Nuuskommentaar: Ken jy (nog) die land…? Verhaal van die liedereskat

'n Betoger van Sebokeng, suid van Johannesburg, Woensdagmiddag. Foto: SAPA

‘n Betoger van Sebokeng, suid van Johannesburg, Woensdagmiddag. Foto: SAPA

Teen gister het die gewelddadige diensleweringsbetogings reeds soos vallende domino’s na drie provinsies uitgebrei. Toe het nege mense reeds die lewe gelaat.

Die staking in die platinumbedryf, so lyk dit, se grootste probleem is dat as Amcu moet teruggaan na sy lede en verduidelik dat hul salariseise onrealisties en onbekostigbaar was, dit vir die vakbond groot politieke geloofwaardigheidsimplikasies inhou.

Die SAUK verdedig sy eie aanstellings teen beskuldigings deur ‘n onafhanklike oudit dat baie van die korporasie se aanstellings nie oor die nodige kwalifikasies of vaardighede beskik nie, en probeer die aanstellings regverdig.

Die regering word daarvan beskuldig dat dit valslik voorgee dat ‘n geredigeerde weergawe van sy eie Nkandla-verslag die oorspronklike is. Dit klink baie na die sage rondom die regering se eie ondersoek na die wapenskandaal, waar die kabinet ook die verslag eers deeglik “geredigeer” het voor dit vrygestel is.

Kabinetslede en ander hooggeplaastes, selfs die president, maak die een kwasi-godsdienstige uitlating na die ander wat kerke en Christene ontstel, maar dit word volgehou – klaarblyklik as deel van ‘n verkiesingstrategie.

Die amptelike en wettige dobbelbedryf staan in skerp teenstelling met die teenspoed wat die bonusobligasies destyds van kerke gekry het sodat die destydse regering die handdoek moes ingooi en dit opskort.

Die ouditeur-generaal se jaarlikse munisipale oudit lewer elke keer maar net weer ‘n slagting op, en elke keer word daar erg bontgestaan om nie die probleem by die wortel aan te spreek nie. Al hoe meer verslae oor riool wat in riviere beland, en drinkwater wat gevaarlik is, sien die lig.

Die party wat sekerlik die meeste daarvan beskuldig word dat dit ‘n rasgebaseerde party is, is die enigste wat teen rasgebaseerde wetgewing stem.

‘n Verslag van Corruption Watch bring skokkende inligting oor die vlak van korrupsie aan die lig, wat eintlik ‘n donkerder prentjie skep as die amptelike internasionale korrupsiepersepsie-indeks waarop Suid-Afrika flink die kreeftegang gaan.

Om nie so gereeld te sê: “Daar is vanaand weer niks op TV nie” beteken die hand moet in die sak gesteek word om DStv aan te skaf.

Berigte op Maroela Media se bakkiesblad oor renosterstropers wat doodgeskiet is, en Masedonië waar herhaalde oortreders van kindermolestering vrywillig chemies gekastreer kan word om ligter vonnisse te kry, trek enorm baie “likes” wat op ‘n grootskaalse keelvolheid vir wetteloosheid en erodering van waardes dui.

Plaasaanvalle het ‘n duidelik-onderskeidende voor en na 1994–patroon.

In die parlement vind ‘n solidariteitskonferensie plaas wat ‘n baie groot verskuiwing in Suid-Afrika se buitelandse beleid demonstreer – solidariteit met die Palestyne, met Kuba en Wes-Sahara. Daar is onder meer uitsprake dat Israel geen bestaansreg het nie, en uitsprake wat daarop neerkom dat dit in die haak is dat Kuba sy eie mense van demokrasie ontneem en aan ‘n uitgediende ekonomiese beleid bly onderwerp.

Uitlatings soos: “Ek voel soos ‘n vreemdeling in my eie land” word dikwels gehoor.

‘n Oorsig van die ou liedereskat van die land toon duidelik hoe ver die verwagtinge wat hiermee geskep is, soms amptelik, oor die toekoms, verskil van wat nou beleef word. Sekerlik die lied wat nou as die mees politiek-inkorrekte beskou sal word is die volgende:

Ken jy die land waar die Boerevolk woon?
land met sy berge, terrasse gekroon?
Land met sy ruimtes so wyd en so vry?
Ai, dis die land ,dis die wêreld vir my…

Dieselfde tema straal uit die tweede strofe van die Transvaalse volkslied, maar veral die versugtinge wat uit die eerste strofe straal staan in skerp kontras met die huidige realiteite:

Kent gij dat volk vol heldenmoed
En toch zo lang geknecht?
Het heeft geofferd goed en bloed
Voor vrijheid en voor recht.
Komt, burgers! laat de vlaggen wapp’ren,
Ons lijden is voorbij;
Roemt in de zege onzer dapp’ren:
Dat vrije volk zijn wij!

Die Vrystaatse volkslied sluit hierby aan met onder meer:

Heft, burgers,’t lied der vrijheid aan
En zingt ons eigen volksbestaan
Van vreemde banden vrij
Bekleedt ons klein gemenebest,
Op orde,wet en recht gevest,
Rang in der staten rij

Ook die Lied van jong Suid-Afrika stuur die gedagtes in ‘n rigting…

En hoor jy die magtige dreuning?
Oor die veld kom dit wyd gesweef:
die lied van ‘n volk se ontwaking
wat harte laat sidder en beef.
Van Kaapland tot bo in die Noorde
rys dawerend luid die akkoorde:
Dit is die LIED van Jong Suid-Afrika.

‘n Rubriek deur Charles Smith in Volksblad gister het gou groot opslae op die internet ontlok. Dit is tong in die kies geskryf, maar die skerp ontleding daarvan het gesorg dat senior politici soos onder meer die DA se Anchen Dreyer daarop reageer het. Dit is veral die volgende aanhaling wat weerlig en blitse getrek het: “En raai wie gaan steeds tjoepstil soos slagvee na die stembus stroom om vir die DA te stem? Die middelklas-wittes. Lees: Afrikaners. Al maak Afrikaners 50% plus uit van die DA, is daar geen Afrikaner meer in sy leierskorps nie. Ziltsj.”

Dit gaan oor persepsies. Eers is Laurie Bosman, ‘n hoogs-gekwalifiseerde apteker wat leierboer geword het en uiteindelik as president van Agri SA vir die DA gewerf is om die woordvoerder (of soos die DA dit noem, skaduminister van Landbou) te wees, maar is uit daardie portefeulje geskuif. Toe blyk dit dat Niekie van den Berg, wat as openbare meningsvormer gewerf is, te laag op die kandidatelys is om herkies te word.

Dit is byna onmoontlik dat persepsies nié gevorm sal word nie.

Die oorkoepelende model van die Europese Unie het ook getoon hoe “ingeslukte” volke soos die Skotte, die Vlaminge en die Kataloniërs groter volksbewustheid ontwikkel en al hoe meer onafhanklikheidspraatjies gehoor word. In baie opsigte het die heterogene Suid-Afrika raakvlakke met die Europese Unie. Dit raak klaarblyklik nie net die Afrikaner nie, maar die blote feit dat oud-president Thabu Mbeki nou al twee keer, en Winnie Madikizela-Mandela al skerp uitgevaar het teen die herlewing van “tribalism”, en die sigbaarheid van Koisan-bewegings, dui daarop dat ander nie hierdeur onaangeraak is nie.

Om dit as politiek-inkorrek af te maak gaan die verskynsel nie laat verdwyn nie – ook nie deur ideologieë wat in beginsel die verskynsel wegwens, of transformasiebeleide nie. Na die Tweede Wêreldoorlog was die algemene sentiment teen hierdie soort ontwikkeling erg gelaai, maar nou beskou die EU minderheidsregte as ‘n onlosmaaklike deel van menseregte.

Om met terreur daarop te reageer, eindig in die tronksel.

Om verkiesings te boikot omdat deelname “legitimiteit aan die stelsel gee” is ‘n debatspunt waar pragmatisme en juridiese beginsels nog baie koppestamp gaan afgee.

Iets is wel aan die kristalliseer. Die jongste Ispos-Markinorpeiling toon dat die ANC effektief geen blanke steun meer het nie, en dat selfs Julius Malema se EFF meer blanke steun het. Die merkwaardige is dat dié situasie ontwikkel het kort na die NNP formeel onder die leiding van Marthinus van Schalkwyk met die ANC saamgesmelt het “om daar julle stem te wees.” Die land is vol voorbeelde van blankes wat in privaat gesprekke vertroulik erken dat hulle lidmaatskap van die ANC bloot om loopbaanoorwegings handel, nie net binne die politieke sfeer nie, maar ter wille van onder meer leiersposisies by universiteite en staatsdiensposte. Selfs die los krummels van HOP-huise hier en…, wel, hier, maak nie op die algemene steunvlak ‘n duik nie.

Om die koers en bestemming van hierdie transito te voorspel is baie moeilik. Daar is baie invloede wat hierop inspeel – wat insluit die invloede wat in die skoolstelsel ingebou is en eintlik eers onder druk kom wanneer daar vir studierigtings en beurse, en uiteindelik vir werk aansoek gedoen moet word. Daar is die invloede van ouers en hul versugting na ‘n tyd toe standaarde anders was. Daar is die groeiende impak van burgerlike instellings wat iets doen aan probleme, soos Solidariteit wat pas ‘n tweede hofoorwinning oor die Departement van Korrektiewe Dienste behaal het. Daar is die sosiale media wat minder politiek korrek is as die formele media. Daar is afstootkragte soos die onfatsoenlikheid en radikalisme van rolspelers.

Wat al duideliker word is dat hy wat slaap oor hoe om op dié ontwakende kragte te reageer, minstens onder kritiek gaan deurloop, maar ook die gevaar loop om in relevansie noustrop te begin trek.

Die manier hoe die Afrikaner reageer sal bepaal of hy sy eie grootste vyand sal wees. Wat die regte keuse is, is elkeen se demokratiese reg wanneer hy sy kruisie op die stembrief trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ant ·

Nee ons ken nie meer die land nie, maar ek dink ek ken nog my mense. Moet ons finaal die oorlewering van die blom tydperk van ons land die rug keer en aanvaar daar sal nooit weer ‘n Afrikaner land wees nie? Is dit te laat om heimwee oor die woorde in hierdie liedjies te he? of kan ons saam iets buite die NSA politiek bou? …. Ek dink ons kan, maar hoeveel Afrikaners voel dieselfde?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.