Nuuskommentaar: Katar-isolasie gaan gevoel word

Gaan die optrede van verskeie invloedryke Arabiese lande teen Katar dié landjie gou tot ander insigte oor steun vir radikale Moslems bring, of wag daar ’n lang proses? En gaan Katar die voorreg behou om die 2022 Fifa-eindtoernooi aan te bied? Die kwessie is vol bymotiewe, en daarom kompleks om ’n uiteinde te voorspel.

Die omvattende isolasie waarin verskeie Arabiese lande hul klein, maar invloedryke buurman, Katar, geplaas het, het reeds ’n rimpeleffek elders in die wêreld. Maar, soos dit dikwels in die internasionale politiek blyk, lyk dit ook nou of bymotiewe ’n groot deel van die dryfkrag daaragter is.

Saoedi-Arabië, Egipte (wat ongeveer die helfte van die wêreld se Arabiese bevolking huisves) en die Verenigde Arabiese Emirate is om wyd-uiteenlopende redes baie invloedryke lande. Maar ook minder belangrike lande soos Mauritanië en die Maledive steun die isolasie, terwyl Jemen en Libië in hierdie stadium skaars as state kan opereer.

Katar se effektebeurs het gou sewe punte verloor, ’n aanduiding dat die isolasie gevoel word. Katar het egter sy oliemiljoene wyd oor die wêreld belê, soos in die Nederlandse oliemaatskappy Shell, en dit gaan gevoel word.

Katar het enkele jare gelede ook op omstrede wyse die bod gekry om Fifa se 2022 wêreldbeker-eindtoernooi aan te bied. Stadions met binnenshuise verkoeling teen kokende somertemperature word onder meer gebou. Veral die Nepalese regering is langlippie oor die bykans slawetoestande waarin sy burgers aan die infrastruktuur werk. Min mense betwyfel die bewerings dat Katar sekere Fifa-ampsdraers ruim vergoed het om die bod aan dié Golfstaatjie toe te staan.

Formeel is die bande verbreek weens Katar se volgehoue steun aan die radikale Moslembroederskap. In Egipte word die Broederskap vervolg asof dit ’n terreurorganisasie is. Volgens sommige bronne is daar ook ontevredenheid omdat Katar Isis op die een of ander manier sou steun. Sedert 2015 het gereelde berigte oor samewerking verskyn. Die meerderheid van Katar se bevolking is Soenie-Moslems, waarvan die Salafiste ’n vertakking is. Isis en die meeste hedendaagse terreurorganisasies vind hul begronding in die Salafisme.

Katar ontken dat hy radikale groepe steun. Dit is egter lank reeds bekend dat Katar die Hamas-beweging op verskeie maniere steun, en onder meer ook leiersfigure huisves. Volgens die jongste berigte wil dit voorkom of Katar van die mees prominente Hamas-lede uitgeskop het.

Natuurlik is daar bymotiewe ook. Pres. Donald Trump het onlangs in Saoedi-Arabië ’n vergadering van entoesiastiese Arabiese leiers toegespreek en gesê Moslemlande moet self meer doen om radikalisme binne Islam kort te vat. Saoedi-Arabië het in die proses ’n wapenooreenkoms van $110 miljard met die VSA losgeslaan.

Die optrede teen Katar is egter komplekser as net om die VSA ter wille te wees. Saoedi-Arabië is lank reeds langlippie vir Katar oor sy goeie bande met Iran. Die kleine Katar het wat dit betref, nie veel van ’n keuse nie, want dit deel die wêreld se grootste gasveld met Iran. Maar voeg Katar se ander skei-teen-die-juk-optredes hierby, en dit word duidelik dat die isolasie eintlik onafwendbaar is.

Intussen word die isolasie al hoe vollediger. RSG berig vanoggend dat ’n aantal Arabiese lande nou ook hulle lug-, see- en grondverbindings met die Golfstaat beëindig het nadat hulle vroeër diplomatieke betrekkinge verbreek het.

Dit is moeilik om te voorspel hoe die olieprys op dié gebeure gaan reageer. Dit het aanvanklik skerp gestyg en daarna weer gedaal. Indien die krisis ’n redelike ruk gaan voortduur, kan verwag word dat Katar sy olieproduksie sal opskuif en dat die prys op die wêreldmark weens oorvoorsiening kan daal. Katar kan 23 jaar lank olie teen sy huidige kwota aan die wêreld voorsien, tensy nog reserwes gevind word. Die land beskik oor die derde meeste gasreserwes ter wêreld en gas in vloeistofvorm is ’n groot uitvoerverdiener. Die prentjie verander natuurlik heeltemal as die opskorting van ’n seeverbinding uitgebrei word ná ’n see-blokkade.

Voorlopig lyk dit nie asof Katar sy rug gaan styf maak nie en eerder sy beeld van steun aan radikale groepe blitsig gaan afskud, soos blyk uit die beweerde uitskop van Hamas-leiers. Dit lyk ook of daar in die kommunikasie met Fifa op groot skaal knievallery plaasvind. Die krisis kan baie gou oor wees.

Sommige ontleders verwag egter ’n eskalasie, of beskou dit in ’n baie ernstige lig, soos blyk uit Trouw se opskrif, “Diplomatieke donderwolk trekt oor het Midden-Oosten”.

Gaan Iran sonder meer toelaat dat sy “belange” oorkant die Golf gesmoor word, soos sy steun aan die Sjiïtiese Houthi-rebelle in Jemen?” In verskeie Golfstate is daar Sjiïtiese minderhede. In dié stadium het Iran egter, soos Turkye, aangebied om as bemiddelaars te dien.

Dit moet ook nie uit die oog verloor word nie dat Westerse betrokkenheid in die sage in hoofsaak ten doel het om die oorsprong van radikale Moslemterreur by die oorsprong te smoor. Gaan Europese lande wat nou gereeld onder sulke terreur deurloop enigsins baat daarby as Katar op sy plek gesit word en radikale groepe dit nie meer as basis kan gebruik nie? Of het die gees van Salafisme al soveel vastrapplek onder Europese Moslems gekry dat die sogenaamde “home grown”-terreur die eintlike bedreiging is?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

John ·

Aljazeera, tv-kanaal 406, is in Katar gesetel. Een van hul joernaliste sit reeds meer as ‘n jaar in ‘n tronk in Egipte. Hierdie kanaal strooi gif tov Israel en beeld die geskiedenis uit met die klem op Moslem-verontregting. Groot baklei wag as die wereldbeker-aanbieding weggeneem gaan word…

Ansie Geldenhuys ·

Polities – geen kommentaar – So beland al die lande in die moeilikheid = enige oplossing ?

Eissshhh ·

Dis nie “Katar” nie ..daar bestaan nie n land met daai naam nie..dis “Qatar ”
Dis ook nie “Doebaai” nie … Dis ” Dubai” ….capice …. oor en uit

Janie du Plessis ·

Dagsê Eissshhh,
Dankie vir jou kommentaar. Volgens Pharos se Skryf Afrikaans van A-Z is ‘Katar’ die regte Afrikaanse spelling. Ons aanvaar dit dus as die formele Afrikaanse spelling. “Katar” is dus nie in hierdie berig verkeerd gebruik nie.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.