Nuuskommentaar: Kankerbalkies eis baie

Rook

Foto: Pixabay.com

Met die komende begroting word wyd aanvaar dat die minister van finansies ook suikerbelasting gaan instel ten spyte van ’n verwagte groot verlies aan werksgeleenthede.

Die dryfkrag agter hierdie belasting is die minister van gesondheid wat meen Suid-Afrikaners is te vet vir hul eie gesondheid. Maar as gekyk word na die jongste verslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie wat pas bekend gemaak is, is dit duidelik dat die veldtog om ’n ander probleem die hoof te bied, naamlik rook, nie verslap kan word nie.

Teen 2030 sal die aantal mense wat jaarliks weens tabakrook sterf tot agt miljoen styg. Op die oomblik eis rookverwante siektes jaarliks ses miljoen mense.

Hierdie syfer staan in skerp kontras met onlangse nuus dat die aantal sterftes aan kanker in die VSA in 2016 25% laer was as in 1991. Een van die hoofredes vir die afname wat verskaf word, is dat veldtogte teen rook effektief is.

Die verslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) en die Amerikaanse Nasionale Kankerinstituut dui ook ander gesondheidsverwante koste van rook aan, en dit kos die ekonomieë van die wêreld ongeveer $1 biljoen per jaar.

Nie alle rokers kry uiteindelik kanker of ’n hartaanval nie, en nie alle kankerpasiënte rook of het gerook nie. (Hierdie skrywer, ’n nie-roker, is met twee soorte kanker gediagnoseer.) Tog is die regstreekse verband onbetwisbaar daar. Daar is byvoorbeeld talle navorsingsverslae oor hoe gevaarlik passiewe rook is, en lande begin byvoorbeeld ’n verbod op rook in voertuie plaas as daar kinders in is.

Om die rookgewoonte af te skud is nie so maklik nie, en selfs pasiënte wat chemo kry, sal periodiek ’n “treintjie” met hul chemosakkies en al maak en buite iewers ’n dampie gaan slaan.

Tog het die WHO die mikpunt gestel om teen 2025 tabakgebruik met 25% te verminder. Dit is reeds duidelik dat dié teiken nie gehaal gaan word nie.

Sommige lande het egter aansienlike sukses. In Swede rook nog net 11% van die bevolking en in Australië 15%.

Intussen dui navorsing daarop dat kanker wêreldwyd, maar veral in armer lande, skerp aan die toeneem is. Volgens ’n onlangse verslag van die WHO, soos berig in The Guardian, sal kankergevalle van 2012 oor die volgende twee dekades met 70% toeneem. Dis ongeveer 25 miljoen nuwe gevalle per jaar. Dit is ondenkbaar dat van die armer lande sal kan byhou met die groeiende koste om dit te bekamp, en selfs ryk lande gaan maar noustrop trek.

Navorsing wat in November 2016 bekend gemaak is, dui daarop dat mense wat 15 sigarette per dag rook, elke jaar 150 bykomende genetiese mutasies in elke longsel ondergaan. Dit raak elke orgaan van die liggaam, hoewel longe die ergste geraak word. Dit is soos om Russiese roulette te speel omdat enigeen van hierdie mutasies die kanker kan genereer. Ten minste 17 soorte kanker by mense word met rook in verband gebring.

Hoewel rook lande enorme bedrae per jaar kos, bied dit ook aan regerings die geleentheid om deur aksynsbelasting (sondebelasting) ruim te skep. Nie alle regerings is dus ewe entoesiasties om die probleem hok te slaan nie, selfs al is die belastinginkomste uit tabak en alkohol baie minder as die koste op die ekonomie.

Waar een land groot bedrae aan belasting hef, word ’n bykomende probleem dikwels geskep dat enorme hoeveelhede sigarette van buurlande waar Jan Taks nie so kwaai skep nie, ingesmokkel word.

Die groot geheim is natuurlik om nooit te leer rook nie. Dikwels kry sosiale druk iewers langs die pad die oorhand.

En iemand anders kan met sy lewe daarvoor boet, en daardie iemand kan jou eie kind wees.

Natuurlik kan die sterfte van selfs die strafste roker nie-rookverwant wees. Die afgelope Maandag is ’n asteroïde wat maar eers twee dae tevore ontdek is tussen die aarde en die maan deur. In ruimteterme is die aarde met ’n aks van ’n haarbreedte gemis. Die dag daarna het ’n reuse-aardbewing in die see, omring deur Filippynse en Indonesiese eilande, nie ’n dodelike tsoenami opgelewer nie omdat die episentrum te diep was.

Aan rookverwante sterftes kan egter iets gedoen word.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Sarie ·

Stem saam kinders en groot mense moet meer beweeg en minder gemors kos eet. Die KFC en MacDonalds kan gerus toe maak dan sal dit beter gaan.

t ·

Eenvoudige wiskunde som: Meer energie (in watter vorm ookal) inneem as wat jy verbrand word jy vet. Vetsug is net soos alkoholisme nie ‘n siekte nie, dis ‘n slegtigheid. Dis jou eie hand wat die kos in die mond stop of die prop afdraai.

Cherokee ·

Maar Fj, jy weet mos dat vetword kalorie-verwant is. En dat een teelepel witsuiker meer kalorië bevat as 5 eetlepels rou geelwortels. So waaroor wil jy nou stry? Feite is feite.

zahn ·

Wil die agbare Minister van Justisie nie asseblief in heffing instel op korrupsie nie? Dit wil voorkom of korrupsie sosiaal aanvaarbaar geraak het, net soos rook, in SA. Dit sal dus dien as ons so ‘n heffing ook kan instel?

Basjan ·

Wat daarvan om persoonlike belasting te VERLAAG, dan sal mense nie so hard hoef te werk vir n karige bestaan nie, en meer tyd hê om met die honde en kinders in die park te gaan stap, en gesonder wees…

JK ·

Hoeveel kar ongeluke het die rokers gedurende Desember veroorsaak teen die dronk besturrders?

Fred Malan ·

Te veel. Geen verskoning om te rook nie. Dis ‘n wilsbesluit wat die demoon van verslawing voed. Het self gerook, maar totaal opgehou.

Hannelie ·

Ek HAAT rook. Dit stink en die persoon ook. EN dis onregverdig teenoor ons nie-rokers by werk. Hul mag net 3 “smoke breaks ” kry. Maar vat baie meer…is ook onproduktief maar word nie aangepraat. Iemand by werk eendag een persoon dopgehou elke keer dat persoon gaan rook, en dit was 2 en halfure. EN dit sonder die 2 teebreuke en etenstyd. Eish!

Karma ·

Ek rook en sal rook solank as wat ék wíl rook. Dit is my geld en my lyf (longe). Ek rook nie in jou huis, of in jou teenwoordigheid of selfs in my eie huis nie, maar in my eie “kuier-gaatjie” wat ek het. Ek vra ook soos JK hierbo – hoeveel sterftes het sigarette in die pasafgelope vakansietyd teenoor drank/dronkbestuurders op ons paaie veroorsaak? En Fred Malan, daar is niks erger as ‘n eks-roker nie! En Hannelie – ek rook nie by die werk nie, maar net tuis. Dink jy aan hoeveel tyd jy op sosiale media spandeer by die werk – dit is gelykstaande (dalk meer) as die tyd wat ‘n roker neem om ‘n sigaret klaar te rook. En as jy nie hou van my liggaamsreuk en rookreuk nie, bly weg van my af.

Whahaha ·

GLO MY DIE PARLEMENTSLEDE IS DIE EERSTES WAT ONDER DIE SUIKER-BELASTING GAAN DEURLOOP as ek na meeste van hulle se KONDISIE kyk! Skenk eerder aandag aan MISDAAD en WERKLOOSHEID as wat julle julle oor suiker bekommer, julle eet in elk geval die meeste !

Adoons ·

Herman, die finansiële gevolge van rook verdien ‘n aparte artikel. Begin met jou uitgawe op 15 sigarette per dag, maal dit met 30 en dan met 12. Verhoog die bedrag na ‘n jaar met inflasie, en weer en weer elke jaar. Neem dan die verhoogde mediese en lewensversekeringuitgawes. Plaas al hierdie geld in een of ander beleggingsinstrument wat teen 12% tot 15% gemiddeld per jaar groei, en kyk dan hoeveel geld het jy gewoon wegverbrand deur die jare!

Nie-Roker ·

Ek stem saam. Rook verdien n aparte artikel. Niemand het gese drank of gemors kos is nie n probleem nie! Dis ook n probleem. Die artikel gaan dus oor rook n probleem is. Miljoene nie-rokers asem daagliks rook in en dit tas hulle (ons) gesondheid ook aan. Geen een is beter as die ander een nie.

Karen van Zyl ·

Ek praat namens die rokers, maak nie saak hoe sleg julle sigarette sê nie, dit gif noem ensv, dit bly lekker en bring die stressvlakke af in plaas van om drank te drink en dronk rond te loop. Dit is ons saak hoeveel geld ons wegbrand elke jaar, dit is ons geld nie julle s’n nie!

E.K. - ek sê net! ·

Natuurlik sal rokers nou weer allerhande verskonings maak (“hoeveel kar ongelukke het die rokers gedurende Desember veroorsaak…”) – dan kan mens dieselfde argument gebruik en sê hoeveel kar ongelukke is deur nie-rokers veroorsaak – die twee hou nie verband nie en is ‘n belaglike stelling. Wat ek wel weet is dat my oom ‘n strawwe roker was en dood is van longkanker en ek weet hoe hy dood is, dit was nie mooi nie. ‘n Hele paar jaar gelede kon ons pc’s goedkoop koop by ‘n firma wat bankrot geraak het – mensig toe ons die goed oopmaak agter – sulke swart teertoue – laat ek net noem almal het gerook in daardie kantoor. Rokers se klere en asems stink; eendag ‘n baba vasgehou van vrou wat rook, die arme baba het nie na babapoeier geruik nie maar die hele ou koppie die ene rook. Die kleinding is ook gedurig in die hospitaal met longverwante siektes. Wat my betref is dit die grootste geldmors, jy kry absoluut niks daaruit nie – en glo my lees tog die inhoud van sigarette op die pakkie, dis gif man! Jy kan netsowel ‘n paar geldnote verbrand want dis niks anders as waarop rook neerkom nie – jy kry niks daaruit behalwe dat jy geld spandeer het. Hoekom sukkel mense so om op te hou rook? Wel dis verslawend, dis hoekom en ja, ek wag vir die rokers se verskonings, aanvalle en negatiewe kommentare…Gee ek om? Nee!

Skoorsteen ·

Vir 28 jaar het ek gerook. Verlede Febr. 2016 was dit 28 jaar wat ek opgehou het. Geen medikasie en ‘n groot bek om vir almal te vertel dat ek opgehou het. Hoe groter die bek hoe skamer gaan jy wees om weer te begin. ‘n Goeie wenk wat ek gekry het reg aan die begin is om nooit ooit eers weer net ‘n trek te vat. Ek was vir 28 jaar ‘n “fool” gewees om te rook. Wat my egter die meeste hinder is die roker se vieslike gewoontes om stompies weg te gooi op enige plek. Noem dit en daar sal stompies lê. Sigarethouers en plastiekomhulsels volg dieselfde pad. Oor die algemeen is die roker ‘n kruis vir die samelewing met sy nie-omgee oor sy/haar optrede.
Die verhouding is tans EEN uit TWEE (gebore na 1960) wêreldwyd wat kanker het of gaan kry.
Ook ek het hulle gesien met “treintjie” om eers die rokerslus te gaan bevredig. Selfs emfiseem en die geroggel van rook se nadraai skrik nie rokers af nie. Daar is seker maar ‘n houding van “dit gebeur net met ander”.
Herman, sterkte aan jou en familie en ek bid ook vir jou want met my vrou weet ek wat aangaan.

Karen van Zyl ·

Drank is die grootste moordenaar maar nee sigarette word weereens aan gekarring? en die doelwit word mis gesit.

E.K. - ek sê net!(alweer!) ·

Karen van Zyl – van “doelwit word mis gesit” (wat probeer jy EINTLIK sê?!) gepraat die artikel gaan oor rook nie oor drank en moet in daardie konteks gelees en verstaan word. Lees maar mooi wat sigarette alles aan jou doen. Ek praat geensins drankMISbruik goed nie maar daar is wel duidelike bewyse dat ‘n glasie rooiwyn per dag (selfde hoeveelheid en GEbruik, nie MISbruik) is goed aangesien dit are skoonhou en dus cholesterol help voorkom. Wat doen sigarette enigsins goeds vir jou gesondheid?

Karen van Zyl ·

Presies my punt, die “doelwit” is dat die drank heeltemal misgekyk word, die misbruik daarvan, al die familie rusies & bakleiery, sterftes, moord ensv.! Ek rook al meer as 29 jaar baie sterk sigarette en daar makeer net mooi NIKS omdat my stress vlakke gekalmeer word elke keer as ek rook so ek vermoed dat rook gaan keer dat ek ‘n hartaanval of beroerte kry, dit is die gesondheids voordeel.

Gemsbok ·

Karen, moet ons verkragters vrylaat omdat daar reeds moordenaars in die tronk sit? Dit is nie of rook of drank nie, vermy liewers beide. Jou stresvlakke mag dalk minder voel omdat jy rook, maar jy jaag almal rondom jou se stresvlakke die hemel in en dit is ‘n feit dat mense wat rook groter risiko het vir hartsiektes en beroertes, so moenie te rustig slaap nie.

Vixie ·

Rokers, dit kan my nie skeel of jul 3 sigarette gelyk aansteek en rook nie of hoeveel geld julle spandeer op sigarette nie. My opinie oor rokers is dat hulle ongeskik en selfsugtig is en boonop stink. Ek ry met die Gautrein elke dag en wanneer mens by Centurion se stasiegebou uitstap, moet jy tussen die spul skoorstene deurloop om by jou kar te kom. Daar is nie ander pad nie. Dit is walglik. Om nie te praat van mense wat loop en rook nie. Die rook waai reg in jou gesig in en dan moet jy nou sy vrot uitgeasemde rook inasem. Selfs by ons gebou is daar absoluut nerens waar nie-rokers bietjie buite kan gaan sit waar daar nie iemand is wat ‘n dampie vang nie. Ons wil ook bietjie buite die sonskyn geniet, maar nou moet ons die verstinksel oral ruik. Boonop sien ek selde dat ‘n roker sy stompie in ‘n asblik opfrommel en weggooi. Nee, dit word sommer net daar neergesmyt en met die skoen fyngevryf. Wie moet dit optel? En voor julle rokers ‘n beroerte kry van verontwaardiging, onthou net, as die skoen pas, trek hom aan.

Karma ·

@Vixie, ek rook my sigarette saans tuis, nie by die werk nie, nie in die openbaar nie en nie gedurende werksure nie. Ek druk my sigaret dood in ‘n asbakkie en gooi die vol asbakkie se inhoud in ‘n leë pakkie, voordat ek die vol (stompies) pakkie netjies in ‘n toeseël-sakkie in ons huis-vuillisdrom gooi. Ek betaal vir my eie sigarette (en ek koop nie daardie onwettige, goedkoop gemors nie). Ek rook al 30 jaar + en snaaks, my longfunksie is nog heel goed. Ek suip nie ‘n bottle whiskey of brandewyn uit en klim dan – “big lady” – in my kar, saam met ‘n paar ‘vrinne’ en veroorsaak dan ‘n ongeluk waarin ‘n klomp mense beseer word of selfs sterf nie. Die skade wat ek aanrig is aan myself – thank you very much!

Tom Tom ·

Ek glo nie die suiker belasting gaan oor vetsug nie eerder dat die regering nog geld soek vir al die staats toelae wat betaal moet word.

Astra ·

Ek gee ook nie om hoeveel geld rokers spandeer of dat hulle hul gesondheid benadeel nie. Dis hulle saak. Wat my wel pla is dat my reg tot vars lug beïnvloed word. My nie-rook gewoonte beïnvloed ‘n roker glad nie. Maar ‘n roker se rook beïnvloed die nie-roker. So waar is die regverdigheid daarin? Daar is gedissiplineerde rokers, ek ken ‘n paar. Die meerderheid is egter so verslaaf dat hulle nie omgee oor waar hulle stompies uitgooi nie. In my opinie het baie brande in Weskaap juis deur stompies wat net by venster uitgegooi word, ontstaan. So, totdat daar ‘n totaal reuklose sigaret ontwikkel word wat ek nie kan ruik nie, wat nie my gesondheid as bystander beïnvloed nie, sal ek die rookgewoonte kritiseer.

Chantel Pruis ·

Nie-roker. Ek wil net vir almal iets vra!! Wat dink julle gaan gebeur as almal moet ophou rook??? Miljoene mense gaan sonder werk sit so dit beteken dat daar meer misdaad en moord gaan wees want mense gaan sonder werk sit en die lewe nie kan bekostig nie. (die selfde as almal moet ophou drink) ‘ die persoon wat vars lug soek – jy sal dit nooit hier kry nie. Dink jy die vuil lug is net van rook……. toe nie, wat van al die karre se uit laat gasse en al die fabrieke ens. Dink n bietjie voor jy praat. Ek praat niemand sleg nie maar daar is n paar goed waarmee ek saam stem veral by moet nie stompies uit gooi by n venster nie. Ek het nog nooit n probleem met n roker nie dit is hulle keuse of hulle wil rook of nie.

Astra ·

Asseblief. Daar is net soveel mense in die dwelm- en seksindustrie. Dit het niks met werkverliese te doen nie. Ek het die reg tot sigaretrook-vrye lug en basta. Is keelvol om met ingehoude asem deur rookwalms te loop en dít aan my klere en hare te ruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.