Nuuskommentaar: Kan tegnokrasie SA se inploffing keer?

Ideologiese stompsinnige idealismes kan ’n land enorme skade berokken.

So in die aanloop tot vandag se staatsrede wat vanaand gelewer word, is die media – sosiale media ingesluit – vol berigte, artikels en rubrieke wat daarop dui dat die land se ekonomie vinnig aan die inplof is. Korrupsie, nepotisme, onbevoegdheid, lank reeds mislukte ekonomiese ideologieë en ander menslike wandade word beoordeel en te lig bevind – of in die geval van staatskaping en korrupsie, te swaar bevind vir die land se ekonomiese potensiaal. Dan is daar faktore soos klimaatsverandering, die afgelope jaar of twee se groot droogte, siektepandemies deur gemuteerde virusse en ander wat deur die eeue periodiek voorkom en as ʼn “act of God” beskryf is en dispute afgee oor hoe groot of sleg die mens se rol daarin is of was.

Wat Suid-Afrika betref, word die aandrang al hoe groter dat kundige ingryping nodig is. Selfs pres. Cyril Ramaphosa het onlangs sy stem dik gemaak oor onbevoegde baantjies vir boeties, en ’n oproep om meriete-aanstellings gedoen. Geoordeel aan mediaberigte en kommentare is daar net ’n verskil in vertolking – wil die president dat die ANC steeds die proses beheer en dit dus gaan oor die aanstelling van meer kundige boeties, of bedoel hy kundigheid moet onder die ganse land se inwoners gemyn word sonder inagneming van ras of politieke affiliasie?

Dit laat die vraag opduik: Wat van tegnokrasie as metode om die land uit sy “put” te red, soos ’n ekonoom dit pas gestel het? In dié stadium lyk rommelstatus vir die land onafwendbaar.

Die eerste probleem is dat min mense werklik verstaan waaroor tegnokrasie gaan, al staan baie mense en organisasies dit voor en pas dit selfs toe, maar die woord self word nie ingespan nie. Onkunde of strategiese swye? Daar is al verskeie doktorale studies voltooi waarin tegnokrasie as tema gebruik is, versprei oor verskeie vakgebiede wat byvoorbeeld teologie en sosiologie insluit. Daar word tot uiteenlopende, maar wanvertolkte, gevolgtrekkings gekom soos dat die tegnokrasie godsdiens nie goedgesind is nie, of antidemokraties sou wees. ’n Gedig, “Die tegnokrate”, handel oor die vliegkuns en vliegtuigenjins, en dit is duidelik die term is met die woord “tegnici” verwar.

Die term kan moontlik ten beste beskryf word deur na van AfriForum se projekte te verwys waar munisipaliteite wat in die hek duik, gehelp word met drinkwatervoorsiening, riolering en ander funksies waar ’n gebrek aan kennis en vaardighede een van die groot probleme is. Niemand verwissel formeel van politieke party nie.  Plek-plek verhinder (politieke) hardkoppigheid dat dié soort hulp aanvaar word en om te sink is ’n meer “waardige” opsie as om kundiges buite kaderverband in te span.

Die Solidariteit Beweging se selfhelpplan (Plan B) bevat ook tegnokratiese elemente, want dit is immers nie moontlik om ’n Christen te wees sonder om ook ’n barmhartige Samaritaan te wees nie. Om tegnokrasie as onchristelik te beskryf terwyl die Bybel dit as verkeerd beskryf om die arm weduwee weg te stuur met die boodskap, gaan in vrede, maar sy is honger, is verkeerd. ’n Christen moet immers sy naaste, homself, sy vyande en die vreemdeling in sy poorte liefhê of minstens behandel soos hy self behandel wil word.

Die Afrikanerbond se boek ter herdenking van sy 100-jarige bestaan is propvol dele wat in wese niks anders as die tegnokrasie nie beskryf.

Maar munisipaliteite wat sukkel, al kan hulle weens onkunde hul eie geploeter net uit verslae van die ouditeur-generaal agterkom, sal dikwels eerder peperduur konsultante aanstel wat dikwels, volgens opvolgende verslae van die OG, net so of nog swakker vaar as die verkose raadslede en bestuurders. In die Vrystaat is verskeie voorbeelde waar selfs munisipaliteite wat onder administrasie geplaas is, met administrateurs en al, net verder agteruit boer. Mangaung, wat Bloemfontein insluit, het ingeplof al het opeenvolgende burgemeesters en hul personeel oor die jare soveel “adviseurs” aangestel dat dit op ’n duiselingwekkende 170 te staan gekom het. Die personeelbegroting is gevolglik so erg geplunder om hierdie de facto politieke kommissarisse te besoldig dat die stad in skuld verdrink en onder administrasie geplaas is. Die politieke kommissarisse behels tot ’n groot mate voormalige raadslede wat in ’n stadium nie herkies is nie, en werkloos sou wees.

Op ander vlakke, soos provinsiale en nasionale regeringsvlakke, gaan dit dikwels nie veel beter nie.

Die eertydse politikus ds. Cassie Aucamp het by geleentheid nadat hy ’n fout in ’n mediaverklaring gemaak het, en joernaliste die fout net so herhaal het, tong in die kies gereageer deur te skryf dat as een blinde ’n ander lei, val beide in die sloot. Wat die regering se onbeholpenheid betref, is probleme te dikwels vererger deur onbekwames nie uit sirkulasie te haal nie, maar elders te ontplooi, en dikwels in die proses te bevorder. Daar was skreiende voorbeelde soos die munisipale bestuurder van Bronkhorstspruit wat die dorp onder ’n wolk verlaat het, en in Bitou (Plettenbergbaai) herontplooi is, maar sy sekretaresse teen ’n enorme salaris saamgeneem het. Terwyl hy in Bitou verbrou het, is hy ook as administrateur van Kannaland aangestel, en oplaas in die nasionale departement aangestel om “leiding” aan ander munisipale bestuurders te gee.

Die twintig hoofsaaklik landbou-gerigte regruk-wenke wat die TLU SA met die oog op die staatsrede vir Ramaphosa gestuur het, kom ook op tegnokrasie neer. Die ironie is dat die kanse groter sal wees dat die landboukundig-vervreemde regering aan boere sal voorskryf, as wat die regering sy ore sal uitleen aan kundige advies. (Die twintig punte van advies aan Ramaphosa kan hier gelees word.)

Eerbaarheid moet ’n voorvereiste vir tegnokrasie wees, anders kan die stelsel met hoogs kundige mense gelaai word wat ander kan leer hoe om nog meer soorte korrupsie te pleeg.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Leon

Die huidige toestand en rigting sal soos met Duitsland gedurende WO 2 net weer ‘n oorlog veroorsaak. Duitsland was waar ons nou amper is en Hitler het die Jode beskuldig en toe wil hy al wat ‘n Jood is uitmoor.
Die swart bevolking sal dieselfde met die blankes wil doen. Bind ‘n youtjie om jou vinger en onthou.

Pampoen

Die arm weduwee of die beseerde persoon langs die pad kan mens help. Maar, ek wil nie iemand help wat my skop nie. So as hulle bereid is om te luister en saam te werk en dankbaar te wees vir hulp aangebied, dan maak ons so. Solank hulle strewe daarna om my te vervonkfaai, dan is dit elke man vir homself en die duiwel vir die res.