Nuuskommentaar: Kan SA iets leer uit VSA se rasse-onluste?

hands-296x300Suid-Afrika word graag aangebied as die modelland van hoe verdeeldheid van die verlede tot ‘n vreedsame oplossing gekom het. Verskeie ander lande met soortgelyke probleme het al by Suid-Afrika kom kers opsteek oor die doel en die funksionering van die Waarheid- en versoeningskommissie.

Suid-Afrika, wat volgens hierdie scenario op die randjie van ‘n burgeroorlog gehuiwer het (of selfs iets erger), het in plaas daarvan ‘n onderhandelde skikking, ‘n vredesakkoord en uiteindelik “die beste grondwet in die wêreld” gekry.

In baie kringe sal dit as uiters politiek inkorrek, indien nie politiek roekeloos of provokatief nie, beskou word om die vraag te vra of Suid-Afrika dan iets uit die rasse-onluste in die VSA kan leer.

Maar, soos die ou mense graag sê, ‘n mens is nooit te oud om te leer nie.

En dit is nie net Suid-Afrika wat kan leer nie. Ook in ander lande word nou harde vrae gevra – van die diep filosofiese tot die pragmatiese.

Vanoggend dra die Nederlandse koerant Trouw ‘n artikel wat ‘n uittreksel is van ‘n boek deur die teoloog Tom Mikkers. Hy is algemene sekretaris van die Remonstrantse Broederschap. Die uittreksel kom uit sy boek, ‘Het voelt echt goed. Spiritualiteit van de verdraagzaamheid’ wat op 10 September verskyn.

Hy neem onder meer die invloei van ander mense, soos Marokkane na Nederland onder die loep, en merk dan op dat almal oor verdraagsaamheid praat. Maar dan vra hy die vraag oor wat verdraagsaamheid is.

Dit is suiwer teen die Nederlandse ervaring geskryf, maar kan net so op die situasie in die VSA van toepassing gemaak word.

Oor die rasse-onluste wat in Ferguson uitgebreek het, neem die peilingsagentskap, Rasmussen, die kwessie onder die loep met die titel: “Tale of two cities? Blacks, Whites sharply disagree about Ferguson”.

Volgens die peiling meen 57 persent van die swart Amerikaners dat die polisieman, Darren Wilson, aan moord skuldig bevind moet word weens die dood van ‘n swart tiener, maar hierdie mening word deur net 17 persent van wit Amerikaners gedeel.

Altesaam 54 present van wit Amerikaners en 53 persent van ander minderhede meen die geweldpleging en plundery daarna, “mob violence” genoem, was die gevolg van kriminele elemente wat die situasie uitgebuit het, maar net 35 persent van swart Amerikaners stem hiermee saam. Die meeste swart Amerikaners meen die “mob violence” was die gevolg van geregverdigde griewe.

‘n Ondersoek is na die voorval gelas, en pres. Barack Obama, wat sy vakansie ongewoon onderbreek het, het die National Guard ingeroep.

In Julie 2013 het nog ‘n Rasmussen-peiling bevind dat die meeste Amerikaners swart mense as die grootste rassiste beskou. Die meeste swart Amerikaners (31 persent) meen ook swart Amerikaners is die mees rassistiese groep, terwyl net 24 persent van swart mense meen wit Amerikaners is die mees rassistiese groep. Onder blanke deelnemers meen net tien persent dat blankes die grootste rassiste is, terwyl 38 persent meen swart mense is die mees rassistiese groep.

In Suid-Afrika word gereeld hoog opgegee oor die versoenende rol wat die byna uitsluitlike gebruik van Engels te weeg sal bring, onder meer om uitsluiting op universiteitsvlak teen te werk.

Nog ‘n Rasmussen-peiling het bevind dat 83 persent van Amerikaners meen Engels moet die amptelike taal van die VSA wees. In ‘n ander peiling het 76 persent van Amerikaners dit as minstens effens belangrik beskou dat Amerikaners ‘n tweede taal moet ken “om in die moderne wêreld vooruit te kom”. Wat die VSA betref, glo die meeste egter dat die immigrante Engels moet aanleer.

Dit skets nietemin ‘n prentjie dat die meeste Amerikaners nie meen dat Engels so ‘n groot internasionale faktor is dat die aanleer van ‘n ander taal onbelangrik is nie.

Suid-Afrikaanse peilings dui soortgelyke foutlyne aan oor byna elke aspek van belang (soos blyk uit die meestersverhandeling van die Matie Charl Swart) – oor hoe blankes in besit van hul grond gekom het, of die ANC apartheid heringestel het (Pondering Panda-peiling onder jong mense).

Daar is ‘n groot onderskeid oor wat verskillende groepe onder versoening verstaan, wat op sy beurt versoening self onder druk plaas. Die onlangse debat oor transformasie op universiteitskampusse het ook reuse foutlyne aan die lig gebring. Te midde hiervan vind insidente plaas wat as “rassevoorvalle” en selfs as “rassisme” aan die groot klok gehang word wat ook ‘n polariserende uitwerking het.

In sy satiriese Late Nite News het Loyiso Gola verduidelik hoekom die voorval by Tuks waar twee wit studente hulself vir ‘n private partytjies as huiswerkers opgedollie het, ‘n “big issue” is. Hy voer dit juis na die VSA waar dit vroeër verbode was vir swart Amerikaners om aan “wit” opvoerings deel te neem. Blankes is vir hierdie rolle swart gemaak, en in voorkoms is hulle dikwels so gegrimeer dat hulle die tipiese gollywog-voorkoms gehad het. Ook hul spraak is aangepas dat dit vandag aanstoot gee.

Wat was die kanse dat twee wit studente van hierdie sensitiwiteit moes geweet het?

In Bloemfontein is die saak teen twee Kovsiestudente, wat selfs volgens uitlatings van ‘n woordvoerder van die Menseregtekommissie in ‘n “rassistiese voorval” betrokke was en geskors is, besig om uitmekaar te val. Uit die getuienis tot dusver, ook van die klaer, is dit reeds duidelik dat dit nie so ‘n eenvoudige saak is nie, en dat die skoen moontlik aan die ander voet kon gewees het.

Teen hierdie agtergrond sou dit stompsinnig wees om te aanvaar Suid-Afrika niks uit die ondervindings van ander lande kan leer nie.
Geen wet, of grondwet, kan mense soos ‘n towerstaffie omkeer om vooroordele en die komplekshede van ander se ervaringsvelde te begryp en te omarm nie.

Bied transformasie die oplossing? Dit hang natuurlik af van wat daarmee bedoel word. Maar intussen is dit belangrik dat gelet word daarop dat die Unrepresented Nations and Peoples Organisation (UNPO) die Europese model as die beste voorhou, en hierin speel minderheidsregte ‘n groot rol. Ook in die jongste jaarverslag van die Minority Rights Organisation waai ‘n ander briesie, en word onder meer na die toename van wit armoede in Suid-Afrika en plaasmoorde verwys.

Niemand in Suid-Afrika kan sê hy het al die antwoorde nie – nie die liberalis nie, nie die linkse nie, nie die grootste transformasiedrywer nie, nie die regsgesinde of neo-Nazi nie.

‘n Meewarige prekery, laat staan nog slegsêery van mekaar, help niks. Eers as almal aanvaar dat hulle nooit te oud is om te leer nie, sal ons dalk by die regte antwoorde begin uitkom.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae