Nuuskommentaar: Kapitalisme volg kultuur

Die gewraakte advertensie.

Na byna ʼn week van anargie, geweld en militante versoeke van die EFF het dié party gister met Clicks vergader en ʼn ooreenkoms aangegaan. Die ooreenkoms het albei partye tot ʼn groot mate gegee wat hulle wou hê. Die EFF het Clicks sover gekry om te erken hoe rassisties hul advertensie was, alle TRESemmé-produkte van hul rakke te verwyder en verskeie swart bemagtigingsprogramme van stapel te stuur. Clicks het die EFF sover gekry om hul militante protes te staak en diegene wat deur die loop van die week soos kriminele “gestaak” het te help identifiseer en op te spoor.

Clicks se optrede deur die loop van die week het talle mense ontstel. Die oorwegende sentiment is een van teleurstelling en woede teenoor Clicks se toegewing tot die EFF. ʼn Mens het hierdie soort optrede van die EFF verwag, maar het gehoop dat korporatiewe Suid-Afrika ten minste meer van ʼn ruggraat sou hê.

Die werklikheid is egter dat die private sektor nié ons morele kompasse is of behoort te wees nie. Daar waar morele vraagstukke met die kwessie van wins verstrengel word, kies maatskappye meer gereeld om te doen wat hulle dínk vir hulle finansieel voordelig te wees. Maatskappye stel oorwegend nie daarin belang om bepaalde morele standpunte bloot vir die moraliteit daarvan in te neem nie. Indien ʼn bepaalde standpunt strook met dit wat hulle dink meer wins tot gevolg sal hê, is dit waarskynlik die posisie wat hulle sal inneem.

In hierdie geval was Clicks so bang om as rassiste uitgekryt te word dat hulle sonder om te twyfel aan die EFF se versoeke gehoor gegee het. Die EFF het Clicks se advertensie gebruik om ʼn boodskap van verontwaardiging en onderdrukking uit te stuur tot sy eie voordeel. Hoewel die EFF waarskynlik nie die meerderheid mense in Suid-Afrika se menings verteenwoordig nie, is die narratief wat hulle met hierdie ongelukkigheid gedryf het een wat skokkend hoofstroom is.

Die idee dat swart mense sistemies deur wit mense en die kapitalistiese stelsel onderdruk en verneder word, is ongelukkig een wat in vandag se wêreld as die waarheid aanvaar word. Diegene wat openlik teen die narratief uitvaar, word gewoonlik self gesien as rassisties en onderdrukkend. Hoewel die EFF bloot die rante van die samelewing verteenwoordig, wil Clicks nie die kans vat om teen die EFF se narratief vas te skop nie.

Die blote feit dat Clicks voor die EFF gekniel het, spreek van die morele transaksionaliteit waarmee hulle die hele sage hanteer het – indien die sosiale en finansiële voordeel wat hulle moontlik daaruit kan put groot genoeg is, is hulle bereid om moreel toe te gee.

Dit is ongelukkig nie ʼn vreemde verskynsel nie. Maatskappye word dikwels in moreel twyfelagtige narratiewe opgesweep met die hoop dat hulle deur die massas vir hulle morele deugde beloon sal word. Die afgelope tyd was daar so ook talle maatskappye in die VSA wat voor die Black Lives Matter-beweging gekniel het in die hoop dat hulle nie uit die samelewing verwerp sal word nie.

Maatskappye word sodoende gelei deur die populêre kultuur en narratief aan die orde van die dag. Indien ʼn beweging genoeg momentum in grootte of blote narratief kan kry, kan dit maatskappye se optrede in sekere rigtings stuur. Die private sektore het immers ʼn winsoogmerk – dit is naïef om te dink dat maatskappye skielik uit blote deug besluite gaan begin neem.

Indien ʼn mens nie wil hê dat maatskappye voor militante, anargistiese of oneerlike narratiewe moet swig nie, is die antwoord bloot om ʼn beter teen-kultuur te skep. Kapitalisme volg kultuur. Indien ʼn mens wil hê dat maatskappye bewegings, kulture en narratiewe moet ondersteun wat ʼn  beter samelewing bevorder, moet ʼn mens dít bloot vir hulle meer winsgewend maak.

EFF-lede sing en dans in optog teen Clicks in die Highveld-winkelsentrum in Emalahleni (Foto: EFF Twitter)

Die EFF verteenwoordig na alle waarskynlikheid nié die meerderheid mense in die land se opinie oor hierdie sjampoe-sage nie. Tog het hulle suksesvol by ʼn dominerende narratief ingeskakel en sodoende Clicks bang genoeg gepraat om tog te swig. Indien ʼn mens egter suksesvol ʼn alternatiewe narratief daar kan stel – een wat politiese korrektheid en die gepaardgaande kultuur van stilmaak vanuit die hoofstroom na die rante verskuif – kan jy sodoende ook die optrede van mense en maatskappye in die samelewing beïnvloed.

Clicks het nou die kant van die EFF gekies. Indien hierdie nie die soort samelewing is waarin ons wil leef nie, is dit belangrik dat ons dit baie duidelik maak dat ons die ander kant kies. Indien ons toelaat dat die EFF die enigste party is wat praat in hierdie gesprek is hulle al wie gehoor gaan word. Indien ons nie wil hê dat militante anargiste ons samelewing met chaos regeer nie, moet ons dit in woord en daad duidelik maak dat ons nié hulle gedrag goedkeur nie en diegene ook verwerp wat hulle gedrag toelaat.

Karl Marx het eens oor die kommunistiese beweging gesê: “Die laaste kapitalis wat ons gaan hang, sal die een wees wat die tou aan ons verkoop het.”

Dit is belangrik dat ʼn mens nie toelaat dat slegte idees en bewegings ons samelewing en kultuur dikteer nie. Dit sal naïef wees om te verwag dat korporatiewe Suid-Afrika as ons morele kompasse in hierdie opsig sal optree. Hulle sal altyd optree in dít wat hulle dink hulle beste belang is – selfs totdat hulle deur hulle eie toue opgehang word.

Kapitalisme ís goed – dit bly steeds die beste enjin vir welvaartskepping en vooruitgang. Net omdat dit goed is, is dit egter nie opsigself inherent deugdelik nie. Daarom is dit belangrik vir die burgerlike gemeenskap om as teenwig teen harde kapitalisme te dien. Nes ons heil nie in die staat uitsluitlik lê nie, lê dit ook nie uitsluitlik in die private sektor nie. ʼn Gesonde samelewing word eerder gekenmerk deur ʼn goeie balans tussen die staat, burgerlike gemeenskap en private sektor. Dit is daarom belangrik dat ons ook in hierdie opsig ons eie rol vervul ten einde ʼn beter samelewing te help vorm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Maritha ·

Leer net die EFF kindertjies lees, dan sal 90% van alle drama end kry!

JohanR ·

Oh TRESemmé, oh TRESemmé you make my hair so soft and gay! For problem hair like dry and damaged, fine and flat and frizzy and dull there is a TRESemmé product made just for your type of hair. If you are black, brown, white Chinese, Japanese, Samoan, Caribean there is a TRESemmé product for YOUR hair. Whether you are Kenyan, Somalian, Tanzanian, Nigerian, Israeli, Egyptian, Botswanian, Zimbawian, Malawian TRESemmé is for your hair. Oh! Just not for South Africa black hair? Oh dear! Oh well! Oh TRESemmé, oh TRESemmé you make my hair so soft and gay! As jy daar in ou Julius se badkamer gaan kyk, is daar seker rakke en rakke TRESemmé-produkte wat hy seker nou vry gekry het

katerinadiekat ·

Clicks het my as klient verloor. En ek het nogal gereeld n hele bietjie geld daar spandeer. Maar ek gaan regtig nie aanhou geld spandeer by n maatskappy wat so kruip voor die EFF nie. Never gonna happen. Farewell Clicks.

Dals ·

Dischem, Makro, Game en Pick en Pay het net so vinnig daardie produk verwyder – geen ruggraat nie

Friedrich ·

Aangesien Clicks op die EFF se aandrang gereageer het stel ek voor ons ondersteun nie meer vir Clicks nie. Dischem het in elkgeval naie meer keuses van produkte.

Dals ·

Dischem het gou gou gevolg om die produk van sy rakke ook te verwyder so moet nie so gou vir Dischem engel vlerkies gee nie

Robert ·

Gaan ondersteun liewer jou kleiner privaat eienaar apteke, al die korporatiewe afteke het die knie gebuig.

JohanR ·

Die hele klomp winkels lafaarde het TRESemmé-produkte van die rakke afgehaal!

Persheks Adri ·

Hulle probeer ons aandag weg kry van die korrupsie af. Kan nie daai ooreenkoms verstaan nie dis vertraag verby.

So wanneer sit die EFF in oranje pakkies?

Johann ·

Buig oopmond agter oor om anargiste hulle dreigende sin te gee. Die geweldenaars loop lekker groot bek en groot kop rond en is maar te trots op hulle MAG voor wie elke en almal buig?

Weet my voorskrif en bril skoonmaak aankope is minimaal in Clicks se till…maar as ons saam ons misnoë met hul slapgat rugraatlose anargie omdersteunende hoidig WYS…dalk kry hulle die boodskap.

Of wat van hulle dra by vir die beveiliging van plase en boere wat wreed vermoor en verkrag word? Staan op vir iets wat ooglopend n beplande aanslag is! Of is hulle bang die EFF kom TOI TOI en dryg dat dit rassisties os?

SHAME ON YOU…BACKBONE LESS MANAGEMENT OF CLICKS!

Nie Verbaas ·

Hier is baie meer agter die ding as wat ons vermoed. Lees oor Public Investment Corporation (PIC) dan sal dit verduidelik hoekom regering niks gese of gedoen het nie. US maatsksppy uit terwyl PIC middels seker uit China sal invoer. Raai wie baat daarby?

Nie Verbaas ·

Lees maar op pot PIC, Public investment Corporation. Nou weet ons hoekom regering stil was.

Jessey ·

Ek is baie opgewonde dat MM hier noem dat as ons ‘n ander Narratief wil sien, dan moet ons die ander Narratief daar stel.

Ons kan nou nie soos die EFF gaan sing en dans en breek nie, want dan kriminaliseer ons onsself. Dus is die beste teenvoeter in my opinie heer een van Kapitalisme soos genoem hier bo.

As Clicks dan Kapitalisme navolg en sodoende probeer om hulle beeld te red deur toe te gee, dan kan die res van ons mos ons misnoee toegee deur nie ons geldjie by hulle te spandeer nie.

Dit in my opinie stel dan ‘n ander Narratief, wat vir seker opgelet kan word. Ek dink Spur en Totalsport het die algemene publiek se ongelukkigheid met hulle besluitneming opgemerk.

Just saying

JohanR ·

Jy is reg Raymond. Voel jammer vir die werkers by Clicks, maar ek is 10 jaar laas in ‘n Spur in en vandat Totalsports Eben Etzebeth se standbeeld uit sy vensters verwyder het, ook nog nie weer daar in. Clicks is ook nou vir my verby. Sal nie weer ‘n sent daar spandeer nie. As hulle eendag weer ‘n ruggraat kry dan sal hulle my geld weer sien!

My siening ·

Hoe kan dit rassisme wees want ek sien nie n wit mens in enige van die, want dit is ook hoekom hulle nie die beskuldigdes wil naam nie want as hulle wit was sou dit voorblad nuus wees want net wittes is rassiste so sê die eff en anc.
So bye bye clicks daar is oor as genoeg apteke in die land!

Strandloper ·

Mmmmm…mal “ematjie” rek sy bek en almal spring…

Adam Adriaan ·

Ja die EFF het vir Clicks geslag en was dit ‘n morsige afêre!. Wonder wat het die EFF met die afval van Clicks gemaak.

pdbpta ·

In my boek is die vertaling van “fine and flat” – “dun en flenserig”. Beide begrippe het negatiewe skoonheids-konnetasies! “Droog en stukkend” het ook geen neerhalende steriotipe betekenis nie. Waaroor die herrie? Mis ek die punt???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.