Nuuskommentaar: Kan regses saamwerk? Die Vlaamse les

Die toenadering wat nou tussen die “bevriende vyande” in België, die N-VA en Vlaams Belang ontwikkel, laat die vraag of so iets hier te lande ook tot stand kan kom.

“Ons moet uitreik na lede van die Konserwatiewe Party,” was die woorde van Abrie Oosthuizen, destydse leier van die Vryheidsfront in die Vrystaat. Die Vryheidsfront het pas, feitlik oornag, onder leiding van genl. Constand Viljoen tot stand gekom. Al is dit oorvereenvoudig gestel, het die Vryheidsfront tot stand gekom weens die KP se weiering om aan die nuwe bedeling mee te doen.

Maar dit was ingewikkelder. Die Vryheidsfront was ook die tuiste van oud-NP’s wat nie bereid was om saam met die NP/NNP die sprong so ver na die liberale te maak nie. Hul sentimente met die KP was minder sterk.

In baie van die KP-kringe was die gevoelens met Oosthuizen, ’n APK-lidmaat, ook nie te waffers nie. Een beswaar was dat hy die een aand, nog as Vrystaatse KP-leier, ondersteuners van Viljoen uit die party geskop het terwyl dit die volgende dag geblyk het dat hy juis die leier van die wegbrekers was.

Met ’n algemene verkiesing het Volksblad twee artikels op die middelblad langs mekaar geplaas. Die een was Oosthuizen, as Vrystaatse leier, se weergawe van die Vryheidsfront Plus se beleid, die een langsaan die party se beleid soos deur die Noord-Kaapse leier, Carel Boshoff IV, gestel. Dit het soos dag by nag van mekaar verskil, sodat dit moeilik was om te glo hulle is van dieselfde party.

Heelwat later is die verskille oorbrug en het die KP saam met die Vryheidsfront as nuutgevormde Vryheidsfront Plus tot stand gekom. Eenparig was dit nie. Algaande het nuwe regse partye en belangegroepe regs van die VF Plus ontstaan. Met die afgelope verkiesing het die Front Nasionaal weer (en sonder sukses) aan die verkiesing op nasionale vlak deelgeneem. Ander het nie deelgeneem nie, maar bestaan voort, soos die Suidlanders.

Weer eens, baie oorvereenvoudig gestel, was die vernaamste verskille dat die VF Plus die internasionale norm vir volk gebruik het. Dit sluit ras as kriterium uit. Ander se vernaamste identifikasie was ras. Oosthuizen het iewers tussenin geval deur strykdeur na ras te verwys, en wanneer hy pertinent daarna gevra is, verklaar die Afrikaner is ’n wit volk.

Pas het die Vryheidsfront sy aantal LP’s meer as verdubbel en aansienlik gegroei. Peter Marais het Vryheidsfront Plus-verteenwoordiger in die Wes-Kaapse provinsiale parlement geword.

Van waarskuwings en dreigemente dat die VF Plus baie steun hieroor kon inboet, het skynbaar min tereg gekom.

Tom van Grieken, leier en voorsitter van die Vlaams Belang. Foto: (AP Photo/Virginia Mayo)

Met die onlangse verkiesing in België het Vlaams Belang, wat voorheen deur die N-VA “leeggesuig” is, skielik geweldig gegroei, terwyl die N-VA sterk gekrimp het. Vlaams Belang het uit die verbode Vlaamse Blok ontstaan, wat onder meer oor rassisme in sy beleid geskors is.

Albei partye beywer hulle vir onafhanklikheid van Vlaandere, of iets wat baie na daaraan kom. In ’n stadium het die N-VA aangedui hy gaan die verkiesing onder die beleidsvaandel van ’n konfederasie aanpak. Dit is al enkele jare gelede as besprekingsonderwerp aan kiesers voorgelê, maar het wye teenkanting gekry. Met ’n konfederasie is die deelnemers se onderlinge bande so los dat die internasionale reg, eerder as nasionale wetgewing, die verhoudinge tussen die deelnemers bepaal. Die onderwerp het hierna, tot slegs sowat drie maande gelede, baie stil geword. Dit is dus onseker of dit die N-VA met die verkiesing geknou het, ook omdat dit dan moeilik die groei van Vlaams Belang sou kon verklaar.

Die jongste nuus uit België is dat daar sterk aanduidings is dat die N-VA en die Vlaamse Blok in goeie gesindheid saamwerk aan ’n grondslag vir ’n nuwe Vlaamse regering. Die samesprekings vind plaas onder die leiding van Bart de Wever van die N-VA, met die baie gewilde Tom van Grieken wat Vlaams Belang verteenwoordig. Maar baie belangrik, Van Grieken trek ’n paar lede wat bekend is vir hul gematigdheid. Dit sluit Barbara Pas in, partyleier in die raad, en die media stel dit reguit dat dit moet demonstreer dat Vlaams Belang ’n party is wat verantwoordelikheid kan dra.

Maar die moontlikheid dat die partye sommer hande sal vat word nog as ’n kwantumsprong beskryf, maar nie oral nie. Dit word ook beskou as te verstane dat die twee Vlaams-nasionalistiese partye die oomblik (’n mandaat van die kiesers) aangryp.

De Standaard het ’n onderhoud gevoer met Bart de Wever se broer, Bruno. Bruno is ook iemand met ’n akademiese inslag. Hy verklaar onder meer dat Vlaams Belang en die N-VA tot dieselfde politieke familie behoort. Hulle is “bevriende vyande”. Hy gebruik ook die term “separatistiese blok”.

Daar is min grense sou die twee met ’n volstrekte meerderheid kon regeer.

Die “probleem” is dat die twee partye saam nie ’n volstrekte meerderheid behaal het nie. Hulle het wel naby daaraan gekom. Die N-VA het 35 setels gewen en Vlaamse Belang 23. Vir ’n volstrekte meerderheid moes hulle egter saam 63 setels verower het. Hulle kort dus nog vyf vir ’n volstrekte meerderheid. Verskeie partye, soos die Christen-Demokrate, sosialiste en die Groenes het genoeg setels gewen om die ontbrekende vyf in ’n koalisie te voorsien.

Zindzi Mandela (Foto: Twitter)

Maar vir die doeleindes van dié rubriek is die vraag of partye wat in Suid-Afrika as regs beskou word, sal kan saamwerk soos wat Vlaams Belang en die N-VA skynbaar onderweg is om te doen.

Word die verskillende faktore teen mekaar opgeweeg, lyk die kanse vir ’n vorm van samewerking nie baie goed nie. Baie hiervan is persoonlik van aard soos beskuldigings van nepotisme.

Rassisme in Suid-Afrika is ’n deurmekaar affêre.  Die regering en ander instellings soos die Menseregtekommissie laat dit gereeld klink of wit mense die enigstes is wat rassisties kan wees. Die werklikheid, met die EFF, die BLF, en die ANC self se rassisme kan baie moeilik oortref word. Die optrede van Zindzi Mandela kan kwalik in rassistiese walglikheid oortref word. Kortom, rassisme is so oor die politieke spektrum versprei dat dit moeilik is om te sien hoe dit nog hoegenaamd tot ’n samewerkingsvlak kan bydra, buiten by swart partye, groepe en belange-instansies wat ’n soort vrywaring het om rassiste genoem te word en vervolg te word.

Of is die vraag eintlik onvanpas? Sal sake tussen regse partye werklik soveel verskil as sake tussen linkse partye?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Elize ·

Nee mnr Toerien. Hier sal die partye wat as regs beskou word NIE saamstaan nie. In die RSA is dit n kwessie van elke hoender haan wat op sy eie mishoop wil koning kraai. Die eie ek is groter as die belange van die onderdruktes. Dit het die geskiedenis mos oor en oor bewys.

ZAR ·

Ek is so keelvol vir die slegte politieke leiers dat ek voel daar behoort geen politieke partye te bestaan nie. Maar nou ja, aangesien ons in hierdie situasie is en geeneen kon al met beter voorstelle kom nie, sal ek maar bly gaan stem vir die party wat my waardes en ideale die beste vertolk.
Jy moet onthou dat mense aangestel is om te regeer vir die rede om orde te skep en die land se welstand as die belangrikste te ag. Deesdae se aangesteldes glo die mense werk vir hulle en nie hulle vir die mense nie. Dis ook wanneer geld belangriker word as die welsyn van die land. Ek skree uit POLITIEKRY IS ‘N KLUG! maar dan gaan ek aan met die res van my dag en hoop daar is mense wat met beter strukture vorendag kan kom.

humor ·

Elize ek stem volmondig saam. Dit is n tragedie wat hom oor baie jare in die geskiedenis al afspeel en dit is verseker tot die ondergang van die Afrikanervolk. Die sieklike grootheid in die eie ek is die oorsaak dat mense nie hierdie werklikheid besef nie. Dit is beslis n saak wat groot preoriteit in ons toekoms verg. Dit is noodsaaklik dat ons sal moet besef dit is nie meer soos vroeer jare wat daar maar slegs partyverskille was nie, maar ons oposisie het n dodelike vyand tot vernietiging van die Afrikanervolk geword.

Realis ·

Dit is jammer dat hierdie baie belangrike artikel deur `n negatiewe beeld van Abrie Oosthuizen ontsier word. Dit is sulke optrede wat ons uitmekaar hou. Vergeet van die verskille en geskille van gister; neem die eendersdenkende standpunte en kry konsensus dat daar verskille is en respekteer dit; neem dit wat belangrik is vir oorlewing in ag en werk dan saam om ons ondergang te verhoed.

Gerhard ·

As hulle kon saamwerk sou die baie partye seker ook nie in die eersteplek betaan het nie.

Jimmy ·

Glo nie so iets is moontlik nie. Elke ou sit op sy my mishoop en sê hy is die hoofleier.

Hendrik ·

Dit is goed dat ons verteenwoordigers in die parlement het maar die meeste werk word verrig tussen die verkiesings. Die oplossing is beslis buite-parlementer en is waar programme met wees om Afrikaners te groepeer. Die kerndorpe is waar die ons mense maar moet trek en vanwaar ons weer ‘n oplossings moet produseer. Ongelukkig kan ‘n middelklas burger nie net trek nie omdat sy primere taak is om ‘n lewe te maak deur te werk. Dit het my 8 jaar geneem om my skuif te maak om in veiligheid tussen my eie mense 15km oos van Pretoria na Kleinfontein toe te trek. #OnsBlyLekker #JouEieKeuse #BoereVoordeel

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.