Nuuskommentaar: Kersterreur?

Twee mans sit kerse neer tydens die opening van ’n gedenkdiens in Berlyn, Duitsland, ter ere van die slagoffers van die Kersmark-terreuraanval een jaar gelede op die Breitscheid-plein. (Foto: Michael Sohn, AP)

Gaan die wêreld, soos ’n jaar gelede, weer geskok word deur ’n terroris wat op die vooraand van Kersfees ’n bloedbad skep? Die politieke omgewing is minstens ryp daarvoor.

’n Jaar gelede het Anis Amri met ’n vragmotor in ’n Kersmark in Duitsland ingery. Elf mense sterf, en 60 is beseer. Gister is ’n gedenkplaat op dié toneel onthul. Die Duitse kanselier, Angela Merkel, het toegegee dat Duitsland aan die slaap gevang is, maar bygevoeg dat die land vanjaar slaggereed is.

Terselfdertyd word ’n berig die wêreld ingestuur dat Duitsland teen die einde van 2015 reeds bewus was daarvan dat Amri ’n terreurdaad in Duitsland beplan.

Amri se selfoonverkeer en e-pos is gevolg, en inligting is onder meer onderskep dat hy inligting soek oor hoe om bomme te maak. ’n Skokverhaal ontvou uit navorsing wat Die Welt uit ’n vrag dokumente bekom en bestudeer het. Die een vraag wat Die Welt egter nie kan beantwoord nie, is hoekom Amri nooit aangekeer is nie.

Uit die gevolgtrekkings wil dit voorkom asof die polisie van die verskillende deelstate nie baie goed onderling saamgewerk het nie. Meer onrusbarend egter is die afleiding dat hy nie aangekeer is nie op sterkte van ’n buitelandse intelligensiediens wat hom wou gebruik as lokval om ’n Isis-sel in Libië op te spoor. Dié sel sou instrumenteel wees om opgeleide Isis-lede in Europa te “ontplooi” om terreurdade te pleeg.

‘n Man steek ‘n kers aan buite die toneel waar ‘n vragmotor op 19 Desember 2016 deur ‘n Kersmark in Berlyn, Duitsland, gejaag het Foto: AP Photo/Matthias Schrader

Dit het Amri in staat gestel om ’n vragmotor te steel en die bestuurder te vermoor, en in die feesgangers in te jaag. Hy is vier dae later deur ’n polisieman in Milaan, Italië, doodgeskiet, wat weer vrae gestel het oor die wenslikheid van oop Europese grense. Op 19 Januarie het ’n Amerikaanse B2-bomwerper ’n aanval op ’n teiken in Libië uitgevoer, maar die VSA was snoep om inligting oor die aanval bekend te maak.

Wat is die kanse dat daar vanjaar weer Kersverwante aanvalle kan wees, en waar?

Dit sal kortsigtig wees om nie president Trump se besluit om die Amerikaanse ambassade van Tel Aviv na Jerusalem te verskuif as belangrike motiveerder vir aanvalle te beskou nie. Hiermee het Trump in werklikheid Jerusalem as Israel se hoofstad erken. Die Palestyne beskou Jerusalem (en meer bepaald Oos-Jerusalem) as hul toekomstige hoofstad. Vir Moslems is Jerusalem die derde mees heilige stad, naas Mekka en Medina. Sedert dié aankondiging is Palestyne besig om amok te maak, en voer ’n groot deel van die Moslemwêreld ’n diplomatieke oorlog teen die VSA. Talle nie-Islamitiese lande steun hierdie diplomatieke stryd.

Terselfdertyd het Isis bykans alle grondgebied verloor wat dit in Irak en Sirië beset het, tot só ʼn mate dat president Wladimir Poetin aangekondig het dat Isis verslaan is. Isis het egter aangedui dat hy sy fokus gaan verskuif na terreuraanvalle elders in die wêreld. Hy het reeds bewys dat hy oor die logistieke vermoë beskik. Om met voertuie in ’n groep mense in te ry, het geblyk ’n maklike manier te wees om ’n terreurdaad uit te voer.

Polisiebeamptes ondersoek die misdaadtoneel in Berlyn, Duitsland (20 Desember 2016) – een dag ná ‘n vragmotor deur ‘n Kersmark gejaag het Foto: AP Photo/Markus Schreiber

Daar kan verwag word dat intelligensiedienste dwars oor die wêreld wawyd wakker sal wees, en ook behoorlik relevante inligting sal deel. Heelwat aanvalle sal waarskynlik gekeer word, maar daar is altyd die moontlikheid dat iemand deur die net kan glip. Veral die sogenaamde “lone wolf”-terroris – daardie persoon wat ’n saak volmondig steun en hom in eensaamheid voorberei vir sy kwaadwillige en verwerplike daad – is moeilik om vooraf op te spoor.

En dit is hoe ver historiese en betroubare inligting gebruik kan word om voorspellings te maak. Raaiwerk hoort nie in nuuskommentaar nie. Maar daar is egter ʼn paar onbeantwoorde vrae: Is die duisende Christen-pelgrims wat in Betlehem verwag word veilig? Betlehem is immers op die Palestynse Wes-Oewer geleë. Hoe veilig is die kleinerwordende Christen-gemeenskappe in lande soos Sirië en Irak?

En selfs al is daar nie ’n enkele aanval nie, dui hierdie konteks op slegte gesindhede iewers – die boodskap van die Engelekoor heeltemal vergete. Dominee FJ Bijzet van die VGK stel dit só voor in ’n preek:

“Daar is in hierdie Kersnag nie eers ‘n skietstilstand gesluit nie.

Want die vrede waarvan die engele sing, moet nog voor geveg word.

Daarvoor het God se Seun juis vannag aarde toe gekom.

Vir baie mense is Christus in die krip die liewe Kindjie Jesus.

Vir die engele is Hy hul groot Generaal!

Hy was dit al die eeue van die Ou Testament.”

Die doel bly egter, soos die engele sing:

“Vrede op aarde en in die mens ’n welbehae.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ada ·

En Merkel het nou eers haar gesig daar gaan wys. ‘n Jaar later. Sodra dit egter ‘n immigrant is wat seerkry is sy eerste op die toneel om gesig te koop.
Die Duitsers sien egter deur haar. Mens lees haar soos ‘n boek. Sy gaan nog ver val.

John ·

Die Jode moet maar ligloop. Diegene wat Bethlehem in die Kerstyd besoek of Jerusalem… tye verander drasties…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.