Nuuskommentaar: Kathrada ter ruste – Zuma se onrus(te)

Kgalema Motlanthe tydens Kathrada se begrafnis. Foto: Foto: Siyabulela Duda/DOC/GCIS

Gaan struggle-veteraan Ahmed Kathrada se begrafnis, waarvan pres. Jacob Zuma uitgesluit was, en die jongste Gordhan-debakel as katalisators dien wat uiteindelik tot die ANC se skeuring kan lei?

Die begrafnisdiens van die struggle-veteraan met ’n voorliefde vir boeremusiek, Ahmed Kathrada, het in ’n triomf vir die konstitusionaliste in die ANC ontaard. Pres. Jacob Zuma, wat nie by die begrafnis welkom was nie, se onrustigheid moes in die proses toegeneem het.

Maar nou is Kathrada, soos Nelson Mandela, begrawe en kan hulle slegs deur hul nalatenskap en troue ondersteuners nog ’n invloed uitoefen. Zuma, daarenteen, is springlewendig, en het talle ongehoorde grondwetlike magte wat hy boonop al goed leer inspan het.

So eenvoudig is dit egter nie. Die tsunami van verset teen Zuma het met gister se verrigtinge ’n enorme hupstoot gekry. Oudpres. Kgalema Motlanthe en min. Pravin Gordhan is soos helde ontvang. Motlanthe het nie doekies omgedraai oor Kathrada se weersin in Zuma nie, en dit is entoesiasties deur die begrafnisgangers ontvang. Die sosiale media het saam met die media vir die res gesorg. Die boodskap: “Zuma moet bedank.”

Soos Maroela Media in gister se nuuskommentaar voorsien het, het Kathrada se dood en begrafnis dit vir Zuma onmoontlik gemaak om die planne wat hy met Gordhan en Kie se terugroep uit Brittanje gehad het, dadelik ten uitvoer te bring. Intussen neem gerugte, en moontlik ook fopnuus, hand oor hand toe.

Vanoggend berig die media aan die hand van ’n ongenoemde bron dat ’n “intelligensie”-verslag tot Gordhan-hulle se terugroep gelei het. Die verslag verwys na ’n beweerde voorneme van die Gordhan-span om Zuma se beeld oorsee swart te smeer. Dit sou as Operasie Skaakmat bekend staan.

Benewens Zuma self is daar stellig nie veel mense, ook oorsee, wat glo dat Zuma se beeld nog swarter gesmeer kan word as wat dit reeds is nie. Hoekom sal hardebaard tegnokratiese politici hul posisies in gevaar stel om iets te gaan doen wat Zuma eiehandig in oortreffende trap reeds self gedoen het?

Intussen neem die gerugte dat Zuma vir Gordhan gaan pos nie af nie.

Die peperduur Londense beeldpoetsers waarvoor die Guptas glo betaal, gaan oor die volgende paar weke maar ’n opdraande stryd voer om Zuma fatsoenlik voorgestel te kry. En elke dag word die moontlikheid groter dat Suid-Afrika by ten minste sommige graderingsagentskappe ’n rommelstatus op die lyf kan loop.

Hiervoor sal net Zuma bedank kan word, want Gordhan en sy mense het werklik uit hul pad gegaan om die land se beeld te bevorder – en die stappe in die praktyk te doen om die wolf weg van die deur te hou. En dit is ’n gedugte taak te wyte aan die blote aanwesigheid van Zuma en sy reputasie.

Dat daar ’n kabinetskommeling moet kom, is ongetwyfeld so. Onder die “voorste aanspraakmakers” om die trekpas te kry is ministers Faith Muthambi en Bathabele Dlamini. Hulle klop ’n hele paar ander ministers net-net. Maar dit is Zuma-lojaliste, en dit is vir Zuma goud werd in sy pogings om op die langer termyn uit die tronk te bly. Min. Derek Hanekom leef waarskynlik ook net op geleende tyd nadat hy die aanslag in die NUK gelei het om Zuma te laat uittree. Verder moet Zuma plek in sy besonder lywige kabinet vind vir sy voorkeur-kroonprinses, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, asook vir nog ’n omstrede skoothondjie, Brian Molefe.

Dit is so helder soos modder presies wat nou gaan gebeur. Omtrent al wat duidelik is, is dat Zuma oor die afgelope paar dae in die hof verneder is, dat sy terugroep van Gordhan en geselskap uit die buiteland erg ongewild is en die land se ekonomie geskaad het (weliswaar nog op kleiner skaal as die Nenegate-skandaal), en dat hy erg verneder is deur die Kathrada-begrafnis wat simbolies die Mandela-nalatenskap en konstitusionaliste in die ANC verteenwoordig het.

Dit beteken egter nie dat Zuma nou eensaam is nie. Hy is ’n populis wat sy etniese herkoms as vertrekpunt gebruik, en ’n sterk magsbasis onder sekere sektore opgebou het. In die proses is die kloof tussen die Mandela-nalatenskap-konstitusionaliste en die Zuma-volgelinge erg vergroot. Trouens, hulle het bykans niks gemeen nie, soos ’n gesteldheid op nie-rassigheid aan die een kant, en ’n totale benepenheid met ras en swart wees aan die ander kant. Ontleders, soos prof. André Duvenhage, voorsien die moontlikheid dat die situasie aan die hand van faktore wat hy identifiseer, so kan ontwikkel dat die ANC kan skeur.

Soos in gister se nuuskommentaar voorsien – die land is op die randjie van ’n waterskeiding.

Dalk ontwikkel die ANC se leiers onder hierdie “noodtoestand” genoeg ruggraat om Zuma op ’n manier uit sirkulasie te haal, maar die slaprugheid tot dusver laat dit eerder lyk of die bottel sal moet bars.

En al laat dit die land dan byna oornag rommelstatus op die lyf loop, kan dit op die langer duur tot voordeel wees as die konstitusionaliste en die verantwoordelike opposisiepartye hande vat en die land op ’n verantwoordelike manier uit die moeras lei. Die Zuma-ANC en die EFF, saam met ’n paar surrogaatpartytjies soos die NFP, Agang en die Pan-Afrikanistiese brokkies, kan saam baie lawaai maak, maar hopelik nie veel doen om die land op sy herstelpad te stuit nie. (Dit hang op sy beurt af of daar ’n verkiesing, of vervroegde verkiesing, met die skeuring gepaardgaan.)

Indien nie, kan die ANC-groep met die meerderheid die wettige voortsetting van die ANC wees en eenvoudig die wegbrekers as parlementslede skors en vervang. As dit die populiste is wat die beste daarvan afkom, is die land ten minste tot die volgende verkiesing nog dieper in tamatiestraat.

En hopelik sal die ANC se konstitusionaliste die harde, harde les geleer het dat die Grondwet te veel magte aan die president gee om met ’n populis te waag – veral een wat met die moontlikheid van lang tronkstraf oor sy kop die land moet “regeer”.  Die Zuma-era is nog nie verby nie, maar wie nog nie besef dat so iets hom nooit durf herhaal nie, het geen greintjie greep op die werklikheid nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Leendert ·

Die groot ses van die ANC is veral die probleem. Zuma met sy twee stoere dame ondersteuers, Mbete en Duarte aan die een kant. Opponerend, die manne, Mantashe, Ramaphosa en Mkhize. En nie een van die spul boesem vertroue in nie, as mens na hul optrede kyk en wat hulle al vermag het, is dit opsigself ook nie ‘n gemoedsrus dat ons sonder Zuma rommelstatus sal vryspring nie.

Paternoster ·

Ek verstaan nie: waarom kan daar nie stappe geneem word deur wieookalanders as korrupte polisie/valke om Zuma se aanklagtes verder te vat nie?

Johann ·

Paternoster. Verder vat die kan wel, via n sekere meneer Nel, jip…Gerrie kan blykbaar uithelp met die herrie?

Johann ·

Zuma is nog lank nie klaar nie, kom ons kyk wat gaan vandag gebeur en hoe gaan sy nuwe kabinet daar uitsien. Wat ‘n ramp wag dan nie op die land en veral die wit mense en boere wat ‘n al groter teiken gaan word nie.

Sw ·

Ons witmense is geen bedreiging vir hulle nie. Inteendeel het ons ons onderwerp aan die nuwe regering al was dit n gekla en gekerm, ons belasting betaal en voortgegaan met ons lewens.
Ek glo vas, al was hierdie afgelope paar jaar n moeilike rit, dat Christus nog steeds in beheer is en dat alles ten goede sal meewerk vir ons land.
Ons is tydelike, vlugtige wesens, en daarom moet ons als in ons kort lewe doen om te veg vir wat reg is. Sodat ons nalatenskap n beter lewe sal hê.

Sarie ·

Ondersteun niè die ANC nie, maar het mnr Kathrada gerespekteer. Jammer oor sý afsterwe…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.