Nuuskommentaar: Kan SA nog ’n vry en regverdige verkiesing hê?

ovk-stem-saukGaan Jimi Matthews se erkenning dat die SAUK nuus ten gunste van die ANC gemanipuleer het, nou daartoe lei dat die OVK skerper gaan kyk of die openbare uitsaaier dalk ’n struikelblok geword het om te verseker dat die komende verkiesing vry en regverdig verloop het?

Kan Suid-Afrika op 3 Augustus nog ’n vry en regverdige verkiesing hê? Die kort antwoord is, tegnies nee. Die verkiesingshof en die konstitusionele hof het immers reeds beslis dat die verkiesing nie vry en regverdig kan wees sonder die wetlik vereiste adresse van kiesers op die kiesersrol nie. En, ongelooflik soos dit mag klink, meer as ’n dekade nadat die aanbring van die adresse verpligtend geword het, het die Onafhanklike Verkiesingskommissie versuim om dit te doen, en is tussenverkiesings in Tlokwe reeds om dié rede tersyde gestel omdat die verkiesing nie vry en regverdig was nie.

Nou gaan die hele land, met ironies die uitsondering van Tlokwe, met kieserslyste stem wat reeds deur die howe verklaar is as dat dit nie vry en regverdige verkiesings verseker nie. Die konstitusionele hof het as noodmaatreël die vereiste tot middel 2018 op die ys geplaas, lank ná vanjaar se verkiesing reeds plaasgevind het.

Die beslissing van die Oostenrykse konstitusionele hof dat die Oostenrykse presidentsverkiesing nie vry en regverdig was nie, en daarom geskrap en oorgehou moet word, het ver van Suid-Afrika plaasgevind, maar is tog baie relevant. Suid-Afrikaanse howe mag buitelandse regspraak en wetgewing in verrekening bring om byvoorbeeld grondwetlike kwessies te vertolk, en dit geskied inderdaad. In die Oostenrykse geval het verkiesingsbeamptes in verskeie stemdistrikte hulle nie by wetlike voorskrifte gehou nie, en byvoorbeeld die posstemme ’n dag te gou begin tel.

Om te beoordeel of Suid-Afrika se komende verkiesing die gevaar loop om nié vry en regverdig te wees nie, moet gekyk word na die vereistes vir ’n vry en regverdige verkiesing.

  • Dit beteken daar moet gelyke geleenthede vir al die deelnemende partye en kandidate geskep word.
  • Hierdie gelyke geleenthede beteken dat daar nie onredelike beletselings of hindernisse mag wees vir partye en kandidate om vir deelname te registreer nie.
  • Daar moet gebalanseerde toegang tot die media vir alle kandidate wees.
  • Een party mag nie deur toegang tot staatsgeld bo die ander bevoordeel word nie.
  • Die verkiesingsproses moet onafhanklik verloop.

Onlangse verwikkelinge plaas ernstige kommer oor die onpartydige rol van die SAUK, die openbare uitsaaier. Vanoggend berig Netwerk 24 juis dat Jimi Matthews, wat as uitvoerende hoof van die SAUK bedank het, in ’n onderhoud erken het dat die SAUK die nuus bewimpel het om minder dekking aan die ANC se teenstanders te verleen. Veral die EFF is gerysmier.

Die OVK het reeds gewaarsku dat die geweld wat met die verkiesingsveldtog gepaardgaan, daartoe kan lei dat die OVK nie die verkiesing vry en regverdig sal kan verklaar nie. Nog niks is egter vanuit hierdie oord oor die jongste verwikkelinge by die SAUK gesê nie.

Trouens, te oordeel na die OVK se houding tot dusver, lyk dit onwaarskynlik dat die OVK onregverdige mediadekking deur die openbare uitsaaier sal verreken om te bepaal of die verkiesing vry en regverdig was. Dit beteken egter nie dat van die ongelukkige partye of burgerlike instellings, of selfs ongelukkige kandidate, die saak na die verkiesingshof en verder kan neem nie.

’n Verontrustende aspek is dat die SAUK se bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, aangedui het dat pres. Jacob Zuma die president is, en daarom respek verdien. In die Suid-Afrikaanse grondwetlike bedeling is die president egter ’n suiwer politieke figuur, en nie net ’n seremoniële president wat buite die politiek staan en volgens konvensie nie beledig mag word nie.

Kortom, Zuma, soos enige kandidaat, moet respek verdien. Hy kan nie maar net flater op blaps maak en dan weens sy amp beskerming teen kritiek “verdien” nie. Om knaend Zuma kunsmatig op TV presidensieel te laat vertoon, en die soeklig so ver moontlik van sy blapse te laat val, is growwe nuusmanipulasie en benadeel die ander partye – dit behoort die rooi ligte te laat flikker oor  hoe vry en regverdig die verkiesing sou wees.

In die geval van Oostenryk lyk dit of die besware in hoofsaak oor prosedure-ongerymdhede gehandel het, skynbaar sonder aanduidings dat met die toekenning van stemme gekonkel is. Tog het die konstitusionele hof nie die verkiesing as “genoegsaam vry en regverdig gaan beskryf nie”. Dit ten spyte daarvan dat die Oostenrykse president eintlik ’n seremoniële staatshoof is.

Dit staan in skrille kontras met die Suid-Afrikaanse regering wat saam met sy maats soos Zimbabwe verkiesings vry en regverdig verklaar. Met die laaste verkiesing het Botswana egter skei gebreek en gevra dat die verkiesing oorgehou moet word.

Kortom, die besluit of die Suid-Afrikaanse verkiesing vry en regverdig is, kan nie by die regering berus nie, en as die OVK nie sy kant bring nie, sal dit tragies wees as nie minstens een opposisieparty dit in die howe toets nie. Die howe, so lyk dit, is al wat genoeg gewig dra om die OVK by sy veronderstelde mandaat van onafhanklikheid te hou.

Daar is reeds ’n skynbaar oneindige lys studiestukke opgestel wat redes aanvoer oor hoekom dit onmoontlik is om, ten spyte van goeie voornemens, vry en regverdige verkiesings in Nigerië te hou. Baie van die redes kan net so op Suid-Afrika van toepassing gemaak word. ’n Gelatenheid met middelmatigheid gaan uiteindelik ook hier verseker dat verkiesings net in naam vry en regverdig is.

Die SAUK moet dringend reggeruk word.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Leeukop ·

Daar is geen manier dat die verkiesing vry en regverdig is nie. Die SAUK weier eers om DA advertensies te plaas, Dan skielik mag hulle net goeie nuus oor die regering versprei, met ons belastinggeld. Dit is absoluut krimineel en ondemokraties, geen twyfel nie. Verder, hulle trek munisipale grense en stel kandidate aan wat nie die plaaslike mense se keuses is nie om seker te maak die ANC wen, ten koste daarvan dat dit nou al groot lewensverlies, skole afbrand en ander probleme veroorsaak het. Hulle blaas rassehaat aan, hou die massas sleg deur om sosiale toelae te betaal aan te veel, en hulle intimideer opposisiepartye op grondvlak. Hulle hou die massas dom en naief met die swakste skoolsisteem in die wereld daarom kan die massas nie ingeligte stembesluite neem nie. Hulle sal nog eendag op neergekyk word deur hulle eie nageslag as onmenslike diktators wat niks omgegee het vir die land se kinders, wat inelkgeval tot gronde gegaan het deur hulle eie kortsigtigheid.

Aster ·

Nee, ek dink nie SA sal ooit ‘n vry en regverdige verkiesing hê nie. Die land is so vrot, dis korrupsie bo op korrupsie, bo op korrupsie…en so gaan dit aan. Ek glo nie eers ons midaad syfers is korrek nie…wat nog van ander statistieke!

Oom Ekonoom ·

Die community survey van Stats SA is misleidend, dit wys dat SA nie veel armoede het nie en ons het dit in n ander artikel op Maroela oor die naweek bespreek hier. Ek vermoed baie sterk dat inflasiesyfers baie hoer is as wat voorgegee word, al vir n hele paar jaar.

Hendrik ·

Nou dat die verkiesing tegnies nie vry en regverdig is nie gaan die opposisie nog steeds hul kruisie trek? Wat van voet neersit en die verkiesing boikot? O ja dan kan jy nie kla as jy nie gaan stem nie, al is die verkiesing nie vry en regverdig nie. Alles klink vir my maar baie ruggraatloos hoe die opposisie nog steeds gaan stem…

Slapgaaat ·

Moet netnie die verkiesing boikot nie, dit is net n verskoning vir mense wat te luisleg is en hulle eie inkomste, lewe, veiligheid en kinders prysgee om laat te le en slaap.

Hendrik ·

Ja nee Slapgaaat jy gaan natuurlik saam die stroom al is die verkiesing nie vry en regverdig. Deesdae is die verkiesingstroom maar erg besoedel en ‘n mens dryf maar saam alles af ne. Die media se masjien beinvloed jou denke en demokrasie is nie net die ou kruisie wat jy trek elke vyf jaar nie. Burgerregtegroepe kry ver beter resultate as politieke partye en dit is waarom hulle weg moet bly van politiek. Jou stem is ‘n korretjie sand in die meerderheid se woestyn en deur te stem deel jy hulle mee dis ok om diskriminerende wetgewing teen jou te gebruik. Komaan Slapgaaat hou op slapgat wees.

Tong innie kies ·

Nooit nie.Elk geval nie in S.A. Nie. Ek dink,ek wat manlik is het n beter kans om swanger te raak as wat daar kans is vir n vry en regverdige verkiesing in die land.

Theresa B ·

Wat is dit? Kan ‘n mens sous opgooi en dit eet……??

Theuns ·

Herman, hier kom moeilikheid! Dit lyk vir my of die ANC nie nou nie maar ook nie in die toekoms verkiesings wil he nie? My vraag aan jou is as daar nie verkiesings gaan wees nie word die “Status Que” gehandhaaf met die ANC wat aan bewind bly en natuurlik ZUMA ook? As ek tussen die lyne lees is daar ‘n aanloop tot ‘n situasie wat vry en regverdige verkiesings nie moontlik gaan wees nie en is daar allerlei verskonings soos ” die land brand, die kieserslyste is onvolledig, ANC kiesers wat nie van hulle verteenwoordigers hou nie, moorde op ANC kaders ens.” Ek verstaan die woede van ons eie mense en kommentators hier wat die verkiesings wil boikot. Dit gaan egter net vir Zuma help om aan bewind te bly!Wat dink jy Herman?

Herman Toerien ·

Hallo Theuns. Ek glo die verkiesing sal gehou word, maar ek weet nie wat gaan gebeur as dit dalk as nie vry en regverdig verklaar word nie. Die OVK se rooster loop bv dood by die verkiesingsdag – daar word dus glad nie voorsiening gemaak dat die verkiesing ongeldig verklaar kan word nie. Ek wonder ook wat gebeur as die president die verkiesing afkondig vir die laaste dag wat die grondwet voorsiening maak, maar dit word nie as vry en regverdig verklaar nie. Kan daar bloot oor die spertyd gegaan word? Ek dink nie so nie want selfs die grondwetlike hof was verplig om met die adresgemors ‘n oplossing te kry wat nie buite die spertyd val nie, want dan sou die grondwet gewysig moet word.
Ek persoonlik kan glad nie verstaan hoekom mense om ‘n ander rede as ‘n praktiese probleem nie gaan stem nie. Die legitimiteity-storie hou nie water nie, want elkeen het al BTW of brandstofheffing betaal. Ek self moet weens my kanker vra vir ‘n spesiale stem. Ek was baie onseker of ek die perd moes opsaal want die party waarvoor ek wil stem sou iemand as kandidaat gehad het wat sou beteken uit beginsel sou ek nie vir daardie party stem nie. En lus om vir ‘n ander party om te stem het ek ook nie.

Lida ·

Niks in hierdie land is regverdig nie. Alles word deur skelms gedoen en die massas val daarvoor !!

Rynhardt ·

Vir 22jaar word verkisings as vry en regverdig beskou, terwyl talle ongerymdhede voorkom, maar OVK dans na Anc se pype! In 2014 was daar talle ongerymdhede met stembriewe en busse, maar raai wat? OVK verklaar dit as vry en regverdig! Mense julle word oor en oor gespeel.Vir die sogenaamde opposisie is hierdie verkiesing belangrik, want joppies en groot salarisse is op die spel vir hul.

John ·

Het julle gehoor hoeveel stembriewe gedruk word? Hierdie gaan dalk eerder die laaste stemmery in die land wees. As diegene sonder adresse en sonder ID’s sterk staan en al begin het om kruisies trek (sonder pers ink), dan kan iemand ‘n 2/3 meerderheid behaal. Hulle sal net moet stop voor daar meer mense stem as wat daar mense in Afrika is…

Willie ·

Dieselfde slapende polisie beampte in die aanklag kantoor sorg dat die dokumente vervoer word.. vertrou jy die knap?

Ou Erdvark ·

Demokrasie, demokrasie wie of wat?

Hoeveel kiesers ken al die partye se beleidstandpunte om ‘n sinvolle keuse te maak? En hoeveel kan ‘n koerant lees om kennis te neem van ander se menings? En hoeveel is onder die invloed van die feodale stamhoofde om te stem soos die kaptein verlang? En hoeveel stem op die basis van hul netwerke van bevoordeling, kleur en kultuur en nie vir die regte kandidaat wat werklik en eerlik die beste belange van alle Suid-Afrikaners en die omgewing op die hart dra nie?

Nog nooit ‘n wetenskaplik gefundeerde eenduidige definisie vir “demokrasie” gesien wat elke mens op aarde mee behoort en kan saamstem nie.

Demokrasie is ‘n klug en drogbeeld. Soveel mense, soveel interpretasies van die begrip “demokrasie”.

Jan maak n Plan ·

Dankie Herman- weereens ‘n baie insigewende berig. Nee verseker sal hierdie weer nie ‘n vrye en regverdige verkiesing wees nie. Ek bedoel ‘n land soos Namibie stem dan elektronies. Nou hoekom sou Suid Afrika dan weier om dit toe te laat. Baie maklik – stem syfers kan baie makilikker gemanipileer word met stem briewe.

christine ·

Herman het jy vanoggend se Volksblad die berig gesien Zuma toespraak in AGS Kerk nommer 1 se die ANC sal altyd wen want hulle is n Chrislike party want hulle veg vir die armes van die land. Hoekom laat die AGS Kerk toe dat hulle preekstoel vor politiek gebruik word. Eers die Rhema Kerk nou die AGS Kerk

Herman Toerien ·

Hi Christine. Die AGS was gereeld onder die eerste kerkverbande wat Zuma en ander ANC-leiers vir hul godslasterlike uitlatings aangespreek het. Ek vermoed hierdie is ‘n aksie suiwer in gemeenteverband, en ek ken nie die AGS goed genoeg om te weet of so iets toelaatbaar is nie. Ek kan dit amper nie dink nie. In die ou SA is ons, reg of verkeerd, geleer dat swart mense se lewensbeskouing dikwels minder afgebaken is as wat gewoonlik by blankes geld. ‘n Blanke sal bv ‘n groot onderskeid tref tussen sy werk en ontspanning. By swart mense vloei dit meer ineen. Die konsep om politiek by die kerk in te bring is dus nie so vreemd nie. Kyk maar die reaksie toe betogers ‘n Varitybeker-wedstryd by Kovsies gaan ontwrig het met ‘n politiekery wat met die rugby niks uit te waaie gehad het nie.
Maar dis hoe ons geleer is – ek kan aan baie gevalle dink waar dit in die praktyk ook nie so werk nie.

christine ·

As hier mense is wat nou se hulle gaan glad nie stem nie ek vrra julle gaan doen die regte ding as jy een van regtig nie kan verstaan nie gaan in elk geval skryf op stembrief” ZUMA MUST FALL”

KP ·

Nee hierdie verkiesing gaan beslis nie regverdig wees nie. Stem saam Jan maak n plan met elektroniese stemstelsel. Vat elke stemmer se vingerafdruk om so te kwalifiseer vir stembrief. Dit word reeds gedoen met lisensies so hoekom nie met verkiesing nie.

REGINA ·

Dit is duidelik dat nie almal die ware betekenis van “vry en regverdig” begryp nie! Die verkiesing sal BESLIS deur die Regerende party as sodanig bestempel word, terwyl meeste mense weet dit was nog nooit in 22 jaar die waarheid nie! Wat gebeur agter die skerms as die stemlokale gesluit het, wie tel daardie stemme? Ek gee daardie verkiesingsbeamptes beslis nie die voordeel van my twyfel nie! Met al die korrupsie in SA KAN die verkiesingsuitslae ten sterkste in twyfel getrek word

ord terwylpppp

Andries Erwee ·

ek het altyd n probleem
Met woorde soos niks en nooit nie. Ons almal weet dat dit twak is dat niks in SA werk nie, my selfoon werk. Net so min is dit onwaar dat verkiesings nooit regverdig is nie..

Die grondwetlike hof het reg besluit omdat dieselfde probleme wat in Tlokwe was nie moontlik is in n landwye verkiesing nie.

Ons verkiesing sal waarskynlik in die meeste plekke vry en rdgverdig wees behalwe vir die feit dat die SABC n onregverdige voorsprong aan die ANC gee.

Dit is egter niks nuuts nie en dit was minstens van 1848 die geweld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.