrika?

’n Goeie begin sou wees om nie alle manifestasies van die Islam as dieselfde te beskou nie. Die hande van die gematigde Moslems moet gesterk word. En ten slotte moet die regering groter sensitiwiteit aan die dag lê wanneer dit by sy buitelandse betrekkinge kom, soos die standpunt wat oor Israel en die Palestyne ingeneem word. Om ongenuanseerd pro-Palestyns te wees sonder om Hamas (en eintlik ook maar Hizbollah) op ’n afstand te hou, waarborg godsdienstige polarisasie, en skep die teelaarde vir radikalisering.

Europa se reaksie op die “Islamitisering” het baie misplaas voorgekom, omdat die grootskaalse migrasie begin het in ’n tyd toe dit mode was om Wes-Europa as post-Christelik aan te bied. Dit was dus irrelevant tot watter godsdiens, indien enige, die immigrante behoort. Mettertyd het die besef posgevat dat dit tog saak maak, al is dit net op kultuurgebied.

Waar radikalisme wyd hou, soos voorheen in Mossoel, kon Christen en Moslem eeue lank in vrede naas mekaar woon.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Herman Toerien ·

Dankie Janine, maar dit het darem aardig gevoel toe daar dieselfde dag as wat hierdie verskyn het, twee groot aanvalle plaasvind – een in Jemen en die een in Parys.

Grassie ·

In ons land is 1.5% van die bevolking Moslems, maar tog is elke pakkie margarine, feitlik elke pakkie sjokolade en ander lekkers, hoenderprodukte en talle ander verpakte voedselsoorte (wat nie varkvleis bevat nie) met die halaal-teken gemerk. Dit beteken dat al daardie voedselsoorte reeds aan ‘n ander god geoffer is voordat ek as Christen dit koop en eet. Wanneer u Paastyd paaseiers koop, let maar op. Elke paaseier het ‘n halaalmerk op.
Ek weet van ‘n groot hoenderboerdery wat weier om deur die halaalproses te gaan. Weens druk van die Moslems weier elke afdelingswinkel in die land om hul produk te koop.
Ek het al baie gewonder hoe so ‘n klein groepie van die bevolking so ‘n groot invloed op die land kan hê.

Drieks ·

Al káida het gesé ISIS is te wreed.
In Suid Afrika word meer moorde gepleeg as in Sirié per dag… Watse groep is ons…
Jammer as ek verkeerd is, sal die regte getalle graag wil sien.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.